{"collection":"Bible & Christianity","html_url":"https://unchartedknowledge.5gfusion.net/browse/bib/wb/afr/dan.htm","path":"bib/wb/afr/dan.htm","source_url":"https://sacred-texts.com/bib/wb/afr/dan.htm","text":"1:1 In die derde jaar van die regering van J\u00f3jakim, die koning van Juda, het Nebukadn\u00e9sar, die koning van Babel, na Jerusalem gekom en dit bele\u00ebr.\n1:2 En die Here het J\u00f3jakim, die koning van Juda, in sy hand gegee, met 'n gedeelte van die voorwerpe van die huis van God, en hy het hulle na die land S\u00ednear gebring in die huis van sy god, en die voorwerpe het hy in die skathuis van sy god gebring.\n1:3 Daarop het die koning aan Aspenas, die owerste van sy hofdienaars, bevel gegee om uit die kinders van Israel, uit die koninklike geslag sowel as uit die edeles, te bring:\n1:4 jong seuns aan wie geen enkele liggaamsgebrek was nie, maar wat mooi van aansien was en vernuftig in allerhande wysheid en in besit van kennis en insig in wetenskap, en wat bekwaam was om in die paleis van die koning te dien; en om hulle die skrif en die taal van die Chalde\u00ebrs te leer.\n1:5 En die koning het vir hulle 'n daaglikse porsie bestem uit die spys van die koning en van die wyn wat hy gedrink het; om hulle so drie jaar lank op te voed, sodat hulle aan die einde daarvan voor die koning kan dien.\n1:6 En onder hulle was uit die kinders van Juda: Dani\u00ebl, Han\u00e1nja, M\u00edsael en As\u00e1rja.\n1:7 Maar die owerste van die hofdienaars het hulle ander name gegee: Dani\u00ebl het hy B\u00e9ltsasar genoem, en Han\u00e1nja Sadrag, en M\u00edsael Mesag, en As\u00e1rja Abedn\u00e9go.\n1:8 En Dani\u00ebl het hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning of met die wyn wat hy gedrink het nie; daarom het hy die owerste van die hofdienaars vergunning gevra dat hy hom nie hoef te verontreinig nie.\n1:9 En God het aan Dani\u00ebl guns en barmhartigheid verleen by die owerste van die hofdienaars.\n1:10 En die owerste van die hofdienaars het aan Dani\u00ebl ges\u00ea: Ek vrees my heer die koning, wat julle voedsel en julle drank vasgestel het; want waarom moet hy sien dat julle aangesigte meer vervalle is as di\u00e9 van die jong seuns wat van julle leeftyd is, sodat julle my hoof by die koning met skuld sou belaai?\n1:11 Maar Dani\u00ebl het aan die bediende ges\u00ea wat die owerste van die hofdienaars oor Dani\u00ebl, Han\u00e1nja, M\u00edsael en As\u00e1rja aangestel het:\n1:12 Stel tog u dienaars tien dae lank op die proef, en laat hulle ons van die groente gee om te eet en water om te drink;\n1:13 laat daarna ons voorkoms en die voorkoms van die jong seuns wat die spys van die koning eet, deur u besigtig word; handel dan met u dienaars soos u bevinding sal wees.\n1:14 Hy het toe na hulle geluister in hierdie saak en hulle tien dae lank op die proef gestel.\n1:15 En aan die einde van tien dae het hulle voorkoms beter en hulle voller van vlees gelyk as al die jong seuns wat die spys van die koning ge\u00ebet het.\n1:16 So het dan die bediende hulle spys en die wyn wat hulle moes drink, weggeneem en aan hulle groente gegee.\n1:17 En hierdie vier jong seuns--God het aan hulle wetenskap en verstand in allerhande geskrifte en wysheid gegee; ook het Dani\u00ebl verstand gehad van allerhande gesigte en drome.\n1:18 En aan die einde van die dae wat die koning vasgestel het om hulle in te bring, het die owerste van die hofdienaars hulle voor Nebukadn\u00e9sar gebring.\n1:19 En die koning het met hulle gespreek, en onder hulle almal is daar niemand gevind soos Dani\u00ebl, Han\u00e1nja, M\u00edsael en As\u00e1rja nie. So het hulle dan voor die koning gedien.\n1:20 En in enige saak van wyse insig waarin die koning hulle ondervra het, het hy bevind dat hulle al die geleerdes en besweerders in sy hele koninkryk tien maal oortref het.\n1:21 En Dani\u00ebl was daar tot die eerste jaar van koning Kores.\n2:1 En in die tweede jaar van die regering van Nebukadn\u00e9sar, het Nebukadn\u00e9sar 'n droom gehad, sodat sy gees onrustig geword het en dit met sy slaap gedaan was.\n2:2 Toe het die koning bevel gegee om die geleerdes en die besweerders en die towenaars en die Chalde\u00ebrs te roep, om vir die koning sy droom uit te l\u00ea. Toe hulle kom en voor die koning gaan staan,\n2:3 s\u00ea die koning vir hulle: Ek het 'n droom gehad, en my gees is onrustig om die droom te verstaan.\n2:4 Toe het die Chalde\u00ebrs met die koning gespreek Aramees: Mag die koning vir altyd lewe! Vertel u dienaars die droom, en ons sal die uitlegging te kenne gee.\n2:5 Die koning het geantwoord en aan die Chalde\u00ebrs ges\u00ea: Die saak staan by my vas: as julle die droom en sy uitlegging nie aan my bekend maak nie, sal julle in stukke gekap en van julle huise mishope gemaak word.\n2:6 Maar as julle die droom en sy uitlegging te kenne gee, sal julle geskenke en gawes en groot eer van my ontvang; gee my daarom die droom en sy uitlegging te kenne.\n2:7 Hulle het vir die tweede maal geantwoord en ges\u00ea: Laat die koning die droom aan sy dienaars vertel; dan sal ons die uitlegging te kenne gee.\n2:8 Die koning het geantwoord en ges\u00ea: Ek weet verseker dat julle tyd wil win, omdat julle sien dat die saak by my vasstaan;\n2:9 want as julle my die droom nie bekend maak nie, is julle vonnis een en dieselfde; julle het naamlik afgespreek om 'n leuenagtige en bedrieglike woord voor my te spreek totdat die tyd weer verander; daarom, vertel my die droom, dan sal ek weet of julle my sy uitlegging kan te kenne gee.\n2:10 Die Chalde\u00ebrs het voor die koning geantwoord en ges\u00ea: Daar is geen mens op die aardbodem wat die koning se saak sou kan te kenne gee nie; daarom het dan ook geen koning, groot of magtig, ooit so iets van enige geleerde of besweerder of Chalde\u00ebr verlang nie.\n2:11 Ja, die saak wat die koning verlang, is swaar, en daar is niemand anders wat dit voor die koning sou kan te kenne gee nie, behalwe die gode wie se woning nie by die vlees is nie.\n2:12 Hieroor het die koning toornig en baie kwaad geword en bevel gegee om al die wyse manne van Babel om te bring.\n2:13 Toe die bevel uitgevaardig is en die wyse manne gedood sou word, het hulle ook Dani\u00ebl en sy metgeselle gesoek om gedood te word.\n2:14 Daarop het Dani\u00ebl aan Ariog, die owerste van die koninklike lyfwag wat uitgetrek het om die wyse manne van Babel dood te maak, 'n slim en verstandige antwoord gegee.\n2:15 Hy antwoord en s\u00ea vir Ariog, die bevelhebber van die koning: Waarom is die bevel van die kant van die koning so streng? Toe het Ariog aan Dani\u00ebl die saak meegedeel.\n2:16 Daarop het Dani\u00ebl ingegaan en die koning versoek dat hy hom tyd moes gee om die uitlegging aan die koning te kenne te gee.\n2:17 Toe gaan Dani\u00ebl na sy huis en maak aan Han\u00e1nja, M\u00edsael en As\u00e1rja, sy metgeselle, die saak bekend,\n2:18 en dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel moes afsmeek oor hierdie geheim, sodat hulle Dani\u00ebl en sy metgeselle saam met die orige wyse manne van Babel nie sou ombring nie.\n2:19 Daarop is in 'n naggesig die geheim aan Dani\u00ebl geopenbaar. Toe het Dani\u00ebl die God van die hemel geloof.\n2:20 Dani\u00ebl het toe gespreek en ges\u00ea: Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne.\n2:21 Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het;\n2:22 Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom.\n2:23 U, God van my vaders, loof en prys ek, want U het my wysheid en krag verleen, en nou het U my bekend gemaak wat ons van U afgesmeek het, want die saak van die koning het U ons bekend gemaak.