{"collection":"Bible & Christianity","html_url":"https://unchartedknowledge.5gfusion.net/browse/bib/wb/afr/luk.htm","path":"bib/wb/afr/luk.htm","source_url":"https://sacred-texts.com/bib/wb/afr/luk.htm","text":"1:1 Aangesien baie onderneem het om 'n verhaal op te stel oor die dinge wat onder ons al vervul is,\n1:2 soos hulle wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was, dit aan ons oorgelewer het,\n1:3 het ek ook dit goedgedink, hooggeagte The\u00f3filus, nadat ek van voor af alles noukeurig ondersoek het, om dit in volgorde aan u te skrywe,\n1:4 sodat u met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent u onderrig is.\n1:5 Daar was in die dae van Herodes, koning van Jud\u00e9a, 'n sekere priester met die naam van Sagar\u00eda, uit die afdeling van Ab\u00eda; en sy vrou was uit die dogters van A\u00e4ron, en haar naam was Elisabet.\n1:6 En hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel.\n1:7 En hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei op ver gevorderde leeftyd.\n1:8 En terwyl hy besig was om die priesteramp voor God te bedien in die beurt van sy afdeling,\n1:9 het die lot volgens priesterlike gewoonte op hom geval om in te gaan in die tempel van die Here en reukwerk te brand.\n1:10 En die hele menigte van die volk was buite, besig om te bid op die uur van die reukoffer.\n1:11 Toe verskyn daar aan hom 'n engel van die Here, wat aan die regterkant van die reukofferaltaar staan.\n1:12 En toe Sagar\u00eda hom sien, was hy ontsteld, en vrees het hom oorval.\n1:13 Maar die engel s\u00ea vir hom: Moenie vrees nie, Sagar\u00eda, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou 'n seun baar, en jy moet hom Johannes noem.\n1:14 En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte bly wees;\n1:15 want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af.\n1:16 En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God.\n1:17 En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van El\u00eda, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here 'n toegeruste volk te berei.\n1:18 Toe s\u00ea Sagar\u00eda vir die engel: Waaraan sal ek dit weet? Want ek is 'n ou man, en my vrou is op ver gevorderde leeftyd.\n1:19 En die engel antwoord en s\u00ea vir hom: Ek is Gabri\u00ebl wat voor God staan, en ek is gestuur om met jou te spreek en jou hierdie goeie tyding te bring.\n1:20 En kyk, jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie.\n1:21 En die volk het op Sagar\u00eda bly wag en was verwonderd dat hy so lank in die tempel vertoef.\n1:22 Maar toe hy uitkom, kon hy met hulle nie praat nie; hulle bemerk toe dat hy 'n gesig in die tempel gesien het. En hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly.\n1:23 En toe die dae van sy diens vervul was, het hy huis toe gegaan.\n1:24 En n\u00e1 hierdie dae het Elisabet, sy vrou, ontvang en haar vyf maande lank verberg en ges\u00ea:\n1:25 So het die Here met my gedoen in die dae toe Hy my aangesien het om my smaad onder die mense weg te neem.\n1:26 En in die sesde maand is die engel Gabri\u00ebl deur God gestuur na 'n stad in Galil\u00e9a met die naam van N\u00e1saret,\n1:27 na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria.\n1:28 En die engel het by haar binnegekom en ges\u00ea: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; gese\u00ebnd is jy onder die vroue.\n1:29 En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken.\n1:30 En die engel s\u00ea vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind.\n1:31 En kyk, jy sal swanger word en 'n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.\n1:32 Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee,\n1:33 en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.\n1:34 Toe s\u00ea Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie?\n1:35 En die engel antwoord en s\u00ea vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.\n1:36 En kyk, Elisabet, jou bloedverwant, het self ook 'n seun ontvang in haar ouderdom, en hierdie maand is die sesde vir haar wat onvrugbaar genoem is.\n1:37 Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.\n1:38 En Maria s\u00ea: Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord. En die engel het van haar weggegaan.\n1:39 En in daardie dae het Maria opgestaan en haastig na die bergstreek gegaan, na 'n stad van Juda;\n1:40 en sy het in die huis van Sagar\u00eda gekom en Elisabet gegroet.\n1:41 En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar skoot opgespring; en Elisabet is vervul met die Heilige Gees\n1:42 en het met 'n groot stem uitgeroep en ges\u00ea: Gese\u00ebnd is jy onder die vroue, en gese\u00ebnd is die vrug van jou skoot!\n1:43 En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom?\n1:44 Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring.\n1:45 En salig is sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar ges\u00ea is, sal vervul word.\n1:46 En Maria het ges\u00ea: My siel maak die Here groot,\n1:47 en my gees is verheug in God, my Saligmaker;\n1:48 omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het; want kyk, van nou af sal al die geslagte my salig noem.\n1:49 Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilig is sy Naam.\n1:50 En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees.\n1:51 Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi.\n1:52 Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog.\n1:53 Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met le\u00eb hande weggestuur.