{"collection":"Bible & Christianity","html_url":"https://unchartedknowledge.5gfusion.net/browse/bib/wb/afr/est.htm","path":"bib/wb/afr/est.htm","source_url":"https://sacred-texts.com/bib/wb/afr/est.htm","text":"1:1 En in die dae van Ahasv\u00e9ros--dit is die Ahasv\u00e9ros wat geregeer het van Indi\u00eb af tot by Kus, honderd sewe en twintig provinsies--\n1:2 in di\u00e9 dae toe koning Ahasv\u00e9ros op sy koninklike troon in die vesting Susan gesit het,\n1:3 in die derde jaar van sy regering, het hy 'n maaltyd berei vir al sy vorste en sy dienaars; die le\u00ebrmag van Persi\u00eb en Medi\u00eb, die vername manne en die vorste van die provinsies was voor hom;\n1:4 waarby hy die rykdom van sy koninklike heerlikheid en die skitterende prag van sy grootheid baie dae, honderd en tagtig dae lank, vertoon het.\n1:5 En toe di\u00e9 dae verby was, het die koning vir al die mense wat in die vesting Susan aanwesig was, van die grootste tot die kleinste, 'n maaltyd berei, sewe dae lank, op die voorplein van die tuin van die koninklike paleis.\n1:6 Linne--, katoen-- en pers stowwe was met linne-- en purperrooi bande vasgemaak aan silwerringe en marmerpilare! Goue en silwerrusbanke op 'n plaveisel van malachiet en van witmarmer en perlemoensteen en gevlekte marmer!\n1:7 Daarby het hulle laat drink uit goue bekers, en die een beker was verskillend van die ander beker, en daar was koninklike wyn in oorvloed, eg koninklik!\n1:8 En hulle het gedrink volgens voorskrif: niemand het gedwing nie; want so het die koning bevel gegee aan al die ho\u00eb beamptes van sy paleis, dat hulle na elkeen se sin moes handel.\n1:9 Ook het die koningin Vasti 'n vrouemaaltyd aangerig in die koninklike paleis van koning Ahasv\u00e9ros.\n1:10 Op die sewende dag, toe die hart van die koning vrolik was van die wyn, het hy aan Meh\u00faman, Bista, Harb\u00f3na, Bigta en Ab\u00e1gta, Setar en Karkas, die sewe hofdienaars wat voor koning Ahasv\u00e9ros gedien het, ges\u00ea\n1:11 dat hulle koningin Vasti met die koninklike kroon op voor die koning moet bring om haar skoonheid aan die volke en die vorste te toon, want sy was mooi van aansien.\n1:12 Maar koningin Vasti het geweier om te kom op die bevel van die koning deur middel van die hofdienaars aan haar oorgebring. Toe het die koning baie kwaad geword, en sy woede het in hom ontvlam.\n1:13 En die koning het aan die wyse manne, die kenners van die tye, ges\u00ea--want s\u00f3 word die sake van die koning aan al die kenners van wet en reg voorgel\u00ea;\n1:14 en die naaste aan hom was: Kars\u00e9na, Setar, Adm\u00e1ta, Tarsis, Meres, Mars\u00e9na, Mem\u00fagan, die sewe vorste van die Perse en Meders wat die aangesig van die koning gesien het, wat vooraan gesit het in die koninkryk--\n1:15 wat moet volgens wet gedoen word met koningin Vasti, omdat sy die bevel van koning Ahasv\u00e9ros, deur middel van sy hofdienaars, nie opgevolg het nie?\n1:16 Toe s\u00ea Mem\u00fagan voor die koning en die vorste: Nie alleen teen die koning het koningin Vasti misdaan nie, maar ook teen al die vorste en al die volke wat in al die provinsies van koning Ahasv\u00e9ros is.\n1:17 Want die geval van die koningin sal by al die vroue bekend word, sodat dit hulle manne in hul o\u00eb veragtelik sal maak as daar ges\u00ea word: Koning Ahasv\u00e9ros het bevel gegee om koningin Vasti voor hom te bring, maar sy het nie gekom nie.\n1:18 Dieselfde dag nog sal die vorstinne van die Perse en Meders, as hulle die geval van die koningin hoor, dit aan al die vorste van die koning vertel; en dan sal dit genoeg veragting en gramskap afgee!\n1:19 As die koning dit goedvind, laat daar 'n koninklike woord van hom uitgaan en beskrywe word in die wette van die Perse en Meders, sodat dit onherroeplik is, dat Vasti nie meer voor koning Ahasv\u00e9ros mag kom nie; en laat die koning haar koninklike waardigheid aan haar naaste gee wat beter is as sy.\n1:20 As dan van die bevelskrif van die koning gehoor word wat hy in sy hele koninkryk--want dit is groot--uitvaardig, sal al die vroue aan hulle manne eer bewys, van die grootste tot die kleinste.