\n2:24 Daarom het Dani\u00ebl ingegaan na Ariog, wat die koning aangestel het om die wyse manne van Babel om te bring; hy het gegaan en vir hom s\u00f3 ges\u00ea: Moenie die wyse manne van Babel ombring nie; bring my in voor die koning, dan sal ek aan die koning die uitlegging te kenne gee.\n2:25 Toe het Ariog Dani\u00ebl haastig voor die koning ingebring en s\u00f3 vir hom ges\u00ea: Ek het 'n man onder die ballinge van Juda gevind wat die koning die uitlegging bekend sal maak.\n2:26 Die koning het geantwoord en aan Dani\u00ebl, wie se naam B\u00e9ltsasar was, ges\u00ea: Is jy in staat om aan my die droom wat ek gesien het, en sy uitlegging bekend te maak?\n2:27 Dani\u00ebl het in teenwoordigheid van die koning geantwoord en ges\u00ea: Die geheim waarna die koning vra, kan die wyse manne, die besweerders, die geleerdes, die waars\u00eaers nie aan die koning te kenne gee nie.\n2:28 Maar daar is 'n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadn\u00e9sar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. U droom en die gesigte van u hoof op u bed was dit:\n2:29 Wat u betref, o koning, u gedagtes op u bed het opgestyg oor wat hierna sal gebeur, en die Openbaarder van die geheime het u bekend gemaak wat sal gebeur.\n2:30 En wat my betref, hierdie geheim is my geopenbaar, nie deur 'n wysheid wat in my sou wees meer as in al die lewendes nie, maar met die bedoeling dat die uitlegging aan die koning bekend gemaak sal word en u die gedagtes van u hart kan ken.\n2:31 U, o koning, het 'n gesig gehad--kyk, daar was 'n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik.\n2:32 Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper,\n2:33 sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.\n2:34 U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande 'n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het.\n2:35 Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het 'n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.\n2:36 Dit is die droom; sy uitlegging sal ons nou voor die koning s\u00ea:\n2:37 U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het,\n2:38 en in wie se hand Hy in die hele bewoonde w\u00eareld die mensekinders, die diere van die veld en die vo\u00ebls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het--\u00fa is die hoof van goud.\n2:39 En n\u00e1 u sal daar 'n ander koninkryk opstaan, geringer as di\u00e9 van u; daarna 'n ander, 'n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers;\n2:40 en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis.\n2:41 En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was--dit sal 'n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het.\n2:42 En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is--'n gedeelte van die koninkryk sal hard en 'n gedeelte sal bros wees.\n2:43 Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het--hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie.\n2:44 Maar in die dae van di\u00e9 konings sal die God van die hemel 'n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar 'n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan--\n2:45 net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande 'n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.\n2:46 Toe het koning Nebukadn\u00e9sar op sy aangesig geval en Dani\u00ebl aanbid en bevel gegee om aan hom 'n spysoffer en reukoffers te bring.\n2:47 Die koning het Dani\u00ebl geantwoord en ges\u00ea: Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse, daarom was jy in staat om hierdie geheim te openbaar.\n2:48 Toe het die koning Dani\u00ebl verhef en hom baie, groot geskenke gegee en hom aangestel as heerser oor die hele provinsie Babel en as hoofowerste oor al die wyse manne van Babel.\n2:49 En op versoek van Dani\u00ebl het die koning Sadrag, Mesag en Abedn\u00e9go aangestel oor die bestuur van die provinsie Babel, maar Dani\u00ebl was in die paleis van die koning.\n3:1 Koning Nebukadn\u00e9sar het 'n beeld van goud gemaak; sy hoogte was sestig el, sy breedte ses el; hy het dit opgerig in die dal Dura, in die provinsie Babel.\n3:2 Daarna het koning Nebukadn\u00e9sar die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs, die raadsmanne, die skatmeesters, die regters, die hoofamptenare en al die bestuurders van die provinsies laat versamel, dat hulle moes kom na die inwyding van die beeld wat koning Nebukadn\u00e9sar opgerig het.\n3:3 Toe het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs, die raadsmanne, die skatmeesters, die regters, die hoofamptenare en al die bestuurders van die provinsies bymekaargekom by die inwyding van die beeld wat koning Nebukadn\u00e9sar opgerig het, en hulle het voor die beeld gaan staan wat Nebukadn\u00e9sar opgerig het.\n3:4 En 'n uitroeper het hardop geroep: Julle word aanges\u00ea, o volke, nasies en tale,\n3:5 sodra julle die geluid hoor van horing, fluit, siter, luit, harp, doedelsak en van allerhande musiekinstrumente, moet julle neerval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadn\u00e9sar opgerig het.\n3:6 En hy wat nie neerval en aanbid nie, sal op die daad binne-in die brandende vuuroond gegooi word.\n3:7 Daarom het, op die oomblik toe al die volke die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en van allerhande musiekinstrumente hoor, al die volke, nasies en tale neergeval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadn\u00e9sar opgerig het.\n3:8 Op grond daarvan het tegelykertyd Chaldeeuse manne nader gekom en die Jode aangeklaag.\n3:9 Daarop het hulle met koning Nebukadn\u00e9sar gespreek en ges\u00ea: Mag die koning vir ewig lewe!\n3:10 U, o koning, het 'n bevel gegee dat elke mens wat die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor, moet neerval en die goue beeld aanbid;\n3:11 en dat hy wat nie neerval en aanbid nie, binne-in die brandende vuuroond gegooi moet word.\n3:12 Daar is Joodse manne wat u oor die bestuur van die provinsie Babel aangestel het, Sadrag, Mesag en Abedn\u00e9go; hierdie manne het hulle, o koning, aan u nie gesteur nie; hulle dien u gode nie en die goue beeld wat u opgerig het, aanbid hulle nie.\n3:13 Toe het Nebukadn\u00e9sar, toornig en woedend, bevel gegee om Sadrag, Mesag en Abedn\u00e9go te laat kom. Daarop is die manne voor die koning gebring.\n3:14 En Nebukadn\u00e9sar het gespreek en vir hulle ges\u00ea: Is dit met opset, Sadrag, Mesag en Abedn\u00e9go, dat julle my gode nie dien nie en die goue beeld wat ek opgerig het, nie aanbid nie?\n3:15 As julle dan nou, sodra julle die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor, bereid is om neer te val en die beeld wat ek gemaak het, te aanbid, goed; maar as julle nie aanbid nie, sal julle oombliklik binne-in die brandende vuuroond gegooi word, en wie is die God wat julle uit my hand kan verlos?\n3:16 Sadrag, Mesag en Abedn\u00e9go het geantwoord en aan koning Nebukadn\u00e9sar ges\u00ea: Ons ag dit nie nodig om u hierop 'n antwoord te gee nie.\n3:17 As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos;\n3:18 maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.\n3:19 Toe het Nebukadn\u00e9sar baie woedend geword en sy gelaatstrekke het verander teenoor Sadrag, Mesag en Abedn\u00e9go; as antwoord het hy bevel gegee om die oond sewe maal warmer te maak as wat eintlik nodig was.\n3:20 En aan sommige van die sterkste manne wat in sy le\u00ebr was, het hy bevel gegee om Sadrag, Mesag en Abedn\u00e9go te boei, om hulle in die brandende vuuroond te gooi.\n3:21 Toe is daardie manne geboei met hulle mantels, hulle broeke en hulle tulbande en hulle ander klere aan, en hulle is binne-in die brandende vuuroond gegooi.\n3:22 Omdat dan nou die woord van die koning streng en die oond uitermate verhit was, het die vlam van die vuur daardie manne wat Sadrag, Mesag en Abedn\u00e9go opgeneem het, doodgebrand.