{"collection":"Bible & Christianity","html_url":"https://unchartedknowledge.5gfusion.net/browse/bib/wb/afr/jo3.htm","path":"bib/wb/afr/jo3.htm","source_url":"https://sacred-texts.com/bib/wb/afr/jo3.htm","text":"1:1 Die ouderling aan die geliefde Gajus wat ek in waarheid liefhet.\n1:2 Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan;\n1:3 want ek was baie bly as daar broeders kom en van jou waarheid getuig, soos jy in die waarheid wandel.\n1:4 Ek het geen groter blydskap as dit nie, dat ek hoor dat my kinders in die waarheid wandel.\n1:5 Geliefde, jy handel getrou in alles wat jy doen vir die broeders, en dit vir vreemdelinge,\n1:6 wat van jou liefde voor die gemeente getuig het. Jy sal goed doen as jy hulle voorthelp op 'n voor God waardige wyse.\n1:7 Want vir sy Naam het hulle uitgegaan sonder om iets van die heidene te neem.\n1:8 Ons behoort dan sulke mense goed te ontvang, sodat ons mede-arbeiders van die waarheid kan word.\n1:9 Ek het aan die gemeente geskrywe, maar Di\u00f3trefes, wat onder hulle die eerste wil wees, steur hom nie aan ons nie.\n1:10 Daarom, as ek kom, sal ek hom herinner aan die werke wat hy doen deur met slegte woorde teen ons uit te vaar; en hiermee nie tevrede nie, ontvang hy nie alleen self die broeders nie gasvry nie, maar verhinder ook die wat dit wil doen en werp hulle uit die gemeente.\n1:11 Geliefde, moenie navolg wat kwaad is nie, maar wat goed is. Hy wat goed doen, is uit God; maar hy wat kwaad doen, het God nie gesien nie.\n1:12 Van Dem\u00e9trius is deur almal getuienis gegee en deur die waarheid self; en ons getuig ook, en julle weet dat ons getuienis waar is.\n1:13 Ek het baie dinge gehad om te skrywe, maar ek wil nie met ink en pen aan jou skryf nie.\n1:14 Maar ek hoop om jou gou te sien, en ons sal van mond tot mond spreek.\n1:15 Vrede vir jou! Die vriende groet jou. Groet die vriende by die naam.","title":"Afrikaans Bible: 3 John","type":"page"}