\n1:21 En die woord was goed in die o\u00eb van die koning en van die vorste, en die koning het gehandel volgens die raad van Mem\u00fagan.\n1:22 En hy het briewe gestuur aan al die provinsies van die koning, aan elke provinsie volgens sy eie skrif en aan elke volk volgens sy eie taal, dat elke man in sy huis baas moet wees en sy volkstaal praat.\n2:1 Toe n\u00e1 die dinge die woede van koning Ahasv\u00e9ros bedaar het, het hy aan Vasti gedink en aan wat sy gedoen het en wat oor haar besluit is.\n2:2 Toe s\u00ea die jongmanne van die koning wat hom dien: Laat hulle vir die koning jongmeisies soek wat mooi van aansien is;\n2:3 en laat die koning beamptes aanstel in al die provinsies van sy koninkryk, dat hulle al die jongmeisies wat mooi van aansien is, bymekaar laat kom in die vesting Susan, in die vrouehuis, onder toesig van Hegai, die hofdienaar van die koning, die bewaker van die vroue; en laat hulle skoonheidsmiddele aan hulle gee.\n2:4 En die jongmeisie wat die koning geval, moet in die plek van Vasti koningin word. Hierdie woord dan was goed in die o\u00eb van die koning, en hy het so gedoen.\n2:5 Daar was 'n Joodse man in die vesting Susan met die naam van M\u00f3rdegai, die seun van Ja\u00efr, die seun van S\u00edme\u00ef, die seun van Kis, 'n Benjaminiet,\n2:6 wat uit Jerusalem weggevoer was onder die ballinge wat in ballingskap moes gaan saam met Jeg\u00f3nja, die koning van Juda, wat Nebukadn\u00e9sar, die koning van Babel, weggevoer het.\n2:7 En hy was die opvoeder van Had\u00e1ssa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want sy het geen vader of moeder gehad nie; en die jongmeisie was skoon van gestalte en mooi van aansien, en by die dood van haar vader en haar moeder het M\u00f3rdegai haar as sy dogter aangeneem.\n2:8 En toe die bevel van die koning en sy wet bekend gemaak is, en baie meisies in die vesting Susan onder toesig van Hegai byeengebring is, het hulle Ester ook saamgeneem na die paleis van die koning, onder toesig van Hegai, die bewaker van die vroue.\n2:9 En die meisie het hom geval en guns by hom gevind; daarom het hy gou gemaak om haar die nodige skoonheidsmiddele en die regte ete te gee en haar die sewe uitgesoekte meisies uit die paleis van die koning te verskaf; en hy het haar met haar meisies verplaas na die beste gedeelte van die vrouehuis.\n2:10 Ester het haar volk en haar afkoms nie te kenne gegee nie, omdat M\u00f3rdegai haar beveel het om dit nie te vertel nie.\n2:11 En M\u00f3rdegai het dag vir dag voor die voorhof van die vrouehuis gewandel om te verneem na die welstand van Ester en wat met haar sou gebeur.\n2:12 En as die beurt van elke meisie aankom om na koning Ahasv\u00e9ros in te gaan, nadat twaalf maande lank met haar volgens die wet vir die vroue gehandel is--want so lank het die dae van hulle voorbereiding geduur: ses maande lank met mirre-olie en ses maande met balsem en ander skoonheidsmiddele van die vroue--\n2:13 as die meisie dan so na die koning ingaan, word alles wat sy s\u00ea, aan haar gegee, dat dit saam met haar uit die vrouehuis na die koninklike paleis kan gaan.\n2:14 As sy in die aand ingaan en in die m\u00f4re terugkom na die tweede vrouehuis onder toesig van Sa\u00e4sgas, die hofdienaar van die koning wat die byvroue bewaak, dan mag sy nie weer by die koning ingaan nie, behalwe as die koning behae in haar vind en sy by die naam geroep word.\n2:15 Toe die beurt van Ester, die dogter van Ab\u00edgail, die oom van M\u00f3rdegai, wat haar as sy dogter aangeneem het, kom om in te gaan na die koning, het sy niks verlang nie, behalwe wat Hegai, die hofdienaar van die koning wat die vroue bewaak, ges\u00ea het; en Ester het guns gevind in die o\u00eb van almal wat haar gesien het.\n2:16 Ester is toe by koning Ahasv\u00e9ros in sy koninklike paleis opgeneem in die tiende maand, dit is die maand Tebet, in die sewende jaar van sy regering.\n2:17 En die koning het Ester liefgekry meer as al die vroue, en sy het guns en welwillendheid voor hom gevind meer as al die jongmeisies; en hy het die koninklike kroon op haar hoof gesit en haar koningin gemaak in die plek van Vasti.