\n3:23 Maar daardie drie manne, Sadrag, Mesag en Abedn\u00e9go, het geboeid binne-in die brandende vuuroond geval.\n3:24 Toe het koning Nebukadn\u00e9sar verskrik geword en haastig opgestaan; hy het sy raadsmanne toegespreek en ges\u00ea: Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie? Hulle antwoord en s\u00ea aan die koning: Sekerlik, o koning!\n3:25 Hy antwoord en s\u00ea: Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar 'n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos di\u00e9 van 'n godeseun.\n3:26 Toe het Nebukadn\u00e9sar nader gekom na die opening van die brandende vuuroond en daarop ges\u00ea: Sadrag, Mesag en Abedn\u00e9go, knegte van die allerhoogste God, gaan uit en kom hier! Toe het Sadrag, Mesag en Abedn\u00e9go uit die vuuroond uitgegaan.\n3:27 Daarop het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs en die raadsmanne van die koning vergader en aan daardie manne gesien dat die vuur geen mag oor hulle liggame gehad en die hare van hulle hoof nie geskroei het nie, en dat hulle mantels geen verandering ondergaan en die reuk van die vuur nie aan hulle gekom het nie.\n3:28 Daarop het Nebukadn\u00e9sar gespreek en ges\u00ea: Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abedn\u00e9go, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God.\n3:29 Daarom word deur my bevel gegee dat enige volk, nasie of taal wat oneerbiedig spreek oor die God van Sadrag, Mesag en Abedn\u00e9go, stukkend gekap en van sy huis 'n mishoop gemaak sal word, omdat daar geen ander god is wat so kan verlos nie.\n3:30 Toe het die koning Sadrag, Mesag en Abedn\u00e9go voorspoedig laat wees in die provinsie Babel.\n4:1 Koning Nebukadn\u00e9sar aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon: Mag julle vrede groot wees!\n4:2 Dit behaag my om die tekens en wonders wat die allerhoogste God aan my gedoen het, te verkondig.\n4:3 Hoe groot is sy tekens, en hoe magtig sy wonders! Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk, en sy heerskappy is van geslag tot geslag!\n4:4 Ek, Nebukadn\u00e9sar, het rustig in my huis gelewe en was voorspoedig in my paleis.\n4:5 Ek het 'n droomgesig gesien wat my verskrik het--droombeelde op my bed en die gesigte van my hoof het my verontrus.\n4:6 Daarop is deur my bevel gegee om al die wyse manne van Babel voor my te bring, dat hulle my die uitlegging van die droom bekend kan maak.\n4:7 Toe het die geleerdes, die besweerders, die Chalde\u00ebrs en die waars\u00eaers gekom, en ek het hulle die droom vertel, maar hulle het sy uitlegging my nie bekend gemaak nie;\n4:8 totdat eindelik Dani\u00ebl voor my ingekom het, wie se naam B\u00e9ltsasar is, na die naam van my god, en in wie die gees van die heilige gode is; en ek het hom die droom vertel:\n4:9 B\u00e9ltsasar, owerste van die geleerdes, van wie ek weet dat die gees van die heilige gode in jou is en dat geen enkele geheim jou kwel nie, vertel my die droomgesigte wat ek gesien het, naamlik die uitlegging daarvan.\n4:10 Wat nou die gesigte van my hoof op my bed betref--ek het gesien, en kyk, daar was 'n boom in die middel van die aarde, en sy hoogte was groot.\n4:11 Die boom het groot geword en sterk, en sy hoogte het tot aan die hemel gereik, sodat hy tot aan die einde van die hele aarde sigbaar was.\n4:12 Sy blare was mooi en sy vrugte baie, en aan hom was vir alles voedsel; onder hom het die diere van die veld skaduwee gesoek, en in sy takke het die vo\u00ebls van die hemel gewoon, ja, alle vlees is daardeur gevoed.\n4:13 Ek het in die gesigte van my hoof op my bed gesien, en kyk, 'n bode, naamlik 'n heilige, het uit die hemel neergedaal;\n4:14 hy het hardop geroep en s\u00f3 ges\u00ea: Kap die boom om en kap sy takke af, trek sy blare af en verstrooi sy vrugte; laat die diere onder hom uit wegvlug en die vo\u00ebls uit sy takke.\n4:15 Maar laat sy penwortel in die aarde staan, en dit met 'n band van yster en koper in die groen gras van die veld; en laat hy deur die dou van die hemel natgemaak word en saam met die diere deel h\u00ea aan die plante van die aarde.\n4:16 Laat sy hart anders word as di\u00e9 van 'n mens en 'n dierehart aan hom gegee word, en laat sewe tydperke oor hom heengaan.\n4:17 Op 'n besluit van die bodes berus die bevel, en 'n woord van die heiliges is die saak, met die bedoeling dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aanstel.\n4:18 Dit is die droomgesig wat ek, koning Nebukadn\u00e9sar, gehad het; en jy, B\u00e9ltsasar, s\u00ea my die uitlegging, omdat al die wyse manne van my koninkryk my die uitlegging nie kon bekend maak nie; maar jy is daartoe in staat, want die gees van die heilige gode is in jou.\n4:19 Toe het Dani\u00ebl, wie se naam B\u00e9ltsasar was, 'n oomblik verstom gestaan en sy gedagtes het hom verskrik. Die koning het daarop gespreek en ges\u00ea: B\u00e9ltsasar, laat die droom en die uitlegging jou nie verskrik nie. B\u00e9ltsasar het geantwoord en ges\u00ea: My heer, mag die droom u haters en sy uitlegging u te\u00ebstanders oorkom.\n4:20 Die boom wat u gesien het--wat groot en sterk geword het, en waarvan die hoogte tot aan die hemel gereik het en wat vir die hele aarde sigbaar was,\n4:21 en waarvan die blare mooi en die vrugte baie gewees het, en waar voedsel vir alles aan was, waaronder die diere van die veld gehou en in die takke waarvan die vo\u00ebls van die hemel gewoon het--\n4:22 dit is u, o koning, wat groot en sterk geword het, wie se grootheid toegeneem het en reik tot aan die hemel en u heerskappy tot aan die einde van die aarde.\n4:23 En dat die koning 'n bode, naamlik 'n heilige, uit die hemel sien neerdaal het met die woorde: Kap die boom om en verwoes hom, maar laat sy penwortel in die aarde staan, en dit met 'n band van yster en koper in die groen gras van die veld, en laat hy deur die dou van die hemel natgemaak word en sy lot saam met die diere van die veld wees totdat sewe tydperke oor hom heengegaan het--\n4:24 dit is die uitlegging, o koning, en dit is die besluit van die Allerhoogste wat oor my heer die koning kom:\n4:25 Hulle sal u uit die mensdom verstoot, en u woning sal saam met die diere van die veld wees, en hulle sal u soos die beeste plante laat eet; en u sal deur die dou van die hemel natgemaak word, en sewe tydperke sal oor u heengaan totdat u erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil.\n4:26 En dat hulle bevel gegee het om die penwortel van die boom te laat staan--u koningskap sal vir u bestendig wees vandat u erken het dat die hemel heers.\n4:27 Daarom, o koning, laat my raad u welgevallig wees en breek met u sondes deur geregtigheid en met u ongeregtighede deur genade te bewys aan die ellendiges as daar verlenging van u rus moet wees.\n4:28 Dit alles het oor koning Nebukadn\u00e9sar gekom.\n4:29 Aan die einde van twaalf maande terwyl hy op die koninklike paleis van Babel rondwandel,\n4:30 het die koning aangehef en ges\u00ea: Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot 'n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermo\u00eb, en tot verheerliking van my majesteit nie?\n4:31 Terwyl die woord nog in die mond van die koning was, val daar 'n stem uit die hemel: Koning Nebukadn\u00e9sar, jou word aanges\u00ea--die koningskap word jou ontneem;\n4:32 en hulle sal jou uit die mensdom verstoot, en jou woning sal saam met die diere van die veld wees; hulle sal jou plante laat eet soos die beeste, en sewe tydperke sal oor jou heengaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil.\n4:33 Dieselfde oomblik het die woord in vervulling gegaan oor Nebukadn\u00e9sar--hy is uit die mensdom verstoot en het plante ge\u00ebet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak, totdat sy hare lank geword het soos die vere van arende, en sy naels soos di\u00e9 van vo\u00ebls.