\n1:54 Hy het sy kneg Israel bygestaan, sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink\n1:55 soos Hy tot ons vaders gespreek het--aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.\n1:56 En Maria het by haar omtrent drie maande gebly; en sy het teruggegaan na haar huis toe.\n1:57 En die tyd dat sy moeder moes word, is vir Elisabet vervul, en sy het 'n seun gebaar.\n1:58 En toe haar bure en bloedverwante hoor dat die Here sy barmhartigheid aan haar groot gemaak het, was hulle saam met haar bly.\n1:59 En op die agtste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagar\u00eda noem, na die naam van sy vader.\n1:60 Toe antwoord sy moeder en s\u00ea: Nee, maar hy moet Johannes genoem word.\n1:61 En hulle s\u00ea vir haar: Daar is niemand in jou familie wat di\u00e9 naam het nie.\n1:62 En hulle beduie vir sy vader hoe hy wou h\u00ea dat hy genoem moes word.\n1:63 Hy vra toe 'n skryfbordjie en skryf: Johannes is sy naam. En almal was verwonderd.\n1:64 En onmiddellik is sy mond geopen en het sy tong losgeraak, en hy het gepraat en God geloof.\n1:65 En daar het vrees gekom oor almal wat rondom hulle gewoon het, en daar is baie gepraat oor al hierdie dinge in die hele bergstreek van Jud\u00e9a.\n1:66 En almal wat dit gehoor het, het dit ter harte geneem en ges\u00ea: Wat sal tog van hierdie kindjie word? En die hand van die Here was met hom.\n1:67 En Sagar\u00eda, sy vader, is vervul met die Heilige Gees en het geprofeteer en ges\u00ea:\n1:68 Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het,\n1:69 en 'n horing van heil vir ons opgerig het in die huis van Dawid, sy kneg--\n1:70 soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af--\n1:71 redding van ons vyande en uit die hand van almal wat vir ons haat,\n1:72 om barmhartigheid te bewys aan ons vaders en aan sy heilige verbond te dink,\n1:73 aan die eed wat Hy gesweer het vir Abraham, ons vader, om aan ons te gee\n1:74 dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien,\n1:75 in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe.\n1:76 En jy, kindjie, sal 'n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal voor die aangesig van die Here uitgaan om sy we\u00eb reg te maak;\n1:77 om kennis van saligheid aan sy volk te gee in die vergifnis van hulle sondes,\n1:78 deur die innige barmhartigheid van onse God waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het,\n1:79 om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig.\n1:80 En die kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees; en hy was in die woestyne tot op die dag van sy vertoning aan Israel.\n2:1 En in daardie dae het daar 'n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele w\u00eareld ingeskryf moes word.\n2:2 Hierdie eerste inskrywing het plaasgevind toe Cir\u00e9nius goewerneur van S\u00edri\u00eb was.\n2:3 En almal het gegaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad.\n2:4 En Josef het ook opgegaan van Galil\u00e9a, uit die stad N\u00e1saret, na Jud\u00e9a, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was,\n2:5 om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was.\n2:6 En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar;\n2:7 en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergel\u00ea, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.\n2:8 En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het.\n2:9 En meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig.\n2:10 En die engel s\u00ea vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,\n2:11 dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.\n2:12 En dit is vir julle die teken: julle sal 'n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip l\u00ea.\n2:13 En skielik was daar saam met die engel 'n menigte van die hemelse le\u00ebrskare wat God prys en s\u00ea:\n2:14 Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense 'n welbehae!\n2:15 En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, s\u00ea die herders vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het.\n2:16 En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat in die krip l\u00ea.\n2:17 En toe hulle dit gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat aan hulle van di\u00e9 Kindjie vertel is.\n2:18 En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is;\n2:19 maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink.\n2:20 En die herders het teruggegaan en God verheerlik en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos aan hulle ges\u00ea is.\n2:21 En toe agt dae vervul was, dat hulle die Kindjie sou besny, het hulle Hom Jesus genoem, die naam wat deur die engel gegee is voor sy ontvangenis in die moederskoot.\n2:22 En nadat die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses vervul was, het hulle Hom na Jerusalem gebring om Hom aan die Here voor te stel,\n2:23 soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike kind wat die moederskoot open, sal heilig vir die Here genoem word;\n2:24 en om die offer te gee volgens wat ges\u00ea is in die wet van die Here: 'n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.\n2:25 En daar was 'n man in Jerusalem met die naam van S\u00edmeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom.\n2:26 En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie.\n2:27 En hy het deur die Gees in die tempel gekom; en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet,\n2:28 het hy Hom in sy arms geneem en God geloof en ges\u00ea:\n2:29 Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord,\n2:30 omdat my o\u00eb u heil gesien het,\n2:31 wat U berei het voor die o\u00eb van al die volke--\n2:32 'n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.