\n2:18 En die koning het 'n groot maaltyd aangerig vir al sy vorste en sy dienaars, die maaltyd van Ester; en hy het 'n vrye dag bepaal vir die provinsies en geskenke gegee, eg koninklik!\n2:19 En toe die jongmeisies vir die tweede keer versamel is, terwyl M\u00f3rdegai in die poort van die koning sit--\n2:20 Ester het haar afkoms en haar volk nie te kenne gegee nie, soos M\u00f3rdegai haar beveel het; en Ester het die bevel van M\u00f3rdegai opgevolg soos toe sy by hom opgevoed is--\n2:21 in di\u00e9 dae dan, terwyl M\u00f3rdegai in die poort van die koning sit, het Bigtan en Teres, twee hofdienaars van die koning, drumpelwagters, kwaad geword en getrag om die hand aan koning Ahasv\u00e9ros te slaan.\n2:22 Maar M\u00f3rdegai het dit te wete gekom en dit aan koningin Ester meegedeel; en Ester het dit uit naam van M\u00f3rdegai aan die koning ges\u00ea.\n2:23 Toe die saak ondersoek en so bevind is, is hulle twee aan 'n galg opgehang; en dit is in die kroniekboek voor die koning beskrywe.\n3:1 N\u00e1 hierdie dinge het koning Ahasv\u00e9ros Haman, die seun van Hammed\u00e1ta, die Agagiet, groot gemaak en hom verhoog en sy setel ho\u00ebr gestel as di\u00e9 van al die vorste wat by hom was.\n3:2 En al die dienaars van die koning wat in die poort van die koning was, het gebuig en voor Haman neergeval; want so het die koning aangaande hom bevel gegee; maar M\u00f3rdegai het nie gebuig of neergeval nie.\n3:3 En die dienaars van die koning, in die poort van die koning, het aan M\u00f3rdegai ges\u00ea: Waarom oortree jy die gebod van die koning?\n3:4 En toe hulle hom dit elke dag s\u00ea, en hy nie na hulle luister nie, het hulle dit aan Haman meegedeel om te sien of die handelwyse van M\u00f3rdegai sou standhou, want hy het hulle te kenne gegee dat hy 'n Jood was.\n3:5 Toe Haman sien dat M\u00f3rdegai nie buig en voor hom nie neerval nie, was Haman met woede vervul.\n3:6 Maar hy het dit vir hom te gering geag om die hand aan M\u00f3rdegai alleen te slaan; want hulle het hom die volk van M\u00f3rdegai te kenne gegee. Daarom het Haman daarna gesoek om al die Jode wat in die hele koninkryk van Ahasv\u00e9ros was, die volk van M\u00f3rdegai, te verdelg.\n3:7 In die eerste maand, dit is die maand Nisan, in die twaalfde jaar van koning Ahasv\u00e9ros, het hulle die Pur, dit is die lot, voor Haman gewerp vir elke dag en vir elke maand, twaalf in getal, dit is die maand Adar.\n3:8 Toe s\u00ea Haman aan koning Ahasv\u00e9ros: Daar is een volk wat verstrooid en afgesonderd is tussen die volke in al die provinsies van u koninkryk, en hulle wette is anders as di\u00e9 van enige volk; ook hou hulle die wette van die koning nie, sodat dit die koning nie pas om hulle te laat begaan nie.\n3:9 As die koning dit goedvind, laat daar dan geskrywe word om hulle te verdelg, en ek sal tien duisend talente silwer afweeg in die hande van die beamptes om dit by die skatte van die koning te voeg.\n3:10 Toe trek die koning sy se\u00eblring van sy hand af en gee dit aan Haman, die seun van Hammed\u00e1ta, die Agagiet, die te\u00ebstander van die Jode.\n3:11 En die koning het aan Haman ges\u00ea: Die silwer word jou geskenk; ook die volk, om daarmee te doen soos goed is in jou o\u00eb.\n3:12 Toe is die skrywers van die koning geroep in die eerste maand, op die dertiende dag daarvan, en daar is geskrywe net soos Haman beveel het aan die landvoogde van die koning en aan die goewerneurs wat oor elke provinsie was, en aan die vorste van elke volk, aan elke provinsie volgens sy skrif en aan elke volk in sy taal; in die naam van koning Ahasv\u00e9ros is dit geskrywe en verse\u00ebl met die se\u00eblring van die koning.\n3:13 En briewe is gestuur met die hardlopers na al die provinsies van die koning om al die Jode te verdelg, dood te maak en uit te roei, die seun sowel as die grysaard, die kindertjies en die vroue, op een dag, op die dertiende van die twaalfde maand, dit is die maand Adar, en om hulle besittings as buit te plunder.\n3:14 'n Afskrif van die bevelskrif moes as wet in elke provinsie uitgevaardig en openbaar gemaak word aan al die volke, om gereed te wees teen daardie dag.