\n4:34 En n\u00e1 verloop van tyd het ek, Nebukadn\u00e9sar, my o\u00eb na die hemel opgeslaan, en my verstand het in my teruggekeer, en ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat ewig lewe, geprys en ge\u00eber, wie se heerskappy 'n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is.\n4:35 En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die le\u00ebr van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan s\u00ea: Wat doen U nie?\n4:36 In di\u00e9 tyd het my verstand in my teruggekeer; en wat die eer van my koningskap betref--my majesteit en my glans het in my teruggekeer, en my raadsmanne en my maghebbers het my opgesoek; en ek is in my koningskap herstel, en buitengewone grootheid is my toegevoeg.\n4:37 Nou prys ek, Nebukadn\u00e9sar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.\n5:1 Koning B\u00e9lsasar het 'n groot maaltyd berei vir sy duisend maghebbers, en in teenwoordigheid van die duisend het hy wyn gedrink.\n5:2 By die genot van die wyn het B\u00e9lsasar bevel gegee om die goue en silwervoorwerpe te bring wat sy vader Nebukadn\u00e9sar uit die tempel van Jerusalem weggevoer het, sodat die koning en sy maghebbers, sy vroue en sy byvroue daaruit kon drink.\n5:3 Toe het hulle die goue voorwerpe gebring wat uit die tempel, uit die huis van God in Jerusalem weggevoer was, en die koning en sy maghebbers, sy vroue en sy byvroue het daaruit gedrink.\n5:4 Hulle het wyn gedrink en die gode van goud en silwer, koper, yster, hout en klip geprys.\n5:5 Op dieselfde oomblik het daar vingers van 'n mens se hand te voorskyn gekom en teenoor die kandelaar op die kalk van die muur van die koninklike paleis geskrywe, en die koning het die deel van die hand gesien wat geskrywe het.\n5:6 Toe het die gelaatskleur van die koning verander, en sy gedagtes het hom verskrik, en die gewrigte van sy heupe het losgeraak, en sy knie\u00eb het teen mekaar geslaan.\n5:7 Die koning het hardop uitgeroep om die besweerders, die Chalde\u00ebrs en die waars\u00eaers in te bring. Daarop het die koning gespreek en aan die wyse manne van Babel ges\u00ea: Enigeen wat hierdie skrif lees en my sy uitlegging te kenne gee, hy sal met purper beklee word, en 'n goue ketting sal om sy hals wees, en as derde in rang sal hy in die koninkryk heers.\n5:8 Toe het al die wyse manne van die koning ingekom, maar hulle was nie in staat om die skrif te lees en sy uitlegging aan die koning bekend te maak nie.\n5:9 Toe het koning B\u00e9lsasar baie verskrik geword, en sy gelaatskleur het aan hom verander, ook sy maghebbers was in verwarring.\n5:10 Na aanleiding van die woorde van die koning en van sy maghebbers het die koningin in die eetsaal ingegaan; die koningin het begin spreek en ges\u00ea: Mag die koning in ewigheid lewe! Laat u gedagtes u nie verskrik en u gelaatskleur nie verander nie.\n5:11 Daar is 'n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is: in die dae van u vader is verligting en insig en wysheid soos die wysheid van die gode in hom gevind; daarom het u vader, koning Nebukadn\u00e9sar, hom as owerste van die geleerdes, die besweerders, die Chalde\u00ebrs, die waars\u00eaers aangestel--u vader, o koning! --\n5:12 omdat in hom 'n voortreflike gees en kennis en verstand gevind is om drome uit te l\u00ea en raaisels op te los en knope los te maak--in Dani\u00ebl aan wie die koning die naam van B\u00e9ltsasar gegee het; laat Dani\u00ebl nou geroep word, dan sal hy die uitlegging te kenne gee.\n5:13 Toe is Dani\u00ebl voor die koning gebring; die koning het begin spreek en vir Dani\u00ebl ges\u00ea: Is jy Dani\u00ebl wat by die Joodse ballinge behoort, wat die koning, my vader, uit Juda gebring het?\n5:14 Ek het van jou gehoor dat die gees van die gode in jou is, en dat verligting en verstand en voortreflike wysheid in jou gevind word.\n5:15 Nou net is die wyse manne, die besweerders, voor my gebring om hierdie skrif te lees en sy uitlegging aan my bekend te maak; maar hulle is nie in staat om die uitlegging van die woord te kenne te gee nie.\n5:16 Maar ek het van jou gehoor dat jy uitlegginge kan gee en knope kan losmaak; as jy nou die skrif kan lees en sy uitlegging aan my bekend maak, sal jy met purper beklee word, en 'n goue ketting sal daar om jou hals wees, en jy sal as derde in rang in die koninkryk heers.\n5:17 Toe het Dani\u00ebl geantwoord en voor die koning ges\u00ea: U kan u gawes maar vir uself hou en u geskenke aan 'n ander gee; nogtans sal ek die skrif vir die koning lees en die uitlegging aan hom bekend maak.\n5:18 Wat u betref, o koning, die allerhoogste God het aan u vader Nebukadn\u00e9sar die koningskap en grootheid en heerlikheid en majesteit gegee.\n5:19 En vanwe\u00eb die grootheid wat Hy hom gegee het, het al die volke, nasies en tale gebewe en vir hom gesidder; wie hy wou, het hy gedood, en wie hy wou, het hy laat lewe, en wie hy wou, het hy verhoog, en wie hy wou, het hy verneder.\n5:20 Maar net toe sy hart hom verhef het en sy gees verhard is om oormoedig te wees, is hy van die troon van sy koningskap afgestoot, en die heerlikheid is hom ontneem.\n5:21 En hy is uit die mense verstoot, en sy hart het soos di\u00e9 van die diere geword, en hy het saam met die wilde-esels gewoon; hulle het hom plante laat eet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak totdat hy erken het dat die allerhoogste God mag het oor die koningskap van die mens en daaroor kan aanstel wie Hy wil.\n5:22 Maar u, B\u00e9lsasar, sy seun, het u hart nie verneder nie, alhoewel u dit alles weet;\n5:23 maar u het u verhef teen die Here van die hemel, en die voorwerpe van sy huis het hulle voor u gebring; en u en u maghebbers, u vroue en u byvroue het wyn daaruit gedrink; en u het die gode van silwer en goud, koper, yster, hout en klip geprys, wat nie sien en nie hoor en nie weet nie, maar die God in wie se hand u asem en voor wie al u paaie is, Hom het u nie vereer nie.\n5:24 Toe is deur Hom die deel van die hand gestuur en hierdie skrif geskrywe.\n5:25 En dit is die skrif wat geskrywe is: Men\u00e9, men\u00e9, tek\u00e9l ufars\u00edn.\n5:26 Dit is die uitleg van die woord: Men\u00e9--God het u koningskap getel en daar 'n einde aan gemaak;\n5:27 tek\u00e9l--u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind;\n5:28 per\u00e9s--u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.\n5:29 Toe het B\u00e9lsasar bevel gegee, en hulle het Dani\u00ebl met purper beklee, met 'n goue ketting om sy hals, en aangaande hom openlik uitgeroep dat hy as derde in rang in die koninkryk sou heers.\n5:30 In dieselfde nag is B\u00e9lsasar, die koning van die Chalde\u00ebrs, gedood.\n6:1 En Dar\u00edus, die Meder, was twee en sestig jaar oud toe hy die koningskap ontvang het.\n6:2 Dit het Dar\u00edus behaag om oor die koninkryk honderd en twintig landvoogde aan te stel wat in die hele koninkryk sou wees;\n6:3 en oor hulle drie ministers, van wie Dani\u00ebl een was, aan wie di\u00e9 landvoogde rekenskap moes gee, sodat die koning nie sou skade ly nie.\n6:4 Toe het hierdie Dani\u00ebl bo die ministers en die landvoogde uitgemunt, omdat 'n voortreflike gees in hom was; daarom was die koning van plan om hom oor die hele koninkryk aan te stel.\n6:5 Toe het die ministers en die landvoogde gesoek om 'n grond vir 'n aanklag teen Dani\u00ebl te vind met betrekking tot die regering, maar hulle kon geen enkele grond vir 'n aanklag of verkeerde handeling vind nie, omdat hy getrou was en geen nalatigheid of verkeerde handeling by hom te vinde was nie.