{"collection":"Bible & Christianity","html_url":"https://unchartedknowledge.5gfusion.net/browse/bib/wb/afr/gen.htm","path":"bib/wb/afr/gen.htm","source_url":"https://sacred-texts.com/bib/wb/afr/gen.htm","text":"1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.\n1:2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die w\u00eareldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.\n1:3 En God het ges\u00ea: Laat daar lig wees! En daar was lig.\n1:4 Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis;\n1:5 en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was m\u00f4re, die eerste dag.\n1:6 En God het ges\u00ea: Laat daar 'n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters.\n1:7 God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so.\n1:8 En God het die uitspansel hemel genoem. En dit was aand en dit was m\u00f4re, die tweede dag.\n1:9 En God het ges\u00ea: Laat die waters onder die hemel hulle op een plek versamel, sodat die dro\u00eb grond sigbaar word. En dit was so.\n1:10 En God het die dro\u00eb grond aarde genoem, en die versameling van die waters het Hy see genoem. Toe sien God dat dit goed was.\n1:11 En God het ges\u00ea: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde. En dit was so.\n1:12 Die aarde het voortgebring grasspruitjies, plante wat saad gee volgens hulle soorte en bome wat vrugte dra, waarin hulle saad is, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.\n1:13 En dit was aand en dit was m\u00f4re, die derde dag.\n1:14 En God het ges\u00ea: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare.\n1:15 Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig te gee op die aarde. En dit was so.\n1:16 God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre.\n1:17 En God het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te gee op die aarde\n1:18 en om te heers oor die dag en oor die nag en om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis. Toe sien God dat dit goed was.\n1:19 En dit was aand en dit was m\u00f4re, die vierde dag.\n1:20 En God het ges\u00ea: Laat die waters wemel met 'n gewemel van lewende wesens, en laat die vo\u00ebls oor die aarde vlieg langs die uitspansel van die hemel.\n1:21 En God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde vo\u00ebls volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.\n1:22 En God het hulle gese\u00ebn en ges\u00ea: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die waters in die see, en laat die vo\u00ebls op die aarde vermeerder.\n1:23 En dit was aand en dit was m\u00f4re, die vyfde dag.\n1:24 En God het ges\u00ea: Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle soorte: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte. En dit was so.\n1:25 En God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.\n1:26 En God het ges\u00ea: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die vo\u00ebls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.\n1:27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.\n1:28 En God het hulle gese\u00ebn, en God het vir hulle ges\u00ea: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die vo\u00ebls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.\n1:29 Verder het God ges\u00ea: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees.\n1:30 Maar aan al die diere van die aarde en al die vo\u00ebls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin 'n lewende siel is, gee Ek al die groen plante as voedsel. En dit was so.\n1:31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. En dit was aand en dit was m\u00f4re, die sesde dag.\n2:1 So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse le\u00ebrmag.\n2:2 En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het.\n2:3 En God het die sewende dag gese\u00ebn en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.\n2:4 Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het,\n2:5 was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat re\u00ebn op die aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie.\n2:6 Maar 'n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig.\n2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens 'n lewende siel geword.\n2:8 Ook het die HERE God 'n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, 'n plek gegee.\n2:9 En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.\n2:10 En daar het 'n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword.\n2:11 Die naam van die eerste is die Pison. Dit is hy wat om die hele land H\u00e1wila loop waar die goud is.\n2:12 En die goud van di\u00e9 land is goed. Daar is ook balsemgom en onikssteen.\n2:13 En die naam van die tweede rivier is die Gihon. Dit is hy wat om die hele land Kus loop.\n2:14 En die naam van die derde rivier is die Hidd\u00e9kel. Dit is hy wat oos van Assur loop. En die vierde rivier is die Frat.\n2:15 Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.\n2:16 En die HERE God het aan die mens bevel gegee en ges\u00ea: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet,\n2:17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.\n2:18 Ook het die HERE God ges\u00ea: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n hulp maak wat by hom pas.\n2:19 En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die vo\u00ebls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees.\n2:20 So het die mens dan name gegee aan al die vee en aan die vo\u00ebls van die hemel en aan al die wilde diere van die veld, maar vir die mens het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie.\n2:21 Toe het die HERE God 'n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak.\n2:22 En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot 'n vrou en bring haar na die mens.\n2:23 Toe s\u00ea die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.\n2:24 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.\n2:25 En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.\n3:1 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy s\u00ea vir die vrou: Is dit ook so dat God ges\u00ea het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?\n3:2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet,\n3:3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God ges\u00ea: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe.\n3:4 Toe s\u00ea die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;\n3:5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle o\u00eb sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.\n3:6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy 'n lus was vir die o\u00eb, ja, 'n boom wat 'n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het ge\u00ebet.\n3:7 Toe gaan altwee se o\u00eb oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.\n3:8 En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van die HERE God tussen die bome van die tuin.\n3:9 Toe roep die HERE God na die mens en s\u00ea vir hom: Waar is jy?\n3:10 En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg.\n3:11 En Hy s\u00ea: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy ge\u00ebet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie?\n3:12 En die mens antwoord: Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het ge\u00ebet.\n3:13 Daarop s\u00ea die HERE God aan die vrou: Wat het jy nou gedoen? En die vrou antwoord: Die slang het my bedrieg, en ek het ge\u00ebet.\n3:14 Toe s\u00ea die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe.\n3:15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.\n3:16 Aan die vrou het Hy ges\u00ea: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers.\n3:17 En aan die mens het Hy ges\u00ea: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom ge\u00ebet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie--vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.\n3:18 Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet.\n3:19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.\n3:20 En die mens het sy vrou Eva genoem, omdat sy moeder geword het van alles wat lewe.\n3:21 En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.\n3:22 Toe s\u00ea die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!\n3:23 Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is.\n3:24 So het Hy dan die mens weggedrywe en g\u00e9rubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.\n4:1 En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en ges\u00ea: Ek het 'n man verkry met die hulp van die HERE.\n4:2 Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het 'n skaapherder geword, en Kain 'n landbouer.\n4:3 En n\u00e1 verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE 'n offer gebring.\n4:4 En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien,\n4:5 maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.\n4:6 En die HERE s\u00ea vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang?\n4:7 Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie--die sonde l\u00ea en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.\n4:8 En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.\n4:9 Toe s\u00ea die HERE vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie. Is ek my broer se wagter?\n4:10 En Hy s\u00ea: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af.\n4:11 Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang.\n4:12 As jy die grond bewerk, sal dit sy vermo\u00eb aan jou nie meer gee nie; 'n swerwer en vlugteling sal jy wees op die aarde.\n4:13 Daarop s\u00ea Kain vir die HERE: My skuld is te groot om dit te dra.\n4:14 Kyk, U verdryf my nou uit die land uit, en ek moet my verberg vir u aangesig: 'n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my doodslaan.\n4:15 Maar die HERE s\u00ea vir hom: Daarom, as enigeen Kain doodslaan, sal dit sewevoudig gewreek word. En die HERE het 'n teken gegee aan Kain, sodat enigeen wat hom kry, hom nie sou doodslaan nie.\n4:16 Toe gaan Kain weg van die aangesig van die HERE, en hy het gewoon in die land Nod, aan die oostekant van Eden.\n4:17 En Kain het sy vrou beken, en sy het swanger geword en Henog gebaar. Daarna bou hy 'n stad en noem die stad na die naam van sy seun Henog.\n4:18 En vir Henog is Irad gebore; en Irad was die vader van Meh\u00fajael; en Meh\u00fajael was die vader van Met\u00fasael; en Met\u00fasael die vader van Lameg.\n4:19 En Lameg het vir hom twee vroue geneem. Die naam van die eerste was Ada, en die naam van die tweede Silla.\n4:20 En Ada het Jabal gebaar. Hy was die vader van die tentbewoners en die veeboere.\n4:21 Die naam van sy broer was Jubal. Hy was die vader van almal wat op siters en fluite speel.\n4:22 En Silla het ook gebaar, naamlik Tubal-Kain, 'n smid wat allerhande koper-- en ysterinstrumente gemaak het. En die suster van Tubal-Kain was Na\u00e9ma.\n4:23 En Lameg het aan sy vroue ges\u00ea: Ada en Silla, hoor na my stem! Vroue van Lameg, luister na my woord! Voorwaar, ek slaan 'n man dood wat my wond en 'n seun wat my kwes.\n4:24 Want Kain sal sewe maal gewreek word, maar Lameg sewe en sewentig maal.\n4:25 En Adam het sy vrou weer beken, en sy het 'n seun gebaar en hom Set genoem. Want, het sy ges\u00ea, God het my 'n ander kind geskenk in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgeslaan het.\n4:26 En ook vir Set is 'n seun gebore, wat hy Enos genoem het. Toe het hulle die Naam van die HERE begin aanroep.\n5:1 Dit is die stamboom van Adam. Die dag toe God Adam geskape het, het Hy hom gemaak na die gelykenis van God.\n5:2 Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle gese\u00ebn en hulle mens genoem, die dag toe hulle geskape is.\n5:3 Toe Adam honderd en dertig jaar oud was, het hy 'n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem.\n5:4 En die dae van Adam, n\u00e1 die geboorte van Set, was agt honderd jaar. En hy het seuns en dogters gehad.\n5:5 So was dan al die dae van Adam wat hy geleef het, nege honderd en dertig jaar, en hy het gesterwe.\n5:6 Toe Set honderd en vyf jaar oud was, het hy die vader van Enos geword.\n5:7 En Set het n\u00e1 die geboorte van Enos nog agt honderd en sewe jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.\n5:8 So was dan al die dae van Set nege honderd en twaalf jaar, en hy het gesterwe.\n5:9 Toe Enos negentig jaar oud was, het hy die vader van Kenan geword.\n5:10 En Enos het n\u00e1 die geboorte van Kenan nog agt honderd en vyftien jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.\n5:11 So was dan al die dae van Enos nege honderd en vyf jaar, en hy het gesterwe.\n5:12 Toe Kenan sewentig jaar oud was, het hy die vader van Mahal\u00e1lel geword.\n5:13 En Kenan het n\u00e1 die geboorte van Mahal\u00e1lel nog agt honderd en veertig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.\n5:14 So was dan al die dae van Kenan nege honderd en tien jaar, en hy het gesterwe.\n5:15 Toe Mahal\u00e1lel vyf en sestig jaar oud was, het hy die vader van Jered geword.\n5:16 En Mahal\u00e1lel het n\u00e1 die geboorte van Jered nog agt honderd en dertig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.\n5:17 So was dan al die dae van Mahal\u00e1lel agt honderd vyf en negentig jaar, en hy het gesterwe.\n5:18 Toe Jered honderd twee en sestig jaar oud was, het hy die vader van Henog geword.\n5:19 En Jered het n\u00e1 die geboorte van Henog nog agt honderd jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.\n5:20 So was dan al die dae van Jered nege honderd twee en sestig jaar, en hy het gesterwe.\n5:21 Toe Henog vyf en sestig jaar oud was, het hy die vader van Met\u00fasalag geword.\n5:22 En Henog het n\u00e1 die geboorte van Met\u00fasalag nog drie honderd jaar met God gewandel. En hy het seuns en dogters gehad.\n5:23 So was dan al die dae van Henog drie honderd vyf en sestig jaar.\n5:24 En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem.\n5:25 Toe Met\u00fasalag honderd sewe en tagtig jaar oud was, het hy die vader van Lameg geword.\n5:26 En Met\u00fasalag het n\u00e1 die geboorte van Lameg nog sewe honderd twee en tagtig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.\n5:27 So was dan al die dae van Met\u00fasalag nege honderd nege en sestig jaar, en hy het gesterwe.\n5:28 Toe Lameg honderd twee en tagtig jaar oud was, het hy 'n seun verwek\n5:29 en hom Noag genoem, want hy het ges\u00ea: Dit is hy wat ons sal troos oor ons werk en oor die moeitevolle arbeid van ons hande wat voortkom uit die aarde wat die HERE vervloek het.\n5:30 En Lameg het n\u00e1 die geboorte van Noag nog vyf honderd vyf en negentig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.\n5:31 So was dan al die dae van Lameg sewe honderd sewe en sewentig jaar, en hy het gesterwe.\n5:32 En Noag was vyf honderd jaar oud, en Noag het die vader geword van Sem, Gam en Jafet.\n6:1 Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is,\n6:2 sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.\n6:3 Toe s\u00ea die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd en twintig jaar.\n6:4 In di\u00e9 dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en di\u00e9 vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.\n6:5 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,\n6:6 het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart.\n6:7 En die HERE s\u00ea: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die vo\u00ebls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het.\n6:8 Maar Noag het genade gevind in die o\u00eb van die HERE.\n6:9 Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was 'n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel.\n6:10 En Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet.\n6:11 Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld.\n6:12 Toe sien God die aarde aan, en--dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe.\n6:13 En God s\u00ea vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.\n6:14 Maak vir jou 'n ark van goferhout. Met afdelings moet jy die ark maak en dit binne en buite met pik bestryk.\n6:15 S\u00f3 moet jy dit maak: drie honderd el die lengte van die ark, vyftig el sy breedte en dertig el sy hoogte.\n6:16 'n Opening moet jy aan die ark maak; en op die maat van 'n el moet jy dit aan die bokant afwerk en die deur van die ark aan die sykant insit. Jy moet dit met 'n onderste, tweede en derde verdieping maak.\n6:17 Want kyk, \u00c9k bring 'n watervloed oor die aarde, om van onder die hemel te verdelg alle vlees waar 'n lewensgees in is. Alles wat op die aarde is, sal wegsterwe.\n6:18 Maar met jou sal Ek my verbond oprig; jy moet in die ark gaan, jy en jou seuns en jou vrou en die vroue van jou seuns saam met jou.\n6:19 En van al wat lewe, van alle vlees, moet jy twee van elke soort in die ark laat ingaan om dit saam met jou in die lewe te hou: mannetjie en wyfie moet hulle wees.\n6:20 Van die vo\u00ebls volgens hulle soorte en van die vee volgens hulle soorte, van al die kruipende diere van die aarde volgens hulle soorte, twee van elke soort, moet na jou kom om in die lewe te bly.\n6:21 En jy, neem vir jou van al die voedsel wat ge\u00ebet word, en versamel dit by jou, dat dit vir jou en hulle as voedsel kan dien.\n6:22 En Noag het dit gedoen. Net soos God hom beveel het, so het hy gedoen.\n7:1 Daarna het die HERE aan Noag ges\u00ea: Gaan in die ark, jy en jou hele huisgesin, want jou het Ek regverdig bevind voor my aangesig in hierdie geslag.\n7:2 Van al die rein diere moet jy vir jou telkens sewe paar neem, die mannetjie met sy wyfie; maar van die diere wat nie rein is nie, twee, die mannetjie met sy wyfie.\n7:3 Ook van die vo\u00ebls van die hemel telkens sewe paar, die mannetjie met die wyfie, om die geslag in die lewe te hou op die hele aarde.\n7:4 Want oor nog sewe dae sal Ek laat re\u00ebn op die aarde, veertig dae en veertig nagte, en al die lewende wesens wat Ek gemaak het, van die aarde verdelg.\n7:5 En Noag het gedoen net soos die HERE hom beveel het.\n7:6 En Noag was ses honderd jaar oud toe die watervloed oor die aarde gekom het.\n7:7 En Noag en sy seuns en sy vrou en die vroue van sy seuns saam met hom het in die ark gegaan vanwe\u00eb die waters van die vloed.\n7:8 Van die rein diere en van die diere wat nie rein is nie, en van die vo\u00ebls en van alles wat op die aarde kruip,\n7:9 het daar twee-twee na Noag in die ark gegaan, 'n mannetjie en 'n wyfie, soos God Noag beveel het.\n7:10 N\u00e1 die sewe dae kom toe die waters van die vloed op die aarde.\n7:11 In die ses honderdste jaar van die lewe van Noag, in die tweede maand, op die sewentiende dag van die maand, op dieselfde dag, is al die fonteine van die groot watervloed oopgebreek, en die sluise van die hemel is geopen;\n7:12 en die stortre\u00ebn was op die aarde veertig dae en veertig nagte lank.\n7:13 Op daardie selfde dag het Noag en Sem en Gam en Jafet, die seuns van Noag, sowel as die vrou van Noag en die drie vroue van sy seuns saam met hulle in die ark gegaan.\n7:14 Hulle en al die wilde diere volgens hulle soorte en al die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die aarde kruip, volgens hulle soorte en al die vo\u00ebls volgens hulle soorte, vo\u00ebls van allerhande vere--\n7:15 van al die vlees waar 'n lewensgees in was, het twee-twee na Noag in die ark gegaan.\n7:16 En die wat ingaan, het gegaan as mannetjie en wyfie van alle vlees soos God hom beveel het. En die HERE het agter hom toegesluit.\n7:17 En die vloed was veertig dae lank op die aarde: die waters het vermeerder en die ark opgehef, sodat dit opgerys het bo die aarde.\n7:18 En die waters het die oorhand gekry en grootliks vermeerder op die aarde, terwyl die ark op die waters drywe.\n7:19 En die waters het heeltemal die oorhand gekry op die aarde, sodat al die ho\u00eb berge onder die ganse hemel bedek was.\n7:20 Vyftien el bo hulle het die waters die oorhand gekry, sodat die berge bedek was.\n7:21 En alle vlees wat op die aarde beweeg, het weggesterwe: die vo\u00ebls en die vee en die wilde diere en al die gedierte wat op die aarde wemel, en al die mense.\n7:22 Alles wat die asem van die lewensgees in sy neusgate gehad het, alles wat op die dro\u00eb grond was, het doodgegaan.\n7:23 So is dan al die lewende wesens verdelg wat op die aarde was, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die vo\u00ebls van die hemel; hulle is verdelg van die aarde af. En net Noag het oorgebly en wat by hom in die ark was.\n7:24 En die waters het die oorhand behou oor die aarde honderd en vyftig dae lank.\n8:1 En God het gedink aan Noag en aan al die wilde diere en al die vee wat saam met hom in die ark was; en God het 'n wind oor die aarde laat waai, sodat die waters gesak het.\n8:2 Ook die fonteine van die watervloed en die sluise van die hemel het toegegaan, en die stortre\u00ebn uit die hemel het opgehou.\n8:3 Toe het die waters geleidelik van die aarde teruggegaan, en die waters het afgeneem aan die end van honderd en vyftig dae.\n8:4 En die ark het in die sewende maand, op die sewentiende dag van die maand, op die gebergte van Ararat gerus.\n8:5 En die waters het geleidelik afgeneem tot die tiende maand. In die tiende maand, op die eerste van die maand, het die toppe van die berge sigbaar geword.\n8:6 Toe het Noag aan die end van veertig dae die venster oopgemaak van die ark wat hy gebou het,\n8:7 en 'n kraai uitgestuur wat gedurig heen en weer gevlieg het totdat die waters weggedroog het van die aarde af.\n8:8 Daarop laat hy 'n duif van hom af wegvlieg om te sien of die waters oor die aarde verminder het.\n8:9 Maar die duif het geen rusplek vir die holte van sy voet gevind nie en na hom teruggekeer in die ark; want die waters was oor die hele aarde. So het hy dan sy hand uitgesteek en hom gegryp en in die ark by hom gebring.\n8:10 Daarna het hy weer sewe dae gewag. Toe stuur hy die duif weer uit die ark.\n8:11 En die duif het teen die aand na hom gekom, en daar was 'n groen olyfblad in sy bek! Toe merk Noag dat die waters oor die aarde verminder het.\n8:12 Daarna wag hy weer sewe dae en stuur die duif uit. Maar hy het nie weer na hom teruggekeer nie.\n8:13 In die ses honderd en eerste jaar, in die eerste maand, op die eerste van die maand, het die waters weggedroog van die aarde af. En Noag het die deksel van die ark weggeneem en uitgekyk, en die aarde was droog--\n8:14 in die tweede maand, op die sewe en twintigste dag van die maand, was die aarde droog.\n8:15 En God het met Noag gespreek en ges\u00ea:\n8:16 Gaan uit die ark, jy en jou vrou en jou seuns en die vroue van jou seuns saam met jou.\n8:17 Laat saam met jou uitgaan al die diere wat by jou is, van alle vlees: die vo\u00ebls en die vee en al die diere wat op die aarde kruip, dat hulle kan wemel op die aarde en vrugbaar wees en vermeerder op die aarde.\n8:18 Toe gaan Noag uit en sy seuns en sy vrou en die vroue van sy seuns saam met hom.\n8:19 Al die diere, alles wat kruip, en al die vo\u00ebls, alles wat op die aarde beweeg, volgens hulle soorte, het uit die ark uitgegaan.\n8:20 En Noag het vir die HERE 'n altaar gebou en van al die rein diere en al die rein vo\u00ebls geneem en brandoffers op die altaar gebring.\n8:21 En die HERE het die lieflike geur geruik, en die HERE het in sy hart ges\u00ea: Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af. En Ek sal verder nie meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie.\n8:22 Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.\n9:1 En God het Noag en sy seuns gese\u00ebn en aan hulle ges\u00ea: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.\n9:2 Die vrees en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde en al die vo\u00ebls van die hemel: alles wat op die aarde beweeg, en al die visse van die see. Hulle is in julle hand oorgegee.\n9:3 Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle.\n9:4 Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie.\n9:5 Maar wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis: van al die diere sal Ek dit eis. Ook van die mens, van die een teenoor die ander, sal Ek die siel van die mens eis.\n9:6 Hy wat die bloed van 'n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.\n9:7 Maar julle, wees vrugbaar en vermeerder; wemel op die aarde en vermeerder daarop.\n9:8 Verder het God met Noag en sy seuns by hom gespreek en ges\u00ea:\n9:9 Maar Ek, kyk, Ek rig my verbond met julle op en met julle nageslag n\u00e1 julle,\n9:10 en met al die lewende wesens wat by julle is: die vo\u00ebls, die vee en al die wilde diere van die aarde by julle--al wat uit die ark uitgegaan het, naamlik al die diere van die aarde.\n9:11 En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie.\n9:12 En God het ges\u00ea: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte:\n9:13 my boog gee Ek in die wolke; dit sal 'n teken wees van die verbond tussen My en die aarde.\n9:14 As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke,\n9:15 dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer 'n vloed word om alle vlees te verdelg nie.\n9:16 As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is.\n9:17 En God het vir Noag ges\u00ea: Dit is die teken van die verbond wat Ek opgerig het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.\n9:18 En die seuns van Noag wat uit die ark uitgegaan het, was Sem en Gam en Jafet. En Gam was die vader van Kana\u00e4n.\n9:19 Hierdie drie was die seuns van Noag; en met hulle begin die uitbreiding van al die aardbewoners.\n9:20 En Noag het as landbouer 'n wingerd begin plant.\n9:21 Maar toe hy van die wyn gedrink het, het hy dronk geword en naak in sy tent gel\u00ea.\n9:22 En Gam, die vader van Kana\u00e4n, het sy vader se naaktheid gesien en dit aan sy twee broers daarbuite te kenne gegee.