\n3:15 Die hardlopers het haastig op bevel van die koning uitgegaan, en die wet is in die vesting Susan uitgevaardig terwyl die koning en Haman sit en drink; maar die stad Susan was in verwarring.\n4:1 Toe M\u00f3rdegai verneem alles wat gebeur het, het M\u00f3rdegai sy klere geskeur en 'n roukleed aangetrek, en daar was as op sy hoof; en hy het uitgegaan dwarsdeur die stad en hardop en bitter geskreeu.\n4:2 So het hy dan tot voor die poort van die koning gekom; want niemand het met 'n roukleed aan by die poort van die koning mag ingaan nie.\n4:3 En in al die provinsies waar die bevel van die koning en sy wet ook al aankom, was daar groot rou onder die Jode met vas en geween en rouklag; baie het sak en as onder hulle uitgesprei.\n4:4 Toe die meisies van Ester en haar hofdienaars kom en haar dit meedeel, was die koningin baie beangs, en sy het klere gestuur om M\u00f3rdegai dit aan te trek en om sy roukleed van hom weg te neem; maar hy het dit nie aangeneem nie.\n4:5 Hierop roep Ester Hatag, een van die hofdienaars van die koning, wat hy in haar diens gestel het, en beveel hom om na M\u00f3rdegai te gaan om te verneem wat dit beteken en waarom dit gebeur.\n4:6 En Hatag het uitgegaan na M\u00f3rdegai na die stadsplein wat voor die poort van die koning gel\u00ea het.\n4:7 Toe deel M\u00f3rdegai hom mee alles wat hom oorgekom het, en die juiste bedrag van die silwer wat Haman beloof het om in die skatte van die koning af te weeg as prys vir die Jode om hulle uit te roei.\n4:8 En hy het hom 'n afskrif gegee van die bevelskrif wat in Susan uitgevaardig was om hulle te verdelg, sodat hy dit aan Ester kon wys en haar die saak kon meedeel en haar kon opdra om na die koning te gaan om hom genade te vra en by hom 'n voorspraak te wees vir haar volk.\n4:9 Daarop het Hatag ingegaan en die woorde van M\u00f3rdegai aan Ester meegedeel.\n4:10 Toe s\u00ea Ester vir Hatag, terwyl sy hom 'n opdrag gee aan M\u00f3rdegai:\n4:11 Al die dienaars van die koning en die volk van die provinsies van die koning weet dat vir elke man of vrou wat na die koning in die binneste voorhof ingaan, sonder dat hy geroep is, een en dieselfde wet geld: hy moet gedood word; behalwe wanneer die koning sy goue septer na hom uitsteek, dat hy mag lewe; en ek is nou al dertig dae lank nie geroep om by die koning in te kom nie.\n4:12 En hulle het die woorde van Ester aan M\u00f3rdegai meegedeel.\n4:13 Daarop s\u00ea M\u00f3rdegai dat hulle Ester moes antwoord: Verbeel jou nie dat jy alleen uit al die Jode in die huis van die koning sal vrykom nie.\n4:14 Want as jy nou werklik swyg, sal daar van 'n ander kant af verligting en redding vir die Jode tot stand kom, maar jy en jou familie sal omkom, en wie weet of jy nie met die oog op 'n tyd soos hierdie tot die koninklike waardigheid geraak het nie?\n4:15 Toe s\u00ea Ester dat hulle M\u00f3rdegai moes antwoord:\n4:16 Gaan heen, versamel al die Jode wat in Susan te vinde is, en vas julle om my ontwil; en julle moet nie eet en drink nie, drie dae lank, nag en dag; ek ook met my dienaresse sal net so vas; en so sal ek na die koning ingaan, wat nie volgens wet is nie, en as ek omkom, dan kom ek om.\n4:17 En M\u00f3rdegai het heengegaan en gedoen net soos Ester hom opgedra het.\n5:1 Op die derde dag het Ester haar koninklik aangetrek en gaan staan in die binneste voorhof van die paleis van die koning, teenoor die saal van die koning, terwyl die koning op sy koninklike troon sit in die koninklike saal, teenoor die ingang van die saal.\n5:2 En net toe die koning koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy genade in sy o\u00eb gevind; en die koning het die goue septer wat in sy hand was, na Ester uitgesteek; en Ester het nader gekom en die punt van die septer aangeraak.\n5:3 Toe s\u00ea die koning vir haar: Wat wil jy h\u00ea, koningin Ester, of wat is jou versoek? Al was dit ook die helfte van die koninkryk--dit sal jou gegee word.\n5:4 Daarop antwoord Ester: As die koning dit goedvind, laat die koning dan vandag met Haman na die maaltyd kom wat ek vir hom berei het.\n5:5 En die koning s\u00ea: Bring Haman gou, dat ons kan handel volgens die woord van Ester! En die koning en Haman het gegaan na die maaltyd wat Ester berei het.