\n6:6 Daarop het di\u00e9 manne ges\u00ea: Ons sal teen hierdie Dani\u00ebl geen enkele grond vir 'n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens.\n6:7 Toe het hierdie ministers en landvoogde die koning bestorm en s\u00f3 vir hom ges\u00ea: Mag koning Dar\u00edus vir ewig lewe!\n6:8 Al die ministers van die koninkryk, die bevelhebbers en die landvoogde, die raadsmanne en die goewerneurs het beraadslaag dat die koning 'n verordening moet uitvaardig en 'n verbod bekragtig dat elkeen wat gedurende dertig dae 'n versoek rig aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi sal word.\n6:9 Stel nou 'n verbod vas, o koning, en laat 'n bevelskrif skrywe wat volgens die onveranderlike wet van Meders en Perse onherroeplik is.\n6:10 Hierom het koning Dar\u00edus die bevelskrif en die verbod geskrywe.\n6:11 En net toe Dani\u00ebl verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bo-kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op 'n dag op sy knie\u00eb geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het.\n6:12 Daarop het daardie manne aangestorm en Dani\u00ebl gevind terwyl hy bid en voor sy God om genade smeek.\n6:13 Hulle het toe nader gekom en voor die koning oor die koninklike verbod gespreek: Het u nie 'n verbod geskrywe dat elkeen wat gedurende dertig dae 'n versoek doen aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi moet word nie? Die koning het geantwoord en ges\u00ea: Die saak staan vas volgens onherroeplike wet van Meders en Perse.\n6:14 Toe het hulle geantwoord en voor die koning ges\u00ea: Dani\u00ebl, een van die Joodse ballinge, het hom aan u, o koning, en aan u verbod wat u geskrywe het, nie gesteur nie, maar drie maal op 'n dag doen hy sy gebed.\n6:15 Toe die koning die woord hoor, het dit hom baie mishaag, en hy het planne beraam om Dani\u00ebl te verlos, ja, tot sonsondergang toe het hy moeite gedoen om hom te red.\n6:16 Daarop het daardie manne die koning bestorm en aan die koning ges\u00ea: Weet, o koning, dat dit 'n wet van Meders en Perse is dat elke verbod of verordening wat die koning vasgestel het, nie verander mag word nie.\n6:17 Toe het die koning bevel gegee, en hulle het Dani\u00ebl gebring en in die leeukuil gegooi. Die koning het begin spreek en vir Dani\u00ebl ges\u00ea: Mag jou God wat jy gedurigdeur vereer, jou verlos!\n6:18 En 'n klip is gebring en op die opening van die kuil gel\u00ea, en die koning het dit met sy ring en met die ring van sy maghebbers verse\u00ebl, sodat niks anders met Dani\u00ebl sou gebeur nie.\n6:19 Toe het die koning na sy paleis gegaan en met vas die nag deurgebring en die byvroue nie voor hom laat kom nie, en sy slaap het van hom weggevlug.\n6:20 Daarop het die koning die m\u00f4re vroeg toe dit lig word, opgestaan en haastig na die leeukuil gegaan.\n6:21 En toe hy nader kom na die kuil, het hy met 'n droewige stem na Dani\u00ebl geroep; die koning het gespreek en aan Dani\u00ebl ges\u00ea: Dani\u00ebl, kneg van die lewende God, was jou God wat jy gedurigdeur vereer, in staat om jou van die leeus te verlos?\n6:22 Toe het Dani\u00ebl met die koning gespreek: Mag die koning vir ewig lewe!\n6:23 My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is en ek ook teen u, o koning, geen onreg gedoen het nie.\n6:24 Toe het die koning baie bly geword en bevel gegee om Dani\u00ebl uit die kuil op te trek. So is Dani\u00ebl dan uit die kuil opgetrek sonder dat daar 'n letsel aan hom gevind is, omdat hy op sy God vertrou het.\n6:25 En die koning het bevel gegee, en hulle het daardie manne gebring wat Dani\u00ebl aangeklaag het, en hulle, hulle kinders en hulle vroue in die leeukuil gegooi; en hulle het nog nie die bodem van die kuil bereik nie of die leeus het hulle oorweldig en al hulle bene vermorsel.\n6:26 Toe het koning Dar\u00edus aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon, geskrywe: Mag julle vrede groot wees!\n6:27 Deur my word bevel gegee dat hulle in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Dani\u00ebl, want Hy is die lewende God en Hy bestaan in ewigheid en sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie en sy heerskappy duur tot die einde toe.\n6:28 Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die hemel en op aarde, Hy wat Dani\u00ebl uit die mag van die leeus verlos het.\n6:29 En hierdie Dani\u00ebl was voorspoedig onder die regering van Dar\u00edus en onder die regering van Kores, die Pers.\n7:1 In die eerste jaar van B\u00e9lsasar, die koning van Babel, het Dani\u00ebl 'n droomgesig gesien en gesigte van sy hoof op sy bed. Toe het hy die droom opgeskrywe, die hoofsaak vertel.\n7:2 Dani\u00ebl het gespreek en ges\u00ea: Ek het in die nag in my gesig gesien, en kyk, die vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring;\n7:3 en vier groot diere het uit die see opgeklim, die een verskillend van die ander.\n7:4 Die eerste was soos 'n leeu, en hy het vlerke van 'n arend gehad; ek het bly kyk totdat sy vlerke uitgeruk is en dit van die grond af opgehef en soos 'n mens op twee voete neergesit is en daaraan 'n mensehart gegee is.\n7:5 En kyk, 'n ander dier, 'n tweede, het gelyk soos 'n beer, en is aan die een kant opgerig; en drie ribbes was in sy bek tussen sy tande; en s\u00f3 het hulle vir hom ges\u00ea: Staan op, eet baie vleis.\n7:6 Daarna het ek gesien, en kyk, daar was 'n ander een soos 'n luiperd, en dit het vier vlerke van 'n vo\u00ebl op sy rug gehad; ook het die dier vier koppe gehad, en aan hom is heerskappy gegee.\n7:7 Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was 'n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad.\n7:8 Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar 'n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was o\u00eb soos mens-o\u00eb, en 'n mond wat groot dinge spreek.\n7:9 Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en 'n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan 'n brandende vuur;\n7:10 'n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan; duisend maal duisende het Hom gedien, en tien duisend maal tien duisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen.\n7:11 Ek het toe bly kyk vanwe\u00eb die stem van die groot woorde wat die horing gespreek het; ek het bly kyk totdat die dier gedood en sy liggaam vernietig en aan die verbranding deur vuur oorgegee is.\n7:12 Ook aan die ander diere is hulle heerskappy ontneem, en verlenging van die lewe is aan hulle gegee tot op tyd en uur.\n7:13 Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van 'n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom.\n7:14 En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is 'n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.\n7:15 Die gees van my, Dani\u00ebl, is in sy omhulsel verontrus, en die gesigte van my hoof het my verskrik.\n7:16 Ek het nader gekom na een van die wat daar gestaan het, en van hom sekerheid gevra oor dit alles; en hy het dit vir my ges\u00ea en die uitlegging van die dinge aan my bekend gemaak:\n7:17 Hierdie groot diere wat vier is--vier konings sal uit die aarde opstaan;\n7:18 en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid.\n7:19 Toe wou ek sekerheid verkry oor die vierde dier wat van al die ander verskillend was, buitengewoon vreeslik, met ystertande en met koperkloue, wat verslind, vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap het,\n7:20 en oor die tien horings wat op sy kop was, en die ander een wat opgekom het en waarvoor drie geval het, naamlik hierdie horing wat o\u00eb en 'n mond gehad het wat groot dinge gespreek het, terwyl sy gestalte groter was as van die ander.\n7:21 Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin,\n7:22 totdat die Oue van dae kom en aan die heiliges van die Allerhoogste reg verskaf is en die bepaalde tyd gekom het dat die heiliges die koninkryk in besit geneem het.