\n9:23 Toe neem Sem en Jafet die bo-kleed en hou dit op hulle skouers terwyl hulle agteruitloop, en hulle het die naaktheid van hulle vader bedek: hulle gesig was agtertoe gedraai, sodat hulle die naaktheid van hulle vader nie gesien het nie.\n9:24 Toe Noag van sy wyn wakker word en merk wat sy jonger seun hom aangedoen het,\n9:25 s\u00ea hy: Vervloek is Kana\u00e4n! 'n Kneg van die knegte moet hy wees vir sy broers.\n9:26 Verder het hy ges\u00ea: Gese\u00ebnd is die HERE, die God van Sem. Maar Kana\u00e4n moet sy dienskneg wees.\n9:27 Mag God aan Jafet ruimte verskaf, en mag hy woon in die tente van Sem! Maar Kana\u00e4n moet sy dienskneg wees.\n9:28 En Noag het n\u00e1 die vloed drie honderd en vyftig jaar gelewe.\n9:29 So was dan al die dae van Noag nege honderd en vyftig jaar, en hy het gesterwe.\n10:1 En dit is die stamboom van die seuns van Noag: Sem, Gam en Jafet--vir hulle is daar seuns gebore n\u00e1 die vloed.\n10:2 Die seuns van Jafet was: Gomer en Magog en Madai en Jawan en Tubal en Meseg en Tiras.\n10:3 En die seuns van Gomer was: Askenas en Rifat en Tog\u00e1rma.\n10:4 En die seuns van Jawan was: El\u00edsa en Tarsis, die Kitti\u00ebrs en Dodaniete--\n10:5 uit hulle het verdeeld geraak die kuslande van die nasies, in hulle lande, elkeen na sy taal, volgens hulle geslagte, in hulle nasies.\n10:6 En die seuns van Gam was: Kus en Misraim en Put en Kana\u00e4n.\n10:7 En die seuns van Kus was: Seba en H\u00e1wila en Sabta en Ra\u00e9ma en S\u00e1btega. En die seuns van Ra\u00e9ma: Skeba en Dedan.\n10:8 Kus was ook die vader van Nimrod. Hy het begin om 'n geweldenaar op aarde te wees.\n10:9 Hy was 'n geweldige jagter voor die aangesig van die HERE. Daarom s\u00ea hulle: Soos Nimrod, 'n geweldige jagter voor die aangesig van die HERE.\n10:10 En die begin van sy ryk was Babel en Ereg en Akkad en Kalne in die land S\u00ednear.\n10:11 Uit hierdie land het hy getrek na Assur en gebou: Ninev\u00e9 en R\u00e9hobot-Ir en Kalag\n10:12 en Resen, tussen Ninev\u00e9 en Kalag--dit is die groot stad.\n10:13 En Misraim was die vader van die Ludiete en Anamiete en Lehabiete en Naftuhiete\n10:14 en die Patrusiete en Kasluhiete--waaruit die Filistyne voortgekom het--en Kaftoriete.\n10:15 En Kana\u00e4n was die vader van Sidon, sy eersgeborene, en Het\n10:16 en die Jebusiete en Amoriete en Girgasiete\n10:17 en die Hewiete en Arkiete en Siniete\n10:18 en die Arwadiete en Semariete en Hamatiete. En daarna het die geslagte van die Kana\u00e4niete hulle versprei.\n10:19 En die gebied van die Kana\u00e4niete was van Sidon af in die rigting van Gerar tot by Gasa, in die rigting van Sodom en Gomorra en Adma en Seb\u00f3im tot by Lesa.\n10:20 Dit was die seuns van Gam volgens hulle geslagte, na hulle tale, in hulle lande, in hulle nasies.\n10:21 En ook vir Sem, die stamvader van al die seuns van Heber, die ouer broer van Jafet, is seuns gebore.\n10:22 Die seuns van Sem was: Elam en Assur en Arpagsad en Lud en Aram.\n10:23 En die seuns van Aram was: Us en Hul en Geter en Mas.\n10:24 En Arpagsad was die vader van Selag, en Selag van Heber.\n10:25 En vir Heber is twee seuns gebore; die naam van die een was Peleg, want in sy dae het die aardbewoners verdeeld geraak; en die naam van sy broer was Joktan.\n10:26 En Joktan was die vader van Alm\u00f3dad en Selef en Hasarm\u00e1wet en Jerag\n10:27 en Had\u00f3ram en Usal en Dikla\n10:28 en Obal en Ab\u00edmael en Skeba\n10:29 en Ofir en H\u00e1wila en Jobab. Hulle almal was seuns van Joktan.\n10:30 En hulle woonplek was van Mesa af in die rigting van Sefar, die berg van die Ooste.\n10:31 Dit is die seuns van Sem volgens hulle geslagte, na hulle tale, in hulle lande, volgens hulle nasies.\n10:32 Dit is die geslagte van die seuns van Noag volgens hulle afstamming, in hulle nasies; en uit hulle het die nasies op die aarde hulle verdeel n\u00e1 die vloed.\n11:1 En die hele aarde het dieselfde taal gehad en een en dieselfde woorde.\n11:2 En toe hulle wegtrek na die ooste, vind hulle 'n laagte in die land S\u00ednear; en daar het hulle gaan woon.\n11:3 Daarop s\u00ea hulle vir mekaar: Kom laat ons stene vorm en dit goed brand. Hulle gebruik toe die bakstene vir bousteen en die lymgrond vir klei.\n11:4 En hulle s\u00ea: Kom, laat ons vir ons 'n stad bou en 'n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons 'n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.\n11:5 Toe daal die HERE neer om die stad en die toring te besien waaraan die mensekinders gebou het.\n11:6 En die HERE s\u00ea: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie.\n11:7 Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie.\n11:8 So het die HERE hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi; en hulle het opgehou om die stad te bou.\n11:9 Daarom het hulle dit Babel genoem, want daar het die HERE die taal van die hele aarde verwar, en daarvandaan het die HERE hulle oor die hele aarde verstrooi.\n11:10 Dit is die stamboom van Sem: Toe Sem honderd jaar oud was, het hy die vader van Arpagsad geword, twee jaar n\u00e1 die vloed.\n11:11 En Sem het n\u00e1 die geboorte van Arpagsad nog vyf honderd jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.\n11:12 Toe Arpagsad vyf en dertig jaar oud was, het hy die vader van Selag geword.\n11:13 En Arpagsad het n\u00e1 die geboorte van Selag nog vier honderd en drie jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.\n11:14 Toe Selag dertig jaar oud was, het hy die vader van Heber geword.\n11:15 En Selag het n\u00e1 die geboorte van Heber nog vier honderd en drie jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.\n11:16 Toe Heber vier en dertig jaar oud was, het hy die vader van Peleg geword.\n11:17 En Heber het n\u00e1 die geboorte van Peleg nog vier honderd en dertig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.\n11:18 Toe Peleg dertig jaar oud was, het hy die vader van Rehu geword.\n11:19 En Peleg het n\u00e1 die geboorte van Rehu nog twee honderd en nege jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.\n11:20 Toe Rehu twee en dertig jaar oud was, het hy die vader van Serug geword.\n11:21 En Rehu het n\u00e1 die geboorte van Serug nog twee honderd en sewe jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.\n11:22 Toe Serug dertig jaar oud was, het hy die vader van Nahor geword.\n11:23 En Serug het n\u00e1 die geboorte van Nahor twee honderd jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.\n11:24 Toe Nahor nege en twintig jaar oud was, het hy die vader van Tera geword.\n11:25 En Nahor het n\u00e1 die geboorte van Tera nog honderd en negentien jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.\n11:26 Toe Tera sewentig jaar oud was, het hy die vader geword van Abram, Nahor en Haran.\n11:27 En dit is die stamboom van Tera: Tera het die vader geword van Abram, Nahor en Haran, en Haran van Lot.\n11:28 En Haran het gesterwe terwyl sy vader Tera nog geleef het, in sy geboorteland, in Ur van die Chalde\u00ebrs.\n11:29 En Abram en Nahor het vir hulle vroue geneem. Die naam van Abram se vrou was Sarai, en die naam van Nahor se vrou was Milka, die dogter van Haran, die vader van Milka en die vader van Jiska.\n11:30 En Sarai was onvrugbaar, sy het geen kind gehad nie.\n11:31 En Tera het sy seun Abram geneem en Lot, die seun van Haran, sy kleinseun, en Sarai, sy skoondogter, die vrou van sy seun Abram, en di\u00e9 het saam met hulle uit Ur van die Chalde\u00ebrs getrek om na die land Kana\u00e4n te gaan. En hulle het tot by Haran gekom en daar gaan woon.\n11:32 En die dae van Tera was twee honderd en vyf jaar, en Tera het in Haran gesterwe.\n12:1 En die HERE het aan Abram ges\u00ea: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.\n12:2 En Ek sal jou 'n groot nasie maak en jou se\u00ebn en jou naam so groot maak, dat jy 'n se\u00ebn sal wees.\n12:3 En Ek sal se\u00ebn diegene wat jou se\u00ebn, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde gese\u00ebn word.\n12:4 Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom ges\u00ea het, en Lot het saam met hom getrek. En Abram was vyf en sewentig jaar oud by sy vertrek uit Haran.\n12:5 En Abram het Sarai, sy vrou, en Lot, sy broerskind, geneem en al hulle besittings wat hulle bymekaargemaak en die slawe wat hulle in Haran verwerf het, en hulle het uitgetrek om na die land Kana\u00e4n te gaan en in die land Kana\u00e4n gekom.\n12:6 En Abram het deur die land getrek na die plek Sigem, tot by die terpentynboom More. Die Kana\u00e4niete was toe in die land.\n12:7 Daarop verskyn die HERE aan Abram en s\u00ea: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Toe bou hy daar 'n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het.\n12:8 En daarvandaan het hy verder versit na die gebergte oos van Bet-el en sy tent opgeslaan tussen Bet-el aan die weste-- en Ai aan die oostekant, en daar vir die HERE 'n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep.\n12:9 Daarna het Abram al verder na die Suidland weggetrek.\n12:10 En daar was hongersnood in die land, sodat Abram na Egipte afgetrek het om daar as vreemdeling te vertoef; want die hongersnood was swaar in die land.\n12:11 En toe hy op die punt staan om Egipte in te trek, het hy met sy vrou Sarai gespreek: Kyk, ek weet dat jy 'n vrou is mooi van aansien.\n12:12 As die Egiptenaars jou nou sien, sal hulle s\u00ea: Dit is sy vrou en hulle sal my doodmaak en jou laat lewe.\n12:13 S\u00ea tog jy is my suster, dat dit met my goed kan gaan ter wille van jou en ek om jou ontwil in die lewe kan bly.\n12:14 Toe Abram dan in Egipte gekom het, sien die Egiptenaars dat die vrou baie mooi was.\n12:15 Ook het die vorste van Farao haar gesien en haar by Farao geprys. En die vrou is na die paleis van Farao geneem.\n12:16 En hy het goed gedoen aan Abram om haar ontwil, sodat hy kleinvee en beeste en esels, slawe en slavinne, eselinne en kamele in besit gekry het.\n12:17 Maar die HERE het Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai, die vrou van Abram.\n12:18 Daarop laat Farao Abram roep en hy s\u00ea: Wat het jy my nou aangedoen? Waarom het jy my nie te kenne gegee dat sy jou vrou is nie?\n12:19 Waarom het jy ges\u00ea: Sy is my suster--sodat ek haar vir my as vrou geneem het? Daar is jou vrou dan nou; neem haar en gaan weg.\n12:20 En Farao het aan enkele manne aangaande hom bevel gegee, en hulle het hom weggebring met sy vrou en sy hele besitting.\n13:1 So het Abram dan uit Egipte na die Suidland opgetrek, hy met sy vrou en sy hele besitting, en Lot saam met hom.\n13:2 En Abram was baie ryk aan vee, aan silwer en goud.\n13:3 En hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek tot by Bet-el, na die plek waar sy tent in die begin gestaan het, tussen Bet-el en Ai,\n13:4 na die plek van die altaar wat hy vroe\u00ebr daar gebou het. En Abram het daar die Naam van die HERE aangeroep.\n13:5 En Lot, wat saam met Abram getrek het, het ook kleinvee en beeste en tente gehad.\n13:6 En die land kon hulle nie dra om saam te woon nie, want hulle besittings was groot, sodat hulle nie saam kon woon nie.\n13:7 En daar het twis ontstaan tussen die veewagters van Abram en die veewagters van Lot. Ook het die Kana\u00e4niete en Feresiete destyds in die land gewoon.\n13:8 Toe s\u00ea Abram vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers.\n13:9 L\u00ea die hele land nie voor jou oop nie? Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan.\n13:10 Toe slaan Lot sy o\u00eb op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van die HERE, soos Egipteland.\n13:11 En Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies, en Lot het na die ooste weggetrek. So het hulle dan die een van die ander geskei.\n13:12 Abram het bly woon in die land Kana\u00e4n, en Lot het gaan woon in die stede van die Jordaanstreek en sy tente tot by Sodom opgeslaan.\n13:13 En die manne van Sodom was sleg en groot sondaars voor die HERE.\n13:14 En die HERE s\u00ea vir Abram nadat Lot van hom geskei het: Slaan tog jou o\u00eb op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste;\n13:15 want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid.\n13:16 En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word.\n13:17 Maak jou klaar, trek die land deur in sy lengte en sy breedte, want Ek sal dit aan jou gee.\n13:18 Toe het Abram al verder tente opgeslaan en gaan woon by die terpentynbome van Mamre wat by Hebron is; en hy het daar vir die HERE 'n altaar gebou.\n14:1 En in die dae van Amrafel, die koning van S\u00ednear, Ar\u00edog, die koning van Ell\u00e1sar, Kedor-La\u00f3mer, die koning van Elam, en T\u00eddeal, die koning van die nasies,\n14:2 het hulle oorlog gevoer teen Bera, die koning van Sodom, en teen Bisra, die koning van Gomorra, S\u00edneab, die koning van Adma, en Sem\u00e9ber, die koning van Seb\u00f3im, en teen die koning van Bela, dit is Soar.\n14:3 Hulle het almal hulle le\u00ebrs verenig in die laagte Siddim, dit is die Soutsee.\n14:4 Twaalf jaar lank het hulle Kedor-La\u00f3mer toe al gedien, maar in die dertiende jaar het hulle opstandig geword.\n14:5 Toe kom Kedor-La\u00f3mer in die veertiende jaar, en die konings wat saam met hom was, en hulle verslaan die Refa\u00efete in Asterot-Karnaim en die Susiete in Ham en die Emiete in die vlakte van Kirjat\u00e1im\n14:6 en die Horiete op hulle gebergte Se\u00efr, tot by El-Paran wat aan die woestyn l\u00ea.\n14:7 Daarop het hulle omgedraai en by En-Mispat, dit is Kades, gekom en die hele land van die Amalekiete verower en ook die Amoriete wat in H\u00e1seson-Tamar woon.\n14:8 Toe trek die koning van Sodom uit en die koning van Gomorra en die koning van Adma en die koning van Seb\u00f3im en die koning van Bela, dit is Soar, en stel hulle in die laagte Siddim in slagorde teen hulle op,\n14:9 teen Kedor-La\u00f3mer, die koning van Elam, en T\u00eddeal, die koning van die nasies, en Amrafel, die koning van S\u00ednear, en Ar\u00edog, die koning van Ell\u00e1sar: vier konings teen vyf.\n14:10 Maar die laagte Siddim was vol gate in die lymgrond; en toe die konings van Sodom en Gomorra wegvlug, het hulle daarin geval, en die wat oorgebly het, het na die gebergte gevlug.\n14:11 En hulle het al die goed van Sodom en Gomorra en al hulle voedsel geneem en weggetrek.\n14:12 Hulle het ook Lot, Abram se broerskind, en al sy goed geneem en weggetrek--want hy was in Sodom woonagtig.\n14:13 Toe kom daar een wat vrygeraak het, en vertel dit aan Abram, die Hebre\u00ebr, wat woonagtig was by die terpentynbome van Mamre, die Amoriet, broer van Eskol en broer van Aner; en hulle was bondgenote van Abram.\n14:14 Toe Abram hoor dat sy broer as gevangene weggevoer is, het hy sy geoefende manne wat in sy huis gebore is, laat uittrek, drie honderd en agtien, en hulle tot by Dan agtervolg--\n14:15 hy het hulle in die nag van verskillende kante aangeval, hy en sy dienaars, en hulle verslaan en hulle agtervolg tot by Hoba wat noord van Damaskus l\u00ea.\n14:16 En hy het al die goed teruggebring, en ook sy broer Lot en sy goed teruggebring; en ook die vroue en die manskappe.\n14:17 N\u00e1 sy terugkoms van die oorwinning op Kedor-La\u00f3mer en die konings wat saam met hom was, het die koning van Sodom uitgetrek hom tegemoet na die laagte Sawe, dit is die Koningslaagte.\n14:18 En Melgis\u00e9dek, die koning van Salem, wat 'n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring\n14:19 en hom gese\u00ebn en ges\u00ea: Gese\u00ebnd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde.\n14:20 En gese\u00ebnd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van alles.\n14:21 En die koning van Sodom s\u00ea vir Abram: Gee my die mense, maar neem die goed vir uself.\n14:22 Toe antwoord Abram die koning van Sodom: Ek hef my hand op tot die HERE, God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde,\n14:23 dat ek geen draad en geen skoenriem, ja, dat ek niks sal neem van alles wat uwe is nie, sodat u nie kan s\u00ea nie: Ek het Abram ryk gemaak.\n14:24 Niks vir my nie! Net wat die dienaars ge\u00ebet het en die deel van die manne wat saam met my getrek het, Aner, Eskol en Mamre, laat di\u00e9 hulle deel neem.\n15:1 N\u00e1 hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom in 'n gesig en ges\u00ea: Vrees nie, Abram, Ek is vir jou 'n skild en jou loon is baie groot.\n15:2 Toe vra Abram: Here HERE, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan en die erfgenaam van my huis die Damask\u00e9ner Eli\u00ebser is?\n15:3 Verder het Abram ges\u00ea: Aan my het U geen nageslag gegee nie; so sal dan die bediende van my huis my erfgenaam wees.\n15:4 Toe kom die woord van die HERE tot hom en s\u00ea: Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees.\n15:5 Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy s\u00ea vir hom: So sal jou nageslag wees.\n15:6 En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.\n15:7 Verder het Hy vir hom ges\u00ea: Ek is die HERE wat jou uitgelei het uit Ur van die Chalde\u00ebrs om jou hierdie land in besit te gee.\n15:8 En hy s\u00ea: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?\n15:9 En Hy antwoord hom: Neem vir My 'n driejaaroud vers en 'n driejaaroud bokooi en 'n driejaaroud ram en 'n tortelduif en 'n jong duif.\n15:10 En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gel\u00ea; maar die vo\u00ebls het hy nie verdeel nie.\n15:11 Toe kom daar roofvo\u00ebls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag.\n15:12 En toe die son wou ondergaan, val daar 'n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.\n15:13 Daarop s\u00ea Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank.\n15:14 Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed.\n15:15 Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word.\n15:16 En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.\n15:17 En n\u00e1 sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar 'n rokende oond en vurige fakkel tussen di\u00e9 stukke vleis deur.\n15:18 Op di\u00e9 dag het die HERE met Abram 'n verbond gesluit en ges\u00ea: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier:\n15:19 die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete\n15:20 en Hetiete en Feresiete en Refa\u00efete\n15:21 en Amoriete en Kana\u00e4niete en Girgasiete en Jebusiete.\n16:1 Maar Sarai, die vrou van Abram, het vir hom geen kinders gebaar nie; en sy het 'n Egiptiese slavin gehad met die naam van Hagar.\n16:2 En Sarai het vir Abram ges\u00ea: Jy weet, die HERE het my nie toegelaat om moeder te word nie. Gaan tog in by my slavin; miskien sal ek uit haar gebou word. En Abram het na Sarai geluister.\n16:3 Toe neem Sarai, die vrou van Abram, Hagar, die Egiptiese, haar slavin--nadat Abram tien jaar in die land Kana\u00e4n gewoon het--en gee haar aan haar man Abram om sy vrou te wees.\n16:4 En hy het by Hagar ingegaan, en sy het swanger geword. Maar toe sy sien dat sy swanger was, het haar meesteres veragtelik in haar o\u00eb geword.\n16:5 En Sarai s\u00ea vir Abram: Die onreg my aangedoen, is op jou! Ek self het my slavin in jou skoot gegee, en nou dat sy sien dat sy swanger is, het ek veragtelik in haar o\u00eb geword. Laat die HERE oordeel tussen my en jou.\n16:6 En Abram antwoord Sarai: Daar is jou slavin in jou hand--doen met haar soos dit goed is in jou o\u00eb. Toe het Sarai haar sleg behandel, en sy het van haar af weggevlug.\n16:7 En die Engel van die HERE het haar by 'n fontein in die woestyn gevind, by die fontein op pad na Sur,\n16:8 en gevra: Hagar, slavin van Sarai, waar kom jy vandaan, en waar gaan jy heen? En sy antwoord: Ek vlug van my meesteres Sarai af weg.\n16:9 Toe s\u00ea die Engel van die HERE vir haar: Gaan terug na jou meesteres en verneder jou onder haar hande.\n16:10 Verder s\u00ea die Engel van die HERE vir haar: Ek sal jou nageslag grootliks vermeerder, sodat dit vanwe\u00eb die menigte nie getel kan word nie.\n16:11 Ook s\u00ea die Engel van die HERE vir haar: Kyk, jy is swanger en sal 'n seun baar, en jy moet hom Ismael noem, want die HERE het jou in jou ellende verhoor.\n16:12 En hy sal 'n wilde-esel van 'n mens wees: sy hand teen almal, en almal se hand teen hom! En hy sal teenoor al sy broers woon.\n16:13 Toe noem sy die Naam van die HERE wat met haar gespreek het: U is 'n God wat sien. Want sy het ges\u00ea: Het ek hier ook gesien na Hom wat my sien?\n16:14 Daarom noem hulle die put: Put van Lagai-Ro\u00ef. Dit l\u00ea daar tussen Kades en Bered.\n16:15 En Hagar het vir Abram 'n seun gebaar; en Abram het sy seun wat Hagar gebaar het, Ismael genoem.\n16:16 En Abram was ses en tagtig jaar oud toe Hagar Ismael vir Abram gebaar het.\n17:1 Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die HERE aan Abram verskyn en vir hom ges\u00ea: Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.\n17:2 En Ek wil my verbond sluit tussen My en jou, en jou buitengewoon vermeerder.\n17:3 Toe val Abram op sy aangesig, en God het met hom gespreek en ges\u00ea:\n17:4 Wat My aangaan, kyk, my verbond is met jou, en jy sal die vader van 'n menigte van nasies word.\n17:5 Daarom sal hulle jou nie meer Abram noem nie, maar jou naam sal wees Abraham, want Ek maak jou 'n vader van 'n menigte van nasies.\n17:6 En Ek sal jou buitengewoon vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom.\n17:7 En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag n\u00e1 jou in hulle geslagte as 'n ewige verbond, om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag n\u00e1 jou.\n17:8 En Ek sal aan jou en jou nageslag n\u00e1 jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kana\u00e4n, as 'n ewige besitting; en Ek sal vir hulle 'n God wees.\n17:9 Verder het God aan Abraham ges\u00ea: Maar jy moet my verbond hou, jy en jou nageslag n\u00e1 jou, van geslag tot geslag.\n17:10 Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag n\u00e1 jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word--\n17:11 julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal 'n teken wees van die verbond tussen My en julle.\n17:12 'n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte. Die wat in jou huis gebore is, en die wat van enige vreemdeling met geld gekoop is, wat nie van jou geslag is nie--\n17:13 die wat in jou huis gebore en wat met jou geld gekoop is, moet sekerlik besny word. So moet dan my verbond in julle vlees wees as 'n ewige verbond.\n17:14 En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie--di\u00e9 siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word: hy het my verbond verbreek.\n17:15 Verder het God aan Abraham ges\u00ea: Sarai, jou vrou, moet jy nie Sarai noem nie, maar haar naam sal Sara wees.\n17:16 En Ek sal haar se\u00ebn en jou uit haar ook 'n seun gee; ja, Ek sal haar se\u00ebn, sodat sy tot nasies sal word; konings van volke sal uit haar voortkom.\n17:17 Toe val Abraham op sy aangesig, en hy lag en s\u00ea in sy hart: Kan daar vir een wat honderd jaar oud is, 'n kind gebore word? Of kan Sara, wat negentig jaar oud is, baar?\n17:18 En Abraham s\u00ea aan God: Ag, mag Ismael lewe voor u aangesig!\n17:19 Toe antwoord God: Voorwaar, jou vrou Sara sal vir jou 'n seun baar, en jy moet hom Isak noem; en Ek sal my verbond met hom oprig as 'n ewige verbond vir sy nageslag n\u00e1 hom.\n17:20 Ook wat Ismael aangaan, het Ek jou verhoor. Kyk, Ek se\u00ebn hom en maak hom vrugbaar en vermeerder hom buitengewoon. Twaalf vorste sal hy verwek, en Ek sal hom 'n groot nasie maak.\n17:21 Maar my verbond sal Ek oprig met Isak wat Sara vir jou anderjaar op hierdie tyd sal baar.\n17:22 En nadat Hy klaar met hom gespreek het, het God van Abraham af opgevaar.\n17:23 Daarop neem Abraham sy seun Ismael en almal wat in sy huis gebore is, en almal wat met sy geld gekoop is, almal wat manlik was onder die mense in die huis van Abraham, en hy het die vlees van hulle voorhuid nog op daardie selfde dag besny, soos God met hom gespreek het.\n17:24 En Abraham was nege en negentig jaar oud toe hy aan die vlees van sy voorhuid besny is.\n17:25 En sy seun Ismael was dertien jaar oud toe hy aan die vlees van sy voorhuid besny is.\n17:26 Op daardie selfde dag is Abraham en sy seun Ismael besny\n17:27 en al die manne van sy huis--die wat in sy huis gebore en die wat van vreemdelinge met geld gekoop is, is saam met hom besny.\n18:1 Daarna het die HERE aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy by die ingang van die tent sit op die warmste van die dag.\n18:2 Toe hy sy o\u00eb opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy hulle sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom na die aarde toe.\n18:3 En hy s\u00ea: My heer, as ek nou genade in u o\u00eb gevind het, gaan dan tog nie by u kneg verby nie.\n18:4 Laat hulle tog 'n bietjie water bring, en was u voete, en l\u00ea en rus onder die boom.\n18:5 En laat ek 'n stukkie brood gaan haal, en versterk u hart--daarna kan u verder gaan--want daarom het u by u kneg aangekom. En hulle antwoord: Doen soos u ges\u00ea het.\n18:6 Toe loop Abraham haastig in die tent na Sara en s\u00ea: Maak gou, knie drie mate meel, die beste, en maak roosterkoeke.\n18:7 Daarop loop Abraham na die beeste en vang 'n jong, mooi kalf en gee dit aan die dienaar, wat dit gou klaargemaak het.\n18:8 En hy neem dikmelk en soetmelk en die kalf wat hy klaargemaak het, en sit dit aan hulle voor, terwyl hy self by hulle onder die boom bly staan; en hulle het ge\u00ebet.\n18:9 Toe s\u00ea hulle vir hom: Waar is Sara, u vrou? En hy antwoord: Daar in die tent.\n18:10 En Hy s\u00ea: Ek sal oor 'n jaar sekerlik weer na jou toe kom--dan sal jou vrou Sara 'n seun h\u00ea. En Sara het geluister by die ingang van die tent wat agter Hom was.