\n5:6 En terwyl hulle wyn drink, s\u00ea die koning vir Ester: Wat is jou bede? --dit sal jou toegestaan word. En wat is jou versoek? Al was dit ook die helfte van die koninkryk--daaraan sal voldoen word.\n5:7 Daarop antwoord Ester en s\u00ea: My bede en my versoek is:\n5:8 As ek genade gevind het in die o\u00eb van die koning, en as die koning dit goedvind om my bede toe te staan en aan my versoek te voldoen, laat die koning en Haman na die maaltyd kom wat ek vir hulle sal berei, dan sal ek m\u00f4re na die wens van die koning handel.\n5:9 En op di\u00e9 dag het Haman bly en opgeruimd heengegaan; maar toe Haman M\u00f3rdegai in die poort van die koning sien en dat hy nie opstaan of vir hom bevrees is nie, was Haman met woede vervul teen M\u00f3rdegai.\n5:10 Maar Haman het hom bedwing; en toe hy by sy huis kom, laat hy sy vriende en sy vrou Seres haal;\n5:11 en Haman vertel hulle van die heerlikheid van sy rykdom en van die veelheid van sy seuns en van alles waarin die koning hom groot gemaak het en hoe hy hom verhef het bo die vorste en die dienaars van die koning.\n5:12 Verder s\u00ea Haman: Selfs het koningin Ester niemand saam met die koning na die maaltyd laat kom wat sy aangerig het nie, as net vir my, en ook vir m\u00f4re is ek deur haar genooi saam met die koning.\n5:13 Maar dit alles baat my niks, solank as ek die Jood M\u00f3rdegai in die poort van die koning sien sit.\n5:14 Toe s\u00ea sy vrou Seres en al sy vriende vir hom: Laat hulle 'n galg van vyftig el hoog maak, en s\u00ea m\u00f4re vroeg aan die koning dat hulle M\u00f3rdegai daaraan moet ophang; gaan dan vrolik saam met die koning na die maaltyd. Di\u00e9 woord het Haman geval, en hy het die galg laat maak.\n6:1 In dieselfde nag het die slaap van die koning gewyk, en hy het ges\u00ea dat hulle die gedenkskrif, die kronieke, moes bring. En toe dit die koning voorgelees word,\n6:2 vind hulle daar beskrywe dat M\u00f3rdegai openbaar gemaak het dat Bigt\u00e1na en Teres, twee hofdienaars van die koning, uit die drumpelwagters, getrag het om die hand aan koning Ahasv\u00e9ros te slaan.\n6:3 Daarop s\u00ea die koning: Watter eer en verhoging het M\u00f3rdegai daarvoor te beurt geval? En die jongmanne van die koning, sy dienaars, het geantwoord: Met hom het niks gebeur nie.\n6:4 Toe s\u00ea die koning: Wie is in die voorhof? --juis toe Haman in die buitenste voorhof van die koninklike paleis kom om aan die koning te s\u00ea dat hulle M\u00f3rdegai moes ophang aan die galg wat hy vir hom laat oprig het.\n6:5 En die jongmanne van die koning antwoord hom: Daar staan Haman in die voorhof. Toe s\u00ea die koning: Laat hy inkom.\n6:6 Nadat Haman ingekom het, vra die koning hom: Wat moet met die man gedoen word aan wie die koning eer wil bewys? Haman dink toe by homself: Aan wie sou die koning eer wil bewys meer as aan my?\n6:7 Daarom het Haman vir die koning ges\u00ea: Die man aan wie die koning eer wil bewys--\n6:8 laat hulle 'n koninklike kleed bring waarmee die koning bekleed was, en 'n perd waar die koning op gery het en op die kop waarvan 'n koninklike kroon gesit is;\n6:9 en laat hulle die kleed en die perd afgee aan een van die vorste van die koning, van die vername manne, dat hulle dit die man aantrek aan wie die koning eer wil bewys; en hulle moet hom laat ry op die perd oor die stadsplein en voor hom uitroep: So word gedoen aan die man aan wie die koning eer wil bewys.\n6:10 Toe s\u00ea die koning vir Haman: Neem gou die kleed en die perd soos jy gespreek het, en doen so aan M\u00f3rdegai, die Jood, wat in die poort van die koning sit; jy moet nie een woord onvervuld laat bly van alles wat jy gespreek het nie.\n6:11 En Haman het die kleed geneem en die perd, en hy het M\u00f3rdegai aangetrek en hom laat ry oor die stadsplein en voor hom uitgeroep: So word gedoen aan die man aan wie die koning eer wil bewys.\n6:12 Daarna het M\u00f3rdegai teruggegaan na die poort van die koning; maar Haman het hom gehaas na sy huis toe, treurig en met bedekte hoof.