\n2:33 En Josef en sy moeder het hulle verwonder oor die dinge wat van Hom ges\u00ea is.\n2:34 En S\u00edmeon het hulle gese\u00ebn en aan Maria, sy moeder, ges\u00ea: Kyk, hierdie Kind is bestemd tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word--\n2:35 ja, 'n swaard sal deur jou eie siel gaan--sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word.\n2:36 En daar was Anna, 'n profetes, die dogter van F\u00e1nuel, uit die stam van Aser. Sy was op baie ver gevorderde leeftyd en het van haar maagdom af sewe jaar lank met haar man saamgelewe;\n2:37 en sy was 'n weduwee van omtrent vier en tagtig jaar. Sy het nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag.\n2:38 En sy het in dieselfde uur daar gekom en die Here geprys en van Hom gespreek met almal in Jerusalem wat die verlossing verwag het.\n2:39 En toe hulle alles volbring het wat volgens die wet van die Here was, het hulle teruggegaan na Galil\u00e9a, na hulle stad N\u00e1saret.\n2:40 En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid. En die genade van God was op Hom.\n2:41 En sy ouers was gewoond om elke jaar met die paasfees na Jerusalem te gaan.\n2:42 En toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle, volgens die gebruik van die fees, na Jerusalem opgegaan.\n2:43 En nadat die feesdae vir hulle verby was, en terwyl hulle teruggaan, het die Kind Jesus in Jerusalem agtergebly; en Josef en sy moeder het dit nie geweet nie.\n2:44 Maar omdat hulle gedink het dat Hy by die reisgeselskap was, het hulle 'n dagreis ver gegaan en Hom onder die familie en onder die bekendes gesoek.\n2:45 En toe hulle Hom nie vind nie, het hulle teruggegaan na Jerusalem en Hom gesoek.\n2:46 En n\u00e1 drie dae het hulle Hom in die tempel gevind, terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra.\n2:47 En almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy verstand en sy antwoorde.\n2:48 En toe hulle Hom sien, was hulle verslae. En sy moeder s\u00ea vir Hom: Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het jou met angs gesoek.\n2:49 En Hy s\u00ea vir hulle: Waarom het u My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?\n2:50 En hulle het die woord wat Hy aan hulle ges\u00ea het, nie verstaan nie.\n2:51 En Hy het saam met hulle gegaan en in N\u00e1saret gekom, en Hy was hulle onderdanig. En sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.\n2:52 En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.\n3:1 En in die vyftiende jaar van die regering van keiser Tib\u00e9rius, toe Pontius Pilatus goewerneur was van Jud\u00e9a en Herodes viervors van Galil\u00e9a, en Filippus, sy broer, viervors van Itur\u00e9a en die land Trachon\u00edtus, en Lis\u00e1nias viervors van Abil\u00e9ne,\n3:2 tydens die ho\u00ebpriesterskap van Annas en K\u00e1jafas, het die woord van God gekom tot Johannes, die seun van Sagar\u00eda, in die woestyn.\n3:3 En hy het gekom in die hele omtrek van die Jordaan en die doop van bekering tot vergifnis van sondes verkondig;\n3:4 soos geskrywe is in die boek van die woorde van Jesaja, die profeet, waar hy s\u00ea: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit.\n3:5 Elke dal moet opgevul word en elke berg en heuwel wegsak; en die krom draaie sal 'n reguit pad word en die skurwe plekke gelyk we\u00eb.\n3:6 En alle vlees sal die heil van God sien.\n3:7 Toe s\u00ea hy vir die skare wat uitgegaan het om deur hom gedoop te word: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?\n3:8 Dra dan vrugte wat by die bekering pas, en moenie by julleself begin s\u00ea: Ons het Abraham as vader nie; want ek s\u00ea vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek.\n3:9 Maar die byl l\u00ea ook al teen die wortel van die bome. Elke boom dan wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.\n3:10 En die skare het hom gevra en ges\u00ea: Wat moet ons dan doen?\n3:11 En hy antwoord en s\u00ea vir hulle: Wie twee kledingstukke het, moet meedeel aan hom wat nie het nie; en wie voedsel het, moet dieselfde doen.\n3:12 En tollenaars het ook gekom om gedoop te word, en vir hom ges\u00ea: Meester, wat moet ons doen?\n3:13 En hy antwoord hulle: Moenie meer invorder as wat julle voorgeskrywe is nie.\n3:14 En die soldate het hom ook gevra en ges\u00ea: En ons, wat moet ons doen? En hy s\u00ea vir hulle: Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle soldy.\n3:15 En terwyl die volk in verwagting was, en almal in hulle hart oorweeg het aangaande Johannes of hy nie miskien die Christus was nie,\n3:16 antwoord Johannes almal en s\u00ea: Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie--Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.\n3:17 Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy skuur, maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand.\n3:18 Hy het dan ook met baie ander vermaninge die evangelie aan die volk verkondig.\n3:19 Maar toe Herodes, die viervors, deur hom bestraf is oor Her\u00f3dias, die vrou van Filippus, sy broer, en oor al die slegte dinge wat Herodes gedoen het,\n3:20 het hy by alles nog dit gevoeg, dat hy Johannes in die gevangenis opgesluit het.\n3:21 En toe die hele volk gedoop en Jesus ook gedoop is, en Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan;\n3:22 en die Heilige Gees het in liggaamlike gedaante soos 'n duif op Hom neergedaal; en 'n stem het uit die hemel gekom wat s\u00ea: U is my geliefde Seun; in U het Ek 'n welbehae.