\n18:11 Maar Abraham en Sara was oud, ver op hulle dae; dit het met Sara nie meer volgens die re\u00ebl van die vroue gegaan nie.\n18:12 En Sara het by haarself gelag en gedink: Sal ek wellus h\u00ea nadat ek oud geword het en my heer oud is?\n18:13 Toe s\u00ea die HERE vir Abraham: Waarom het Sara daar gelag en gedink: Sou ek ook werklik baar nou dat ek oud geword het?\n18:14 Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees? Hierdie tyd, oor 'n jaar, sal Ek na jou terugkom, en Sara sal 'n seun h\u00ea.\n18:15 Maar Sara het dit ontken en ges\u00ea: Ek het nie gelag nie--want sy was bang. Maar Hy s\u00ea: Nee, maar jy het gelag.\n18:16 Toe staan die manne daarvandaan op, en hulle het gekyk na die kant van Sodom; en Abraham het saam met hulle gegaan om hulle weg te bring.\n18:17 Daarop s\u00ea die HERE: Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen,\n18:18 terwyl Abraham tog sekerlik 'n groot en magtige nasie sal word en al die nasies van die aarde in hom gese\u00ebn sal word?\n18:19 Want Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis n\u00e1 hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen; sodat die HERE oor Abraham kan bring wat Hy oor hom gespreek het.\n18:20 Verder het die HERE ges\u00ea: Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot, en hulle sonde is waarlik baie swaar.\n18:21 Ek wil neerdaal en sien of hulle werklik gehandel het soos die geroep oor hulle is wat by My gekom het; en so nie, Ek wil dit weet.\n18:22 Toe het die manne daarvandaan weggedraai en na Sodom gegaan, maar Abraham het nog bly staan voor die aangesig van die HERE.\n18:23 En Abraham het nader gekom en ges\u00ea: Sal U ook die regverdige saam met die goddelose ombring?\n18:24 Miskien is daar vyftig regverdiges binne-in die stad; sal U hulle ook ombring en die plek nie spaar ter wille van die vyftig regverdiges wat daarin is nie?\n18:25 Laat dit ver van U wees om so iets te doen: om die regverdige saam met die goddelose om te bring, sodat die regverdige gelyk is met die goddelose. Laat dit ver van U wees! Sal die Regter van die ganse aarde geen reg doen nie?\n18:26 Toe s\u00ea die HERE: As Ek in Sodom vyftig regverdiges vind binne-in die stad, dan sal Ek die hele plek spaar om hulle ontwil.\n18:27 En Abraham antwoord en s\u00ea: Kyk tog, ek het dit gewaag om met die Here te spreek alhoewel ek stof en as is.\n18:28 Miskien sal daar aan die vyftig regverdiges vyf ontbreek; sal U ter wille van vyf die hele stad verwoes? En Hy antwoord: Ek sal dit nie verwoes as Ek daar vyf en veertig vind nie.\n18:29 En hy het nog verder met Hom gespreek en ges\u00ea: Miskien sal daar veertig gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter wille van die veertig nie doen nie.\n18:30 Verder s\u00ea hy: Laat die Here tog nie toornig wees nie, en mag ek nog iets s\u00ea. Miskien sal daar dertig gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit nie doen as Ek daar dertig vind nie.\n18:31 Toe s\u00ea hy: Kyk tog, ek het dit gewaag om met die Here te spreek. Miskien sal daar twintig gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter wille van die twintig nie verwoes nie.\n18:32 Toe s\u00ea hy: Laat die Here tog nie toornig wees nie en laat my net hierdie keer mag spreek. Miskien sal daar tien gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter wille van die tien nie verwoes nie.\n18:33 En die HERE het weggegaan toe Hy opgehou het om met Abraham te spreek, en Abraham het na sy woonplek teruggekeer.\n19:1 En die twee engele het in die aand in Sodom aangekom, terwyl Lot in die poort van Sodom sit; en toe Lot hulle sien, het hy opgestaan om hulle tegemoet te gaan en hom gebuig met die aangesig na die aarde toe\n19:2 en ges\u00ea: Kyk tog, my here, draai tog uit na die huis van u dienaar en bly die nag oor en was u voete; dan kan u vroeg opstaan en u reis voortsit. Maar hulle antwoord: Nee, ons sal op die plein vernag.\n19:3 Maar hy het baie by hulle aangehou, sodat hulle na hom uitgedraai en in sy huis gekom het. En hy het vir hulle 'n maaltyd berei en ongesuurde koeke gebak, en hulle het ge\u00ebet.\n19:4 Hulle het nog nie gaan slaap nie toe die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam.\n19:5 En hulle het na Lot geroep en aan hom ges\u00ea: Waar is die manne wat vannag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken.\n19:6 Daarop gaan Lot na hulle toe uit voor die ingang en sluit die deur agter hom toe\n19:7 en s\u00ea: My broers, moet tog nie kwaad doen nie.\n19:8 Kyk tog, ek het twee dogters wat geen man beken het nie; laat ek di\u00e9 na julle uitbring, en doen met hulle soos dit goed is in julle o\u00eb. Net aan hierdie manne moet julle niks doen nie, want daarom het hulle onder die skaduwee van my dak ingekom.\n19:9 Toe antwoord hulle: Gee pad daar! En hulle s\u00ea: Hierdie een het gekom om hier as vreemdeling te vertoef en wil tog gedurig die baas speel. Nou sal ons jou meer kwaad doen as aan hulle. En hulle het sterk op die man, op Lot, aangedring en nader gekom om die deur oop te breek.\n19:10 Maar die manne het hulle hand uitgesteek en Lot by hulle in die huis gebring en die deur toegesluit.\n19:11 Toe slaan hulle die manne wat by die ingang van die huis was, klein en groot, met blindheid, sodat hulle tevergeefs na die ingang gesoek het.\n19:12 Daarop s\u00ea die manne vir Lot: Wie het jy hier nog? 'n Skoonseun en jou seuns en jou dogters en almal wat jy het in die stad--bring hulle uit die plek uit;\n19:13 want ons gaan hierdie plek verwoes, omdat die geroep oor hulle groot is voor die aangesig van die HERE, en die HERE het ons gestuur om dit te verwoes.\n19:14 Toe gaan Lot uit en praat met sy skoonseuns wat met sy dogters sou trou, en s\u00ea: Maak julle klaar, gaan uit hierdie plek uit, want die HERE gaan die stad verwoes. Maar hy was in die o\u00eb van sy skoonseuns soos een wat gekskeer.\n19:15 En toe die dag begin breek, het die engele by Lot aangedring en ges\u00ea: Maak jou klaar, neem jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, dat jy weens die ongeregtigheid van die stad nie omkom nie.\n19:16 Maar hy het nog getalm. Toe gryp die manne hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die HERE hom wou verskoon; en hulle lei hom uit en bring hom buitekant die stad.\n19:17 En toe hulle hulle na buite uitgelei het, s\u00ea Hy: Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie, en moenie \u00earens in die Jordaanstreek bly staan nie. Vlug na die gebergte, dat jy nie omkom nie!\n19:18 Daarop antwoord Lot hulle: Ag nee, my Here!\n19:19 Kyk tog, u kneg het genade in u o\u00eb gevind, en U het u guns groot gemaak wat U aan my bewys het deur my in die lewe te behou. Maar ek is nie in staat om na die gebergte te vlug sonder dat die onheil my inhaal en ek sterwe nie.\n19:20 Kyk tog, hierdie stad is naby om daarheen te vlug, en dit is klein. Laat my tog daarheen vlug--is dit nie klein nie? --dat ek kan lewe!\n19:21 En Hy s\u00ea vir hom: Kyk, Ek neem jou ook in hierdie saak in guns aan, sodat Ek die stad waarvan jy gespreek het, nie sal omkeer nie.\n19:22 Vlug gou daarheen, want Ek kan niks doen voordat jy daar aankom nie. Daarom noem hulle die stad Soar.\n19:23 Die son het oor die aarde opgegaan toe Lot in Soar aankom.\n19:24 En die HERE het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat re\u00ebn van die HERE uit die hemel,\n19:25 en Hy het hierdie stede omgekeer en die hele Jordaanstreek, ook al die inwoners van die stede en wat op die grond groei.\n19:26 En sy vrou het agter hom omgekyk, en sy het 'n soutpilaar geword.\n19:27 En Abraham is vroeg in die m\u00f4re na die plek waar hy voor die aangesig van die HERE gestaan het.\n19:28 Toe hy uitkyk oor Sodom en Gomorra en oor die hele land van die Jordaanstreek, sien hy dat die rook van die land optrek soos die rook van 'n smeltoond.\n19:29 En onderwyl God die stede van die Jordaanstreek verwoes, het God aan Abraham gedink en Lot uitgelei uit die omkering toe Hy die stede omgekeer het waar Lot woonagtig was.\n19:30 En Lot het uit Soar opgetrek en saam met sy twee dogters gaan woon op die gebergte, want hy was bang om in Soar te bly; daarom het hy saam met sy twee dogters in 'n spelonk gaan woon.\n19:31 En die oudste het aan die jongste ges\u00ea: Ons vader is oud, en daar is geen man in die land om, na die re\u00ebl van die ganse aarde, by ons in te gaan nie.\n19:32 Kom, laat ons aan ons vader wyn gee om te drink en met hom gemeenskap hou, sodat ons deur ons vader 'n geslag in die lewe kan hou.\n19:33 Hulle gee toe di\u00e9 nag aan hulle vader wyn om te drink, en die oudste het gekom en met haar vader gemeenskap gehad sonder dat hy dit gewaar het toe sy gaan l\u00ea en toe sy opstaan.\n19:34 Die volgende dag s\u00ea die oudste aan die jongste: Kyk, ek het verlede nag met my vader gemeenskap gehad; laat ons hom vannag weer wyn gee om te drink; gaan dan in, hou met hom gemeenskap, dat ons deur ons vader 'n geslag in die lewe kan hou.\n19:35 Hulle gee toe di\u00e9 nag weer aan hulle vader wyn om te drink, en die jongste het opgestaan en met hom gemeenskap gehad sonder dat hy dit gewaar het toe sy gaan l\u00ea en toe sy opstaan.\n19:36 So het dan die twee dogters van Lot by hulle vader bevrug geword,\n19:37 en die oudste het 'n seun gebaar en hom Moab genoem. Hy is die vader van die hedendaagse Moabiete.\n19:38 En die jongste het ook 'n seun gebaar en hom Ben-Ammi genoem. Hy is die vader van die hedendaagse Ammoniete.\n20:1 En Abraham het daarvandaan weggetrek na die Suidland en gaan woon tussen Kades en Sur en in Gerar as vreemdeling vertoef.\n20:2 En Abraham het van Sara, sy vrou, ges\u00ea: Sy is my suster. Toe laat Abim\u00e9leg, die koning van Gerar, Sara haal.\n20:3 Maar God het in die nag by Abim\u00e9leg gekom in 'n droom en vir hom ges\u00ea: Kyk, jy sal sterwe ter wille van die vrou wat jy laat haal het, want sy is 'n getroude vrou.\n20:4 Maar Abim\u00e9leg het nog nie naby haar gekom nie; daarom het hy gevra: Here, sal U ook 'n regverdige nasie ombring?\n20:5 Het hy my nie self ges\u00ea nie: Sy is my suster? En sy het self ook ges\u00ea: Hy is my broer. In die onskuld van my hart en in die reinheid van my hande het ek dit gedoen.\n20:6 Daarop antwoord God hom in die droom: Ek weet ook dat jy dit in die onskuld van jou hart gedoen het, en Ek self het jou daarvan teruggehou om nie teen My te sondig nie. Daarom het Ek jou nie toegelaat om haar aan te raak nie.\n20:7 Gee dan nou die man se vrou terug, want hy is 'n profeet; en hy sal vir jou bid, dat jy kan lewe. Maar as jy haar nie teruggee nie, weet dan dat jy sekerlik sal sterwe, jy en almal wat aan jou behoort.\n20:8 Abim\u00e9leg is toe die m\u00f4re vroeg op en het al sy dienaars geroep en die hele saak voor hulle ore vertel. Toe was die manne baie bang.\n20:9 En Abim\u00e9leg het Abraham laat roep en hom gevra: Wat het jy ons aangedoen? En wat het ek teen jou gesondig, dat jy oor my en my koninkryk 'n groot sonde gebring het? Dinge wat nie mag gebeur nie, het jy my aangedoen.\n20:10 Verder s\u00ea Abim\u00e9leg vir Abraham: Wat was jou bedoeling dat jy dit gedoen het?\n20:11 En Abraham antwoord: Ek het gedink daar is regtig geen vrees vir God in hierdie plek nie, sodat hulle my oor my vrou sal doodmaak.\n20:12 En sy is ook werklik my suster; sy is my vader se dogter, maar nie my moeder se dogter nie; en sy het my vrou geword.\n20:13 En toe God my uit die huis van my vader laat omswerf het, het ek aan haar ges\u00ea: Dit is die guns wat jy van jou kant aan my moet bewys--op elke plek waar ons kom, moet jy van my s\u00ea: Hy is my broer.\n20:14 Toe neem Abim\u00e9leg kleinvee en beeste, ook slawe en slavinne, en gee dit aan Abraham. Ook sy vrou Sara het hy aan hom teruggegee.\n20:15 En Abim\u00e9leg s\u00ea: Daar l\u00ea my land voor jou oop; woon waar dit goed is in jou o\u00eb.\n20:16 En vir Sara s\u00ea hy: Hier gee ek aan jou broer duisend sikkels silwer. Kyk, dit is vir jou 'n bedekking van die o\u00eb met betrekking tot elkeen wat by jou is, sodat jy in elke opsig geregverdig is.\n20:17 Toe het Abraham tot God gebid, en God het Abim\u00e9leg gesond gemaak; ook sy vrou en sy slavinne, sodat hulle kon baar.\n20:18 Want die HERE het elke moederskoot van die huis van Abim\u00e9leg geheel en al toegesluit ter wille van Sara, die vrou van Abraham.\n21:1 En die HERE het Sara besoek soos Hy beloof het; en die HERE het aan Sara gedoen soos Hy gespreek het:\n21:2 Sara het bevrug geword en vir Abraham in sy ouderdom 'n seun gebaar op die bepaalde tyd wat God genoem het.\n21:3 En Abraham het sy seun wat vir hom gebore is, wat Sara vir hom gebaar het, Isak genoem.\n21:4 En Abraham het sy seun Isak besny toe hy agt dae oud was, soos God hom beveel het.\n21:5 En Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak vir hom gebore is.\n21:6 En Sara het ges\u00ea: 'n Gelag het God my berei: elkeen wat dit hoor, sal oor my lag.\n21:7 Verder s\u00ea sy: Wie kon ooit aan Abraham voorspel het: Sara soog kinders? Want ek het 'n seun gebaar in sy ouderdom.\n21:8 En die kind het opgegroei en is gespeen. En Abraham het 'n groot maaltyd berei op die dag toe Isak gespeen is.\n21:9 Toe sien Sara hoe die seun van Hagar, die Egiptiese slavin, wat sy vir Abraham gebaar het, spot;\n21:10 en sy s\u00ea aan Abraham: Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erwe nie.\n21:11 En die woord was baie verkeerd in die o\u00eb van Abraham vanwe\u00eb sy seun.\n21:12 Maar God het aan Abraham ges\u00ea: Laat dit nie verkeerd wees in jou o\u00eb ter wille van die seun en van jou slavin nie. Luister na Sara in alles wat sy van jou verlang, want deur Isak sal daar vir jou 'n nageslag genoem word.\n21:13 Maar Ek sal ook die seun van die slavin tot 'n nasie maak, omdat hy jou kind is.\n21:14 Toe is Abraham die m\u00f4re vroeg op, en hy het brood en 'n sak met water geneem en dit aan Hagar gegee deur dit op haar skouer te sit, en ook die kind, en haar weggestuur. Sy het toe weggegaan en rondgedwaal in die woestyn van Bers\u00e9ba.\n21:15 En toe die water in die sak op was, het sy die kind onder een van die bosse neergewerp\n21:16 en geloop en op 'n afstand gaan sit so ver as 'n boog kan skiet; want sy het ges\u00ea: Ek wil die dood van die kind nie aansien nie. En sy het op 'n afstand gaan sit en haar stem verhef en geween.\n21:17 Toe hoor God die stem van die seun, en die Engel van God het na Hagar geroep uit die hemel en haar gevra: Wat is dit met jou, Hagar? Wees nie bevrees nie, want God het na die stem van die seun geluister op die plek waar hy is.\n21:18 Staan op, tel die seun op en hou hom vas met jou hand, want Ek sal hom 'n groot nasie maak.\n21:19 Daarop het God haar o\u00eb geopen, en sy sien 'n put! En sy het geloop en die sak vol water gemaak en die seun laat drink.\n21:20 En God was met die seun; en hy het opgegroei en in die woestyn gewoon en 'n boogskutter geword:\n21:21 hy het in die woestyn Paran gewoon; en sy moeder het vir hom 'n vrou uit Egipteland geneem.\n21:22 In di\u00e9 tyd het Abim\u00e9leg en Pigol, sy le\u00ebrowerste, met Abraham gespreek en ges\u00ea: God is met jou in alles wat jy doen.\n21:23 Sweer dan nou vir my hier by God dat jy met my en my kroos en my nageslag nie vals sal handel nie; dieselfde guns wat ek jou bewys het, moet jy aan my bewys en aan die land waarin jy as vreemdeling vertoef.\n21:24 En Abraham antwoord: Ek sweer.\n21:25 Maar Abraham het Abim\u00e9leg aangespreek oor 'n put wat die dienaars van Abim\u00e9leg met geweld geneem het.\n21:26 Daarop antwoord Abim\u00e9leg: Ek weet nie wie dit gedoen het nie, en jy het my dit ook nie meegedeel nie, en ek het daar ook niks van gehoor nie as net vandag.\n21:27 Toe neem Abraham kleinvee en beeste en gee dit aan Abim\u00e9leg; en hulle twee het 'n verbond gesluit;\n21:28 Abraham het naamlik die sewe ooilammers van die kleinvee eenkant uitgekeer.\n21:29 Toe s\u00ea Abim\u00e9leg vir Abraham: Wat beteken hierdie sewe ooilammers wat jy uitgekeer het?\n21:30 En hy antwoord: Die sewe ooilammers moet jy uit my hand aanneem, sodat dit vir my 'n getuienis kan wees dat ek hierdie put gegrawe het.\n21:31 Daarom noem hulle di\u00e9 plek Bers\u00e9ba, omdat hulle twee daar gesweer het.\n21:32 So het hulle dan 'n verbond gesluit in Bers\u00e9ba. Daarna het Abim\u00e9leg en Pigol, sy le\u00ebrowerste, klaargemaak en na die land van die Filistyne teruggegaan.\n21:33 En hy het 'n tamarisk in Bers\u00e9ba geplant en daar die Naam van die HERE, die ewige God, aangeroep.\n21:34 En Abraham het baie dae as vreemdeling in die land van die Filistyne vertoef.\n22:1 N\u00e1 hierdie dinge het God Abraham op die proef gestel en aan hom ges\u00ea: Abraham! En hy antwoord: Hier is ek!\n22:2 Toe s\u00ea Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Mor\u00eda en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.\n22:3 Daarop het Abraham die m\u00f4re vroeg klaargemaak en sy esel opgesaal en twee van sy dienaars en sy seun Isak saam met hom geneem; en hy het hout gekloof vir 'n brandoffer en opgestaan en na die plek gegaan wat God hom aangewys het.\n22:4 Op die derde dag toe slaan Abraham sy o\u00eb op en sien die plek van ver af.\n22:5 En Abraham s\u00ea aan sy dienaars: Bly julle hier met die esel; ek en die seun wil daarheen gaan om te aanbid en dan na julle terugkom.\n22:6 En Abraham het die hout vir die brandoffer geneem en dit op sy seun Isak gesit, en die vuur en die mes in sy hand geneem. So het hulle twee dan saam geloop.\n22:7 Toe spreek Isak met sy vader Abraham en s\u00ea: My vader! En hy antwoord: Hier is ek, my seun! En hy s\u00ea: Hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam vir 'n brandoffer?\n22:8 En Abraham antwoord: God sal vir Homself die lam vir 'n brandoffer voorsien, my seun. So het hulle twee dan saam geloop.\n22:9 Toe hulle kom op die plek wat God hom aangewys het, het Abraham daar die altaar gebou en die hout reggel\u00ea; daarna het hy sy seun Isak gebind en hom op die altaar bo-op die hout gesit.\n22:10 Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag.\n22:11 Maar die Engel van die HERE het na hom van die hemel af geroep en ges\u00ea: Abraham, Abraham! En hy antwoord: Hier is ek!\n22:12 En Hy s\u00ea: Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.\n22:13 En toe Abraham sy o\u00eb opslaan, sien hy meteens 'n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het. En Abraham het gegaan en die ram geneem en dit as brandoffer in die plek van sy seun geoffer.\n22:14 En Abraham het di\u00e9 plek genoem: Die HERE sal voorsien! Sodat vandag nog ges\u00ea word: Op die berg van die HERE sal dit voorsien word.\n22:15 Toe roep die Engel van die HERE vir die tweede keer na Abraham van die hemel af\n22:16 en s\u00ea: Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie,\n22:17 dat Ek jou ryklik sal se\u00ebn en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem.\n22:18 En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde gese\u00ebn word, omdat jy na my stem geluister het.\n22:19 En Abraham het na sy dienaars teruggekeer; en hulle het klaargemaak en saam na Bers\u00e9ba gegaan. En Abraham het in Bers\u00e9ba bly woon.\n22:20 N\u00e1 hierdie dinge het hulle aan Abraham berig gebring en ges\u00ea: Kyk, Milka het ook vir jou broer Nahor seuns gebaar:\n22:21 Us, sy eersgeborene, en Bus, sy broer, en K\u00e9muel, die vader van Aram,\n22:22 ook Kesed en Haso en Pildas en Jidlaf en B\u00e9tuel.\n22:23 (En B\u00e9tuel was die vader van Rebekka.) Hierdie agt het Milka vir Nahor, die broer van Abraham, gebaar.\n22:24 En sy byvrou met die naam van Re\u00fcma, sy het ook Tebag en Gaham en Tahas en M\u00e1\u00e4ga gebaar.\n23:1 En die lewensdae van Sara was honderd sewe en twintig jaar. Dit was die lewensjare van Sara.\n23:2 En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kana\u00e4n; en Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween.\n23:3 Daarna het Abraham opgestaan, van sy dode af weg, en met die seuns van Het gespreek en ges\u00ea:\n23:4 Ek is 'n vreemdeling en bywoner onder julle. Gee my 'n graf as besitting by julle, dat ek my dode van my af weg kan begrawe.\n23:5 Toe antwoord die seuns van Het vir Abraham en s\u00ea aan hom:\n23:6 Luister na ons, my heer! U is 'n vors van God onder ons. Begraaf u dode in die beste graf wat ons het; niemand van ons sal u sy graf weier om u dode te begrawe nie.\n23:7 Toe staan Abraham op en buig hom voor die volk van die land, voor die seuns van Het;\n23:8 en hy het met hulle gespreek en ges\u00ea: As julle dit goedvind dat ek my dode van my af weg begrawe, luister dan na my en doen vir my 'n goeie woord by Efron, die seun van Sohar,\n23:9 dat hy aan my gee die spelonk van Magp\u00e9la wat aan hom behoort, wat aan die end van sy stuk grond l\u00ea; laat hy dit vir die volle som aan my gee, dat ek 'n graf onder julle mag besit.\n23:10 En Efron het tussen die seuns van Het gesit. Toe antwoord Efron, die Hetiet, vir Abraham voor die ore van die seuns van Het, van almal wat in die poort van sy stad ingegaan het:\n23:11 Nee, my heer, luister na my. Die stuk grond gee ek aan u; ook die spelonk wat daarin is, dit gee ek aan u; voor die o\u00eb van die seuns van my volk gee ek dit aan u; begraaf u dode.\n23:12 Daarop het Abraham hom voor die volk van die land neergebuig\n23:13 en met Efron gespreek voor die ore van die volk van die land: Ja, as dit u is, ag, luister na my! Ek gee die geld vir die stuk grond; neem dit van my aan, dat ek my dode daar kan begrawe.\n23:14 En Efron het Abraham geantwoord en aan hom ges\u00ea:\n23:15 My heer, luister na my. 'n Stuk land van vier honderd sikkels silwer--wat is dit tussen my en u? Begraaf maar u dode.\n23:16 Toe luister Abraham na Efron, en Abraham het aan Efron die geld afgeweeg waarvan hy gespreek het voor die ore van die seuns van Het--vier honderd sikkels silwer gangbaar by die koopman.\n23:17 So het dan die stuk grond van Efron wat in Magp\u00e9la teenoor Mamre l\u00ea, die stuk grond en die spelonk wat daarin is, en al die bome op die stuk grond wat op die ganse gebied daarvan rondom staan,\n23:18 die eiendom van Abraham geword voor die o\u00eb van die seuns van Het, voor almal wat in die poort van sy stad ingegaan het.\n23:19 Daarna het Abraham toe sy vrou Sara begrawe in die spelonk van die stuk grond van Magp\u00e9la, oostelik van Mamre, dit is Hebron, in die land Kana\u00e4n.\n23:20 So is dan die stuk grond en die spelonk wat daarin was, deur die seuns van Het aan Abraham afgestaan om dit as graf in eiendom te besit.\n24:1 En Abraham was oud en ver op sy dae, en die HERE het Abraham in alles gese\u00ebn.\n24:2 Toe s\u00ea Abraham aan sy dienaar, die oudste van sy huis wat die opsig gehad het oor al sy goed: L\u00ea tog jou hand onder my heup,\n24:3 dat ek jou kan laat sweer by die HERE, die God van die hemel en die God van die aarde, dat jy vir my seun geen vrou sal neem uit die dogters van die Kana\u00e4niete onder wie ek woon nie;\n24:4 maar dat jy na my land en my familie sal gaan om vir my seun Isak 'n vrou te neem.\n24:5 Toe s\u00ea die dienaar vir hom: Miskien sal die vrou my nie wil volg na hierdie land nie. Moet ek u seun dan maar terugbring in die land waaruit u weggetrek het?\n24:6 En Abraham antwoord hom: Neem jou tog in ag dat jy my seun nie weer daarheen bring nie.\n24:7 Die HERE, die God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my geboorteland weggeneem het, en wat met my gespreek en vir my gesweer het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee--Hy sal sy engel voor jou uit stuur, en jy moet vir my seun daar 'n vrou gaan haal.\n24:8 Maar as die vrou jou nie wil volg nie, dan is jy ontslae van hierdie eed aan my. Jy moet net my seun nie weer daarheen bring nie.\n24:9 Toe l\u00ea die dienaar sy hand onder die heup van Abraham, sy heer, en hy het vir hom gesweer, met die oog op hierdie saak.\n24:10 En die dienaar het tien kamele van die kamele van sy heer geneem en weggegaan met allerhande kosbare goed van sy heer by hom: hy het klaargemaak en na Mesopot\u00e1mi\u00eb, na die stad van Nahor, getrek.\n24:11 En hy het die kamele laat neerkniel buitekant die stad by 'n put, teen die aand, teen die tyd dat die vroue uitgaan om water te skep,\n24:12 en ges\u00ea: HERE, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer.\n24:13 Hier staan ek by die fontein, terwyl die dogters van die manne van die stad uitkom om water te skep.\n24:14 Laat dit nou tog gebeur: as die dogter aan wie ek sal s\u00ea: Hou tog jou kruik, dat ek kan drink, antwoord: Drink, en ek sal ook u kamele laat drink--dan is sy dit wat U bestem het vir u kneg Isak, en daaraan sal ek weet dat U guns aan my heer bewys het.\n24:15 Hy het nog nie klaar gespreek nie, of daar kom Rebekka uit wat vir B\u00e9tuel, die seun van Milka, die vrou van Nahor, Abraham se broer, gebore is, met haar kruik op haar skouer.\n24:16 En die dogter was baie mooi van aansien, 'n jongmeisie, en geen man het haar beken nie. En sy het afgedaal na die fontein en haar kruik volgemaak en weer opgekom.\n24:17 Toe loop die dienaar haar tegemoet en s\u00ea: Laat my tog 'n bietjie water uit jou kruik drink.\n24:18 En sy antwoord: Drink, my heer! Daarop laat sy gou haar kruik op haar hand afsak en laat hom drink.\n24:19 Nadat sy hom genoeg laat drink het, s\u00ea sy: Ek sal vir u kamele ook skep totdat hulle genoeg gedrink het.\n24:20 Dadelik het sy toe haar kruik in die drinkbak leeggemaak en weer na die put geloop om te skep en vir al sy kamele geskep.\n24:21 En die man het haar stilswyend betrag om te weet of die HERE sy weg voorspoedig gemaak het of nie.