\n6:13 En Haman het aan sy vrou Seres en al sy vriende vertel alles wat hom oorgekom het. Toe s\u00ea sy wyse manne en sy vrou Seres vir hom: As M\u00f3rdegai voor wie jy alreeds begin val het, uit die geslag van die Jode is, sal jy niks teen hom kan uitrig nie, maar heeltemal voor hom val.\n6:14 Onderwyl hulle nog met hom spreek, kom die hofdienaars van die koning aan, en hulle het Haman gou na die maaltyd gebring wat Ester gereedgemaak het.\n7:1 Toe die koning en Haman inkom om saam met koningin Ester die feesmaal te hou,\n7:2 s\u00ea die koning aan Ester ook op die tweede dag, terwyl hulle wyn drink: Wat is jou bede, koningin Ester? --dit sal jou toegestaan word. En wat is jou versoek? Al was dit die helfte van die koninkryk--daaraan sal voldoen word.\n7:3 En koningin Ester antwoord en s\u00ea: As ek genade in u o\u00eb gevind het, o koning, en as die koning dit goedvind, laat my lewe my geskenk word op my bede en my volk op my versoek.\n7:4 Want ons is verkoop, ek en my volk, om verdelg, gedood en uitgeroei te word. Was ons nog as slawe en slavinne verkoop, dan sou ek geswyg het, maar hierdie ramp sal onder die verliese van die koning sy weerga nie h\u00ea nie.\n7:5 Toe spreek koning Ahasv\u00e9ros en s\u00ea aan koningin Ester: Wie is hy, en waar is hy wie se hart hom ingegee het om so te maak?\n7:6 En Ester s\u00ea: Die te\u00ebstander en vyand is hierdie slegte Haman! Toe skrik Haman voor die koning en die koningin.\n7:7 En die koning het in sy woede van die wynmaaltyd opgestaan en na die tuin van die paleis gegaan, terwyl Haman daar bly staan om van koningin Ester die behoud van sy lewe af te smeek; want hy het gesien dat die onheil oor hom by die koning vas besluit was.\n7:8 Toe die koning uit die tuin van die paleis in die saal van die wynmaaltyd terugkom, en Haman juis op die rusbank neergeval het waar Ester op sit, s\u00ea die koning: Wil hy die koningin ook nog geweld aandoen by my in die huis? Die woord was nouliks uit die mond van die koning of hulle het die gesig van Haman bedek.\n7:9 Daarop s\u00ea Harb\u00f3na, een van die hofdienaars voor die koning: Daar staan reeds die galg wat Haman laat maak het vir M\u00f3rdegai wat ten voordele van die koning gespreek het, by die huis van Haman, vyftig el hoog! Toe s\u00ea die koning: Hang hom daaraan op!\n7:10 En hulle het Haman opgehang aan die galg wat hy vir M\u00f3rdegai opgerig het, en die woede van die koning het bedaar.\n8:1 Op dieselfde dag het koning Ahasv\u00e9ros aan koningin Ester die huis gegee van Haman, die te\u00ebstander van die Jode; en M\u00f3rdegai het voor die koning gekom, want Ester het vertel wat hy van haar was.\n8:2 En die koning het sy se\u00eblring uitgetrek wat hy van Haman afgeneem het, en dit aan M\u00f3rdegai gegee; en Ester het M\u00f3rdegai aangestel oor die huis van Haman.\n8:3 En Ester het weer voor die koning gespreek en voor sy voete neergeval en geween en hom gesmeek om die onheil van Haman, die Agagiet, en sy plan wat hy teen die Jode beraam het, te verydel.\n8:4 En die koning het die goue septer na Ester uitgesteek, en Ester het haar opgerig en voor die koning gaan staan\n8:5 en ges\u00ea: As die koning dit goedvind en ek genade voor hom gevind het en die saak reg is voor die koning en ek welgevallig is in sy o\u00eb, laat dan geskrywe word om die briewe met die plan van Haman, die seun van Hammed\u00e1ta, die Agagiet, te herroep wat hy geskrywe het om die Jode wat in al die provinsies van die koning is, uit te roei.\n8:6 Want hoe sou ek kan aansien die onheil wat my volk sal tref? En hoe sou ek kan aansien die ondergang van my geslag?\n8:7 Toe s\u00ea koning Ahasv\u00e9ros aan koningin Ester en aan die Jood M\u00f3rdegai: Kyk, die huis van Haman het ek aan Ester gegee, en hom het hulle aan die galg opgehang, omdat hy sy hand teen die Jode uitgesteek het.\n8:8 Skryf julle maar, wat die Jode betref, soos julle dit goedvind uit naam van die koning, en verse\u00ebl dit met die se\u00eblring van die koning; want 'n geskrif, in naam van die koning geskrywe en verse\u00ebl met die se\u00eblring van die koning, kan nie herroep word nie.