\n3:23 En Hy, Jesus, was omtrent dertig jaar oud toe Hy begin leer het; en Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef, die seun van Eli,\n3:24 die seun van Mattat, die seun van Levi, die seun van Melgi, die seun van Janna, die seun van Josef,\n3:25 die seun van Mattat\u00edas, die seun van Amos, die seun van Nahum, die seun van Esli, die seun van N\u00e1ggai,\n3:26 die seun van Ma\u00e4t, die seun van Mattat\u00edas, die seun van S\u00e9me\u00ef, die seun van Josef, die seun van Juda,\n3:27 die seun van J\u00f3hanan, die seun van Resa, die seun van Serubb\u00e1bel, die seun van Se\u00e1lti\u00ebl, die seun van Ner\u00edja,\n3:28 die seun van Melgi, die seun van Addi, die seun van Kosam, die seun van Elm\u00f3dam, die seun van Er,\n3:29 die seun van Joses, die seun van Eli\u00ebser, die seun van Jorim, die seun van Mattat, die seun van Levi,\n3:30 die seun van S\u00edmeon, die seun van Juda, die seun van Josef, die seun van Jonan, die seun van \u00c9ljakim,\n3:31 die seun van Mel\u00e9as, die seun van Mainan, die seun van M\u00e1ttata, die seun van Natan, die seun van Dawid,\n3:32 die seun van Isai, die seun van Obed, die seun van Boas, die seun van Salmon, die seun van Nagson,\n3:33 die seun van Amm\u00ednadab, die seun van Ram, die seun van Hesron, die seun van Peres, die seun van Juda,\n3:34 die seun van Jakob, die seun van Isak, die seun van Abraham, die seun van Tera, die seun van Nahor,\n3:35 die seun van Serug, die seun van Rehu, die seun van Peleg, die seun van Heber, die seun van Sela,\n3:36 die seun van Kainan, die seun van Arp\u00e1gsad, die seun van Sem, die seun van Noag, die seun van Lameg,\n3:37 die seun van Met\u00fasala, die seun van Henog, die seun van Jered, die seun van Mehal\u00e1le\u00ebl, die seun van Kenan,\n3:38 die seun van Enos, die seun van Set, die seun van Adam, die seun van God.\n4:1 En Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af, en is deur die Gees in die woestyn gelei,\n4:2 waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is; en Hy het niks ge\u00ebet in di\u00e9 dae nie; en toe hulle verby was, het Hy naderhand honger geword.\n4:3 Toe s\u00ea die duiwel vir Hom: As U die Seun van God is, s\u00ea vir hierdie klip dat dit brood moet word.\n4:4 Maar Jesus antwoord en s\u00ea vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.\n4:5 Toe bring die duiwel Hom op 'n ho\u00eb berg en wys Hom al die koninkryke van die w\u00eareld in 'n oomblik se tyd.\n4:6 En die duiwel s\u00ea vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.\n4:7 As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort.\n4:8 En Jesus antwoord en s\u00ea vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.\n4:9 Toe bring hy Hom na Jerusalem en stel Hom op die dak van die tempel en s\u00ea vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself hiervandaan neer.\n4:10 Want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U om U te bewaar,\n4:11 en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen 'n klip stamp nie.\n4:12 En Jesus antwoord en s\u00ea vir hom: Daar is ges\u00ea: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.\n4:13 En toe die duiwel elke versoeking ge\u00ebindig het, het hy 'n tyd lank van Hom gewyk.\n4:14 En Jesus het in die krag van die Gees na Galil\u00e9a teruggekeer, en daar het 'n gerug aangaande Hom deur die hele omtrek uitgegaan;\n4:15 en Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys.\n4:16 Toe kom Hy in N\u00e1saret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees.\n4:17 En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is:\n4:18 Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees;\n4:19 om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.\n4:20 En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die o\u00eb van almal in die sinagoge was op Hom gevestig.\n4:21 Toe begin Hy vir hulle te s\u00ea: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.\n4:22 En almal het vir Hom getuienis gegee en was verwonderd oor die aangename woorde wat uit sy mond kom; en hulle s\u00ea: Is Hy nie die seun van Josef nie?\n4:23 En Hy antwoord hulle: Julle sal My ongetwyfeld hierdie spreekwoord toevoeg: Geneesheer, genees uself! Alles wat ons hoor wat in Kap\u00e9rna\u00fcm gebeur het, doen dit hier in u vaderstad ook.\n4:24 En Hy s\u00ea: Voorwaar Ek s\u00ea vir julle, geen profeet is aangenaam in sy vaderland nie.\n4:25 Maar Ek s\u00ea vir julle met waarheid, daar was baie weduwees in Israel in die dae van El\u00eda toe die hemel toegesluit was drie jaar en ses maande lank, toe daar 'n groot hongersnood gekom het in die hele land,\n4:26 en na nie een van hulle is El\u00eda gestuur nie, behalwe na Sarfat in Sidon, na 'n weduwee.\n4:27 En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van El\u00edsa, die profeet, en nie een van hulle is gereinig nie, behalwe Na\u00e4man, die S\u00edri\u00ebr.\n4:28 En almal in die sinagoge is met woede vervul toe hulle dit hoor;\n4:29 en hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle stad gebou was, om Hom van die krans af te gooi.\n4:30 Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan.\n4:31 En Hy het afgekom na Kap\u00e9rna\u00fcm, 'n stad van Galil\u00e9a, en hulle op die sabbat geleer.\n4:32 En hulle was verslae oor sy leer, want sy woord was met gesag.\n4:33 En in die sinagoge was daar 'n man met die gees van 'n onreine duiwel, en hy het met 'n groot stem uitgeskreeu\n4:34 en ges\u00ea: Ha! wat het ons met U te doen, Jesus, Nasar\u00e9ner? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God!\n4:35 En Jesus het hom bestraf en ges\u00ea: Bly stil, en gaan uit hom uit! En die duiwel het hom tussen hulle neergegooi en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak.\n4:36 Toe kom daar verbaasdheid oor almal, en hulle praat met mekaar en s\u00ea: Wat vir 'n woord is dit, dat Hy met gesag en mag die onreine geeste gebied, en hulle gaan uit!\n4:37 En daar het 'n gerug aangaande Hom uitgegaan na elke plek van die omgewing.\n4:38 En Hy het opgestaan uit die sinagoge en in die huis van Simon gekom. En Simon se skoonmoeder was aangetas deur 'n hewige koors, en hulle het Hom geraadpleeg oor haar.\n4:39 Toe gaan Hy oor haar staan en bestraf die koors, en dit het haar verlaat, en sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien.\n4:40 En toe die son ondergaan, het almal hulle siekes, mense met allerhande kwale, na Hom gebring, en Hy het een vir een van hulle die hande opgel\u00ea en hulle gesond gemaak.\n4:41 En duiwels het ook uit baie uitgegaan en geskreeu en ges\u00ea: U is die Christus, die Seun van God! En Hy het hulle bestraf en nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het dat Hy die Christus was.\n4:42 En toe dit dag geword het, het Hy uitgegaan en na 'n verlate plek vertrek; en die skare het Hom gesoek en by Hom gekom en Hom te\u00ebgehou, dat Hy nie van hulle sou weggaan nie.\n4:43 Maar Hy het vir hulle ges\u00ea: Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur.\n4:44 En Hy het verder in die sinagoges van Galil\u00e9a gepreek.\n5:1 En toe die skare by Hom aandring om die woord van God te hoor, gaan Hy by die meer Genn\u00e9saret staan\n5:2 en sien twee skuite aan die kant van die meer l\u00ea; maar die vissers het van hulle af weggegaan en was besig om die nette uit te spoel.\n5:3 Toe klim Hy in een van die skuite wat aan Simon behoort het, en vra hom om 'n entjie van die land af weg te vaar, en Hy het gaan sit en die skare van die skuit uit geleer.\n5:4 En toe Hy ophou met spreek, s\u00ea Hy vir Simon: Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang.\n5:5 En Simon antwoord en s\u00ea vir Hom: Meester, ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak.\n5:6 En toe hulle dit gedoen het, het hulle 'n groot menigte visse ingesluit; en hulle net wou skeur.\n5:7 Daarop wink hulle vir hul maats in die ander skuit om hulle te kom help. En hulle het gekom en altwee die skuite vol gemaak, sodat hulle amper gesink het.\n5:8 En toe Simon Petrus dit sien, val hy neer aan die knie\u00eb van Jesus en s\u00ea: Gaan weg van my, Here, want ek is 'n sondige man!\n5:9 Want verbaasdheid het hom aangegryp en almal wat by hom was, oor die vangs van visse wat hulle gemaak het;\n5:10 en net so ook vir Jakobus en Johannes, die seuns van Sebed\u00e9\u00fcs, wat Simon se maats was. En Jesus s\u00ea vir Simon: Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang.\n5:11 En nadat hulle die skuite aan land gebring het, het hulle alles verlaat en Hom gevolg.\n5:12 En terwyl Hy in een van die stede was, kom daar 'n man vol van melaatsheid; en toe hy Jesus sien, val hy op sy aangesig en smeek Hom en s\u00ea: Here, as U wil, kan U my reinig.\n5:13 Daarop steek Hy die hand uit en raak hom aan en s\u00ea: Ek wil, word gereinig! En dadelik het die melaatsheid hom verlaat.\n5:14 Toe gee Hy hom bevel om dit aan niemand te vertel nie; maar, s\u00ea Hy, gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging, soos Moses voorgeskrywe het, vir hulle tot 'n getuienis.\n5:15 Maar die gerug aangaande Hom is nog meer versprei, en groot menigtes het bymekaargekom om te luister en deur Hom van hulle siektes genees te word.\n5:16 Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid.\n5:17 En op een van di\u00e9 dae was Hy besig om te leer; en Farise\u00ebrs en wetgeleerdes wat gekom het uit elke dorp van Galil\u00e9a en Jud\u00e9a en uit Jerusalem, het daar gesit, en daar was krag van die Here om hulle te genees.\n5:18 En daar het manne 'n mens wat verlam was, op 'n bed gebring, en hulle het probeer om hom in te bring en voor Hom neer te sit.\n5:19 En toe hulle vanwe\u00eb die skare geen kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met die bed afsak deur die panne tussen die mense in en voor Jesus.\n5:20 En toe Hy hulle geloof sien, s\u00ea Hy vir hom: Mens, jou sondes is jou vergewe.\n5:21 En die skrifgeleerdes en die Farise\u00ebrs het begin redeneer en s\u00ea: Wie is Hy wat so godslasterlik praat? Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?\n5:22 Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk, en Hy antwoord en s\u00ea vir hulle: Wat redeneer julle in jul harte?\n5:23 Wat is makliker, om te s\u00ea: Jou sondes is jou vergewe; of om te s\u00ea: Staan op en loop?\n5:24 Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe s\u00ea Hy vir die verlamde man: Ek s\u00ea vir jou, staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.\n5:25 Hy staan toe onmiddellik voor hulle op, neem die bed op waar hy op gel\u00ea het, en gaan na sy huis, terwyl hy God verheerlik.\n5:26 En verbasing het almal aangegryp, en hulle het God verheerlik en is met vrees vervul en het ges\u00ea: Ons het vandag ongelooflike dinge gesien.\n5:27 En n\u00e1 hierdie dinge het Hy uitgegaan en 'n tollenaar met die naam van Levi by die tolhuis sien sit en vir hom ges\u00ea: Volg My.\n5:28 En hy het alles verlaat en opgestaan en Hom gevolg.