\n24:22 En toe die kamele genoeg gedrink het, neem die man 'n goue ring, 'n halfsikkel in gewig, en twee armbande vir haar hande, tien sikkels goud in gewig.\n24:23 En hy s\u00ea: Wie se dogter is jy? Vertel my tog. Is daar plek vir ons in die huis van jou vader om te vernag?\n24:24 Toe antwoord sy hom: Ek is die dogter van B\u00e9tuel, die seun van Milka wat sy vir Nahor gebaar het.\n24:25 Verder s\u00ea sy vir hom: Daar is ook strooi en voer in oorvloed by ons, ook plek om te vernag.\n24:26 Toe buig die man hom neer en aanbid die HERE\n24:27 met die woorde: Geloofd sy die HERE, die God van Abraham, my heer, wat sy goedertierenheid en sy trou aan my heer nie onttrek het nie. Wat my aangaan, die HERE het my op die weg gelei na die huis van die broers van my heer.\n24:28 Daarna het die dogter geloop en in die huis van haar moeder vertel wat daar gebeur het.\n24:29 En Rebekka het 'n broer gehad met die naam van Laban, en Laban het uitgeloop na die man buite by die fontein.\n24:30 Want toe hy die ring en die armbande aan die hande van sy suster sien en die woorde van sy suster Rebekka hoor, naamlik: So het die man met my gespreek--het hy na die man gegaan, terwyl hy nog daar staan by die kamele by die fontein,\n24:31 en ges\u00ea: Kom in, gese\u00ebnde van die HERE! Waarom staan jy buitekant terwyl ek die huis reggemaak het en ook plek vir die kamele?\n24:32 En die man het in die huis ingekom--die kamele is afgesaal en vir die kamele is strooi en voer gegee, en water om sy voete te was en die voete van die manne wat by hom was.\n24:33 Daarop het hulle ete voor hom neergesit; maar hy het ges\u00ea: Ek sal nie eet voordat ek my saak voorgedra het nie. En hy antwoord: Spreek maar.\n24:34 Toe s\u00ea hy: Ek is die dienaar van Abraham.\n24:35 En die HERE het my heer baie gese\u00ebn, sodat hy groot geword het, en aan hom kleinvee en beeste, silwer en goud, slawe en slavinne en kamele en esels gegee.\n24:36 En Sara, die vrou van my heer, het vir my heer 'n seun gebaar nadat sy al oud was; en hy het aan hom alles oorgegee wat hy besit.\n24:37 En my heer het my laat sweer en ges\u00ea: Jy moet vir my seun geen vrou neem uit die dogters van die Kana\u00e4niete in wie se land ek woon nie;\n24:38 maar jy moet gaan na die huis van my vader en na my geslag en vir my seun 'n vrou gaan haal.\n24:39 Toe het ek aan my heer ges\u00ea: Miskien sal die vrou my nie volg nie.\n24:40 Maar hy het my geantwoord: Die HERE voor wie se aangesig ek gewandel het, sal sy engel met jou saamstuur, en Hy sal jou weg voorspoedig maak, sodat jy vir my seun 'n vrou uit my geslag en uit die huis van my vader kan gaan haal.\n24:41 Dan sal jy ontslae wees van die eed aan my: as jy by my geslag kom en hulle haar aan jou nie wil gee nie, dan is jy ontslae van die eed aan my.\n24:42 Ek het toe vandag by die fontein gekom en ges\u00ea: HERE, God van Abraham, my heer, as U dan my weg waar ek op gaan, voorspoedig wil maak--\n24:43 ek staan hier by die fontein laat dit nou tog gebeur: die jongmeisie wat uitkom om te skep en aan wie ek sal s\u00ea: Laat my tog 'n bietjie water uit jou kruik drink--\n24:44 en wat my sal antwoord: Drink u self, en ook vir u kamele sal ek skep--sy is die vrou wat die HERE vir die seun van my heer bestem het.\n24:45 Ek het nog nie klaar in my hart gespreek nie of daar het Rebekka uitgekom met haar kruik op die skouer en na die fontein afgedaal en geskep. Ek het toe vir haar ges\u00ea: Laat my tog drink!\n24:46 En sy het dadelik haar kruik van haar laat afsak en ges\u00ea: Drink, en ek sal u kamele ook laat drink. En ek het gedrink, en sy het ook die kamele laat drink.\n24:47 Toe vra ek haar en s\u00ea: Wie se dogter is jy? En sy antwoord: Die dogter van B\u00e9tuel, die seun van Nahor wat Milka vir hom gebaar het. Daarop het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar hande,\n24:48 en ek het my in aanbidding neergebuig voor die HERE en die HERE geloof, die God van Abraham, my heer, wat my op die regte weg gelei het om die dogter van my heer se broer vir sy seun te gaan haal.\n24:49 As julle dan nou guns en trou aan my heer wil bewys, s\u00ea dit vir my; en so nie, s\u00ea dit vir my, dat ek regs of links kan gaan.\n24:50 Toe antwoord Laban en B\u00e9tuel en s\u00ea: Van die HERE kom die saak; ons kan jou daar geen kwaad of goed van spreek nie.\n24:51 Daar staan Rebekka voor jou, neem haar en gaan heen, dat sy 'n vrou kan wees vir die seun van jou heer, soos die HERE gespreek het.\n24:52 Toe die dienaar van Abraham hulle woorde hoor, het hy hom voor die HERE neergebuig na die aarde toe.\n24:53 Daarna het die dienaar silwer-- en goue goed en klere uitgehaal en dit aan Rebekka gegee; ook aan haar broer en haar moeder het hy kosbare geskenke gegee.\n24:54 En hulle het ge\u00ebet en gedrink, hy en die manne wat by hom was, en die nag oorgebly. Toe hulle die m\u00f4re vroeg opgestaan het, s\u00ea hy: Laat my trek na my heer!\n24:55 Maar haar broer en haar moeder s\u00ea: Laat die dogter 'n dag of tien by ons bly; daarna kan jy heengaan.\n24:56 Maar hy antwoord hulle: Moet my nie ophou nie aangesien die HERE my weg voorspoedig gemaak het; laat my trek, dat ek na my heer kan gaan.\n24:57 Toe s\u00ea hulle: Laat ons die dogter roep en haar self vra.\n24:58 En hulle het Rebekka geroep en haar gevra: Wil jy met hierdie man saamgaan? En sy antwoord: Ja.\n24:59 Daarop het hulle Rebekka, hulle suster, en haar oppasser laat trek saam met die dienaar van Abraham en sy manne.\n24:60 En hulle het Rebekka gese\u00ebn en aan haar ges\u00ea: Ons suster, mag jy duisende van tien duisende word, en mag jou nageslag die poort van sy vyande in besit neem!\n24:61 Toe het Rebekka en haar diensmeisies hulle klaargemaak en op die kamele weggery en die man gevolg. So het die dienaar dan Rebekka saamgeneem en weggetrek.\n24:62 En Isak het uit die rigting van die put Lagai-Ro\u00ef gekom; want hy het gaan woon in die Suidland.\n24:63 En Isak het teen die aand uitgegaan om te peins in die veld. En toe hy sy o\u00eb opslaan, sien hy meteens kamele aankom.\n24:64 Rebekka het ook haar o\u00eb opgeslaan en Isak gesien. Toe het sy van die kameel afgegly\n24:65 en aan haar dienaar ges\u00ea: Watter man is dit wat ons tegemoetloop in die veld? En die dienaar antwoord: Dit is my heer. Toe neem sy die sluier en bedek haar.\n24:66 Daarop het die dienaar aan Isak alles vertel wat hy gedoen het.\n24:67 En Isak het haar in die tent van sy moeder Sara ingebring en Rebekka geneem, en sy het sy vrou geword; en hy het haar liefgehad. So is Isak dan getroos n\u00e1 die dood van sy moeder.\n25:1 En Abraham het weer 'n vrou geneem met die naam van Ket\u00fara.\n25:2 En sy het vir hom Simran en Joksan en Medan en M\u00eddian en Jisbak en Suag gebaar.\n25:3 En Joksan was die vader van Skeba en Dedan; en die kinders van Dedan was die Assuriete, Letusiete en Le\u00fcmmiete.\n25:4 En die seuns van M\u00eddian was: Efa en Efer en Henog en Ab\u00edda en Elda\u00e4. Hulle almal was seuns van Ket\u00fara.\n25:5 En Abraham het aan Isak alles gegee wat hy besit het,\n25:6 maar aan die seuns van die byvroue van Abraham het Abraham geskenke gegee en hulle, nog by sy lewe, van sy seun Isak af oos laat wegtrek, na die Oosland.\n25:7 En dit is die dae van die lewensjare van Abraham wat hy geleef het: honderd vyf en sewentig jaar.\n25:8 Abraham het die asem uitgeblaas en in goeie ouderdom gesterwe, oud en afgeleef. En hy is by sy volksgenote versamel.\n25:9 En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magp\u00e9la, in die stuk grond van Efron, die seun van Sohar, die Hetiet, wat oos van Mamre l\u00ea,\n25:10 die stuk grond wat Abraham van die seuns van Het gekoop het. Daar is Abraham begrawe en sy vrou Sara.\n25:11 N\u00e1 die dood van Abraham het God sy seun Isak gese\u00ebn; en Isak het gewoon by die put Lagai-Ro\u00ef.\n25:12 En dit is die stamboom van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die Egiptiese, die slavin van Sara, vir Abraham gebaar het--\n25:13 dit is die name van die seuns van Ismael, hulle name volgens hulle afstamming: die eersgeborene van Ismael, N\u00e9bajot; dan Kedar en Adbe\u00ebl en Mibsam\n25:14 en Misma en Duma en Massa,\n25:15 Hadad en Tema, Jetur, Nafis en Kedma.\n25:16 Dit is die seuns van Ismael, en dit hulle name, in hulle dorpe en laers, twaalf vorste volgens hulle volkstamme.\n25:17 En dit is die lewensjare van Ismael: honderd sewe en dertig jaar; en hy het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is versamel by sy volksgenote.\n25:18 En hulle het gewoon van H\u00e1wila tot by Sur wat oos van Egipte l\u00ea in die rigting van Assur. Teenoor al sy broers het hy hom gevestig.\n25:19 En dit is die geskiedenis van Isak, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak.\n25:20 En Isak was veertig jaar oud toe hy Rebekka, die dogter van B\u00e9tuel, die Arame\u00ebr uit Paddan-Aram, die suster van Laban, die Arame\u00ebr, vir hom as vrou geneem het.\n25:21 En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die HERE het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het.\n25:22 En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar. Toe s\u00ea sy: As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Daarop het sy gegaan om die HERE te raadpleeg.\n25:23 En die HERE het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien.\n25:24 En toe haar dae vervul is dat sy moes baar, was daar 'n tweeling in haar skoot.\n25:25 En die eerste is gebore--rooi, geheel en al soos 'n mantel van hare. Daarom het hulle hom Esau genoem.\n25:26 En daarna is sy broer gebore, terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou. Daarom het hulle hom Jakob genoem. En Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte.\n25:27 En die seuns het opgegroei: Esau het 'n ervare jagter geword, 'n man van die veld; maar Jakob was 'n vredeliewende man wat in tente gewoon het.\n25:28 En Isak het Esau liefgehad, want wildsvleis was na sy smaak; maar Rebekka het Jakob liefgehad.\n25:29 En Jakob het 'n kooksel klaargemaak en Esau het moeg uit die veld gekom.\n25:30 Toe s\u00ea Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem.\n25:31 En Jakob antwoord: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my.\n25:32 En Esau s\u00ea: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan?\n25:33 Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop.\n25:34 En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het ge\u00ebet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag.\n26:1 En daar was hongersnood in die land, buiten die eerste hongersnood wat in die dae van Abraham gewees het. Daarom het Isak getrek na Abim\u00e9leg, die koning van die Filistyne, na Gerar.\n26:2 En die HERE het aan hom verskyn en ges\u00ea: Moenie aftrek na Egipte nie; woon in die land wat Ek jou sal aanwys.\n26:3 Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou se\u00ebn; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het.\n26:4 En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde gese\u00ebn word;\n26:5 omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het.\n26:6 So het Isak dan in Gerar gebly.\n26:7 En toe die manne van die plek hom na sy vrou vra, antwoord hy: Sy is my suster. Want hy was bang om te s\u00ea: My vrou--anders sal die manne van die plek, so het hy gedink, my miskien doodmaak ter wille van Rebekka; want sy was mooi van aansien.\n26:8 En toe hy al 'n lang tyd daar was, kyk Abim\u00e9leg, die koning van die Filistyne, deur die venster uit en sien hoe Isak speel met Rebekka, sy vrou.\n26:9 En Abim\u00e9leg het Isak geroep en ges\u00ea: Kyk, sy is dan tog jou vrou! Hoe kon jy dan verklaar: Sy is my suster? En Isak antwoord hom: Ja, ek het gedink ek kan miskien om haar ontwil my lewe verloor!\n26:10 En Abim\u00e9leg s\u00ea: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy 'n skuld oor ons gebring het!\n26:11 Daarop gee Abim\u00e9leg bevel aan die hele volk en s\u00ea: Wie hierdie man of sy vrou aanraak, sal sekerlik gedood word.\n26:12 Isak het toe in di\u00e9 land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die HERE het hom gese\u00ebn.\n26:13 En die man het groot geword en altyddeur groter geword totdat hy baie groot was:\n26:14 hy het troppe kleinvee en beeste gehad en baie bediendes, sodat die Filistyne hom beny het.\n26:15 En al die putte wat die dienaars van sy vader in die dae van sy vader Abraham gegrawe het, di\u00e9 het die Filistyne toegestop en met grond opgevul.\n26:16 Toe s\u00ea Abim\u00e9leg vir Isak: Trek weg van ons, want jy het vir ons veels te magtig geword.\n26:17 Daarop het Isak vandaar weggetrek en laer opgeslaan in die dal by Gerar en daar bly woon.\n26:18 En Isak het die putte weer oopgegrawe wat hulle in die dae van sy vader Abraham gegrawe het, en wat die Filistyne n\u00e1 die dood van Abraham toegestop het, en dit genoem na die name wat sy vader daaraan gegee het.\n26:19 En terwyl die dienaars van Isak in die dal grawe, vind hulle daar 'n put met lewendige water.\n26:20 En die herders van Gerar het getwis met die herders van Isak en ges\u00ea: Dit is \u00f3ns water. Daarom het hy die put Esek genoem, omdat hulle met hom onenigheid gehad het.\n26:21 Daarop grawe hulle 'n ander put, en daaroor het hulle ook getwis. Daarom het hy dit Sitna genoem.\n26:22 Toe het hy vandaar versit en 'n ander put gegrawe, en daaroor is nie getwis nie. Daarom het hy dit R\u00e9hobot genoem en ges\u00ea: Ja, nou het die HERE vir ons ruimte gemaak en kan ons vrugbaar wees in die land.\n26:23 Daarna het hy vandaar opgetrek na Bers\u00e9ba.\n26:24 En die HERE het aan hom in dieselfde nag verskyn en ges\u00ea: Ek is die God van Abraham, jou vader. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; en Ek sal jou se\u00ebn en jou nageslag vermeerder ter wille van Abraham, my kneg.\n26:25 Toe bou hy daar 'n altaar, en hy het die Naam van die HERE aangeroep en daar sy tent opgeslaan; en die dienaars van Isak het daar 'n put gegrawe.\n26:26 Daarop kom Abim\u00e9leg na hom van Gerar af, saam met Ahussat, sy vriend, en Pigol, sy le\u00ebrowerste.\n26:27 En Isak het hulle gevra: Waarom het julle na my gekom terwyl julle my haat en my van julle af weggestuur het?\n26:28 Toe antwoord hulle: Ons het duidelik gesien dat die HERE met jou is. Daarom het ons gedink: Laat daar tog 'n eed tussen ons wees, tussen ons en jou; en laat ons 'n verbond met jou sluit:\n26:29 jy moet ons geen kwaad doen nie, net soos ons jou nie aangeraak en aan jou niks as goed gedoen het nie en jou in vrede weggestuur het. Jy is nou eenmaal die gese\u00ebnde van die HERE.\n26:30 Toe berei hy vir hulle 'n maaltyd, en hulle het ge\u00ebet en gedrink.\n26:31 En hulle is die m\u00f4re vroeg op en het vir mekaar 'n eed gesweer. Daarop het Isak hulle laat gaan, en hulle het in vrede van hom af weggetrek.\n26:32 Dieselfde dag kom toe die dienaars van Isak en vertel hom van die put wat hulle gegrawe het, en s\u00ea vir hom: Ons het water gekry.\n26:33 En hy het dit Seba genoem. Daarom is die naam van die stad Bers\u00e9ba tot vandag toe.\n26:34 Toe Esau veertig jaar oud was, het hy Judit, die dogter van Be\u00ebri, die Hetiet, vir hom as vrou geneem, en Basmat, die dogter van Elon, die Hetiet.\n26:35 En hulle was vir Isak en Rebekka 'n bitter verdriet.\n27:1 Toe Isak oud geword het en sy o\u00eb swak was, sodat hy nie kon sien nie, het hy sy oudste seun Esau geroep en vir hom ges\u00ea: My seun! En hy het hom geantwoord: Hier is ek!\n27:2 Toe s\u00ea hy: Kyk tog, ek het oud geword, ek weet die dag van my dood nie.\n27:3 Neem dan nou tog jou wapens, jou pylkoker en jou boog, en gaan uit in die veld en jag vir my 'n stuk wild\n27:4 en maak vir my lekker ete klaar soos ek dit graag wil h\u00ea; en bring dit vir my om te eet; sodat my siel jou kan se\u00ebn voordat ek sterwe.\n27:5 En Rebekka het geluister terwyl Isak met sy seun Esau spreek. En Esau het in die veld gegaan om 'n stuk wild te jag en dit te bring.\n27:6 Toe het Rebekka met haar seun Jakob gespreek: Kyk, ek het jou vader met jou broer Esau hoor spreek en s\u00ea:\n27:7 Bring vir my 'n stuk wild en maak vir my lekker ete, dat ek kan eet en jou kan se\u00ebn voor die aangesig van die HERE voor my dood.\n27:8 My seun, luister dan nou na my, na wat ek jou beveel.\n27:9 Loop nou na die kleinvee en gaan haal vir my daar twee mooi bokkies, dat ek jou vader daarvan 'n lekker ete kan maak soos hy dit graag wil h\u00ea.\n27:10 Dan moet jy dit na jou vader bring, dat hy kan eet; sodat hy jou kan se\u00ebn voor sy dood.\n27:11 Toe s\u00ea Jakob vir sy moeder Rebekka: Kyk, my broer Esau is 'n harige man en ek is 'n gladde man.\n27:12 Miskien sal my vader my betas, en ek sal in sy o\u00eb wees soos 'n spotter; so sou ek dan 'n vloek oor my bring en nie 'n se\u00ebn nie.\n27:13 Maar sy moeder antwoord hom: Laat jou vloek op my wees, my seun! Luister net na my en gaan haal dit vir my.\n27:14 Toe het hy dit gaan haal en na sy moeder gebring. En sy moeder het daarvan 'n lekker ete gemaak soos sy vader dit graag wou h\u00ea.\n27:15 Ook neem Rebekka die beste klere van Esau, haar oudste seun, wat by haar in die huis was, en sy trek dit vir Jakob, haar jongste seun, aan;\n27:16 en die velle van die bokkies trek sy oor sy hande en oor die gladdigheid van sy nek,\n27:17 en sy gee die lekker ete en die brood wat sy gemaak het, in die hand van Jakob, haar seun.\n27:18 Toe kom hy by sy vader en s\u00ea: My vader! En hy antwoord: Hier is ek! Wie is jy, my seun?\n27:19 En Jakob s\u00ea aan sy vader: Ek is Esau, u eersgeborene. Ek het gedoen soos u my beveel het. Rig u tog op, sit en eet van my wildsvleis, dat u siel my kan se\u00ebn.\n27:20 Daarop het Isak aan sy seun ges\u00ea: Hoe het jy dit so gou gekry, my seun? En hy antwoord: Omdat die Here u God dit my laat te\u00ebkom het.\n27:21 En Isak s\u00ea vir Jakob: Kom tog nader, dat ek jou kan betas, my seun, of jy waarlik my seun Esau is of nie.\n27:22 En Jakob het nader gekom na sy vader Isak, en hy het hom betas en ges\u00ea: Die stem is Jakob se stem, maar die hande is Esau se hande.\n27:23 Maar hy het hom nie ge\u00ebien nie, omdat sy hande harig was soos sy broer Esau se hande; en hy het hom gese\u00ebn.\n27:24 Hy het naamlik gevra: Is jy waarlik my seun Esau? En hy het geantwoord: Ja.\n27:25 Toe s\u00ea hy: Bring dit vir my nader, dat ek van die wildsvleis van my seun kan eet, sodat my siel jou kan se\u00ebn. En hy het dit vir hom nader gebring, en hy het ge\u00ebet. Hy het vir hom ook wyn gebring, en hy het gedrink.\n27:26 Daarop s\u00ea sy vader Isak vir hom: Kom tog nader en soen my, my seun!\n27:27 En hy het nader gekom en hom gesoen. Toe ruik hy die geur van sy klere, en hy se\u00ebn hom en s\u00ea: Kyk, die geur van my seun is soos die geur van die veld wat die HERE gese\u00ebn het.\n27:28 En mag God jou gee van die dou van die hemel en van die vet grond van die aarde en oorvloed van koring en mos.\n27:29 Volke sal jou dien, en nasies voor jou neerbuig. Wees 'n heerser oor jou broers, en die seuns van jou moeder moet hulle voor jou neerbuig. Vervloek is hulle wat jou vloek, en gese\u00ebnd hulle wat jou se\u00ebn.\n27:30 Maar toe Isak Jakob klaar gese\u00ebn het en Jakob nog skaars van sy vader Isak af weggegaan het, kom sy broer Esau van die jag af,\n27:31 en hy maak ook 'n lekker ete en bring dit na sy vader en s\u00ea aan sy vader: Laat my vader hom oprig en eet van die wildsvleis van sy seun, sodat u siel my kan se\u00ebn.\n27:32 En sy vader Isak vra hom: Wie is jy? En hy antwoord: Ek is u seun Esau, u eersgeborene.\n27:33 Toe skrik Isak geweldig en s\u00ea: Wie is dit dan wat wild gejag en vir my gebring het? En ek het van alles ge\u00ebet voordat jy gekom het, en hom gese\u00ebn--ook sal hy gese\u00ebnd bly!\n27:34 Toe Esau die woorde van sy vader hoor, skreeu hy met 'n baie groot en bitter geroep, en hy s\u00ea vir sy vader: Se\u00ebn my ook, my vader!\n27:35 En hy antwoord: Jou broer het gekom met bedrog en jou se\u00ebn weggeneem.\n27:36 Daarop s\u00ea hy: Sou hulle hom Jakob noem, omdat hy my nou twee keer onderkruip het? My eersgeboortereg het hy geneem, en daar het hy nou my se\u00ebn geneem! Verder vra hy: Het u vir my geen se\u00ebn oorgehou nie?\n27:37 Toe antwoord Isak en s\u00ea vir Esau: Kyk, ek het hom as heerser oor jou gestel en aan hom al sy broers as dienaars gegee; en ek het hom met koring en mos versorg. Wat kan ek dan nou vir j\u00f3u doen, my seun?\n27:38 Daarop het Esau aan sy vader gevra: Het u net een se\u00ebn, my vader? Se\u00ebn my ook, my vader! En Esau het sy stem verhef en geween.\n27:39 Toe antwoord sy vader Isak en s\u00ea vir hom: Kyk, ver van die vet grond van die aarde sal jou woonplek wees, en ver van die dou van die hemel daarbo.\n27:40 En van jou swaard sal jy lewe, en jou broer sal jy dien. Maar as jy jou kragte inspan, sal jy sy juk van jou nek afruk.\n27:41 En Esau was Jakob vyandig gesind vanwe\u00eb die se\u00ebn waarmee sy vader hom gese\u00ebn het, en Esau het in sy hart gedink: Die dae van die rou oor my vader is naby; dan sal ek my broer Jakob doodmaak.\n27:42 Maar toe hulle aan Rebekka die woorde van Esau, haar oudste seun, vertel, stuur sy en laat Jakob, haar jongste seun, roep en s\u00ea vir hom: Kyk, jou broer Esau sal hom op jou wreek deur jou dood te maak.\n27:43 My seun, luister dan nou na my: maak jou klaar, vlug tog na Haran, na my broer Laban,\n27:44 en bly 'n rukkie by hom tot die woede van jou broer bedaar,\n27:45 tot die toorn van jou broer teen jou bedaar en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het. Dan sal ek stuur en jou daar laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?\n27:46 Verder s\u00ea Rebekka vir Isak: Ek is moeg vir my lewe vanwe\u00eb die dogters van Het. As Jakob 'n vrou neem uit die dogters van Het, soos h\u00falle is, uit die dogters van die land--waarvoor lewe ek dan?\n28:1 Toe het Isak Jakob geroep en hom gese\u00ebn; en hy het hom bevel gegee met die woorde: Jy mag geen vrou neem uit die dogters van Kana\u00e4n nie.\n28:2 Maak jou klaar, gaan na Paddan-Aram, na die huis van B\u00e9tuel, jou moeder se vader, en gaan haal vir jou daar 'n vrou uit die dogters van Laban, jou moeder se broer.\n28:3 En mag God, die Almagtige, jou se\u00ebn en jou vrugbaar maak en jou vermeerder, sodat jy 'n menigte van volke kan word.\n28:4 En mag Hy jou gee die se\u00ebn van Abraham, aan jou en jou nageslag saam met jou, dat jy die land van jou vreemdelingskap in besit kan neem wat God aan Abraham gegee het.\n28:5 So het Isak Jakob dan weggestuur, en hy het na Paddan-Aram gegaan, na Laban, die seun van B\u00e9tuel, die Arame\u00ebr, die broer van Rebekka, die moeder van Jakob en Esau.\n28:6 Toe Esau sien dat Isak Jakob gese\u00ebn en hom na Paddan-Aram weggestuur het om daar vir hom 'n vrou te gaan haal, terwyl hy hom gese\u00ebn en hom bevel gegee het met die woorde: Jy mag geen vrou uit die dogters van Kana\u00e4n neem nie;\n28:7 en dat Jakob na sy vader en sy moeder geluister het om na Paddan-Aram te gaan;\n28:8 en toe Esau sien dat die dogters van Kana\u00e4n sleg was in die o\u00eb van sy vader Isak,\n28:9 het Esau na Ismael gegaan en M\u00e1halat, die dogter van Ismael, die seun van Abraham, die suster van N\u00e9bajot, by sy vroue vir hom as vrou geneem.\n28:10 En Jakob het uit Bers\u00e9ba vertrek en na Haran gegaan.\n28:11 Daarop kom hy by 'n plek waar hy die nag oorgebly het, want die son was al onder. En hy neem een van die klippe van die plek en sit dit onder sy hoof, en hy gaan l\u00ea en slaap op di\u00e9 plek.\n28:12 En hy het gedroom--daar is 'n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het.\n28:13 En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en ges\u00ea: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op l\u00ea en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee;\n28:14 en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde gese\u00ebn word.\n28:15 En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou ges\u00ea het.\n28:16 Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en s\u00ea: Waarlik, die HERE is op hierdie plek, en \u00e9k het dit nie geweet nie.\n28:17 En hy het bevrees geword en ges\u00ea: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as 'n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel.\n28:18 Toe staan Jakob die m\u00f4re vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as 'n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet.\n28:19 En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus.\n28:20 En Jakob het 'n gelofte gedoen en ges\u00ea: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek,\n28:21 en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees.\n28:22 En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal 'n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.\n29:1 Toe lig Jakob sy voete op en gaan na die land van die kinders van die Ooste.\n29:2 En meteens sien hy 'n put in die veld en drie troppe kleinvee wat daarby l\u00ea, want uit di\u00e9 put het hulle die vee laat drink; en daar was 'n groot klip op die opening van die put.\n29:3 En as al die troppe daar bymekaarkom, rol hulle die klip weg van die opening van die put en laat die vee drink; daarna sit hulle die klip weer op die opening van die put op sy plek.\n29:4 Toe s\u00ea Jakob vir hulle: My broers, waar is julle vandaan? En hulle antwoord: Ons kom van Haran.\n29:5 En hy vra hulle: Ken julle vir Laban, die seun van Nahor? En hulle antwoord: Ons ken hom.\n29:6 Verder s\u00ea hy vir hulle: Gaan dit goed met hom? En hulle antwoord: Dit gaan goed; en daar kom sy dogter Ragel aan met die vee.