\n8:9 Toe is in dieselfde tyd die skrywers van die koning geroep, in die derde maand, dit is die maand Siwan, op die drie en twintigste daarvan; en daar is geskrywe net soos M\u00f3rdegai beveel het, aan die Jode en aan die landvoogde en die goewerneurs en die vorste van die provinsies wat van Indi\u00eb af tot by Kus l\u00ea, honderd sewe en twintig provinsies, aan elke provinsie volgens sy skrif en aan elke volk in sy taal, en aan die Jode volgens hulle skrif en in hulle taal--\n8:10 hy het laat skrywe uit naam van koning Ahasv\u00e9ros en dit verse\u00ebl met die se\u00eblring van die koning en briewe gestuur met rapportgangers te perd wat gery het op koninklike renperde uit die stoetery,\n8:11 dat die koning aan die Jode wat in elke stad woon, toegestaan het om bymekaar te kom en hulle lewe te verdedig, deur te verdelg en dood te maak en uit te roei elke gewapende mag van volk of provinsie wat hulle in benoudheid mag bring, saam met kindertjies en vroue, en hulle besittings as buit te plunder,\n8:12 op een dag in al die provinsies van koning Ahasv\u00e9ros, op die dertiende van die twaalfde maand, dit is die maand Adar.\n8:13 'n Afskrif van die bevelskrif moes as wet uitgevaardig word in elke provinsie, openbaar gemaak aan al die volke, sodat die Jode op di\u00e9 dag gereed moes wees om hulle op hul vyande te wreek.\n8:14 Die rapportgangers wat op die koninklike renperde gery het, het op bevel van die koning haastig en gou weggegaan, en die wet is in die vesting Susan uitgevaardig.\n8:15 En M\u00f3rdegai het van die koning weggegaan in 'n koninklike kleed van pers en wit, met 'n groot goue kroon op en 'n mantel van fyn linne en purperrooi stof, terwyl die stad Susan jubel en vrolik was.\n8:16 Vir die Jode was daar lig en vrolikheid en vreugde en eer;\n8:17 en in al die provinsies en in al die stede waar die bevel van die koning en sy wet ook al aangekom het, was daar vrolikheid en vreugde by die Jode, maaltyd en feesdag; en baie uit die volke van die land het Jode geword, want die skrik vir die Jode het op hulle geval.\n9:1 En in die twaalfde maand, dit is die maand Adar, op die dertiende dag daarvan, toe die bevel van die koning en sy wet uitgevoer sou word, op die dag toe die vyande van die Jode gehoop het om hulle te oorweldig--maar dit net omgekeerd was, sodat juis die Jode hulle haters sou oorweldig--\n9:2 het die Jode saamgekom in hulle stede in al die provinsies van koning Ahasv\u00e9ros om die hand te slaan aan die wat hulle onheil gesoek het; en niemand het voor hulle standgehou nie, want die skrik vir hulle het op al die volke geval.\n9:3 En al die vorste van die provinsies en die landvoogde en die goewerneurs en die beamptes van die koning het die Jode ondersteun, want die skrik vir M\u00f3rdegai het op hulle geval.\n9:4 Want M\u00f3rdegai was groot in die paleis van die koning, en sy gerug het deur al die provinsies gegaan, omdat die man M\u00f3rdegai al groter geword het.\n9:5 En die Jode het onder hulle vyande 'n slagting aangerig deur die swaard en deur doodslag en verdelging, en met hulle haters na hulle goedvinde gehandel.\n9:6 En in die vesting Susan het die Jode vyf honderd man gedood en uitgeroei;\n9:7 en Parsand\u00e1ta en Dalfon en Asp\u00e1ta,\n9:8 en Por\u00e1ta en Ad\u00e1lja en Arid\u00e1ta,\n9:9 en Parm\u00e1sta en Ar\u00edsai en Ar\u00eddai en Wais\u00e1ta,\n9:10 die tien seuns van Haman, die seun van Hammed\u00e1ta, die te\u00ebstander van die Jode, het hulle gedood, maar na die buit hulle hand nie uitgesteek nie.\n9:11 Op dieselfde dag het die getal van die wat in die vesting Susan gedood is, voor die koning gekom;\n9:12 en die koning het aan koningin Ester ges\u00ea: In die vesting Susan het die Jode vyf honderd man gedood en uitgeroei benewens die tien seuns van Haman; wat sou hulle wel in die ander provinsies van die koning gedoen het? Wat is dan jou bede? --dit sal jou toegestaan word. En wat is verder jou versoek? --daaraan sal voldoen word.\n9:13 Toe s\u00ea Ester: As die koning dit goedvind, laat m\u00f4re ook aan die Jode wat in Susan is, toegestaan word om te handel volgens die wet wat geld vir vandag; en laat hulle die tien seuns van Haman aan die galg ophang.\n9:14 En die koning het bevel gegee om so te doen; en 'n wet is in Susan uitgevaardig, en hulle het die tien seuns van Haman opgehang.