\n7:23 S\u00f3 het hy ges\u00ea: Die vierde dier--die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel.\n7:24 En die tien horings--uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en 'n ander een sal n\u00e1 hulle opstaan, en hy sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp.\n7:25 En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende 'n tyd en tye en die helfte van 'n tyd.\n7:26 Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig.\n7:27 Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is 'n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees.\n7:28 Hier is die einde van die saak. Wat my, Dani\u00ebl, betref, my gedagtes het my baie verskrik en my gelaatskleur het verander aan my, maar die saak het ek in my hart bewaar.\n8:1 In die derde jaar van die regering van koning B\u00e9lsasar het aan my, Dani\u00ebl, 'n gesig verskyn n\u00e1 di\u00e9 een wat die vorige keer aan my verskyn het.\n8:2 Ek het naamlik in die gesig gesien--terwyl ek kyk, was ek in die vesting Susan wat in die provinsie Elam l\u00ea; en ek het in die gesig gesien dat ek my aan die Ulairivier bevind het.\n8:3 En ek het my o\u00eb opgeslaan en gesien, en kyk, daar staan 'n ram voor die rivier; en hy het twee horings gehad, en die twee horings was hoog, ook was die een ho\u00ebr as die ander, en die hoogste het laaste uitgekom.\n8:4 Ek het die ram sien stoot na die weste en na die noorde en na die suide, en al die diere kon voor hom nie standhou nie, en daar was niemand wat uit sy mag gered het nie; maar hy het gedoen net wat hy wou, en het magtig geword.\n8:5 Terwyl ek daarop ag gee, kom daar 'n bokram uit die weste aan oor die oppervlakte van die hele aarde, sonder om aan die grond te raak; en die bok het 'n aansienlike horing tussen sy o\u00eb gehad.\n8:6 En hy het na die ram met die twee horings aangekom wat ek voor die rivier sien staan het, en hom in die woede van sy krag stormgeloop.\n8:7 En ek het hom gesien hoe hy tot by die ram kom en op hom verbitterd word en die ram stoot en sy twee horings verbreek; en daar was geen krag in die ram om voor hom stand te hou nie, sodat hy hom teen die grond gegooi en hom vertrap het, en daar was niemand wat die ram uit sy mag gered het nie.\n8:8 En die bok het uitermate magtig geword; maar toe hy sterk was, het die groot horing afgebreek, en vier aansienlike horings het in sy plek uitgekom na die vier windstreke van die hemel.\n8:9 En uit een van di\u00e9 het 'n horing, eers klein, uitgekom, maar dit het baie groot geword na die suide en na die ooste en na die Pragtige Land toe.\n8:10 En dit het groot geword tot by die le\u00ebr van die hemel en het sommige van die le\u00ebr, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap.\n8:11 Selfs tot by die Vors van die le\u00ebr het dit groot geword, sodat die voortdurende offer Hom ontneem en sy heilige woning neergewerp is.\n8:12 En 'n le\u00ebr is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die voortdurende offer; en dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy optrede voorspoed gehad.\n8:13 Toe hoor ek 'n heilige spreek; en 'n ander heilige het aan die een wat spreek, ges\u00ea: Hoe lank sal die gesig duur--van die voortdurende offer en die ontsettende goddeloosheid--sal die heiligdom sowel as die le\u00ebr aan vertrapping oorgegee word?\n8:14 En hy het vir my ges\u00ea: Twee duisend drie honderd aande en m\u00f4res, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.\n8:15 En toe ek, Dani\u00ebl, die gesig gesien het, het ek probeer om dit te verstaan, en kyk, daar het iemand voor my gestaan wat soos 'n man gelyk het.\n8:16 En ek het 'n mensestem gehoor uit die Ulai wat geroep en ges\u00ea het: Gabri\u00ebl, laat hierdie een die gesig verstaan!\n8:17 Toe kom hy by my staanplek; en toe hy kom, het ek geskrik en op my aangesig geval. En hy het vir my ges\u00ea: Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde.\n8:18 En terwyl hy met my spreek, het ek bewusteloos met my aangesig op die grond geval; toe het hy my aangeroer en my op my staanplek opgerig\n8:19 en ges\u00ea: Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde.\n8:20 Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en die Perse.\n8:21 En die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy o\u00eb was, dit is die eerste koning.\n8:22 En dat dit gebreek is en vier in sy plek ontstaan het--vier koninkryke sal uit sy volk ontstaan, maar nie met sy krag nie.\n8:23 Maar aan die einde van hulle heerskappy, as die goddelose die maat volgemaak het, sal 'n koning optree, hard van aangesig en wat listige streke verstaan.\n8:24 En sy krag sal sterk word, maar nie deur sy krag nie; en hy sal buitengewoon baie kwaad aanrig en dit voorspoedig uitvoer; en hy sal magtiges vernietig en ook die volk van die heiliges.\n8:25 En op grond van sy slimheid sal hy met geluk bedrog pleeg, en hy sal groot dinge onderneem in sy hart en baie mense onverwags vernietig, ja, optree teen die Vors van die vorste, maar hy sal sonder toedoen van mensehand verbreek word.\n8:26 En die gesig van die aande en die m\u00f4res waarvan gespreek is, dit is waarheid; en jy, hou die gesig geheim, want dit sien op 'n verre toekoms.\n8:27 En ek, Dani\u00ebl, was gedaan en was dae lank siek; daarna het ek opgestaan en die werk van die koning gedoen; en ek was verstom oor die gesig, maar niemand het dit gemerk nie.\n9:1 In die eerste jaar van Dar\u00edus, die seun van Ahasv\u00e9ros, uit die geslag van die Meders, wat koning gemaak was oor die koninkryk van die Chalde\u00ebrs,\n9:2 in die eerste jaar van sy regering het ek, Dani\u00ebl, in die boeke gemerk dat die getal jare waaroor die woord van die HERE tot die profeet Jeremia gekom het met betrekking tot die puinhope van Jerusalem, sewentig volle jare was.\n9:3 En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy.\n9:4 En ek het tot die HERE my God gebid en belydenis gedoen en ges\u00ea: Ag, Here, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou,\n9:5 ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk.\n9:6 En ons het nie geluister na u knegte, die profete, wat in u Naam gespreek het tot ons konings, ons owerstes en ons vaders en tot die hele volk van die land nie.\n9:7 Aan U, Here, kom die geregtigheid toe, maar aan ons beskaming van die aangesig soos dit vandag is, aan die manne van Juda en aan die inwoners van Jerusalem en aan die hele Israel, die wat naby en die wat ver is in al die lande waarheen U hulle verdryf het, oor hulle ontrou wat hulle teen U begaan het.\n9:8 Here, aan ons kom toe beskaming van die aangesig, aan ons konings, aan ons owerstes en aan ons vaders, omdat ons teen U gesondig het.\n9:9 By die Here onse God is barmhartigheid en vergewing, want ons het teen Hom opgestaan\n9:10 en na die stem van die HERE onse God nie geluister om te wandel in sy wette wat Hy ons deur die diens van sy knegte, die profete, voorgehou het nie.\n9:11 Maar die hele Israel het u wet oortree en afgewyk deurdat hulle nie na u stem geluister het nie; daarom is die vloek en die eed oor ons uitgestort wat geskrywe is in die wet van Moses, die kneg van God, want ons het teen Hom gesondig.\n9:12 En Hy het sy woorde in vervulling laat gaan wat Hy oor ons gespreek het en oor ons rigters wat ons bestuur het, deur groot onheil oor ons te bring wat onder die ganse hemel nie gebeur het soos in Jerusalem nie;\n9:13 soos in die wet van Moses geskrywe is--al hierdie onheil het oor ons gekom, en ons het die aangesig van die HERE onse God nie om genade gesmeek deur ons te bekeer van ons ongeregtighede en ag te gee op u waarheid nie.