\n29:7 En hy s\u00ea: Kyk, die dag is nog lank; dit is nie tyd om die vee bymekaar te maak nie. Laat die vee drink, en gaan heen, laat hulle wei.\n29:8 Toe antwoord hulle: Ons kan nie voordat al die troppe bymekaar is nie; dan rol hulle die klip weg van die opening van die put, en ons laat die vee drink.\n29:9 Terwyl hy nog met hulle praat, kom Ragel met die kleinvee van haar vader aan, want sy het hulle opgepas.\n29:10 Toe Jakob Ragel sien, die dogter van Laban, sy moeder se broer, en die vee van Laban, sy moeder se broer, loop Jakob nader en rol die klip weg van die opening van die put, en hy laat die vee drink van Laban, sy moeder se broer.\n29:11 En Jakob het Ragel gesoen en sy stem verhef en geween.\n29:12 En Jakob het Ragel vertel dat hy haar vader se broer en die seun van Rebekka was. Daarop het sy geloop en dit aan haar vader vertel.\n29:13 Toe Laban die tyding hoor van Jakob, die seun van sy suster, loop hy hom tegemoet en omhels hom en soen hom en bring hom in sy huis. En hy het aan Laban al hierdie dinge vertel.\n29:14 Toe s\u00ea Laban vir hom: Waarlik, jy is my been en my vlees. En hy het by hom 'n volle maand gebly.\n29:15 Daarop het Laban aan Jakob gevra: Sou jy my verniet dien, omdat jy my broer is? S\u00ea my wat jou loon moet wees.\n29:16 En Laban het twee dogters gehad--die naam van die oudste was Lea, en die naam van die jongste Ragel.\n29:17 En Lea het dowwe o\u00eb gehad, maar Ragel was skoon van gestalte en mooi van aansien.\n29:18 En Jakob het Ragel liefgehad, daarom het hy ges\u00ea: Ek sal u sewe jaar dien vir Ragel, u jongste dogter.\n29:19 Toe antwoord Laban: Dit is beter dat ek haar aan jou gee as dat ek haar aan 'n ander man gee. Bly by my.\n29:20 So het Jakob dan sewe jaar gedien vir Ragel; en hulle was in sy o\u00eb soos 'n paar dae, omdat hy haar liefgehad het.\n29:21 Toe s\u00ea Jakob vir Laban: Gee tog my vrou, want my dienstyd is om, dat ek by haar kan ingaan.\n29:22 Daarop het Laban al die manne van die plek versamel en 'n maaltyd berei.\n29:23 Maar in die aand het hy sy dogter Lea geneem en haar na hom gebring; en hy het by haar ingegaan.\n29:24 En Laban het aan haar sy slavin Silpa gegee, naamlik aan sy dogter Lea, as slavin.\n29:25 En die anderdagm\u00f4re--daar was dit Lea! Daarom het hy aan Laban ges\u00ea: Wat het u my nou aangedoen? Was ek nie vir Ragel by u in diens nie? Waarom het u my dan bedrieg?\n29:26 En Laban antwoord: Dit is hier by ons nie die gewoonte om die jongste voor die oudste weg te gee nie.\n29:27 Hou die volle bruilofsweek met haar; dan sal ons jou die ander een ook gee vir die diens wat jy n\u00f3g sewe jaar by my moet volbring.\n29:28 En Jakob het so gedoen: hy het die volle bruilofsweek met haar gehou. Toe gee hy sy dogter Ragel aan hom as vrou.\n29:29 En Laban het aan sy dogter Ragel sy slavin Bilha gegee as slavin vir haar.\n29:30 En hy het ook by Ragel ingegaan en Ragel ook meer liefgehad as Lea. En hy was by hom n\u00f3g sewe jaar in diens.\n29:31 En toe die HERE sien dat Lea die nie-geliefde was, het Hy haar skoot geopen; maar Ragel was onvrugbaar.\n29:32 En Lea het bevrug geword en 'n seun gebaar en hom Ruben genoem; want sy het ges\u00ea: Gewis, die HERE het my ellende aangesien, want nou sal my man my liefh\u00ea.\n29:33 En sy het weer bevrug geword en 'n seun gebaar en ges\u00ea: Gewis, die HERE het gehoor dat ek die nie-geliefde is en my hierdie een ook gegee. En sy het hom S\u00edmeon genoem.\n29:34 En sy het weer bevrug geword en 'n seun gebaar en ges\u00ea: Nou eindelik sal my man aan my geheg wees, omdat ek vir hom drie seuns gebaar het. Daarom het sy hom Levi genoem.\n29:35 En sy het weer bevrug geword en 'n seun gebaar en ges\u00ea: Di\u00e9 keer sal ek die HERE loof. Daarom het sy hom Juda genoem. En sy het opgehou met baar.\n30:1 En toe Ragel sien dat sy vir Jakob geen kinders baar nie, het Ragel jaloers geword op haar suster en aan Jakob ges\u00ea: Gee vir my kinders of anders sterf ek.\n30:2 Toe het Jakob kwaad geword vir Ragel en gevra: Is ek dan in die plek van God wat die vrug van die skoot aan jou onthou het?\n30:3 En sy antwoord: Daar is my slavin Bilha; gaan by haar in, dat sy op my knie\u00eb kan baar en ek ook uit haar gebou kan word.\n30:4 Daarop het sy aan hom haar slavin Bilha as vrou gegee, en Jakob het by haar ingegaan.\n30:5 En Bilha het swanger geword en vir Jakob 'n seun gebaar.\n30:6 Toe s\u00ea Ragel: God het aan my reg verskaf en my ook verhoor en my 'n seun gegee. Daarom het sy hom Dan genoem.\n30:7 En Bilha, die slavin van Ragel, het weer bevrug geword en vir Jakob 'n tweede seun gebaar.\n30:8 Toe s\u00ea Ragel: Ek het bomenslike worstelinge met my suster geworstel en ook oorwin. En sy het hom N\u00e1ftali genoem.\n30:9 En toe Lea sien dat sy opgehou het met baar, neem sy haar slavin Silpa en gee haar aan Jakob as vrou.\n30:10 En Silpa, die slavin van Lea, het vir Jakob 'n seun gebaar.\n30:11 Toe s\u00ea Lea: Gelukkig! En sy het hom Gad genoem.\n30:12 Daarna het Silpa, die slavin van Lea, vir Jakob 'n tweede seun gebaar.\n30:13 Toe s\u00ea Lea: Ek, gelukkige! want die dogters sal my gelukkig prys. En sy het hom Aser genoem.\n30:14 En Ruben het in die dae van die koringoes gegaan en in die veld liefdesappels gevind en di\u00e9 na sy moeder Lea gebring. Toe s\u00ea Ragel vir Lea: Gee my tog van jou seun se liefdesappels.\n30:15 Maar sy antwoord haar: Is dit nie genoeg dat jy my man geneem het nie, dat jy ook my seun se liefdesappels wil neem? En Ragel s\u00ea: Daarom mag hy vir jou seun se liefdesappels vannag by jou slaap.\n30:16 Toe Jakob dan die aand uit die veld kom, gaan Lea hom tegemoet met die woorde: Jy moet na my kom, want ek het jou eerlik gehuur vir my seun se liefdesappels. En hy het di\u00e9 nag by haar geslaap.\n30:17 En God het Lea verhoor: sy het bevrug geword en vir Jakob 'n vyfde seun gebaar.\n30:18 Toe s\u00ea Lea: God het my loon gegee, omdat ek my slavin aan my man gegee het. En sy het hom Issaskar genoem.\n30:19 En Lea het weer bevrug geword en vir Jakob 'n sesde seun gebaar.\n30:20 Toe s\u00ea Lea: God het my 'n mooi geskenk gegee; nou sal my man eindelik by my woon, want ek het vir hom ses seuns gebaar. En sy het hom S\u00e9bulon genoem.\n30:21 En daarna het sy 'n dogter gebaar en haar Dina genoem.\n30:22 En God het aan Ragel gedink, en God het haar verhoor en haar skoot geopen:\n30:23 sy het bevrug geword en 'n seun gebaar. Toe s\u00ea sy: God het my smaad weggeneem.\n30:24 En sy het hom Josef genoem en ges\u00ea: Mag die HERE vir my 'n ander seun daar byvoeg!\n30:25 En nadat Ragel Josef gebaar het, s\u00ea Jakob vir Laban: Laat my trek, dat ek na my woonplek en my land kan gaan.\n30:26 Gee my vroue en my kinders waarvoor ek u gedien het, dat ek kan gaan; want u weet self hoe ek u gedien het.\n30:27 Daarop antwoord Laban hom: As ek nou guns in jou o\u00eb gevind het--ek het waargeneem dat die HERE my om jou ontwil gese\u00ebn het.\n30:28 Verder s\u00ea hy: Bepaal vir my jou loon, en ek sal dit gee.\n30:29 Toe antwoord hy hom: U weet self hoe ek u gedien het en wat u vee by my geword het.\n30:30 Want min was dit wat u v\u00f3\u00f3r my koms gehad het, en dit het sterk vermeerder; en die HERE het u gese\u00ebn op my voetspoor. Wanneer sal ek dan nou ook vir my huis werk?\n30:31 En hy vra: Wat moet ek jou gee? Toe antwoord Jakob: U hoef my niks te gee nie. As u hierdie ding vir my wil doen, wil ek weer u kleinvee oppas, ja, versorg--\n30:32 ek sal vandag deur al u kleinvee deurgaan en daaruit al die gestippelde en bont vee uitkeer; al die vee onder die skaaplammers wat swart is, en die bontes en gestippeldes onder die bokke, dit moet my loon wees.\n30:33 En my regverdigheid sal later vir my getuig: as u kom om my loon na te gaan, sal alles wat nie gestippel of bont is onder die bokke, en wat nie swart is onder die skaaplammers nie, gesteelde goed by my wees.\n30:34 Toe antwoord Laban: Goed, laat dit wees volgens jou woord!\n30:35 En hy het dieselfde dag uitgekeer die gestreepte en bont bokke en al die gestippelde en bont bokooie, almal wat wit aan hulle gehad het, en almal wat swart was onder die skaaplammers, en di\u00e9 aan sy seuns afgegee.\n30:36 En hy het 'n afstand van drie dae bepaal tussen hom en Jakob; en Jakob het die orige kleinvee van Laban opgepas.\n30:37 Toe neem Jakob vir hom groen latte van populier--, amandel-- en plataanhout, en hy skil daarin wit strepe, sodat die wit van die latte uitkom;\n30:38 en hy sit die latte wat hy geskil het, vlak voor die vee in die trogge, in die drinkbakke waar die vee kom drink het; en hulle het verhit geword as hulle kom drink.\n30:39 En die vee het verhit geword by die latte, en die vee het gelam gestreeptes, gestippeldes en bontes.\n30:40 Toe skei Jakob die lammers, en hy draai die koppe van die vee na die gestreeptes en almal wat swart was onder Laban se vee. En hy het vir hom afsonderlike troppe gemaak en di\u00e9 nie onder Laban se vee gesit nie.\n30:41 En elke keer as die sterkste diere verhit word, sit Jakob die latte voor die o\u00eb van die vee in die trogge, sodat hulle verhit sou word by die latte.\n30:42 Maar as die vee swakkerig was, het hy dit nie ingesit nie; so was dan die swakkes vir Laban en die sterkes vir Jakob.\n30:43 En die man het buitengewoon uitgebrei en baie kleinvee en slavinne en slawe en kamele en esels gehad.\n31:1 Toe hoor hy die woorde van die seuns van Laban, dat hulle s\u00ea: Jakob het alles geneem wat ons vader s'n was; en uit wat ons vader s'n was, het hy al hierdie rykdom verwerf.\n31:2 Jakob het ook meteens aan die aangesig van Laban gesien dat hy nie meer vir hom was soos gister en eergister nie.\n31:3 En die HERE het aan Jakob ges\u00ea: Gaan terug na die land van jou vaders en na jou familie; en Ek sal met jou wees.\n31:4 Toe stuur Jakob en laat Ragel en Lea veld toe roep na sy kleinvee\n31:5 en s\u00ea vir hulle: Ek sien dat die aangesig van julle vader teenoor my nie meer is soos gister en eergister nie, maar die God van my vader was met my.\n31:6 En julle weet self dat ek met al my krag julle vader gedien het;\n31:7 maar julle vader het my bedrieg: hy het my loon tien maal verander. Maar God het hom nie toegelaat om my skade aan te doen nie.\n31:8 As hy s\u00ea: Die gestippeldes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestippeldes. En as hy s\u00ea: Die gestreeptes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestreeptes.\n31:9 So het God dan die vee van julle vader weggeneem en aan my gegee.\n31:10 Eenkeer, in die tyd toe die kleinvee verhit was, het ek my o\u00eb opgeslaan en in 'n droom gesien dat die bokramme wat die kleinvee dek, gestreep, gestippeld en bont was.\n31:11 En die Engel van God s\u00ea vir my in die droom: Jakob! En ek antwoord: Hier is ek!\n31:12 En Hy s\u00ea: Slaan tog jou o\u00eb op en kyk: al die bokramme wat die kleinvee dek, is gestreep, gestippeld en bont, want Ek het alles gesien wat Laban jou aandoen.\n31:13 Ek is die God van Bet-el waar jy die gedenksteen gesalf het, waar jy aan My 'n gelofte gedoen het. Maak jou dan nou klaar, trek weg uit hierdie land en gaan terug na jou geboorteland.\n31:14 Toe antwoord Ragel en Lea en s\u00ea vir hom: Het ons nog deel of erfenis in die huis van ons vader?\n31:15 Word ons nie deur hom as vreemdelinge beskou nie? Want hy het ons verkoop en die geld wat deur ons verkry is, geheel en al deurgebring.\n31:16 Want al die rykdom wat God van ons vader weggeneem het, kom ons en ons kinders toe. Doen dan nou alles wat God jou ges\u00ea het.\n31:17 Toe maak Jakob hom klaar en laai sy kinders en sy vroue op die kamele,\n31:18 en hy voer al sy vee weg en al sy goed wat hy versamel het, die vee wat syne was, wat hy in Paddan-Aram versamel het, om te gaan na sy vader Isak in die land Kana\u00e4n.\n31:19 Onderwyl Laban gaan om sy kleinvee te skeer, het Ragel die huisgode van haar vader gesteel.\n31:20 En Jakob het Laban, die Arame\u00ebr, mislei deur hom nie te vertel dat hy wou vlug nie.\n31:21 So het hy dan gevlug met alles wat hy gehad het: hy het hom klaargemaak en deur die Eufraat gegaan en sy aangesig gerig na die gebergte van G\u00edlead.\n31:22 En op die derde dag kry Laban die tyding dat Jakob gevlug het.\n31:23 Daarop het hy sy broers saam met hom geneem en hom agternagejaag, 'n afstand van sewe dae, en hom ingehaal in die gebergte van G\u00edlead.\n31:24 Maar God het na Laban, die Arame\u00ebr, in die nag gekom in 'n droom en vir hom ges\u00ea: Pas nou op dat jy met Jakob geen goed of kwaad spreek nie.\n31:25 En Laban het Jakob ingehaal; Jakob het sy tent al opgeslaan gehad in die gebergte, en Laban met sy broers het dit opgeslaan in die gebergte van G\u00edlead.\n31:26 Toe vra Laban vir Jakob: Wat het jy gedoen dat jy my mislei en my dogters soos krygsgevangenes weggevoer het?\n31:27 Waarom het jy stilletjies gevlug en my mislei en my dit nie vertel nie, dat ek jou met vrolikheid en liedere, met tamboeryn en siter kon weggebring het?\n31:28 Ook het jy my nie toegelaat om my seuns en dogters te soen nie. Nou het jy dwaas gehandel.\n31:29 Dit is in my mag om julle skade aan te doen, maar die God van julle vader het verlede nag met my gespreek en ges\u00ea: Pas nou op om met Jakob geen goed of kwaad te spreek nie.\n31:30 Nou is jy dan eenmaal aan trek, omdat jy so erg verlang het na die huis van jou vader--maar waarom het jy my gode gesteel?\n31:31 Toe antwoord Jakob en s\u00ea vir Laban: Omdat ek bevrees was, want ek het gedink u sal miskien u dogters met geweld van my wegneem.\n31:32 Die een by wie u u gode vind--hy mag nie lewe nie! Ondersoek wat by my is, in teenwoordigheid van ons broers, en neem dit vir u. Maar Jakob het nie geweet dat Ragel dit gesteel het nie.\n31:33 Toe gaan Laban in die tent van Jakob en in die tent van Lea en in die tent van die twee slavinne, maar hy het niks gekry nie; en toe hy uit die tent van Lea uitgaan, kom hy in die tent van Ragel.\n31:34 Maar Ragel het die huisgode geneem en dit in die kameelsaal weggepak en daarop gaan sit. En Laban het die hele tent deurgevoel, maar niks gekry nie.\n31:35 Daarop s\u00ea sy vir haar vader: My heer moet nie baie kwaai kyk nie, omdat ek nie vir u kan opstaan nie; want dit gaan met my volgens die re\u00ebl van die vroue. En hy het gesoek maar die huisgode nie gekry nie.\n31:36 Toe word Jakob kwaad, en hy het met Laban getwis; en Jakob het geantwoord en vir Laban ges\u00ea: Wat is my oortreding, wat is my sonde, dat u my so vurig agternagesit het?\n31:37 Nou dat u al my goed deurgevoel het--wat het u van al u huisraad gevind? Sit dit hier neer voor my broers en u broers, en laat hulle oordeel tussen ons twee.\n31:38 Twintig jaar was ek nou by u. U skaap-- en bokooie het geen misdrag gehad nie, en die ramme van u kleinvee het ek nie ge\u00ebet nie.\n31:39 Wat die wilde diere verskeur het, het ek nie na u gebring nie: ek moes dit vergoed; van my hand het u dit ge\u00ebis, of dit al bedags gesteel is of snags gesteel is.\n31:40 Ek was 'n man wat bedags deur die hitte verteer is en snags deur die koue, en my slaap het gevlug van my o\u00eb.\n31:41 Twintig jaar was ek nou in u huis; veertien jaar het ek u gedien vir u twee dogters en ses jaar vir u kleinvee; en u het my loon tien maal verander.\n31:42 As die God van my vader, die God van Abraham en die Vrees van Isak, nie aan my kant was nie--ja, dan sou u my met le\u00eb hande weggestuur het. God het my ellende en die moeitevolle arbeid van my hande aangesien en verlede nag geoordeel.\n31:43 Toe antwoord Laban en s\u00ea vir Jakob: Die dogters is my dogters, en die seuns is my seuns, en die kleinvee is my kleinvee, ja, alles wat jy sien, is myne; maar my dogters--wat sal ek hulle vandag kan aandoen of aan hulle seuns wat hulle gebaar het?\n31:44 Kom dan nou, laat ons 'n verbond sluit, ek en jy, dat dit 'n getuie tussen my en jou kan wees.\n31:45 Daarop het Jakob 'n klip geneem en dit as gedenksteen opgerig.\n31:46 En Jakob het aan sy broers ges\u00ea: Bring klippe bymekaar! En hulle het klippe gaan haal en 'n hoop gemaak en daar op die hoop ge\u00ebet.\n31:47 En Laban het dit Jegar-Sahad\u00fata genoem, maar Jakob het dit Gal-ed genoem.\n31:48 Toe s\u00ea Laban: Hierdie hoop is vandag 'n getuie tussen my en jou. Daarom het hulle dit Gal-ed genoem,\n31:49 en ook Mispa, omdat hy ges\u00ea het: Mag die HERE wag hou tussen my en jou as ons mekaar nie meer sien nie.\n31:50 As jy my dogters mishandel, en as jy vroue neem by my dogters, dan is geen mens by ons nie: Kyk, God is getuie tussen my en jou.\n31:51 Verder s\u00ea Laban vir Jakob: Daar is di\u00e9 hoop klippe, en daar is die gedenksteen wat ek tussen my en jou opgerig het--\n31:52 hierdie hoop klippe is getuie, en die gedenksteen is getuie dat \u00e9k na jou kant toe hierdie hoop nie sal verbytrek nie, en dat jy na my kant toe hierdie hoop en hierdie gedenksteen nie sal verbytrek met slegte bedoelinge nie.\n31:53 Die God van Abraham en die God van Nahor, die God van hulle vader, sal regter tussen ons wees. En Jakob het gesweer by die Vrees van sy vader Isak.\n31:54 Toe het Jakob 'n offer gebring op die gebergte en sy broers genooi om brood te eet. En hulle het brood ge\u00ebet en die nag in die gebergte oorgebly.\n31:55 En Laban het die m\u00f4re vroeg opgestaan en sy seuns en sy dogters gesoen en hulle gese\u00ebn. Daarna het Laban vertrek en teruggekeer na sy woonplek.\n32:1 Jakob het ook verder gereis, en die engele van God het hom ontmoet.\n32:2 Toe hy hulle sien, s\u00ea Jakob: Dit is 'n le\u00ebr van God! En hy het die plek Mahan\u00e1im genoem.\n32:3 En Jakob het boodskappers uitgestuur voor hom uit na sy broer Esau in die land Se\u00efr, die landstreek van Edom,\n32:4 en aan hulle bevel gegee met die woorde: So moet julle aan my heer, aan Esau, s\u00ea: So s\u00ea Jakob, u dienaar--ek het as vreemdeling vertoef by Laban en daar gebly tot nou toe;\n32:5 en ek het beeste en esels, kleinvee en slawe en slavinne verwerf, en my heer dit laat weet, sodat ek guns mag vind in u o\u00eb.\n32:6 En die boodskappers het na Jakob teruggekom en ges\u00ea: Ons het by u broer Esau gekom, en hy trek u alreeds tegemoet en vier honderd man saam met hom.\n32:7 Toe het Jakob baie bevrees en benoud geword, en hy het die mense wat by hom was, sowel as die kleinvee en beeste en kamele in twee laers verdeel;\n32:8 want hy het gedink: As Esau op die een laer afkom en dit verslaan, sal die laer wat oorbly, vryraak.\n32:9 En Jakob het ges\u00ea: o God van my vader Abraham en God van my vader Isak, o HERE, wat my beveel het: Gaan terug na jou land en na jou familie, en Ek sal aan jou goed doen--\n32:10 ek is te gering vir al die gunste en al die trou wat U aan u kneg bewys het; want ek het met my staf oor hierdie Jordaan getrek en nou twee laers geword.\n32:11 Red my tog uit die hand van my broer, uit die hand van Esau, want ek is bang vir hom, dat hy sal kom en my doodslaan, die moeder saam met die kinders.\n32:12 U het tog self ges\u00ea: Ek sal sekerlik aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see wat vanwe\u00eb die menigte nie getel kan word nie.\n32:13 En hy het die nag daar oorgebly en van wat in sy besit was, 'n geskenk geneem vir sy broer Esau:\n32:14 twee honderd bokooie en twintig bokke, twee honderd skaapooie en twintig ramme,\n32:15 dertig kameelkoeie wat in die melk was, met hulle kalfies, veertig koeie en tien bulle, twintig eselinne en tien jong esels;\n32:16 en hy het hulle aan sy dienaars afgegee, elke trop afsonderlik, en aan sy dienaars ges\u00ea: Trek voor my uit, en laat 'n plek oop tussen trop en trop.\n32:17 Daarop gee hy aan die eerste een bevel en s\u00ea: As my broer Esau jou te\u00ebkom en jou vra: Aan wie behoort jy, en waarheen gaan jy, en wie s'n is die goed daar voor jou?\n32:18 dan moet jy antwoord: U dienaar Jakob s'n. Dit is 'n geskenk wat hy aan my heer Esau stuur; en kyk, hy self kom ook agter ons aan.\n32:19 En hy het ook bevel gegee aan die tweede en aan die derde en aan almal wat agter die troppe geloop het, en ges\u00ea: Net so moet julle Esau antwoord as julle hom kry--\n32:20 julle moet s\u00ea: Kyk, ook u dienaar Jakob kom agter ons aan. Want hy het gedink: Laat ek hom versoen met die geskenk wat voor my uit gaan, en daarna sy aangesig sien--miskien sal hy my in guns aanneem.\n32:21 So het die geskenk dan voor hom uit gegaan, maar hy self het di\u00e9 nag in die laer gebly.\n32:22 En hy het dieselfde nag opgestaan en sy twee vroue en sy twee slavinne en sy elf kinders geneem en deur die drif van die Jabbok getrek:\n32:23 hy het hulle geneem en hulle deur die rivier laat trek, ook laat deurtrek wat aan hom behoort het.\n32:24 Maar Jakob het alleen agtergebly, en 'n Man het met hom geworstel tot dagbreek.\n32:25 En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom.\n32:26 Toe s\u00ea Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my se\u00ebn.\n32:27 En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob.\n32:28 Toe s\u00ea Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin.\n32:29 Daarop vra Jakob en s\u00ea: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy tog na my Naam? En Hy het hom daar gese\u00ebn.\n32:30 Toe noem Jakob die plek Pni\u00ebl; want, het hy ges\u00ea, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered.\n32:31 En die son het vir hom opgegaan net toe hy Pnuel verby was; en hy was mank aan sy heup.\n32:32 Daarom eet die kinders van Israel die heupsening, wat aan die heupbeen is, tot vandag toe nie, omdat Hy Jakob op die heupbeen, aan die heupsening, geslaan het.\n33:1 En Jakob het sy o\u00eb opgeslaan, en toe hy meteens Esau sien aankom en vier honderd man saam met hom, het hy die kinders onder Lea en Ragel en onder die twee slavinne verdeel.\n33:2 En hy het die slavinne met hulle kinders eerste, en Lea met haar kinders daaragter, en Ragel en Josef laaste opgestel;\n33:3 maar hy self het voor hulle uit gegaan en hom sewe maal na die aarde gebuig, totdat hy by sy broer gekom het.\n33:4 Toe loop Esau hom tegemoet en omhels hom en val hom om die hals en soen hom; en hulle het geween.\n33:5 Daarna het hy sy o\u00eb opgeslaan en die vroue en kinders gesien en ges\u00ea: Wie het jy daar by jou? En hy antwoord: Die kinders wat God uit genade aan u dienaar geskenk het.\n33:6 En die slavinne het nader gekom, hulle en hulle kinders, en hul neergebuig.\n33:7 En Lea het ook nader gekom met haar kinders en hul neergebuig; en daarna het Josef nader gekom en Ragel en hul neergebuig.\n33:8 Daarop s\u00ea hy: Wat is jou bedoeling met daardie hele laer wat ek te\u00ebgekom het? En hy antwoord: Om guns te vind in die o\u00eb van my heer.\n33:9 Maar Esau s\u00ea: Ek het baie, my broer! Wat joue is, laat dit joue bly!\n33:10 Toe antwoord Jakob: Ag nee, as ek nou guns in u o\u00eb gevind het, neem dan my geskenk uit my hand aan. Want juis daarom het ek u aangesig te sien gekry soos 'n mens die aangesig van God sien, en u het behae in my gehad.\n33:11 Neem tog my begroetingsgeskenk wat u aangebied is, want God het my genade bewys, en ek het volop. En hy het by hom aangehou, sodat hy dit aangeneem het.\n33:12 Daarop s\u00ea hy: Laat ons opbreek en verder trek, en ek sal langs jou trek.\n33:13 Maar hy antwoord hom: My heer weet dat die kinders swak is, en dat ek lammerooie en melkkoeie by my het; as 'n mens hulle net een dag ooreis, dan sterf al die kleinvee.\n33:14 My heer moet maar voor sy dienaar uit trek, en \u00e9k sal op my gemak trek na die gang van die vee wat voor my uit gaan, en na die gang van die kinders, tot ek by my heer in Se\u00efr aankom.\n33:15 Toe s\u00ea Esau: Laat my tog van die manskappe wat by my is, by jou laat staan. En hy antwoord: Waarvoor dan? Laat my guns in die o\u00eb van my heer vind!\n33:16 So het Esau dan di\u00e9 dag teruggegaan padlangs na Se\u00efr toe.\n33:17 Maar Jakob het na Sukkot weggetrek en vir hom 'n huis gebou en takkrale vir sy vee gemaak. Daarom het hy die plek genoem Sukkot.\n33:18 En Jakob het behoue aangekom by die stad Sigem wat in die land Kana\u00e4n is, toe hy van Paddan-Aram gekom het--hy het sy laer voor die stad opgeslaan\n33:19 en die stuk grond gekoop waar hy sy tent opgeslaan het, van die seuns van Hemor, die vader van Sigem, vir honderd geldstukke.\n33:20 Daar het hy ook 'n altaar opgerig en dit genoem: Die God van Israel is God.\n34:1 En Dina, die dogter van Lea, wat sy vir Jakob gebaar het, het uitgegaan om die dogters van die land te leer ken.\n34:2 Toe Sigem, die seun van Hemor, die Hewiet, die vors van die land, haar sien, het hy haar gegryp en met haar gemeenskap gehad en haar onteer.\n34:3 En sy siel het verkleef geraak aan Dina, die dogter van Jakob; en hy het die dogter liefgehad en na die hart van die dogter gespreek.\n34:4 Sigem het ook met sy vader Hemor gespreek en ges\u00ea: Neem daardie dogter vir my as vrou.\n34:5 Toe Jakob dan hoor dat hy sy dogter Dina onteer het, was sy seuns by sy vee in die veld; en Jakob het geswyg totdat hulle gekom het.\n34:6 En Hemor, die vader van Sigem, het na Jakob uitgegaan om met hom te spreek.\n34:7 En die seuns van Jakob het uit die veld gekom toe hulle dit hoor; en die manne was gegrief en baie kwaad, omdat hy 'n skanddaad in Israel begaan het deur met die dogter van Jakob gemeenskap te hou: so iets mag nie gebeur het nie.\n34:8 Toe spreek Hemor met hulle en s\u00ea: Die siel van my seun Sigem is verlief op julle dogter: gee haar tog aan hom as vrou\n34:9 en verswaer julle met ons: gee aan ons julle dogters, en neem vir julle ons dogters.\n34:10 Bly maar by ons woon, en die land sal voor julle oop l\u00ea; woon en trek rond daarin en verwerf vaste besittings daarin.\n34:11 En Sigem s\u00ea vir haar vader en haar broers: Laat my guns vind in julle o\u00eb, en wat julle van my eis, sal ek gee.