\n5:29 En Levi het 'n groot feesmaal vir Hom in sy huis gegee; en daar was 'n groot menigte van tollenaars en ander wat saam met hulle aan tafel was.\n5:30 En hulle skrifgeleerdes en die Farise\u00ebrs het by sy dissipels gemurmureer en ges\u00ea: Waarom eet en drink julle saam met die tollenaars en sondaars?\n5:31 En Jesus antwoord en s\u00ea vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is.\n5:32 Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.\n5:33 Toe s\u00ea hulle vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes dikwels en doen gebede; so ook di\u00e9 van die Farise\u00ebrs; maar u dissipels eet en drink?\n5:34 En Hy s\u00ea vir hulle: Kan julle die bruilofsgaste dan laat vas solank as die bruidegom by hulle is?\n5:35 Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word; dan sal hulle vas, in daardie dae.\n5:36 En Hy het ook aan hulle 'n gelykenis vertel: Niemand sit 'n lap van 'n nuwe kleed op 'n ou kleed nie; anders skeur dit die nuwe ook, en die lap wat van die nuwe af kom, pas nie by die oue nie.\n5:37 En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke skeur, en dit sal uitloop, en die sakke sal vergaan.\n5:38 Maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word, en altwee word saam behou.\n5:39 En niemand wat ou wyn gedrink het, wil dadelik nuwe h\u00ea nie; want hy s\u00ea: Die oue is beter.\n6:1 En op die tweede eerste sabbat het Hy deur die gesaaides geloop, en sy dissipels het die are gepluk en met hulle hande uitgevrywe en ge\u00ebet.\n6:2 Toe s\u00ea sommige van die Farise\u00ebrs vir hulle: Waarom doen julle wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie?\n6:3 En Jesus antwoord en s\u00ea vir hulle: Het julle dan nie gelees wat Dawid gedoen het nie--toe hy honger gehad het, hy en die wat by hom was--\n6:4 hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geneem en ge\u00ebet het, en ook aan die wat by hom was, gegee het, wat hulle nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen?\n6:5 Toe s\u00ea Hy vir hulle: Die Seun van die mens is Here \u00f3\u00f3k van die sabbat.\n6:6 En op 'n ander sabbat het Hy in die sinagoge gegaan en geleer. En daar was 'n man, en sy regterhand was uitgedor.\n6:7 En die skrifgeleerdes en die Farise\u00ebrs het Hom in die oog gehou, of Hy op die sabbat gesond maak, sodat hulle 'n aanklag teen Hom kon vind.\n6:8 Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir die man met die verdorde hand ges\u00ea: Staan op hier in hul midde. En hy het opgestaan.\n6:9 Toe s\u00ea Jesus vir hulle: Ek sal aan julle 'n vraag stel: wat is geoorloof op die sabbat--om goed te doen of kwaad te doen; om 'n lewe te red of \u00f3m te bring?\n6:10 En nadat Hy almal rondom aangekyk het, s\u00ea Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit gedoen; en sy hand is herstel, gesond soos die ander een.\n6:11 En hulle is met uitsinnigheid vervul en het met mekaar gepraat wat hulle aan Jesus sou doen.\n6:12 En Hy het in daardie dae uitgegaan na die berg om te bid en die nag in die gebed tot God deurgebring.\n6:13 En toe dit dag geword het, het Hy sy dissipels na Hom geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy apostels genoem het:\n6:14 Simon wat Hy Petrus genoem het, en Andr\u00e9as, sy broer; Jakobus en Johannes; Filippus en Bartholom\u00e9\u00fcs;\n6:15 Matth\u00e9\u00fcs en Thomas; Jakobus, die seun van Alf\u00e9\u00fcs, en Simon wat Yweraar genoem word;\n6:16 Judas, die seun van Jakobus, en Judas Isk\u00e1riot, wat die verraaier geword het.\n6:17 En Hy het met hulle afgeklim en op 'n gelyk plek gaan staan, en daar was 'n skare van sy dissipels en 'n groot menigte van die volk van die hele Jud\u00e9a en Jerusalem en die kusstreek van Tirus en Sidon af,\n6:18 wat gekom het om Hom te hoor en van hulle kwale genees te word; en die wat gekwel was deur onreine geeste, is ook genees.\n6:19 En die hele skare het probeer om Hom aan te raak, omdat krag van Hom uitgegaan het, en Hy het almal gesond gemaak.\n6:20 Toe slaan Hy sy o\u00eb op oor sy dissipels en s\u00ea: Salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God.\n6:21 Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag.\n6:22 Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens.\n6:23 Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen.\n6:24 Maar wee julle, rykes, want julle het jul troos weg.\n6:25 Wee julle wat vol is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en ween.\n6:26 Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen.\n6:27 Maar Ek s\u00ea vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefh\u00ea en goed doen aan die wat vir julle haat.\n6:28 Se\u00ebn die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.\n6:29 Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie.\n6:30 Maar gee aan elkeen wat jou iets vra, en eis jou goed nie terug van hom wat dit neem nie.\n6:31 En soos julle wil h\u00ea dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.\n6:32 En as julle di\u00e9 liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? Want die sondaars het ook di\u00e9 lief wat vir hulle liefhet.\n6:33 En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? Want die sondaars doen ook dieselfde.\n6:34 En as julle leen aan di\u00e9 van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle? Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang.\n6:35 Maar julle moet jul vyande liefh\u00ea en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes.\n6:36 Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.