\n9:14 Daarom was die HERE wakker oor die onheil, om dit oor ons te bring; want die HERE onse God is regverdig by al sy werke wat Hy doen, maar ons het nie na sy stem geluister nie.\n9:15 Nou dan, o Here onse God wat u volk uit Egipteland met 'n sterke hand uitgelei en vir U 'n Naam gemaak het soos dit vandag is, ons het gesondig, ons was goddeloos.\n9:16 o Here, laat tog volgens al u geregtigheid u toorn en u grimmigheid van u stad Jerusalem, u heilige berg, afgewend word, want om ons sondes en die ongeregtighede van ons vaders ontwil is Jerusalem en u volk 'n voorwerp van versmading vir almal rondom ons.\n9:17 Hoor dan nou, onse God, na die gebed van u kneg en na sy smekinge, en laat ter wille van die Here u aangesig skyn oor u heiligdom wat woes l\u00ea.\n9:18 Neig u oor, my God, en hoor, open u o\u00eb en aanskou ons verwoeste plekke en die stad waar u Naam oor uitgeroep is; want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote barmhartigheid.\n9:19 Here, hoor! Here, vergeef! Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U ontwil, my God; want u Naam is oor u stad en u volk uitgeroep.\n9:20 Terwyl ek nog spreek en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en my smeking voor die aangesig van die HERE my God neerwerp, ter wille van die heilige berg van my God,\n9:21 terwyl ek nog spreek in die gebed, het die man Gabri\u00ebl wat ek, uitgeput van vermoeienis, 'n vorige keer in die gesig gesien het, na my gekom omtrent die tyd van die aandspysoffer.\n9:22 En hy het my onderrig en met my gespreek en ges\u00ea: Dani\u00ebl, nou het ek heengegaan om jou insig te gee.\n9:23 By die begin van jou smekinge het 'n woord uitgegaan, en ek het gekom om dit mee te deel, want jy is 'n geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die gesig.\n9:24 Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te bese\u00ebl en om wat hoogheilig is, te salf.\n9:25 Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op 'n Gesalfde, 'n Vors, is sewe sewetalle; en twee en sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid.\n9:26 En n\u00e1 die twee en sestig sewetalle sal 'n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van 'n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met 'n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.\n9:27 En hy sal een week lank met baie 'n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar 'n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.\n10:1 In die derde jaar van Kores, die koning van die Perse, is 'n woord geopenbaar aan Dani\u00ebl wat B\u00e9ltsasar genoem is, en die woord is waarheid maar groot swarigheid; en hy het die woord verstaan en insig gehad in die gesig.\n10:2 In daardie dae het ek, Dani\u00ebl, drie volle weke getreur.\n10:3 Smaaklike spys het ek nie ge\u00ebet en vleis en wyn het nie in my mond gekom nie; en ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke om was.\n10:4 En op die vier en twintigste dag van die eerste maand, terwyl ek op die wal van die groot rivier was, dit is die Hidd\u00e9kel,\n10:5 het ek my o\u00eb opgeslaan, en daar sien ek 'n man met linne bekleed, en sy heupe was omgord met goud van Ufas.\n10:6 En sy liggaam was soos chrisoliet, en sy aangesig soos die geflikker van bliksem en sy o\u00eb soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos blink geskuurde koper en die geluid van sy woorde soos die gedruis van 'n menigte.\n10:7 En ek, Dani\u00ebl, alleen het die gesig gesien, maar die manne wat saam met my was, het die gesig nie gesien nie; nogtans het 'n groot skrik hulle oorval, sodat hulle gevlug het om hulle te verberg.\n10:8 Toe het \u00e9k alleen oorgebly en hierdie groot gesig gesien, en geen krag het in my oorgebly nie, en my gesonde kleur het aan my verander en verdwyn, en ek het geen krag oorgehou nie.\n10:9 En ek het die geluid van sy woorde gehoor, en toe ek die geluid van sy woorde hoor, het ek bewusteloos op my aangesig, met my aangesig op die aarde, geval.\n10:10 En kyk, 'n hand het my aangeraak en my op my knie\u00eb en op die handpalms waggelend laat opstaan.\n10:11 En hy het vir my ges\u00ea: Dani\u00ebl, geliefde man, gee ag op die woorde wat ek met jou spreek, en gaan staan op jou staanplek, want ek is nou na jou gestuur. En terwyl hy hierdie woord met my spreek, het ek bewende gaan staan.\n10:12 Toe s\u00ea hy vir my: Wees nie bevrees nie, Dani\u00ebl; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom;\n10:13 maar die vors van die koninkryk van die Perse het een en twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, M\u00edgael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en \u00e9k het daar oorgebly by die konings van Persi\u00eb.\n10:14 Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val, want die gesig sien nog op die verre toekoms.\n10:15 En terwyl hy hierdie woorde met my spreek, het ek my aangesig na die grond gedraai en stom geword.\n10:16 En kyk, een wat soos 'n mens gelyk het, het my lippe aangeraak. Toe het ek my mond oopgemaak en gespreek en aan hom wat teenoor my staan, ges\u00ea: My heer, deur die gesig het krampe my oorval en het ek geen krag oorgehou nie.\n10:17 En hoe kan so 'n geringe kneg van my heer met so 'n heer van my spreek? Wat my aangaan, bestaan daar nou geen krag in my nie, en geen asem het in my oorgebly nie.\n10:18 Toe het die een wat soos 'n mens gelyk het, my weer aangeraak en my versterk\n10:19 en ges\u00ea: Wees nie bevrees nie, geliefde man, vrede vir jou, wees sterk, ja, sterk! En terwyl hy met my spreek, het ek moed geskep en ges\u00ea: My heer kan maar spreek, want u het my versterk.\n10:20 Toe s\u00ea hy: Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet dan nou teruggaan om te veg met die vors van die Perse; en as ek heengegaan het, kyk, dan kom die vors van Griekeland.\n10:21 Nogtans sal ek jou te kenne gee wat geskrywe is in die boek van die waarheid; en daar is nie een wat hom saam met my dapper gedra teen hulle nie, behalwe julle vors M\u00edgael.\n11:1 En ek, in die eerste jaar van Dar\u00edus, die Meder, het ek opgetree as 'n versterking en beskutting vir h\u00f3m.\n11:2 En nou sal ek jou die waarheid te kenne gee. Kyk, nog drie konings sal opstaan vir die Perse, en die vierde sal groter rykdom verwerf as almal; en as hy sterk is deur sy rykdom, sal hy alles in beweging bring teen die koninkryk van Griekeland.\n11:3 Dan sal 'n dapper koning opstaan wat groot heerskappy sal h\u00ea en sal maak net soos hy wil.\n11:4 En as hy opgetree het, sal sy koninkryk verbreek word en na die vier windstreke van die hemel verdeel word; en dit sal nie aan sy nakomelinge behoort en nie wees soos die heerskappy wat hy gehad het nie--want sy koninkryk sal verwoes word en nie aan hulle behoort nie, maar aan ander.\n11:5 En die koning van die Suide sal sterk word, maar een van sy owerstes sal sterker word as hy en heers; sy heerskappy sal 'n groot heerskappy wees.\n11:6 En n\u00e1 verloop van jare sal hulle 'n bondgenootskap met mekaar aangaan, en die dogter van die koning van die Suide sal na die koning van die Noorde kom om vrede te sluit; maar sy sal die krag van die arm nie behou nie--hy en sy mag sal nie standhou nie, en sy self sal prysgegee word saam met die wat haar gebring het, sowel as hy wat haar verwek het en haar in di\u00e9 tyd verwerf het.\n11:7 Dan sal een uit die spruite van haar wortels in sy plek oprys en teen die le\u00ebr optrek, en hy sal in die vesting van die koning van die Noorde indring en teen hulle optree en magtig wees;\n11:8 ja, ook hulle gode en hulle gegote beelde saam met hulle kosbare voorwerpe, silwer en goud, in gevangenskap na Egipte bring, en hy sal jare lank die koning van die Noorde met rus laat.