\n34:12 Vra my 'n baie groot koopprys en geskenk, en ek sal dit gee soos julle aan my s\u00ea; gee my net die dogter as vrou.\n34:13 Toe antwoord die seuns van Jakob vir Sigem en Hemor, sy vader, met bedrog--hulle het so gespreek, omdat hy hulle suster Dina onteer het--\n34:14 en s\u00ea vir hulle: Ons kan dit nie doen om ons suster aan 'n man te gee wat die voorhuid het nie, want dit sou 'n skande vir ons wees.\n34:15 Net op hierdie voorwaarde kan ons inwillig: as julle word soos ons deurdat almal wat manlik is onder julle, besny word.\n34:16 Dan sal ons ons dogters aan julle gee, en ons sal julle dogters vir ons neem; en ons sal by julle woon en een volk word.\n34:17 Maar as julle nie na ons luister om besny te word nie, dan neem ons ons dogter en ons trek weg.\n34:18 En hulle woorde was goed in die o\u00eb van Hemor en in die o\u00eb van Sigem, die seun van Hemor.\n34:19 En die jongman het nie versuim om dit te doen nie, want hy het sin gehad in die dogter van Jakob, en hy was die mees ge\u00eberde in die hele huis van sy vader.\n34:20 Toe gaan Hemor en sy seun Sigem na die poort van hulle stad, en hulle spreek met die manne van hul stad en s\u00ea:\n34:21 Hierdie manne lewe in vrede met ons; daarom, laat hulle in die land woon en daarin rondtrek: die land l\u00ea mos alkante toe wyd voor hulle. Ons kan hulle dogters vir ons as vroue neem, en ons sal ons dogters aan hulle gee.\n34:22 Maar net op hierdie voorwaarde sal die manne inwillig om by ons te woon, om een volk te word: as almal wat manlik is onder ons, besny word soos hulle besny is.\n34:23 Hulle vee en hulle besittings en al hulle diere--sal dit nie ons s'n wees nie? Laat ons net inwillig, sodat hulle by ons kan bly woon.\n34:24 En hulle het geluister na Hemor en na sy seun Sigem almal wat uit sy stadspoort uitgegaan het; en almal wat manlik was, is besny, almal wat uit sy stadspoort uitgegaan het.\n34:25 Maar op die derde dag, toe hulle in die pyn was, neem die twee seuns van Jakob, S\u00edmeon en Levi, broers van Dina, elkeen sy swaard, en hulle oorval die sorgelose stad en slaan almal dood wat manlik was.\n34:26 Hulle slaan ook Hemor en sy seun Sigem dood met die skerpte van die swaard; daarna neem hulle Dina uit die huis van Sigem uit en vertrek.\n34:27 Die seuns van Jakob het op die gesneuweldes afgekom en die stad geplunder, omdat hulle hulle suster onteer het.\n34:28 Hulle kleinvee en hulle beeste en hulle esels--wat in die stad en in die veld was--het hulle weggeneem.\n34:29 En al hulle goed en al hulle kinders en hulle vroue het hulle as gevangenes weggevoer en as buit, en ook alles wat in die huise was.\n34:30 Toe s\u00ea Jakob vir S\u00edmeon en Levi: Julle het my ontroer dat julle my gehaat gemaak het by die inwoners van die land, die Kana\u00e4niete en Feresiete, terwyl ek 'n klein klompie is. As hulle hul teen my versamel, sal hulle my verslaan, en ek sal verdelg word, ek en my huis.\n34:31 Toe antwoord hulle: Hoe durf hy dan ons suster as 'n hoer behandel!\n35:1 Daarna het God vir Jakob ges\u00ea: Maak jou klaar, trek op na Bet-el en woon daar; en bou daar 'n altaar vir die God wat aan jou verskyn het toe jy op die vlug was vir jou broer Esau.\n35:2 Toe s\u00ea Jakob aan sy huisgesin en aan almal wat by hom was: Verwyder die vreemde gode wat onder julle is, en reinig julle en trek ander klere aan;\n35:3 en laat ons klaarmaak en optrek na Bet-el; en ek sal daar 'n altaar bou vir die God wat my geantwoord het op die dag van my benoudheid en by my was op die weg wat ek gegaan het.\n35:4 Toe gee hulle aan Jakob al die vreemde gode wat in hulle besit was, en die ringe aan hulle ore, en Jakob het dit begrawe onder die terpentynboom wat by Sigem is.\n35:5 En toe hulle weggetrek het, kom daar 'n skrik van God op die stede rondom hulle, sodat hulle die seuns van Jakob nie agternagejaag het nie.\n35:6 So het Jakob dan in Lus aangekom wat in die land Kana\u00e4n is dit is Bet-el--hy en al die mense wat by hom was.\n35:7 en hy het daar 'n altaar gebou en die plek El Bet-el genoem, omdat God daar aan hom geopenbaar is toe hy vir sy broer gevlug het.\n35:8 En Debora, die oppasser van Rebekka, het gesterwe, en sy is begrawe onderkant Bet-el, onder die eikeboom. En hulle het dit genoem: Eik van geween.\n35:9 Toe verskyn God weer aan Jakob, by sy terugkoms uit Paddan-Aram, en Hy se\u00ebn hom;\n35:10 en God s\u00ea vir hom: Jou naam is Jakob; jy sal verder nie Jakob genoem word nie, maar Israel sal jou naam wees. En Hy het hom Israel genoem.\n35:11 Verder s\u00ea God vir hom: Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder. 'n Nasie, ja, 'n menigte van nasies, sal van jou afstam, en konings sal uit jou lendene voortkom.\n35:12 En die land wat Ek aan Abraham en Isak gegee het, sal Ek aan jou gee; en aan jou nageslag n\u00e1 jou sal Ek die land gee.\n35:13 Toe het God van hom af opgevaar op die plek waar Hy met hom gespreek het.\n35:14 En Jakob het 'n gedenksteen opgerig op die plek waar Hy met hom gespreek het, 'n gedenksteen van klip, en daarop 'n drankoffer uitgegiet en olie daarop gegooi.\n35:15 En Jakob het die plek waar God met hom gespreek het, Bet-el genoem.\n35:16 Daarna het hulle van Bet-el af weggetrek. En toe daar nog 'n kort ent pad was om by Efrat te kom, moes Ragel baar; en sy het dit swaar gehad by die bevalling.\n35:17 En terwyl sy dit swaar het by die bevalling, s\u00ea die vroedvrou vir haar: Wees nie bevrees nie, want dit is ook 'n seun vir u.\n35:18 En toe haar siel uitgaan--want sy het gesterwe--noem sy hom Ben-Oni. Maar sy vader het hom Benjamin genoem.\n35:19 So het Ragel dan gesterwe; en sy is begrawe op die pad na Efrat, dit is Betlehem.\n35:20 En Jakob het 'n gedenksteen op haar graf opgerig; dit is die gedenkteken van die graf van Ragel tot vandag toe.\n35:21 En Israel het weggetrek en sy tent opgeslaan aan die ander kant van Migdal-Eder.\n35:22 En terwyl Israel in di\u00e9 land woon, het Ruben gegaan en met Bilha, sy vader se byvrou, gemeenskap gehad. En Israel het dit gehoor. En die seuns van Jakob was twaalf.\n35:23 Die seuns van Lea was: Ruben, die eersgeborene van Jakob, daarna S\u00edmeon en Levi en Juda en Issaskar en S\u00e9bulon.\n35:24 Die seuns van Ragel: Josef en Benjamin.\n35:25 En die seuns van Bilha, die slavin van Ragel: Dan en N\u00e1ftali.\n35:26 En die seuns van Silpa, die slavin van Lea: Gad en Aser. Dit is die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is.\n35:27 En Jakob het by sy vader Isak gekom in Mamre, by Kirjat-Arba, dit is Hebron, waar Abraham as vreemdeling vertoef het, en ook Isak.\n35:28 En die dae van Isak was honderd en tagtig jaar.\n35:29 En Isak het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is by sy volksgenote versamel, oud en afgeleef. En sy seuns Esau en Jakob het hom begrawe.\n36:1 En dit is die geskiedenis van Esau, dit is Edom.\n36:2 Esau het sy vroue geneem uit die dogters van Kana\u00e4n: Ada, die dogter van Elon, die Hetiet, en Oholib\u00e1ma, die dogter van Ana, die dogter van S\u00edbeon, die Hewiet;\n36:3 en Basmat, die dogter van Ismael, die suster van N\u00e9bajot.\n36:4 En Ada het vir Esau gebaar \u00c9lifas, en Basmat het gebaar R\u00e9huel.\n36:5 En Oholib\u00e1ma het gebaar Jehus en J\u00e1elam en Korag. Dit is die seuns van Esau wat vir hom gebore is in die land Kana\u00e4n.\n36:6 Toe neem Esau sy vroue en sy seuns en sy dogters en al die mense van sy huis, sy vee en al sy diere en al sy besittings wat hy in die land Kana\u00e4n verwerf het, en hy trek na 'n land, w\u00e9g van sy broer Jakob af;\n36:7 want hulle besittings was te groot om saam te woon, en die land van hulle vreemdelingskap kon hulle nie dra vanwe\u00eb hulle vee nie.\n36:8 En Esau het gaan woon in die gebergte Se\u00efr. Esau, dit is Edom.\n36:9 Dit is dan die geskiedenis van Esau, die vader van die Edomiete, in die gebergte Se\u00efr.\n36:10 Dit is die name van die seuns van Esau: \u00c9lifas, die seun van Ada, die vrou van Esau; R\u00e9huel, die seun van Basmat, die vrou van Esau.\n36:11 En die seuns van \u00c9lifas was: Teman, Omar, Sefo en G\u00e1etam en Kenas.\n36:12 En Timna was 'n byvrou van \u00c9lifas, die seun van Esau; en sy het vir \u00c9lifas gebaar Amalek. Dit is die seuns van Ada, die vrou van Esau.\n36:13 En dit is die seuns van R\u00e9huel: Nahat en Serag, Samma en Missa. Dit was die seuns van Basmat, die vrou van Esau.\n36:14 En dit was die seuns van Oholib\u00e1ma, die dogter van Ana, die dogter van S\u00edbeon, die vrou van Esau--sy het vir Esau gebaar Jehus en J\u00e1elam en Korag.\n36:15 Dit is die stamhoofde onder die seuns van Esau. Die seuns van \u00c9lifas, die eersgeborene van Esau, was: die stamhoof Teman, die stamhoof Omar, die stamhoof Sefo, die stamhoof Kenas,\n36:16 die stamhoof Korag, die stamhoof G\u00e1etam, die stamhoof Amalek. Dit is die stamhoofde van \u00c9lifas in die land Edom; dit is die seuns van Ada.\n36:17 En dit is die seuns van R\u00e9huel, die seun van Esau: die stamhoof Nahat, die stamhoof Serag, die stamhoof Samma, die stamhoof Missa. Dit is die stamhoofde van R\u00e9huel in die land Edom. Dit is die seuns van Basmat, die vrou van Esau.\n36:18 En dit is die seuns van Oholib\u00e1ma, die vrou van Esau: die stamhoof Jehus, die stamhoof J\u00e1elam, die stamhoof Korag. Dit is die stamhoofde van Oholib\u00e1ma, die dogter van Ana, die vrou van Esau.\n36:19 Dit is die seuns van Esau, en dit is hulle stamhoofde. Dit is Edom.\n36:20 Dit is die seuns van Se\u00efr, die Horiet, die eerste inwoners van die land: Lotan en Sobal en S\u00edbeon en Ana\n36:21 en Dison en Eser en Disan. Dit is die stamhoofde van die Horiete, die seuns van Se\u00efr in die land Edom.\n36:22 En die seuns van Lotan was Hori en Hemam; en die suster van Lotan was Timna.\n36:23 En dit is die seuns van Sobal: Alwan en Man\u00e1hat en Ebal, Sefo en Onam.\n36:24 En dit is die seuns van S\u00edbeon: Aja en Ana. Dit is di\u00e9 Ana wat die warm fonteine in die woestyn gekry het toe hy die esels van sy vader S\u00edbeon opgepas het.\n36:25 En dit is die seuns van Ana: Dison; en Oholib\u00e1ma was die dogter van Ana.\n36:26 En dit is die seuns van Dison: Hemdan en Esban en Jitran en Keran.\n36:27 Dit is die seuns van Eser: Bilhan en Sa\u00e4wan en Akan.\n36:28 Dit is die seuns van Disan: Us en Aran.\n36:29 Dit is die stamhoofde van die Horiete: die stamhoof Lotan, die stamhoof Sobal, die stamhoof S\u00edbeon, die stamhoof Ana,\n36:30 die stamhoof Dison, die stamhoof Eser, die stamhoof Disan. Dit is die stamhoofde van die Horiete volgens hulle stamme in die land Se\u00efr.\n36:31 En dit is die konings wat geregeer het in die land Edom voordat daar 'n koning geregeer het oor die kinders van Israel:\n36:32 Bela, die seun van Beor, het geregeer in Edom; en die naam van sy stad was Dinh\u00e1ba.\n36:33 En n\u00e1 die dood van Bela het Jobab, die seun van Serag, van Bosra, in sy plek geregeer.\n36:34 En n\u00e1 die dood van Jobab het Husam, uit die land van die Temaniete, in sy plek geregeer.\n36:35 En n\u00e1 die dood van Husam het Hadad, die seun van Bedad, wat die M\u00eddianiete verslaan het in die veld van Moab, in sy plek geregeer, en die naam van sy stad was Awit.\n36:36 En n\u00e1 die dood van Hadad het Samla van M\u00e1sreka in sy plek geregeer.\n36:37 En n\u00e1 die dood van Samla het Saul van R\u00e9hobot, aan die rivier, in sy plek geregeer.\n36:38 En n\u00e1 die dood van Saul het Ba\u00e4l-Hanan, die seun van Akbor, in sy plek geregeer.\n36:39 En n\u00e1 die dood van Ba\u00e4l-Hanan, die seun van Akbor, het Hadar in sy plek geregeer; en die naam van sy stad was Pahu; en die naam van sy vrou was Mehet\u00e1be\u00ebl, die dogter van Matred, die dogter van M\u00e9sahab.\n36:40 Dit is die name van die stamhoofde van Esau, volgens hulle geslagte, volgens hulle woonplekke, met hulle name: die stamhoof Timna, die stamhoof Alwa, die stamhoof Jetet.\n36:41 die stamhoof Oholib\u00e1ma, die stamhoof Ela, die stamhoof Pinon,\n36:42 die stamhoof Kenas, die stamhoof Teman, die stamhoof Mibsar,\n36:43 die stamhoof M\u00e1gdi\u00ebl, die stamhoof Iram. Dit is die stamhoofde van Edom, volgens hulle verblyfplekke in die land van hulle besitting. Dit is Esau, die stamvader van die Edomiete.\n37:1 En Jakob het gewoon in die land van die vreemdelingskap van sy vader, in die land Kana\u00e4n.\n37:2 Dit is die geskiedenis van Jakob. Josef het as seun van sewentien jaar die kleinvee opgepas saam met sy broers--hy was nog jonk--met die seuns van Bilha en die seuns van Silpa, die vroue van sy vader. En Josef het die slegte gerug oor hulle na hulle vader oorgebring.\n37:3 En Israel het Josef meer lief gehad as al sy seuns; want hy was vir hom 'n seun van die ouderdom; en hy het vir hom 'n lang rok met moue gemaak.\n37:4 Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie.\n37:5 Ook het Josef 'n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat.\n37:6 Hy het naamlik vir hulle ges\u00ea: Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het.\n37:7 Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop bly staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig.\n37:8 Toe s\u00ea sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? Of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde.\n37:9 Daarna het hy nog 'n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en ges\u00ea: Kyk, ek het nog 'n droom gehad--die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig.\n37:10 Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom ges\u00ea: Wat is dit vir 'n droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig?\n37:11 En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.\n37:12 En sy broers het die kleinvee van hulle vader by Sigem gaan oppas.\n37:13 Toe s\u00ea Israel vir Josef: Pas jou broers nie die vee op by Sigem nie? Kom, laat ek jou na hulle toe stuur. En hy antwoord hom: Hier is ek!\n37:14 Toe s\u00ea hy vir hom: Gaan tog verneem na die welstand van jou broers en die welstand van die vee, en bring vir my berig terug. So het hy hom dan uit die dal van Hebron weggestuur, en hy het by Sigem aangekom.\n37:15 Daarop kry 'n man hom terwyl hy in die veld ronddwaal, en die man vra hom: Wat soek jy?\n37:16 En hy antwoord: Ek soek my broers. Vertel my tog waar hulle die vee oppas.\n37:17 Toe s\u00ea die man: Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het hulle hoor s\u00ea: Laat ons na Dotan gaan. En Josef het agter sy broers aan gegaan en hulle in Dotan gevind.\n37:18 En hulle het hom van ver af gesien. Maar voordat hy naby hulle kom, het hulle listig raad gehou teen hom om hom dood te maak.\n37:19 En hulle het vir mekaar ges\u00ea: Daar kom daardie dromer aan!\n37:20 Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en s\u00ea: 'n Wilde dier het hom opge\u00ebet. Dan sal ons sien wat van sy drome word.\n37:21 Toe Ruben dit hoor, het hy hom uit hulle hand gered deur te s\u00ea: Laat ons hom nie doodslaan nie.\n37:22 Ruben het ook vir hulle ges\u00ea: Moenie bloed vergiet nie; gooi hom in hierdie put wat in die woestyn is, maar moenie die hand aan hom slaan nie--sodat hy hom uit hulle hand kon red om hom na sy vader terug te bring.\n37:23 En toe Josef by sy broers kom, trek hulle Josef se rok uit, die rok met lang moue wat hy aangehad het,\n37:24 en hulle neem hom en gooi hom in die put. Maar die put was leeg; daar was geen water in nie.\n37:25 Daarna het hulle gaan sit om brood te eet; en toe hulle hul o\u00eb opslaan, sien hulle meteens 'n reisgeselskap Ismaeliete wat uit G\u00edlead kom--hulle kamele gelaai met speserye en balsem en gom op pad om dit na Egipte af te bring.\n37:26 Toe s\u00ea Juda aan sy broers: Watter voordeel is dit dat ons ons broer doodmaak en sy bloed verberg?\n37:27 Kom, laat ons hom aan die Ismaeliete verkoop, maar laat ons hand nie teen hom wees nie, want hy is ons broer, ons vlees. En sy broers het na hom geluister.\n37:28 En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle Josef uit die put uit opgetrek en uitgehaal en Josef aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels silwer. En h\u00falle het Josef na Egipte gebring.\n37:29 Toe Ruben by die put terugkom, was Josef nie in die put nie! Daarop skeur hy sy klere,\n37:30 en hy gaan na sy broers terug en s\u00ea: Die seun is nie daar nie! En ek, waar moet ek heen?\n37:31 Toe neem hulle Josef se rok, en hulle slag 'n bok en steek die rok in die bloed,\n37:32 en hulle stuur die lang rok weg en laat dit na hulle vader bring met die woorde: Dit het ons gevind. Kyk tog goed of dit die rok van u seun is of nie.\n37:33 En hy het dit herken en ges\u00ea: Die rok van my seun! 'n Wilde dier het hom opge\u00ebet. Verskeur, verskeur is Josef!\n37:34 Toe skeur Jakob sy klere en trek 'n roukleed om sy heupe, en hy het oor sy seun gerou, baie dae lank.\n37:35 En al sy seuns en al sy dogters het moeite gedoen om hom te troos, maar hy het geweier om hom te laat troos en ges\u00ea: Nee, treurende sal ek na my seun in die doderyk afdaal! So het sy vader hom dan beween.\n37:36 En die Midianiete het hom na Egipte verkoop aan P\u00f3tifar, 'n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag.\n38:1 In di\u00e9 tyd het Juda afgetrek, van sy broers af weg, en uitgedraai na 'n man van Ad\u00fallam met die naam van Hira.\n38:2 En Juda het daar die dogter van 'n Kana\u00e4nitiese man gesien met die naam van Sua; en hy het met haar getrou en by haar ingegaan.\n38:3 En sy het bevrug geword en 'n seun gebaar, en sy het hom Er genoem.\n38:4 Daarna het sy weer bevrug geword en 'n seun gebaar en hom Onan genoem.\n38:5 En sy het nog weer 'n seun gebaar en hom Sela genoem; en hy was in Kesib toe sy hom gebaar het.\n38:6 En Juda het vir Er, sy eersgeborene, 'n vrou geneem, en haar naam was Tamar.\n38:7 Maar Er, die eersgeborene van Juda, het die HERE mishaag. Daarom het die HERE hom laat sterwe.\n38:8 Toe s\u00ea Juda vir Onan: Gaan in by die vrou van jou broer en sluit die swaershuwelik met haar en verwek vir jou broer 'n nageslag.\n38:9 Maar Onan het geweet dat die nageslag nie syne sou wees nie; daarom het hy, elke keer as hy by die vrou van sy broer ingaan, dit op die grond verderwe om vir sy broer geen nageslag te gee nie.\n38:10 En dit was verkeerd in die o\u00eb van die HERE wat hy gedoen het; daarom het Hy hom ook laat sterwe.\n38:11 Toe s\u00ea Juda vir Tamar, sy skoondogter: Bly 'n weduwee in die huis van jou vader totdat my seun Sela groot is. Want hy het gedink: Anders sterwe hy ook soos sy broers! So het Tamar dan gaan woon in die huis van haar vader.\n38:12 En n\u00e1 verloop van geruime tyd het die dogter van Sua, die vrou van Juda, gesterwe. En toe Juda klaar getreur het, het hy opgegaan na die skeerders van sy kleinvee, na Timna toe, hy en sy vriend Hira, die Adullamiet.\n38:13 En hulle het Tamar te kenne gegee en ges\u00ea: Kyk, jou skoonvader gaan op na Timna om sy kleinvee te skeer.\n38:14 Toe trek sy die klere van haar weduweeskap uit en bedek haar met 'n sluier en draai haar toe; en sy het gaan sit by die ingang van Enaim wat op die pad na Timna l\u00ea. Want sy het gesien dat Sela groot geword het, maar sy was aan hom nie as vrou gegee nie.\n38:15 Toe Juda haar sien, het hy haar vir 'n hoer gehou, omdat sy haar gesig toegebind het;\n38:16 en hy het na haar uitgedraai by die pad en ges\u00ea: Kom tog, laat my by jou ingaan; want hy het nie geweet dat dit sy skoondogter was nie. En sy vra: Wat sal jy my gee as jy by my ingaan?\n38:17 En hy antwoord: Ek sal jou 'n boklam van die kleinvee af stuur. Toe s\u00ea sy: As jy 'n pand gee totdat jy dit stuur.\n38:18 En hy s\u00ea: Wat is die pand wat ek jou moet gee? Toe antwoord sy: Jou se\u00eblring met die bandjie en jou staf wat in jou hand is. Hy gee dit toe aan haar en gaan by haar in, en sy het by hom swanger geword.\n38:19 En sy het opgestaan en weggegaan en haar sluier afgehaal en die klere van haar weduweeskap aangetrek.\n38:20 En Juda het die boklam gestuur deur middel van sy vriend, die Adullamiet, om die pand uit die hand van die vrou te gaan haal. Maar hy het haar nie gevind nie.\n38:21 Toe vra hy die mense van haar woonplek: Waar is daardie hoer wat in Enaim by die pad was? En hulle antwoord: Hier was geen hoer nie.\n38:22 Daarop gaan hy na Juda terug met die berig: Ek het haar nie gevind nie. En die mense van die plek het ook ges\u00ea: Hier was geen hoer nie.\n38:23 Toe s\u00ea Juda: Laat sy dit hou, dat ons nie 'n bespotting word nie. Kyk, ek het hierdie boklam gestuur, maar jy het haar nie gevind nie.\n38:24 N\u00e1 omtrent drie maande het hulle Juda laat weet en ges\u00ea: Tamar, jou skoondogter, het gehoereer, en sy is ook swanger deur hoerery! En Juda s\u00ea: Bring haar uit, dat sy verbrand kan word.\n38:25 Terwyl sy uitgebring word, laat sy haar skoonvader dit weet: By die man aan wie hierdie dinge behoort, is ek swanger. En sy het ges\u00ea: Kyk tog mooi aan wie hierdie se\u00eblring en bandjies en staf behoort.\n38:26 En Juda het dit herken en ges\u00ea: Sy het reg teenoor my, want ek het haar mos nie aan my seun Sela gegee nie. En hy het haar verder nie meer beken nie.\n38:27 En toe sy sou baar, was daar 'n tweeling in haar skoot.\n38:28 En terwyl sy baar, het een die hand uitgesteek; en die vroedvrou het dit gegryp en 'n rooi draad om sy hand gebind en ges\u00ea: Hierdie een is eerste gebore.\n38:29 Maar toe hy sy hand teruggetrek het, word sy broer gebore! En sy s\u00ea: Hoe kragtig het jy deurgebreek! En hulle het hom Peres genoem.\n38:30 En daarna is sy broer gebore aan wie se hand die rooi draad was. En hulle het hom Serag genoem.\n39:1 En Josef is afgebring na Egipte; en P\u00f3tifar, 'n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag, 'n Egiptiese man, het hom gekoop uit die hand van die Ismaeliete wat hom daarheen afgebring het.\n39:2 En die HERE was met Josef, sodat hy 'n voorspoedige man was; en hy het in die huis van sy heer, die Egiptenaar, gebly.\n39:3 En toe sy heer sien dat die HERE met hom was, en dat die HERE alles wat hy doen, in sy hand voorspoedig maak,\n39:4 het Josef guns in sy o\u00eb gevind en hom gedien; en hy het hom aangestel oor sy huis, en alles wat in sy besit was, aan hom oorgegee.\n39:5 En vandat hy hom aangestel het oor sy huis en oor alles wat in sy besit was, het die HERE die huis van die Egiptenaar gese\u00ebn ter wille van Josef; ja, die se\u00ebn van die HERE was by alles wat syne was, in die huis en op die veld.\n39:6 En hy het alles wat syne was, aan Josef oorgelaat, sodat hy met sy hulp van niks kennis geneem het nie as net van die brood wat hy ge\u00ebet het. En Josef was skoon van gestalte en mooi van aansien.\n39:7 N\u00e1 hierdie dinge het die vrou van sy heer haar o\u00eb na Josef opgeslaan en ges\u00ea: Kom hou gemeenskap met my.\n39:8 Maar hy het geweier en aan die vrou van sy heer ges\u00ea: Kyk, deur my is dit dat my heer geen kennis neem van wat in die huis is nie; en alles wat syne is, het hy aan my oorgegee.\n39:9 Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?\n39:10 En nadat sy met Josef dag n\u00e1 dag gespreek het, en hy na haar nie wou luister om by haar te l\u00ea om met haar gemeenskap te hou nie,\n39:11 kom hy eendag in die huis om sy werk te doen terwyl niemand van die huisgenote binne was nie.\n39:12 Toe gryp sy hom aan sy kleed en s\u00ea: Kom hou gemeenskap met my. Maar hy het sy kleed in haar hand laat agterbly en gevlug en na buite geloop.\n39:13 Toe sy dan sien dat hy sy kleed in haar hand laat bly en buitentoe gevlug het,\n39:14 roep sy na haar huisgenote en s\u00ea aan hulle: Kyk, hy het vir ons 'n Hebreeuse man hier gebring om met ons gek te skeer; hy het na my gekom om met my gemeenskap te h\u00ea, en ek het hard geskreeu;\n39:15 en toe hy hoor dat ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en gevlug en na buite geloop.\n39:16 En sy het sy kleed by haar neergel\u00ea totdat sy heer tuisgekom het.\n39:17 En sy het hom met dieselfde woorde aangespreek en ges\u00ea: Die Hebreeuse kneg wat jy vir ons hier gebring het, het na my gekom om met my gek te skeer;\n39:18 en toe ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en na buite gevlug.\n39:19 Toe sy heer die woorde hoor waarmee sy vrou hom aanspreek: So en so het jou kneg aan my gedoen--het hy baie kwaad geword;\n39:20 en die heer van Josef het hom laat vang en hom in die gevangenis gesit op die plek waar die gevangenes van die koning opgesluit was; en hy was daar in die gevangenis.\n39:21 Maar die HERE was met Josef, en Hy het goedertierenheid aan hom bewys en hom guns verleen in die o\u00eb van die owerste van die gevangenis.\n39:22 En die owerste van die gevangenis het almal wat in die gevangenis opgesluit was, aan Josef toevertrou; en alles wat daar te doen was, het hy gedoen.\n39:23 Die owerste van die gevangenis het glad nie na iets omgekyk wat aan hom toevertrou was nie, omdat die HERE met hom was; en wat hy doen, het die HERE voorspoedig laat wees.\n40:1 N\u00e1 hierdie dinge het die skinker van die koning van Egipte en die bakker hulle misgaan jeens hulle heer, die koning van Egipte,\n40:2 sodat Farao baie kwaad geword het vir sy twee hofdienaars, die voorman van die skinkers en die voorman van die bakkers.\n40:3 En hy het hulle in bewaring gegee in die huis van die owerste van die lyfwag, in die gevangenis, die plek waar Josef gevange was.\n40:4 En die owerste van die lyfwag het Josef by hulle aangestel om hulle te bedien. En hulle was 'n tyd lank in bewaring.\n40:5 En hulle het altwee 'n droom gehad, elkeen sy droom, in dieselfde nag, elkeen 'n droom met besondere betekenis, die skinker en die bakker van die koning van Egipte, wat in die gevangenis gevange gesit het.