\n6:37 En julle moet nie oordeel nie, dan sal julle nooit geoordeel word nie. Julle moet nie veroordeel nie, dan sal julle nooit veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.\n6:38 Gee, en aan julle sal gegee word. 'n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.\n6:39 En Hy het vir hulle 'n gelykenis uitgespreek: 'n Blinde kan tog nie 'n blinde lei nie! Sal hulle nie altwee in die sloot val nie?\n6:40 'n Leerling is nie bo sy meester nie; maar elkeen wat volleerd is, sal soos sy meester wees.\n6:41 En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk wat in jou eie oog is, merk jy nie op nie?\n6:42 Of hoe kan jy vir jou broeder s\u00ea: Broeder, laat my toe om die splinter wat in jou oog is, uit te haal, terwyl jy self die balk wat in jou oog is, nie sien nie? Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter wat in jou broeder se oog is, uit te haal.\n6:43 Want dit is nie 'n goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie 'n slegte boom wat goeie vrugte dra nie.\n6:44 Want elke boom word geken aan sy eie vrugte. Van dorings pluk 'n mens tog nie vye nie, en 'n mens sny ook nie druiwe van 'n doringbos nie.\n6:45 Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.\n6:46 En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek s\u00ea nie?\n6:47 Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en dit doen Ek sal julle wys soos wie hy is.\n6:48 Hy is soos 'n man wat 'n huis bou, wat gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots gel\u00ea het; en toe die vloedwater kom en die stroom teen daardie huis losbreek, kon hy dit nie beweeg nie, omdat sy fondament op die rots was.\n6:49 Maar wie dit hoor en dit nie doen nie, is soos 'n man wat 'n huis sonder fondament op die grond bou, en die stroom het daarteen losgebreek en dit het dadelik geval, en die instorting van daardie huis was groot.\n7:1 En nadat Hy voor die ore van die volk al sy woorde be\u00ebindig het, het Hy in Kap\u00e9rna\u00fcm ingegaan.\n7:2 En die dienskneg van 'n sekere hoofman oor honderd, wat vir hom baie werd was, was ongesteld en het op sterwe gel\u00ea.\n7:3 Toe hy dan van Jesus hoor, het hy ouderlinge van die Jode na Hom gestuur met die versoek aan Hom dat Hy moes kom en sy dienskneg gesond maak.\n7:4 En toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend gesmeek en ges\u00ea: Hy is dit werd dat U dit vir hom doen;\n7:5 want hy het ons volk lief en het self die sinagoge vir ons gebou.\n7:6 En Jesus het saam met hulle gegaan; maar toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die hoofman oor honderd vriende na Hom om vir Hom te s\u00ea: Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie.\n7:7 Daarom het ek my ook nie waardig geag om na U te gaan nie; s\u00ea dit maar met 'n woord, en my kneg sal gesond word.\n7:8 Want ek is ook 'n man wat aan gesag onderworpe is, en ek het soldate onder my; en vir hierdie een s\u00ea ek: Gaan! en hy gaan; en vir 'n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit.\n7:9 Toe Jesus dit hoor, was Hy oor hom verwonderd, en Hy draai Hom om en s\u00ea vir die skare wat Hom volg: Ek s\u00ea vir julle, selfs in Israel het Ek so 'n groot geloof nie gevind nie.\n7:10 En toe die wat gestuur was, teruggaan na die huis, vind hulle die siek dienskneg gesond.\n7:11 En die dag daarna was Hy op weg na 'n stad met die naam van Nain; en baie van sy dissipels en 'n groot menigte het saam met Hom gegaan.\n7:12 En toe Hy naby die poort van die stad kom, word daar net 'n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was 'n weduwee; en 'n groot menigte van die stad was by haar.\n7:13 En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar ges\u00ea: Moenie ween nie!\n7:14 En Hy het nader gegaan en die baar aangeraak. Daarop staan die draers stil. En Hy s\u00ea: Jongman, Ek s\u00ea vir jou, staan op!\n7:15 En die dooie het regop gaan sit en begin praat; en Hy het hom aan sy moeder teruggegee.\n7:16 En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en s\u00ea: 'n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek.\n7:17 En hierdie woord aangaande Hom het uitgegaan in die hele Jud\u00e9a en in die hele omtrek.\n7:18 En die dissipels van Johannes het hom van al hierdie dinge berig gebring.\n7:19 En Johannes het sekere twee van sy dissipels na hom geroep en hulle na Jesus gestuur en ges\u00ea: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?\n7:20 En toe die manne by Hom kom, s\u00ea hulle: Johannes die Doper het ons na U gestuur en ges\u00ea: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?\n7:21 En in dieselfde uur het Hy baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk.\n7:22 En Jesus antwoord en s\u00ea vir hulle: Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig.\n7:23 En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.\n7:24 En nadat die boodskappers van Johannes weggegaan het, begin Hy vir die skare aangaande Johannes te s\u00ea: Wat het julle uitgegaan in die woestyn om te aanskou? 'n Riet wat deur die wind beweeg word?\n7:25 Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat pragtige klere dra en in weelde lewe, is in die paleise.\n7:26 Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek s\u00ea vir julle, nog baie meer as 'n profeet!\n7:27 Dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak.\n7:28 Want Ek s\u00ea vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van God is groter as hy.\n7:29 En toe die hele volk en die tollenaars dit hoor, het hulle God geregverdig deur hulle te laat doop met die doop van Johannes.