\n11:9 Dan sal di\u00e9 in die koninkryk van die koning van die Suide intrek, maar hy sal na sy land terugtrek.\n11:10 En sy seuns sal hulle in die oorlog begewe en 'n menigte groot le\u00ebrs versamel; en hy sal sekerlik aankom en instroom en oorloop, en weer terugkom, en hulle sal oorlog voer tot by sy vesting.\n11:11 Dan sal die koning van die Suide verbitterd word en uittrek en teen hom, die koning van die Noorde, veg, wat ook 'n groot menigte op die been sal bring, maar hierdie menigte sal in sy hand oorgegee word.\n11:12 As die menigte vernietig is, sal sy hart hom verhef; en hy sal tien duisende neerslaan, maar nie sterk bly nie.\n11:13 Dan sal die koning van die Noorde weer 'n groter menigte op die been bring as die eerste, en n\u00e1 verloop van tyd, van jare, sal hy sekerlik kom met 'n groot le\u00ebr en 'n groot gevolg.\n11:14 En in di\u00e9 tye sal baie teen die koning van die Suide opstaan, en die gewelddadige mense van jou volk sal hulle verhef om 'n gesig in vervulling te laat gaan, maar hulle sal omkom.\n11:15 So sal dan die koning van die Noorde kom en 'n wal opwerp en 'n versterkte stad inneem; en die le\u00ebrs van die Suide sal nie standhou nie, selfs sy uitgesoekte manskappe nie, sodat daar geen krag sal wees om stand te hou nie.\n11:16 En hy wat uit die Noorde teen hom kom, sal maak net soos hy wil, en niemand sal voor hom standhou nie; hy sal ook gaan staan in die Pragtige Land, terwyl daar verdelging in sy hand is.\n11:17 En hy sal sy aangesig daarop rig om met die sterkte van sy hele koninkryk te kom, maar hy sal met hom vrede sluit; en hy sal vir hom 'n jongedogter gee om die land te gronde te rig. Maar dit sal nie tot stand kom nie, en daar sal niks vir hom wees nie.\n11:18 Daarna sal hy sy aangesig wend na die kuslande en baie daarvan verower; maar 'n aanvoerder sal aan sy gesmaad 'n einde maak, ja, hy sal sy gesmaad op homself laat terugval.\n11:19 Dan sal hy sy aangesig wend na die vestings van sy land, maar hy sal struikel en val en nie meer gevind word nie.\n11:20 En in sy plek sal iemand optree wat 'n geldinsamelaar deur die pragtigste deel van die koninkryk sal laat deurtrek, maar binne enkele dae sal hy verbreek word, maar nie deur toorn of deur oorlog nie.\n11:21 Daarna sal 'n veragtelike in sy plek optree op wie geen koninklike waardigheid gel\u00ea was nie, maar hy sal onverwags kom en met liste die koninkryk bemagtig.\n11:22 En die le\u00ebrs van die instromende mag sal voor hom weggespoel en verbreek word, en ook die vors van die verbond.\n11:23 Want sodra 'n bondgenootskap met hom aangegaan is, pleeg hy bedrog; en hy sal omhoog kom en met min manskappe sterk word.\n11:24 Onverwags en in die vetste dele van die provinsie sal hy inkom, en hy sal doen wat sy vaders en sy grootvaders nie gedoen het nie: roof en buit en goed sal hy onder hulle uitstrooi en teen vestings planne beraam, maar net vir 'n tyd.\n11:25 En hy sal sy krag en sy hart opwek teen die koning van die Suide met 'n groot le\u00ebr; en die koning van die Suide sal hom in die oorlog begewe met 'n groot en baie sterk le\u00ebr, maar hy sal nie standhou nie, want hulle sal planne teen hom beraam.\n11:26 En die wat sy spys eet, sal hom te gronde rig; en sy le\u00ebr sal wegvloei, en daar sal baie gesneuweldes l\u00ea.\n11:27 En wat die twee konings betref, hulle hart sal wees om kwaad te doen; en aan een tafel sal hulle leuens spreek, maar dit sal nie geluk nie, want die einde sal eers op die vasgestelde tyd wees.\n11:28 En hy sal na sy land teruggaan met baie goed, en sy hart sal teen die heilige verbond wees, en hy sal optree en na sy land teruggaan.\n11:29 Op die vasgestelde tyd sal hy terugkeer en in die Suide kom, maar dit sal die laaste keer nie wees soos die eerste keer nie.\n11:30 Want skepe van die Kitti\u00ebrs sal teen hom kom, en hy sal moedeloos word; dan sal hy teruggaan en sy toorn openbaar teen die heilige verbond en optree; en hy sal teruggaan en ag gee op die wat die heilige verbond versaak het.\n11:31 En deur hom sal le\u00ebrs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel.\n11:32 En die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig maak, maar die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree.\n11:33 En die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring; maar hulle sal struikel deur swaard en vlam, deur gevangenskap en berowing, dae lank.\n11:34 En terwyl hulle struikel, sal hulle met 'n klein hulp ondersteun word; dan sal baie uit listigheid by hulle aansluit.\n11:35 En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde--want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd.\n11:36 En die koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; en hy sal voorspoedig wees, totdat die grimmigheid ten einde is; want wat vas besluit is, sal uitgevoer word.\n11:37 En op die gode van sy vaders sal hy nie ag slaan nie, en op die liefling van die vroue en op enige god sal hy geen ag gee nie; want hy sal homself bo alles groot hou.\n11:38 Maar in plaas daarvan sal hy die god van die vestings vereer, en die god wat sy vaders nie geken het nie, sal hy met goud en silwer en edelgesteente en kosbaarhede vereer.\n11:39 So sal hy dan optree teen die versterkte vestings met behulp van 'n vreemde god; diegene wat hy erken, sal hy baie eer en hulle oor baie laat heers en grond as beloning uitdeel.\n11:40 Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei.\n11:41 Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon.\n11:42 En hy sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie.\n11:43 En hy sal mag h\u00ea oor die skatte van goud en silwer en oor al die kosbaarhede van Egipte, terwyl die L\u00edbi\u00ebrs en die Kusiete sy voetstappe volg.\n11:44 Maar gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref.\n11:45 En hy sal sy paleistente opslaan tussen die see en die berg van die heilige Prag; maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie.\n12:1 En in di\u00e9 tyd sal M\u00edgael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal 'n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat 'n volk bestaan het tot op di\u00e9 tyd nie; maar in di\u00e9 tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.\n12:2 En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.\n12:3 En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos.\n12:4 En jy, Dani\u00ebl, hou die woorde geheim en verse\u00ebl die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.\n12:5 En ek, Dani\u00ebl, het gesien, en kyk daar het twee ander gestaan, die een duskant op die wal van die rivier en die ander oorkant op die wal van die rivier.\n12:6 En een het aan die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, ges\u00ea: Hoe lank sal die einde van die wonderbaarlike dinge uitbly?\n12:7 Toe hoor ek die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, en hy het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgehef en gesweer by die Ewig-Lewende: 'n Tyd, tye en 'n halwe tyd, en as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het, sal al hierdie dinge vervul word.\n12:8 En ek het dit gehoor, maar nie verstaan nie; daarom het ek ges\u00ea: My heer, wat is die uiteinde van hierdie dinge?\n12:9 En hy het ges\u00ea: Gaan heen, Dani\u00ebl, want die woorde bly verborge en verse\u00ebl tot die tyd van die einde toe.\n12:10 Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan.\n12:11 En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend twee honderd en negentig dae verloop.\n12:12 Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend drie honderd vyf en dertig dae bereik.\n12:13 En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae.","title":"Afrikaans Bible: Daniel","type":"page"}