\n40:6 En Josef het die volgende m\u00f4re by hulle gekom en gesien dat hulle ontstemd was.\n40:7 Toe vra hy die hofdienaars van Farao wat by hom in bewaring was in die huis van sy heer, en s\u00ea: Waarom lyk julle aangesig vandag so droewig?\n40:8 En hulle antwoord hom: Ons het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitl\u00ea nie. En Josef vra hulle: Is uitlegging nie 'n saak van God nie? Vertel my tog.\n40:9 Toe vertel die voorman van die skinkers aan Josef sy droom en s\u00ea vir hom: In my droom was daar 'n wingerdstok voor my,\n40:10 en aan die wingerdstok was drie ranke; en skaars het hy gebot of sy bloeisel was uit, sy trosse het ryp druiwe geword.\n40:11 En die beker van Farao was in my hand. En ek het die druiwe geneem en dit in die beker van Farao uitgedruk en die beker in die hand van Farao gegee.\n40:12 Toe s\u00ea Josef vir hom: Dit is die uitlegging daarvan: die drie ranke is drie dae.\n40:13 Binne drie dae sal Farao jou hoof verhef--jou in jou rang herstel; en jy sal die beker van Farao in sy hand gee net soos vroe\u00ebr toe jy sy skinker was.\n40:14 Hou my tog net in gedagte as dit met jou goed gaan, en bewys my tog 'n guns en maak melding van my by Farao en bring my uit hierdie huis uit;\n40:15 want ek is gesteel, ja gesteel, uit die land van die Hebre\u00ebrs, en ek het hier ook niks gedoen dat hulle my in die gevangenis gesit het nie.\n40:16 Toe die voorman van die bakkers sien dat hy 'n gunstige uitlegging gegee het, s\u00ea hy aan Josef: Ook in my droom--toe was daar drie mandjies met witbrood op my hoof,\n40:17 en in die boonste mandjie was allerhande eetware vir Farao deur bakkers klaargemaak, en die vo\u00ebls het dit uit die mandjie bo-op my hoof weggepik.\n40:18 Toe antwoord Josef en s\u00ea: Dit is die uitlegging daarvan--die drie mandjies is drie dae.\n40:19 Binne drie dae sal Farao jou hoof bo-oor jou verhef--hy sal jou aan 'n paal ophang, en die vo\u00ebls sal jou vlees van jou af wegpik.\n40:20 En op die derde dag, die verjaarsdag van Farao, het hy 'n maaltyd vir al sy dienaars berei en die hoof van die voorman van die skinkers en die hoof van die voorman van die bakkers te midde van sy dienaars verhef--\n40:21 hy het die voorman van die skinkers herstel in sy skinkersamp, sodat hy die beker in die hand van Farao kon gee,\n40:22 maar die voorman van die bakkers het hy opgehang soos Josef dit aan hulle uitgel\u00ea het.\n40:23 En die voorman van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, maar hom vergeet.\n41:1 N\u00e1 verloop van twee volle jare het Farao gedroom dat hy by die Nyl staan;\n41:2 en kyk, daar kom sewe koeie uit die Nyl uit op wat mooi van aansien en vet van vleis was, en hulle het gaan wei in die rietgras.\n41:3 En kyk, n\u00e1 hulle kom daar nog sewe koeie uit die Nyl uit op wat lelik van aansien en maer van vleis was, en hulle het by die ander koeie op die wal van die Nyl gaan staan.\n41:4 En die koeie wat lelik van aansien en maer van vleis was, het die sewe koeie wat mooi van aansien en vet was, opge\u00ebet. Toe het Farao wakker geword.\n41:5 En hy het weer aan die slaap geraak en nog 'n keer gedroom; en kyk, sewe vet en mooi are skiet op aan een steel;\n41:6 en n\u00e1 hulle spruit daar sewe are uit wat maer en deur die oostewind verskroei was;\n41:7 en die maer are het die sewe vet en vol are verslind. Toe het Farao wakker geword en kyk, dit was 'n droom!\n41:8 Di\u00e9 m\u00f4re was sy gees onrustig, en hy het al die towenaars en al die wyse manne van Egipte laat roep; en Farao het aan hulle sy droom vertel, maar niemand kon dit aan Farao uitl\u00ea nie.\n41:9 Toe het die voorman van die skinkers met Farao gespreek en ges\u00ea: Ek moet vandag my sondes in gedagtenis bring.\n41:10 Farao was baie kwaad vir sy dienaars en het my in bewaring gegee in die huis van die owerste van die lyfwag, my en die voorman van die bakkers.\n41:11 En ons het in dieselfde nag 'n droom gehad, ek en hy; ons het gedroom, elkeen 'n droom met besondere betekenis.\n41:12 En daar was by ons 'n Hebreeuse jongman, 'n kneg van die owerste van die lyfwag--aan hom het ons dit vertel, en hy het ons drome vir ons uitgel\u00ea; aan elkeen het hy die uitlegging volgens sy droom gegee.\n41:13 En soos hy ons dit uitgel\u00ea het, so het dit gebeur--my het hy in my rang herstel, maar hom opgehang.\n41:14 Toe laat Farao Josef roep, en hulle het hom gou uit die gevangenis uitgehaal, en hy het hom geskeer en ander klere aangetrek; en hy het by Farao gekom.\n41:15 Toe s\u00ea Farao vir Josef: Ek het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitl\u00ea nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy 'n droom net hoef te hoor om dit uit te l\u00ea.\n41:16 En Josef het Farao geantwoord en ges\u00ea: Niks vir my nie! God sal Farao 'n gunstige antwoord gee.\n41:17 Toe s\u00ea Farao vir Josef: Kyk, ek het in my droom gestaan op die wal van die Nyl,\n41:18 en sewe koeie het uit die Nyl uit opgekom wat vet van vleis en mooi van uiterlik was, en hulle het gaan wei in die rietgras.\n41:19 En kyk, n\u00e1 hulle kom daar nog sewe koeie op, skraal en baie lelik van uiterlik en maer van vleis; ek het soos hulle so lelik in die ganse Egipteland nie gesien nie.\n41:20 En die maer en lelike koeie het die sewe eerste vet koeie opge\u00ebet:\n41:21 di\u00e9 het in hulle maag ingegaan, maar 'n mens kon nie merk dat hulle in hul maag ingegaan het nie; want hulle aansien was lelik soos in die begin. Toe het ek wakker geword.\n41:22 Daarna het ek in my droom gesien, en kyk, sewe vol en mooi are skiet op aan een steel.\n41:23 En n\u00e1 hulle spruit daar sewe are uit wat dor, maer en deur die oostewind verskroei was;\n41:24 en die sewe maer are het die sewe mooi are verslind. En ek het dit aan die towenaars meegedeel, maar niemand kon my inligting gee nie.\n41:25 Toe s\u00ea Josef vir Farao: Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat God van plan is om te doen, het Hy aan Farao te kenne gegee.\n41:26 Die sewe mooi koeie is sewe jare; en die sewe mooi are is sewe jare; die droom is een en dieselfde.\n41:27 En die sewe maer en lelike koeie wat n\u00e1 hulle opgekom het, is sewe jare; en die sewe maer, deur die oostewind verskroeide are sal sewe jare van hongersnood wees.\n41:28 Dit is die woord wat ek tot Farao gespreek het: wat God van plan is om te doen, het Hy Farao laat sien.\n41:29 Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland;\n41:30 maar daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word, en die hongersnood sal die land verteer.\n41:31 En van die oorvloed sal in die land niks gemerk word weens di\u00e9 hongersnood wat daarna sal wees nie; want dit sal baie swaar wees.\n41:32 En wat dit betref dat die droom twee maal vir Farao herhaal is--dit is omdat die saak deur God vas besluit is en God dit gou sal doen.\n41:33 Laat Farao dan nou uitkyk na 'n verstandige en wyse man en hom aanstel oor Egipteland.\n41:34 Farao moet so maak en opsigters oor die land aanstel en in die sewe jare van oorvloed die vyfde deel hef van die opbrings van Egipteland.\n41:35 En hulle moet al die voedsel van hierdie goeie jare wat kom, versamel en onder leiding van Farao koring ophoop as voedsel in die stede en dit wegb\u00eare.\n41:36 So sal dan die voedsel 'n voorraad wees vir die land vir die sewe jare van hongersnood wat in Egipteland sal kom, sodat die land nie deur die hongersnood te gronde gaan nie.\n41:37 En die woord was goed in die o\u00eb van Farao en van al sy dienaars.\n41:38 Daarop het Farao aan sy dienaars ges\u00ea: Kan ons wel iemand vind soos hierdie man in wie die Gees van God is?\n41:39 En Farao s\u00ea vir Josef: Aangesien God dit alles aan jou bekend gemaak het, is daar niemand verstandig en wys soos jy nie.\n41:40 Jy moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik; alleen deur die troon sal ek groter wees as jy.\n41:41 Verder het Farao vir Josef ges\u00ea: Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipteland.\n41:42 Toe trek Farao sy se\u00eblring van sy hand af en sit dit aan die hand van Josef; en hy het hom fyn linneklere laat aantrek en die goue ketting om sy hals gehang\n41:43 en hom laat ry op sy tweede rytuig; en hulle het voor hom uitgeroep: Pas op! So het hy hom dan oor die hele Egipteland aangestel.\n41:44 En Farao s\u00ea vir Josef: Ek is Farao, maar sonder jou mag niemand sy hand of voet in die hele Egipteland verroer nie.\n41:45 En Farao het Josef genoem S\u00e1fenat-Pan\u00e9ag en aan hom Asenat, die dogter van Potif\u00e9ra, die priester van On, as vrou gegee. En Josef het uitgetrek oor Egipteland.\n41:46 En Josef was dertig jaar oud toe hy voor Farao, die koning van Egipte, gestaan het; en Josef het van Farao af weggegaan en die hele Egipteland deurgetrek.\n41:47 En die land het met handvolle opgelewer in die sewe jare van oorvloed.\n41:48 Toe het hy al die voedsel van die sewe jare versamel wat in Egipteland gekom het, en voedsel in die stede weggesit--die voedsel van die land wat rondom elke stad was, het hy daarin weggesit.\n41:49 So het Josef dan 'n baie groot hoeveelheid koring opgehoop soos die sand van die see, totdat hulle opgehou het om te tel, want dit was ontelbaar.\n41:50 En vir Josef is twee seuns gebore--voordat die jaar van hongersnood gekom het--wat Asenat, die dogter van Potif\u00e9ra, die priester van On, vir hom gebaar het.\n41:51 En Josef het die eersgeborene Manasse genoem; want, het hy ges\u00ea, God het my al my moeite laat vergeet en ook die hele huis van my vader.\n41:52 En die tweede het hy Efraim genoem; want, het hy ges\u00ea, God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende.\n41:53 Toe het die sewe jare van oorvloed wat daar in Egipteland was, ten einde gekom,\n41:54 en die sewe jare van hongersnood het begin aankom soos Josef voorspel het. En daar was hongersnood in al die lande, maar in die hele Egipteland was daar brood.\n41:55 En toe die hele Egipteland honger gely en die volk na Farao geroep het om brood, s\u00ea Farao aan al die Egiptenaars: Gaan na Josef, doen wat hy julle s\u00ea.\n41:56 En die hongersnood was oor die hele oppervlakte van die aarde, en Josef het alles waarin iets was, oopgemaak en aan die Egiptenaars verkoop; en die hongersnood was swaar in Egipteland.\n41:57 En die hele w\u00eareld het na Josef in Egipte gekom om koring te koop, want die hongersnood was swaar op die hele aarde.\n42:1 Toe Jakob merk dat daar koring in Egipte was, het Jakob aan sy seuns ges\u00ea: Wat kyk julle so na mekaar?\n42:2 En hy s\u00ea: Kyk, ek het gehoor dat daar koring in Egipte is; trek daarheen af, en koop vir ons daar koring, dat ons kan lewe en nie sterwe nie.\n42:3 Daarop het tien van Josef se broers afgetrek om koring uit Egipte te koop.\n42:4 Maar Benjamin, die broer van Josef, het Jakob nie saam met sy broers gestuur nie; want hy het gedink: Altemit kan 'n ongeluk hom oorkom.\n42:5 So het die seuns van Israel dan gekom om koring te koop onder diegene wat daar aangekom het; want daar was hongersnood in die land Kana\u00e4n.\n42:6 En Josef was die maghebber oor die land, hy wat aan al die mense van die land koring verkoop het; daarom het die broers van Josef gekom en hulle voor hom met die aangesig na die aarde gebuig.\n42:7 Sodra Josef sy broers sien, het hy hulle herken maar hom vreemd teenoor hulle gehou en hulle hard aangespreek en vir hulle ges\u00ea: Waar kom julle vandaan? En hulle antwoord: Uit die land Kana\u00e4n om voedsel te koop.\n42:8 En Josef het sy broers herken, maar h\u00falle het hom nie herken nie.\n42:9 Toe dink Josef aan die drome wat hy aangaande hulle gedroom het; en hy s\u00ea vir hulle: Julle is spioene, julle het gekom om te kyk waar die land oop is.\n42:10 Maar hulle het hom geantwoord: Nee, my heer, maar u dienaars het gekom om voedsel te koop.\n42:11 Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen spioene nie.\n42:12 Toe s\u00ea hy vir hulle: Nee, maar julle het gekom om te kyk waar die land oop is.\n42:13 En hulle antwoord: U dienaars is twaalf in getal, ons is broers, seuns van een man in die land Kana\u00e4n; en kyk, die jongste is nou by ons vader, maar die een is daar nie meer nie.\n42:14 Toe s\u00ea Josef vir hulle: Dit is wat ek julle ges\u00ea het: Julle is spioene!\n42:15 Hieraan sal julle getoets word: so waar as Farao leef, julle sal hiervandaan nie trek tensy dat julle jongste broer hierheen kom nie.\n42:16 Stuur een van julle, dat hy julle broer gaan haal, maar j\u00falle moet in die gevangenis bly. So sal dan julle woorde getoets word, of die waarheid by julle is of nie. So waar as Farao leef, julle is spioene!\n42:17 Daarop het hy hulle saam drie dae lank in bewaring laat hou.\n42:18 En op die derde dag s\u00ea Josef vir hulle: Doen dit, dan sal julle lewe; ek vrees God!\n42:19 As julle eerlike mense is, laat een van julle broers gevange bly in die huis waar julle in bewaring is; maar gaan j\u00falle, bring die koring vir die honger van julle huisgesinne weg,\n42:20 en bring julle jongste broer na my toe--dan sal julle woorde waar gemaak word, en julle sal nie sterwe nie. En hulle het so gedoen.\n42:21 Toe s\u00ea hulle vir mekaar: Voorwaar, ons boet nou vanwe\u00eb ons broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie--daarom kom hierdie benoudheid oor ons.\n42:22 Daarop antwoord Ruben hulle: Het ek nie vir julle ges\u00ea nie: Besondig julle nie aan die seun nie? Maar julle het nie geluister nie. Kyk, so word dan ook sy bloed ge\u00ebis.\n42:23 En hulle het nie geweet dat Josef dit verstaan nie, want daar was 'n tolk tussen hulle.\n42:24 Toe draai hy hom van hulle af weg en ween. Daarna het hy na hulle teruggegaan en met hulle gespreek; en hy het S\u00edmeon onder hulle uitgeneem en hom voor hulle o\u00eb gebind.\n42:25 Daarop gee Josef bevel om hulle sakke vol koring te maak en elkeen se geld weer in sy sak te sit en om aan hulle padkos vir die reis saam te gee. En so is aan hulle gedoen.\n42:26 En hulle het die koring op hulle esels gelaai en daar weggetrek.\n42:27 En toe die een sy sak oopmaak om sy esel in die herberg voer te gee, sien hy sy geld; en kyk, dit was somaar bo in sy sak!\n42:28 En hy s\u00ea vir sy broers: My geld is teruggegee; hier l\u00ea dit dan ook in my sak! Toe het hulle hart hul begewe, en hulle draai verskrik na mekaar toe en s\u00ea: Wat het God ons nou aangedoen?\n42:29 En hulle het by hul vader Jakob in die land Kana\u00e4n gekom en hom alles vertel wat hulle wedervaar het en ges\u00ea:\n42:30 Die man, die heer van die land, het ons hard aangespreek en ons vir spioene van die land gehou.\n42:31 Maar ons het aan hom ges\u00ea: Ons is eerlike mense, ons is geen spioene nie.\n42:32 Ons is twaalf broers, seuns van ons vader; die een is daar nie meer nie, en die jongste is nou by ons vader in die land Kana\u00e4n.\n42:33 Daarop het die man, die heer van die land, aan ons ges\u00ea: Hieraan sal ek weet dat julle eerlike mense is--laat een van julle broers by my bly; en neem vir die honger van julle huisgesinne en trek weg,\n42:34 en bring julle jongste broer na my toe; dan sal ek weet dat julle geen spioene is nie. As julle eerlike mense is, sal ek julle broer aan julle teruggee, en julle mag in die land rondtrek.\n42:35 En toe hulle hul sakke leegmaak, was elkeen se bondeltjie geld daar in sy sak! En toe hulle hul bondeltjies geld sien, hulle en hul vader, was hulle bevrees.\n42:36 Daarop s\u00ea Jakob, hulle vader, vir hulle: Julle beroof my van kinders. Josef is weg! En S\u00edmeon is weg! En Benjamin wil julle wegneem! Alles is teen my!\n42:37 Toe spreek Ruben sy vader aan en s\u00ea: U kan my twee seuns doodmaak as ek hom nie na u terugbring nie. Vertrou hom aan my toe, en \u00e9k sal hom na u terugbring.\n42:38 Maar hy s\u00ea: My seun sal nie saam met julle aftrek nie, want sy broer is dood, en hy het alleen oorgebly; en as 'n ongeluk hom oorkom op die pad wat julle sal gaan, dan sal julle my grys hare met kommer in die doderyk laat afdaal.\n43:1 En die hongersnood was swaar in die land.\n43:2 En nadat die koring wat hulle uit Egipte gebring het, opge\u00ebet was, s\u00ea hulle vader vir hulle: Gaan koop vir ons weer 'n bietjie voedsel.\n43:3 Toe het Juda hom geantwoord: Die man het ons uitdruklik gewaarsku en ges\u00ea: Julle sal my aangesig nie sien as julle broer nie by julle is nie.\n43:4 As u ons broer saam met ons stuur, sal ons aftrek en vir u voedsel koop;\n43:5 maar as u hom nie stuur nie, sal ons nie aftrek nie; want die man het aan ons ges\u00ea: Julle sal my aangesig nie sien as julle broer nie by julle is nie.\n43:6 Toe s\u00ea Israel: Waarom het julle so verkeerd teen my gehandel deur die man te vertel dat julle nog 'n broer het?\n43:7 En hulle antwoord: Die man het uitdruklik na ons en ons familie gevra met die woorde: Lewe julle vader nog? Het julle nog 'n broer? Toe het ons hom dit te kenne gegee volgens hierdie woorde. Kon ons dan ooit weet dat hy sou s\u00ea: Bring julle broer af?\n43:8 Daarop s\u00ea Juda aan sy vader Israel: Stuur die seun saam met my; dan sal ons klaarmaak en wegtrek, sodat ons kan lewe en nie sterwe nie--ons en ook u en ons kinders nie.\n43:9 Ek sal vir hom borg wees; van my hand kan u hom eis. As ek hom nie na u bring en voor u stel nie, sal ek lewenslank teenoor u skuldig staan.\n43:10 Ja, as ons nie getalm het nie, waarlik dan was ons nou al twee maal terug.\n43:11 Toe het Israel, hulle vader, vir hulle ges\u00ea: As dit so is, doen dan dit: neem van die opbrings van die land in julle sakke en bring vir die man 'n geskenk af--bietjie balsem en bietjie heuning, speserye en gom, neute en amandels;\n43:12 en neem dubbel soveel geld met julle saam en bring die geld wat weer bo in julle sakke gesit is, met julle saam terug. Miskien was dit 'n vergissing.\n43:13 En neem julle broer--maak julle klaar en gaan terug na die man.\n43:14 En mag God, die Almagtige, julle barmhartigheid verleen by die man, sodat hy julle ander broer en Benjamin saam met julle kan laat trek! En ek--as ek van kinders beroof is, dan is ek beroof.\n43:15 Daarop neem die manne di\u00e9 geskenk, en hulle neem dubbel soveel geld saam met hulle en ook Benjamin, en hulle het klaargemaak en na Egipte afgetrek en voor Josef gaan staan.\n43:16 Toe Josef Benjamin by hulle sien, s\u00ea hy aan die opsigter oor sy huis: Bring die manne in die huis en slag slagvee en maak dit gereed, want die manne moet vanmiddag by my eet.\n43:17 En die man het gedoen soos Josef beveel het, en die man het die manne in die huis van Josef gebring.\n43:18 En die manne het gevrees, omdat hulle in die huis van Josef gebring is, en ges\u00ea: Ter wille van die geld wat die vorige keer in ons sakke teruggekom het, word ons ingebring om ons te oorrompel, ons te oorval en ons as slawe te neem, saam met ons esels.\n43:19 Daarom het hulle nader gekom na die man wat oor die huis van Josef was, en met hom gespreek by die ingang van die huis\n43:20 en ges\u00ea: Ag, my heer, ons het die vorige keer net afgetrek om voedsel te koop,\n43:21 maar toe ons in die herberg kom en ons sakke oopmaak, was elkeen se geld bo in sy sak--ons geld volgens sy gewig--en ons het dit saam met ons teruggebring.\n43:22 Ons het ook ander geld saam met ons afgebring om voedsel te koop. Ons weet nie wie ons geld in ons sakke gesteek het nie.\n43:23 Toe antwoord hy: Vrede vir julle! Moenie bang wees nie! Julle God en die God van julle vader het julle 'n skat in jul sakke gegee. Julle geld het by my gekom. Daarop het hy S\u00edmeon na hulle uitgebring.\n43:24 En die man het die manne in die huis van Josef gebring en water aan hulle gegee, en hulle het hul voete gewas; hy het ook hulle esels voer gegee.\n43:25 En hulle het die geskenk reggemaak teen dat Josef die middag sou kom, want hulle het gehoor dat hulle daar brood sou eet.\n43:26 Toe Josef dan in die huis kom, het hulle vir hom die geskenk binnegebring wat by hulle was, en hulle voor hom neergebuig na die aarde toe.\n43:27 En hy het hulle na hul welstand gevra en ges\u00ea: Gaan dit goed met julle ou vader van wie julle gespreek het? Leef hy nog?\n43:28 En hulle antwoord: Dit gaan goed met u dienaar, ons vader; hy lewe nog. En hulle het hul eerbiedig neergebuig.\n43:29 Toe slaan hy sy o\u00eb op en sien sy broer Benjamin, die seun van sy moeder, en s\u00ea: Is dit julle jongste broer van wie julle met my gespreek het? Daarop s\u00ea hy: Mag God jou genadig wees, my seun!\n43:30 En Josef het gou gemaak, want sy binneste was ontroerd oor sy broer: hy het geleentheid gesoek om te ween en in die kamer gegaan en daar geween.\n43:31 Daarna het hy sy gesig gewas en uitgekom en hom bedwing en ges\u00ea: Bring die ete op!\n43:32 Toe bring hulle dit vir hom besonders op en vir hulle besonders en vir die Egiptenaars wat by hom eet, besonders; want die Egiptenaars mag nie saam met die Hebre\u00ebrs eet nie, omdat dit vir die Egiptenaars 'n gruwel is.\n43:33 En hulle het gaan sit volgens sy bepaling, die eersgeborene na sy eersgeboorte en die jongste na sy jonkheid. Toe kyk die manne mekaar verbaas aan.\n43:34 Hierop het hy aan hulle porsies uitgedeel van die ete wat voor hom staan; maar die porsie van Benjamin was vyf maal groter as die porsies van hulle almal. En hulle het gedrink en saam met hom vrolik geword.\n44:1 Toe gee hy bevel aan die opsigter oor sy huis en s\u00ea: Maak die sakke van die manne vol met lewensmiddele soveel as hulle kan vervoer, en sit elkeen se geld bo in sy sak;\n44:2 en my beker, die silwerbeker, moet jy bo in die jongste se sak sit saam met die geld vir sy koring. En hy het gehandel volgens die woord wat Josef gespreek het.\n44:3 Toe dit die m\u00f4re lig word, het hulle die manne laat trek, hulle met hul esels.\n44:4 Hulle het uit die stad uitgetrek, hulle was nog nie ver nie toe Josef aan die opsigter oor sy huis s\u00ea: Maak jou klaar en jaag die manne agterna; en as jy hulle inhaal, vra hulle dan: Waarom het julle kwaad vir goed vergelde?\n44:5 Is dit nie die ding waaruit my heer drink en waarmee hy altyd waarneem nie? Julle het verkeerd gehandel met wat julle gedoen het.\n44:6 En hy het hulle ingehaal en hierdie woorde aan hulle meegedeel.\n44:7 Toe s\u00ea hulle vir hom: Waarom spreek my heer sulke woorde? Dit is ver van u dienaars om so iets te doen.\n44:8 Kyk, geld wat ons bo in ons sakke gevind het, het ons uit die land Kana\u00e4n aan u teruggebring hoe sou ons dan silwer of goud uit die huis van u heer kan steel?\n44:9 Di\u00e9 een van u dienaars by wie dit gevind word, moet sterwe; en ons sal ook my heer se slawe wees.\n44:10 Toe s\u00ea hy: Nou goed, laat dit wees soos julle ges\u00ea het. Di\u00e9 een by wie dit gevind word, is my slaaf. Maar j\u00falle sal vry wees.\n44:11 Daarop het hulle gou elkeen sy sak op die grond neergesit en elkeen sy sak oopgemaak.\n44:12 En hy het gesoek; hy het begin by die oudste en opgehou by die jongste; en die beker is in Benjamin se sak gevind.\n44:13 Toe skeur hulle hul klere, en elkeen laai sy esel, en hulle gaan na die stad terug.\n44:14 En Juda het saam met sy broers in die huis van Josef gekom, terwyl hy nog daar was, en hulle het voor hom neergeval op die grond.\n44:15 Daarop s\u00ea Josef vir hulle: Wat is dit nou wat julle gedoen het? Weet julle nie dat 'n man soos ek dit ongetwyfeld moet waarneem nie?\n44:16 En Juda antwoord: Wat kan ons aan my heer s\u00ea? Wat kan ons spreek? En waarmee kan ons ons regverdig? God het die ongeregtigheid van u dienaars uitgevind. Kyk, ons is my heer se slawe, ons sowel as hy by wie die beker gevind is.\n44:17 Maar hy s\u00ea: Dit is ver van my om dit te doen; die man by wie die beker gevind is, di\u00e9 sal my slaaf wees. Maar trek j\u00falle in vrede op na julle vader.\n44:18 Toe kom Juda nader na hom en s\u00ea: Ag, my heer, mag u dienaar tog 'n woord spreek voor die ore van my heer, en laat u toorn nie teen u dienaar ontvlam nie, want u staan gelyk met Farao.\n44:19 My heer het sy dienaars gevra en ges\u00ea: Het julle 'n vader of broer?\n44:20 En ons het my heer geantwoord: Ons het 'n ou vader; en daar is 'n jong seun, 'n kind van die ouderdom, maar sy broer is dood; en hy het alleen oorgebly van sy moeder, en sy vader het hom lief.\n44:21 Toe het u aan u dienaars ges\u00ea: Bring hom af na my toe, dat ek my oog op hom kan rig.\n44:22 En ons het my heer geantwoord: Die seun kan sy vader nie verlaat nie, want sy vader sal sterwe as hy hom verlaat.\n44:23 Daarop het u aan u dienaars ges\u00ea: As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle my aangesig nie weer sien nie.\n44:24 En toe ons na u dienaar, my vader, opgetrek het en hom die woorde van my heer te kenne gegee het,\n44:25 het ons vader ges\u00ea: Gaan koop weer vir ons 'n bietjie voedsel.\n44:26 Maar ons het ges\u00ea: Ons kan nie aftrek nie. As ons jongste broer by ons is, sal ons aftrek; want ons mag die aangesig van die man nie sien as ons jongste broer nie by ons is nie.\n44:27 En u dienaar, my vader, het aan ons ges\u00ea: J\u00falle weet dat my vrou vir my twee gebaar het--\n44:28 die een het van my af weggegaan, en ek het ges\u00ea: Voorwaar, hy is verskeur, verskeur! En ek het hom tot hiertoe nie gesien nie.\n44:29 As julle nou hierdie een ook van my af wegneem en hom 'n ongeluk oorkom, dan sal julle my grys hare met droefenis in die doderyk laat afdaal.\n44:30 As ek dan nou by u dienaar, my vader, kom en die seun nie by ons is nie--terwyl sy siel innig aan hom verkleef is--\n44:31 sal hy sterwe as hy sien dat die seun daar nie is nie; en u dienaars sal die grys hare van u dienaar, ons vader, met kommer in die doderyk laat afdaal.