\n9:15 En die Jode wat in Susan was, het ook op die veertiende dag van die maand Adar saamgekom; en hulle het in Susan drie honderd man gedood, maar na die buit hulle hand nie uitgesteek nie.\n9:16 En die ander Jode wat in die provinsies van die koning was, het saamgekom en hulle lewe verdedig en gerus van hul vyande; en hulle het onder hul haters vyf en sewentig duisend omgebring, maar na die buit hulle hand nie uitgesteek nie.\n9:17 Dit was op die dertiende dag van die maand Adar; en op die veertiende daarvan het hulle gerus en dit 'n dag van maaltyd en vrolikheid gemaak.\n9:18 Maar die Jode wat in Susan was, het op die dertiende en die veertiende daarvan byeengekom, en op die vyftiende daarvan gerus, sodat hulle dit 'n dag van maaltyd en vrolikheid gemaak het.\n9:19 Daarom maak die Jode wat buite in die onbemuurde stede woon, van die veertiende dag van die maand Adar 'n dag van vrolikheid en maaltyd en 'n feesdag waarop hulle mekaar lekkernye stuur.\n9:20 En M\u00f3rdegai het hierdie dinge opgeskrywe en briewe gestuur aan al die Jode wat in al die provinsies van koning Ahasv\u00e9ros was, die wat naby en die wat ver was,\n9:21 om vir hulle vas te stel dat hulle al jare die veertiende dag van die maand Adar en die vyftiende daarvan moes vier--\n9:22 as die dae waarop die Jode rus gekry het van hulle vyande, en die maand wat vir hulle van kommer in vrolikheid en van rou in 'n feesdag verander is--dat hulle daar dae van maaltyd en vrolikheid van moes maak en om mekaar lekkernye en aan die armes gawes te stuur.\n9:23 En die Jode het as insetting aangeneem wat hulle begin het om te doen en wat M\u00f3rdegai aan hulle geskryf het.\n9:24 Want Haman, die seun van Hammed\u00e1ta, die Agagiet, te\u00ebstander van al die Jode, het 'n plan beraam teen die Jode om hulle uit te roei, en die Pur, dit is die lot, gewerp om hulle te vernietig en hulle uit te roei.\n9:25 Maar toe dit voor die koning kom, het hy skriftelik bevel gegee dat sy goddelose plan wat hy teen die Jode uitgedink het, op sy eie hoof moes neerkom; en hulle het hom en sy seuns aan die galg opgehang.\n9:26 Daarom noem hulle di\u00e9 dae Purim, na die naam Pur. Hierom, vanwe\u00eb al die woorde van daardie brief en wat hulle self daarvan gesien het en wat hulle oorgekom het,\n9:27 het die Jode vasgestel en as insetting aangeneem vir hulle en hulle nageslag en vir almal wat hulle by hulle sou aansluit, sodat dit onherroeplik sou wees, dat hulle di\u00e9 twee dae al jare sou hou volgens die voorskrif daaromtrent en op die bepaalde tyd;\n9:28 en dat di\u00e9 dae herdenk en gehou moet word in al die geslagte, families, provinsies en stede, en dat di\u00e9 Purim-dae onder die Jode nie afgeskaf mag word nie en die gedagtenis daaraan onder hulle nageslag nie mag ophou nie.\n9:29 En koningin Ester, die dogter van Ab\u00edgail, en die Jood M\u00f3rdegai het met alle nadruk geskrywe om hierdie tweede brief oor die Purim krag te verleen.\n9:30 En hy het briewe gestuur aan al die Jode in die honderd sewe en twintig provinsies, die koninkryk van Ahasv\u00e9ros, woorde van vrede en trou,\n9:31 om di\u00e9 Purim-dae op hulle bepaalde tye vas te stel soos die Jood M\u00f3rdegai en koningin Ester dit vir hulle verorden het, en soos hulle vir hulself en hul nageslag die voorskrifte aangaande die vastyd en die daarby behorende weeklag vasgestel het.\n9:32 En die bevel van Ester het die voorskrifte vir hierdie Purim vasgestel, en dit is in 'n boek geskrywe.\n10:1 Daarna het koning Ahasv\u00e9ros 'n belasting op die land en op die kuslande van die see gel\u00ea.\n10:2 En al die dade van sy mag en sterkte en die noukeurige berig oor die grootheid van M\u00f3rdegai waartoe die koning hom verhoog het, is dit nie beskrywe in die kroniekboek van die konings van Medi\u00eb en Persi\u00eb nie?\n10:3 Want die Jood M\u00f3rdegai was die tweede in rang onder koning Ahasv\u00e9ros; en hy was groot by die Jode en 'n liefling by die menigte van sy broers, omdat hy die heil van sy volk gesoek en tot welsyn van sy hele nageslag gespreek het.","title":"Afrikaans Bible: Esther","type":"page"}