\n44:32 Want u dienaar het die seun deur borgskap van my vader verkry deurdat hy ges\u00ea het: As ek hom nie na u bring nie, sal ek lewenslank teenoor my vader skuldig staan.\n44:33 Laat u dienaar dan nou tog in die plek van die seun my heer se slaaf bly, en laat die seun saam met sy broers optrek.\n44:34 Want hoe kan ek na my vader optrek as die seun nie by my is nie? Mag ek maar net die ellende nie aansien wat my vader sal tref nie!\n45:1 Toe kon Josef hom nie langer bedwing voor almal wat by hom gestaan het nie, en hy roep: Laat almal van my af weggaan! En daar het niemand by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie.\n45:2 Daarop bars hy in trane uit, sodat die Egiptenaars en ook die huis van Farao dit gehoor het.\n45:3 En Josef s\u00ea vir sy broers: Ek is Josef! Leef my vader nog? Maar sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle was verskrik voor hom.\n45:4 Verder s\u00ea Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, s\u00ea hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het.\n45:5 Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur.\n45:6 Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie.\n45:7 Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle 'n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot 'n groot verlossing.\n45:8 J\u00falle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God; en Hy het my 'n raadsman van Farao gemaak en 'n gebieder oor sy hele huis en 'n regeerder in die hele Egipteland.\n45:9 Trek gou op na my vader en s\u00ea vir hom: So spreek u seun Josef: God het my 'n gebieder oor die hele Egipteland gemaak. Kom af na my, moenie versuim nie!\n45:10 En u kan in die land Gosen woon en naby my wees, u en u kinders en u kindskinders en u kleinvee en u beeste en alles wat u besit.\n45:11 En ek sal u daar onderhou, want daar sal nog vyf jaar hongersnood wees; sodat u nie verarm nie, u en u huis en alles wat aan u behoort.\n45:12 En kyk, julle o\u00eb sien dit, en die o\u00eb van my broer Benjamin, dat dit my mond is wat met julle spreek.\n45:13 Vertel my vader dan van al my heerlikheid in Egipte en van alles wat julle gesien het, en bring my vader gou hierheen af.\n45:14 Toe val hy sy broer Benjamin om die hals en ween; en ook Benjamin het aan sy hals geween.\n45:15 En hy het al sy broers gesoen en aan hulle hals geween; en daarna het sy broers met hom gespreek.\n45:16 Toe die gerug in die huis van Farao gehoor word dat Josef se broers gekom het, was dit goed in die o\u00eb van Farao en van sy dienaars.\n45:17 En Farao het met Josef gespreek: S\u00ea aan jou broers: Doen dit, laai julle diere en trek weg na die land Kana\u00e4n.\n45:18 En gaan haal julle vader en julle huisgesinne en kom na my toe, dan sal ek julle die beste van Egipteland gee; en eet die vettigheid van die land.\n45:19 Jy kry dan bevel--doen dit: Neem vir julle uit Egipteland waens vir julle kinders en julle vroue, en vervoer julle vader en kom.\n45:20 En julle hoef geen spyt te h\u00ea oor julle huisraad nie, want die beste van die hele Egipteland is julle s'n.\n45:21 Die seuns van Israel het toe so gedoen; en Josef het vir hulle waens verskaf volgens die bevel van Farao en hulle padkos gegee vir die reis.\n45:22 Hy het aan hulle almal, man vir man, 'n stel nuwe klere gegee; maar aan Benjamin het hy drie honderd sikkels silwer en vyf stel nuwe klere gegee.\n45:23 En net so het hy ook aan sy vader gestuur tien esels, gelaai met die beste goed van Egipte, en tien eselinne, gelaai met koring en brood en voedsel vir sy vader op die reis.\n45:24 Daarop het hy sy broers weggestuur, en hulle het vertrek; en hy het aan hulle ges\u00ea: Moenie vir mekaar kwaad word op die pad nie.\n45:25 En hulle het opgetrek uit Egipte en in die land Kana\u00e4n aangekom by hulle vader Jakob.\n45:26 Toe hulle hom vertel: Josef lewe nog--en dat hy regeerder is in die hele Egipteland--het sy hart beswyk, want hy het hulle nie geglo nie.\n45:27 Maar toe hulle hom al die woorde van Josef te kenne gee wat hy met hulle gespreek het, en hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te vervoer, het die gees van Jakob, hulle vader, lewendig geword.\n45:28 En Israel het ges\u00ea: Dit is genoeg! My seun Josef lewe nog! Ek sal gaan en hom sien voordat ek sterwe.\n46:1 En Israel het weggetrek met alles wat aan hom behoort het, en in Bers\u00e9ba gekom; en hy het offerandes gebring aan die God van sy vader Isak.\n46:2 En God het tot Israel gespreek in naggesigte en ges\u00ea: Jakob, Jakob! En hy antwoord: Hier is ek!\n46:3 Toe s\u00ea Hy: Ek is God, die God van jou vader. Moenie bevrees wees om na Egipte af te trek nie, want Ek sal jou daar 'n groot nasie maak.\n46:4 Ek sal saam met jou aftrek na Egipte, en Ek sal jou gewis ook weer laat optrek; en Josef sal jou o\u00eb toedruk.\n46:5 Daarna het Jakob weggetrek van Bers\u00e9ba af. En die seuns van Israel het hulle vader Jakob met hulle kinders en hulle vroue op die waens gelaai wat Farao gestuur het om hom te vervoer.\n46:6 En hulle het hul vee en besittings geneem wat hulle in die land Kana\u00e4n verwerf het, en in Egipte gekom, Jakob en sy hele geslag saam met hom:\n46:7 sy seuns en sy kleinseuns saam met hom; sy dogters en kleindogters en sy hele geslag het hy saam met hom in Egipte gebring.\n46:8 En dit is die name van die seuns van Israel wat in Egipte gekom het--Jakob en sy seuns. Die eersgeborene van Jakob was Ruben.\n46:9 En die seuns van Ruben: Henog en Pallu en Hesron en Karmi.\n46:10 En die seuns van S\u00edmeon: J\u00e9muel en Jamin en Ohad en Jagin en Sohar en Saul, die seun van die Kana\u00e4nitiese vrou.\n46:11 En die seuns van Levi: Gerson, Kehat en Mer\u00e1ri.\n46:12 En die seuns van Juda: Er en Onan en Sela en Peres en Serag. Maar Er en Onan het gesterwe in die land Kana\u00e4n; en die seuns van Peres was Hesron en Hamul.\n46:13 En die seuns van Issaskar: Tola en Puwa en Job en Simron.\n46:14 En die seuns van S\u00e9bulon: Sered en Elon en J\u00e1gle\u00ebl.\n46:15 Dit is die seuns van Lea wat sy vir Jakob gebaar het in Paddan-Aram, saam met sy dogter Dina; al die siele van sy seuns en dogters was drie en dertig.\n46:16 En die seuns van Gad: Sifjon en Haggi, Suni en Esbon, Eri en Ar\u00f3di en Are\u00ebli.\n46:17 En die seuns van Aser: Jimna en Jiswa en Jiswi en Ber\u00eda en Serag, hulle suster; en die seuns van Ber\u00eda: Heber en M\u00e1lki\u00ebl.\n46:18 Dit is die seuns van Silpa wat Laban aan sy dogter Lea gegee het; en sy het vir Jakob hierdie sestien siele gebaar.\n46:19 Die seuns van Ragel, die vrou van Jakob: Josef en Benjamin.\n46:20 En vir Josef is in Egipteland gebore Manasse en Efraim wat Asenat, die dogter van Potif\u00e9ra, die priester van On, vir hom gebaar het.\n46:21 En die seuns van Benjamin: Bela en Beger en Asbel, Gera en Na\u00e4man, Egi en Ros, Muppim en Huppim en Ard.\n46:22 Dit is die seuns van Ragel wat vir Jakob gebore is, almal saam veertien siele.\n46:23 En die seuns van Dan: Husim.\n46:24 En die seuns van N\u00e1ftali: J\u00e1gse\u00ebl en Guni en Jeser en Sillem.\n46:25 Dit is die seuns van Bilha wat Laban aan sy dogter Ragel gegee het; en sy het hulle vir Jakob gebaar, almal saam sewe siele.\n46:26 Al die siele wat aan Jakob behoort het en, uit sy heup afkomstig, na Egipte gegaan het, behalwe die vroue van die seuns van Jakob, was almal saam ses en sestig siele.\n46:27 En die seuns van Josef wat vir hom in Egipte gebore is, was twee siele. Al die siele van die huis van Jakob wat in Egipte gekom het, was sewentig.\n46:28 En hy het Juda voor hom uit gestuur na Josef, dat di\u00e9 voor hom uit die pad moes wys na Gosen; en hulle het in die land Gosen aangekom.\n46:29 Toe span Josef sy wa in, en hy trek op, sy vader Israel tegemoet na Gosen. En toe hy homself aan hom vertoon, het hy om sy hals geval en lank aan sy hals geween.\n46:30 En Israel s\u00ea vir Josef: Nou kan ek sterwe nadat ek jou aangesig gesien het, dat jy nog leef!\n46:31 Daarna het Josef met sy broers en die huis van sy vader gespreek: Ek sal optrek en aan Farao vertel en aan hom s\u00ea: My broers en die huis van my vader wat in die land Kana\u00e4n was, het na my gekom.\n46:32 En die manne is herders van kleinvee--want hulle was veeboere--en hulle het hul kleinvee en hul beeste en alles wat hulle besit, saamgebring.\n46:33 En as Farao julle laat roep en s\u00ea: Wat is julle nering?\n46:34 dan moet julle antwoord: U dienaars was veeboere van ons jeug af tot nou toe, ons sowel as ons vaders--sodat julle in die land Gosen kan woon. Want elke herder van kleinvee is vir die Egiptenaars 'n gruwel.\n47:1 Daarop het Josef gekom en aan Farao vertel en ges\u00ea: My vader en my broers en hulle kleinvee en beeste en alles wat hulle besit, het gekom uit die land Kana\u00e4n, en daar is hulle nou in die land Gosen.\n47:2 En hy het uit die getal van sy broers vyf man saamgeneem en hulle aan Farao voorgestel.\n47:3 Toe s\u00ea Farao aan sy broers: Wat is julle nering? En hulle antwoord Farao: U dienaars is herders van kleinvee, ons sowel as ons vaders.\n47:4 Verder s\u00ea hulle vir Farao: Ons het gekom om as vreemdelinge in die land te vertoef, want daar is geen weiding vir die kleinvee van u dienaars nie, omdat die hongersnood in die land Kana\u00e4n swaar is. Laat u dienaars dan nou tog in die land Gosen woon.\n47:5 Daarop het Farao met Josef gespreek en ges\u00ea: Jou vader en jou broers het na jou gekom.\n47:6 Egipteland l\u00ea voor jou oop; laat jou vader en jou broers in die beste deel van die land woon; hulle kan in die land Gosen woon. En as jy weet dat daar onder hulle bekwame manne is, stel hulle dan aan as vee-opsigters oor my eiendom.\n47:7 Toe bring Josef sy vader Jakob in en stel hom aan Farao voor. En Jakob het Farao gegroet met 'n se\u00ebnwens.\n47:8 Daarop s\u00ea Farao vir Jakob: Hoeveel is die dae van jou lewensjare?\n47:9 En Jakob het Farao geantwoord: Die dae van die jare van my vreemdelingskap is honderd en dertig jaar. Min in getal en vol te\u00ebspoed was die dae van my lewensjare, en hulle het nie gehaal by die dae van die lewensjare van my vaders gedurende die dae van hulle vreemdelingskap nie.\n47:10 Toe het Jakob Farao gegroet met 'n se\u00ebnwens en van Farao af weggegaan.\n47:11 En Josef het vir Jakob en sy broers woonplekke aangewys en aan hulle besitting in Egipteland gegee, in die beste deel van die land, in die landstreek Ra\u00e4mses, soos Farao beveel het.\n47:12 En Josef het sy vader en sy broers en die hele huis van sy vader met brood onderhou ooreenkomstig die getal van die kinders.\n47:13 En daar was in die hele land geen brood nie, want die hongersnood was baie swaar, sodat Egipteland en die land Kana\u00e4n uitgeput was weens die hongersnood.\n47:14 En Josef het al die geld versamel wat in Egipteland en in die land Kana\u00e4n te vinde was, vir die koring wat hulle gekoop het, en Josef het die geld in die paleis van Farao gebring.\n47:15 En toe die geld in Egipteland en in die land Kana\u00e4n op was, het al die Egiptenaars na Josef gekom en ges\u00ea: Gee vir ons brood! En: Waarom moet ons voor u o\u00eb sterwe, want die geld is gedaan?\n47:16 En Josef antwoord: Gee julle vee, dan sal ek dit aan julle gee vir julle vee as die geld gedaan is.\n47:17 Toe bring hulle hul vee na Josef, en Josef het aan hulle brood gegee vir die perde en die besitting aan kleinvee en beeste en vir die esels; en hy het hulle di\u00e9 jaar versorg met brood vir die waarde van al hulle besittings aan vee.\n47:18 Toe di\u00e9 jaar om was, het hulle na hom gekom in die tweede jaar en vir hom ges\u00ea: Ons kan dit vir my heer nie wegsteek nie, maar die geld is op en die besitting aan vee is my heer s'n. Daar het niks vir my heer oorgebly nie as net ons lyf en ons grond.\n47:19 Waarom moet ons voor u o\u00eb te gronde gaan, ons sowel as ons landerye? Koop ons en ons grond vir brood, dan sal ons met ons grond aan Farao diensbaar wees; en gee saadkoring, dat ons kan lewe en nie sterwe nie, en dat die grond nie woes word nie.\n47:20 So het Josef dan al die grond van Egipte vir Farao opgekoop, want die Egiptenaars het elkeen sy stuk grond verkoop, omdat die hongersnood vir hulle te swaar was. So het die land dan Farao se eiendom geword.\n47:21 En wat die volk betref--hy het hulle laat verhuis na die stede, van die een end van die Egiptiese gebied na die ander end daarvan.\n47:22 Net die grond van die priesters het hy nie gekoop nie; want die priesters het 'n vaste inkomste van Farao ontvang en van hulle vaste inkomste ge\u00ebet wat Farao hulle toegestaan het. Daarom het hulle hul grond nie verkoop nie.\n47:23 Toe s\u00ea Josef aan die volk: Kyk, ek het vandag julle en jul grond vir Farao gekoop: daar is saadkoring vir julle, dat julle die grond kan besaai.\n47:24 En by die insameling moet julle 'n vyfde deel aan Farao afgee, en die ander vier dele sal julle eiendom wees, as saad vir die land en as voedsel vir julleself en die wat in julle huise is, en as voeding vir julle kinders.\n47:25 En hulle antwoord: U het ons lewe gered. Laat ons guns mag vind in die o\u00eb van my heer, dan sal ons die dienaars van Farao wees.\n47:26 En Josef het dit 'n wet gemaak tot vandag toe vir die saaigrond van Egipte--die vyfde deel behoort aan Farao. Net die grond van die priesters alleen het nie die eiendom van Farao geword nie.\n47:27 So het Israel dan in Egipteland gewoon, in die land Gosen; en hulle het vaste besittings daarin verwerf en vrugbaar geword en sterk vermeerder.\n47:28 En Jakob het sewentien jaar in Egipteland gelewe, sodat die dae van Jakob, die jare van sy lewe, honderd sewe en veertig jaar was.\n47:29 En toe die dae van Israel nader kom dat hy moes sterwe, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom ges\u00ea: As ek nou guns in jou o\u00eb gevind het, sit dan tog jou hand onder my heup en bewys my liefde en trou--begrawe my tog nie in Egipte nie.\n47:30 Wanneer ek met my vaders ontslaap het, bring my dan weg uit Egipte en begrawe my in hulle graf. En hy antwoord: Ek sal handel ooreenkomstig u woord.\n47:31 Toe s\u00ea hy: Sweer my dit tog. En hy het vir hom gesweer. Toe het Israel in aanbidding gebuig oor die koppenent van die bed.\n48:1 N\u00e1 hierdie dinge het hulle aan Josef meegedeel: Kyk, u vader is siek. Toe neem hy sy twee seuns, Manasse en Efraim, met hom saam.\n48:2 En hulle het aan Jakob berig gebring en ges\u00ea: Kyk, u seun Josef kom na u toe. Daarop het Jakob sy krag versamel en op die bed gaan sit.\n48:3 En Jakob het vir Josef ges\u00ea: God, die Almagtige, het aan my verskyn by Lus, in die land Kana\u00e4n, en my gese\u00ebn\n48:4 en vir my ges\u00ea: Kyk, Ek sal jou vrugbaar maak en jou vermeerder en jou tot 'n menigte van volke maak, en Ek sal aan jou nageslag n\u00e1 jou hierdie land as ewige besitting gee.\n48:5 Nou dan, jou twee seuns wat vir jou in Egipteland gebore is voordat ek in Egipte na jou gekom het, is myne. Efraim en Manasse sal myne wees net soos Ruben en S\u00edmeon.\n48:6 Maar jou nakomelinge wat jy n\u00e1 hulle verwek het, sal joue wees. Hulle sal na die naam van hulle broers genoem word in di\u00e9 se erfdeel.\n48:7 En toe ek van Paddan gekom het, het Ragel by my gesterwe in die land Kana\u00e4n, op die reis toe daar nog 'n kort ent pad was om by Efrat te kom; en ek het haar daar begrawe langs die pad na Efrat, dit is Betlehem.\n48:8 Toe Israel die seuns van Josef sien, s\u00ea hy: Wie is dit?\n48:9 En Josef antwoord sy vader: Dit is my seuns wat God my hier gegee het. En hy s\u00ea: Bring hulle tog by my, dat ek hulle kan se\u00ebn.\n48:10 Maar Israel se o\u00eb was swaar van ouderdom, hy kon nie sien nie. En toe hy hulle by hom bring, het hy hulle gesoen en hulle omhels.\n48:11 En Israel s\u00ea vir Josef: Ek het geen gedagte gehad om jou aangesig te sien nie, en kyk, God het my ook jou nageslag laat sien.\n48:12 Daarop laat Josef hulle van sy knie\u00eb af weggaan, en hy buig hom met sy aangesig na die aarde toe.\n48:13 En Josef neem hulle twee Efraim met sy regterhand, links van Israel, en Manasse met sy linkerhand, regs van Israel en hy bring hulle by hom.\n48:14 Toe steek Israel sy regterhand uit en l\u00ea dit op die hoof van Efraim, hoewel hy die jongste was, en sy linkerhand op die hoof van Manasse: hy het sy hande oorkruis gehou, want Manasse was die eersgeborene.\n48:15 En hy het Josef gese\u00ebn en ges\u00ea: Die God voor wie se aangesig my vaders Abraham en Isak gewandel het, die God wat my as Herder my lewe lank gelei het tot vandag toe,\n48:16 die Engel wat my uit elke te\u00ebspoed verlos het--mag Hy die seuns se\u00ebn, en mag deur hulle my naam genoem word en die naam van my vaders Abraham en Isak, en mag hulle vermeerder in die land in menigte.\n48:17 Toe Josef sien dat sy vader sy regterhand op die hoof van Efraim gel\u00ea het, was dit verkeerd in sy o\u00eb; en hy het die hand van sy vader gegryp om dit van die hoof van Efraim op die hoof van Manasse oor te bring.\n48:18 En Josef s\u00ea aan sy vader: Nie so nie, my vader; want hierdie een is die eersgeborene: l\u00ea u regterhand op sy hoof.\n48:19 Maar sy vader weier en s\u00ea: Ek weet, my seun, ek weet. Hy sal ook 'n volk word, en hy sal ook groot word; nogtans sal sy jongste broer groter wees as hy, en sy nageslag sal 'n menigte van nasies word.\n48:20 So het hy hulle dan di\u00e9 dag gese\u00ebn en ges\u00ea: Met jou sal Israel 'n se\u00ebn toewens, met die woorde: Mag God jou maak soos Efraim en soos Manasse! So het hy dan Efraim voor Manasse gestel.\n48:21 Daarop s\u00ea Israel vir Josef: Kyk, ek gaan sterwe, maar God sal met julle wees, en Hy sal julle terug laat gaan na die land van julle vaders.\n48:22 En \u00e9k gee jou een stuk land bo jou broers, wat ek met my swaard en my boog van die Amoriete afgeneem het.\n49:1 Daarna het Jakob sy seuns geroep en ges\u00ea: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar.\n49:2 Versamel en hoor, seuns van Jakob, en luister na Israel, julle vader!\n49:3 Ruben, jy is my eersgeborene, my krag en die eersteling van my sterkte; die vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag!\n49:4 Opbruising soos van waters--jy sal die vernaamste nie wees nie, want jy het die bed van jou vader beklim; toe het jy dit ontheilig. Hy het my bed beklim.\n49:5 S\u00edmeon en Levi is broers. Hulle wapens is werktuie van geweld.\n49:6 Laat my siel nie kom in hulle raad nie, laat my eer nie eens wees met hulle vergadering nie. Want in hul toorn het hulle manne doodgeslaan, en in hulle moedswilligheid het hulle beeste vermink.\n49:7 Vervloek is hulle toorn, want dit is heftig; en hulle grimmigheid, want dit is hard. Ek sal hulle verdeel in Jakob en hulle verstrooi in Israel.\n49:8 Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig.\n49:9 Juda is 'n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan l\u00ea soos 'n leeu en soos 'n leeuin; wie sal hom opjaag?\n49:10 Die septer sal van Juda nie wyk nie, n\u00f3g die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.\n49:11 Hy maak sy jong esel vas aan die wingerdstok en die vul van sy eselin aan die edelste wynstok; Hy was sy kleed in wyn en sy gewaad in druiwebloed.\n49:12 Hy is donkerder van o\u00eb as wyn en witter van tande as melk.\n49:13 S\u00e9bulon sal woon by die strand van die see; en hy sal by die strand van die skepe wees, met die sykant na Sidon toe.\n49:14 Issaskar is 'n sterkgebeende esel wat tussen die veekrale l\u00ea.\n49:15 Toe hy sien dat die rus goed en die land lieflik is, het hy sy skouer gebuig om te dra, en hy moes dwangarbeid verrig.\n49:16 Dan sal aan sy volk reg verskaf net soos enigeen van die stamme van Israel.\n49:17 Laat Dan 'n slang wees op die weg, 'n horingslang op die pad, wat die perd aan die hakskene byt, sodat sy ruiter agteroorval.\n49:18 Op u verlossing wag ek, HERE!\n49:19 Gad--'n bende sal hom aanval, maar hy sal hulle aan die hakskeen gryp.\n49:20 Aser, sy spys is vet, en hy lewer koninklike lekkernye.\n49:21 N\u00e1ftali is soos 'n wildsbok so vry, hy wat mooi woorde laat hoor.\n49:22 Josef is 'n jong vrugteboom, 'n jong vrugteboom by 'n fontein; sy takke klim oor die muur.\n49:23 Die boogskutters het hom wel geprikkel en hom beskiet en hom bestry,\n49:24 maar sy boog het sterk gebly, en die arms van sy hande was buigsaam, deur die hande van die Magtige van Jakob--daarvandaan waar die Herder, die Steen van Israel, is,\n49:25 van die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige wat jou se\u00ebn met se\u00ebninge van die hemel daarbo, met se\u00ebninge van die watervloed wat daaronder l\u00ea, met se\u00ebninge van borste en moederskoot.\n49:26 Die se\u00ebninge wat jou vader ontvang het, oortref die se\u00ebninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers.\n49:27 Benjamin is 'n wolf wat verskeur; in die m\u00f4re eet hy sy prooi, en in die aand deel hy buit uit.\n49:28 H\u00falle almal is die twaalf stamme van Israel; en dit is wat hulle vader aan hulle ges\u00ea het, en hy het hulle gese\u00ebn; hy het hulle gese\u00ebn, elkeen volgens sy besondere se\u00ebn.\n49:29 Daarna het hy hulle bevel gegee en aan hulle ges\u00ea: Ek word versamel by my volk. Begrawe my by my vaders in die spelonk wat op die stuk grond van Efron, die Hetiet, is;\n49:30 in die spelonk wat op die stuk grond van Magp\u00e9la is, wat oos van Mamre l\u00ea, in die land Kana\u00e4n; die stuk grond wat Abraham van Efron, die Hetiet, as eiendomsgraf gekoop het.\n49:31 Daar het hulle Abraham begrawe en Sara, sy vrou; daar het hulle Isak begrawe en Rebekka, sy vrou; en daar het ek Lea begrawe--\n49:32 die stuk grond en die spelonk wat daarin is, wat gekoop is van die seuns van Het.\n49:33 Toe Jakob klaar sy bevele aan sy seuns gegee het, trek hy sy voete terug op die bed en blaas die asem uit; en hy is by sy volksgenote versamel.\n50:1 Toe val Josef op sy vader se aangesig, en hy het oor hom geween en hom gesoen.\n50:2 En Josef het aan sy dienaars, die geneeshere, bevel gegee om sy vader te balsem. En die geneeshere het Israel gebalsem.\n50:3 En veertig dae het daarvoor verbygegaan; want so lank duur die dae van balseming. En die Egiptenaars het hom sewentig dae lank beween.\n50:4 En toe die dae van geween oor hom verby was, het Josef met die huis van Farao gespreek en ges\u00ea: As ek dan guns in julle o\u00eb gevind het, spreek tog dit voor die ore van Farao:\n50:5 My vader het my laat sweer en ges\u00ea: Kyk, ek gaan sterwe; in my graf wat ek vir my in die land Kana\u00e4n uitgekap het, daar moet jy my begrawe. Laat my dan nou tog optrek en my vader begrawe. Daarna sal ek terugkom.\n50:6 En Farao s\u00ea: Trek op en begrawe jou vader soos hy jou laat sweer het.\n50:7 Toe het Josef opgetrek om sy vader te begrawe, en al die dienaars van Farao, die oudstes van sy huis, het saam met hom opgetrek, en al die oudstes van Egipteland;\n50:8 ook die hele huis van Josef en sy broers en die huis van sy vader. Net hulle kinders en hulle kleinvee en hulle beeste het hulle in die land Gosen laat agterbly.\n50:9 En saam met hom het opgetrek strydwaens sowel as ruiters, sodat dit 'n baie groot trek was.\n50:10 En toe hulle by die Steekdoring-dorsvloer kom, wat oos van die Jordaan l\u00ea, het hulle daar 'n groot en baie swaar rouklag gehou. En hy het oor sy vader rou laat bedrywe sewe dae lank.\n50:11 Toe die inwoners van die land, die Kana\u00e4niete, die roubedryf by die Steekdoring-dorsvloer sien, s\u00ea hulle: Dit is 'n swaar rou vir die Egiptenaars. Daarom het hulle dit Abel-Misraim genoem, wat oos van die Jordaan l\u00ea.\n50:12 En sy seuns het met hom gedoen net soos hy hulle beveel het:\n50:13 sy seuns het hom weggebring na die land Kana\u00e4n en hom begrawe in die spelonk van die stuk grond van Magp\u00e9la, die stuk grond wat Abraham as eiendomsgraf gekoop het van Efron, die Hetiet, oos van Mamre.\n50:14 Daarna het Josef na Egipte teruggegaan, hy en sy broers en almal wat saam met hom opgetrek het om sy vader te begrawe, nadat hy sy vader begrawe het.\n50:15 Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood was, het hulle ges\u00ea: S\u00ea nou Josef gaan ons as vyande behandel en hy gaan ons werklik vergelde al die kwaad wat ons hom aangedoen het!\n50:16 Daarom het hulle hierdie boodskap na Josef gestuur: U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde:\n50:17 So moet julle vir Josef s\u00ea: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons wat die God van u vader dien. En Josef het geween toe hulle met hom spreek.\n50:18 En sy broers het ook self gegaan en voor hom neergeval en ges\u00ea: Kyk, ons is u slawe.\n50:19 Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God?\n50:20 Want j\u00falle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om 'n groot volk in die lewe te hou.\n50:21 Wees dan nou nie bevrees nie: \u00e9k sal julle en julle kinders onderhou. So het hy hulle dan getroos en na hulle hart gespreek.\n50:22 En Josef het in Egipte gewoon, hy en die huis van sy vader. En Josef het honderd en tien jaar gelewe.\n50:23 En Josef het van Efraim kinders gesien van die derde geslag. Ook die kinders van Magir, die seun van Manasse, is op Josef se knie\u00eb gebore.\n50:24 En Josef het aan sy broers ges\u00ea: Ek gaan sterwe, maar God sal gewis op julle ag gee en julle uit hierdie land laat optrek na die land wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob met 'n eed beloof het.\n50:25 En Josef het die seuns van Israel laat sweer en ges\u00ea: As God sekerlik op julle ag sal gee--bring dan my gebeente hiervandaan op.\n50:26 En Josef het gesterwe, honderd en tien jaar oud. En hulle het hom gebalsem, en hy is in 'n kis gesit in Egipte.","title":"Afrikaans Bible: Genesis","type":"page"}