\n7:30 Maar die Farise\u00ebrs en die wetgeleerdes het die raad van God aangaande hulle verwerp deur hulle nie deur hom te laat doop nie.\n7:31 Toe s\u00ea die Here: Waarmee sal Ek dan die mense van hierdie geslag vergelyk, en waaraan is hulle gelyk?\n7:32 Hulle is net soos kinders wat op die mark sit en na mekaar roep en s\u00ea: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir julle 'n klaaglied gesing, en julle het nie gehuil nie.\n7:33 Want Johannes die Doper het gekom en het nie brood ge\u00ebet of wyn gedrink nie, en julle s\u00ea: Hy het 'n duiwel.\n7:34 Die Seun van die mens het gekom en Hy eet en drink, en julle s\u00ea: Daar is 'n mens wat 'n vraat en 'n wynsuiper is, 'n vriend van tollenaars en sondaars.\n7:35 Maar die wysheid is geregverdig deur al sy kinders.\n7:36 En een van die Farise\u00ebrs het Hom genooi om by hom te eet; en Hy het in die huis van die Farise\u00ebr gekom en aan tafel gegaan.\n7:37 En toe 'n vrou in die stad, wat 'n sondares was, verneem dat Hy in die Farise\u00ebr se huis aan tafel was, het sy 'n albaste fles met salf gebring\n7:38 en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf.\n7:39 Toe die Farise\u00ebr wat Hom genooi het, dit sien, s\u00ea hy by homself: Hy, as Hy 'n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is 'n sondares.\n7:40 En Jesus antwoord en s\u00ea vir hom: Simon, Ek het iets om aan jou te s\u00ea. En hy antwoord: Meester, spreek.\n7:41 Hy s\u00ea toe: 'n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyf honderd pennings geskuld en die ander een vyftig;\n7:42 en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee geskenk. S\u00ea nou, wie van hulle sal hom die meeste liefh\u00ea?\n7:43 En Simon antwoord en s\u00ea: Ek veronderstel di\u00e9 een aan wie hy die meeste geskenk het. En Hy antwoord hom: Jy het reg geoordeel.\n7:44 Daarop draai Hy om na die vrou en s\u00ea vir Simon: Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom--water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar trane my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog.\n7:45 'n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie.\n7:46 Met olie het jy my hoof nie gesalf nie; maar sy het my voete met salf gesalf.\n7:47 Daarom s\u00ea Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.\n7:48 En Hy s\u00ea vir haar: Jou sondes is vergewe.\n7:49 Toe begin die wat aan tafel was, by hulleself te s\u00ea: Wie is hierdie man wat selfs die sondes vergewe?\n7:50 En Hy s\u00ea vir die vrou: Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.\n8:1 En daarna het Hy die een stad en dorp n\u00e1 die ander deurgereis en gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig; en die twaalf was saam met Hom,\n8:2 ook sekere vroue wat genees was van bose geeste en siektes: Maria wat Magdal\u00e9na genoem word, uit wie sewe duiwels uitgegaan het,\n8:3 en Johanna, die vrou van Gusa, 'n bestuurder van Herodes, en Susanna en baie ander wat Hom almal met hulle besittings gedien het.\n8:4 En toe daar 'n groot menigte vergader, en die wat uit die verskillende stede by Hom aangesluit het, s\u00ea Hy aan hulle deur 'n gelykenis:\n8:5 'n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; en toe hy saai, val 'n deel langs die pad en is vertrap, en die vo\u00ebls van die hemel het dit opge\u00ebet.\n8:6 En 'n ander deel het op die rots geval; en nadat dit opgeskiet het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie.\n8:7 En 'n ander deel het tussen die dorings in geval; en die dorings het daarmee saamgegroei en dit verstik.\n8:8 En 'n ander deel het in die goeie grond geval en gegroei en honderdvoudige vrug opgelewer. Toe Hy dit ges\u00ea het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!\n8:9 En sy dissipels het Hom gevra en ges\u00ea: Wat beteken hierdie gelykenis tog?\n8:10 En Hy antwoord: Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken; maar aan die ander deur gelykenisse, sodat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie verstaan nie.\n8:11 Dit is dan die gelykenis: Die saad is die woord van God.\n8:12 Di\u00e9 langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie.\n8:13 En di\u00e9 op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir 'n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af.\n8:14 En wat in die dorings geval het--dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.\n8:15 En wat in die goeie grond val--dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in 'n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.\n8:16 En niemand steek 'n lamp op en maak dit met iets toe of sit dit onder 'n bed nie; maar hy sit dit op 'n staander, sodat die wat inkom, die lig kan sien.\n8:17 Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en in die lig sal kom nie.\n8:18 Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het.\n8:19 En sy moeder en broers het na Hom gekom, en weens die skare kon hulle Hom nie bereik nie.\n8:20 Toe bring hulle Hom die boodskap en s\u00ea: U moeder en u broers staan buite en wil U sien.\n8:21 Maar Hy antwoord en s\u00ea vir hulle: My moeder en my broers is die wat die woord van God hoor en dit doen.\n8:22 En op een van daardie dae het Hy en sy dissipels in 'n skuit gegaan; en Hy het vir hulle ges\u00ea: Laat ons oorvaar na die oorkant van die see. En hulle het weggevaar\n8:23 En terwyl hulle seil, raak Hy aan die slaap. Toe kom daar 'n stormwind op die see af en die skuit het begin vol word, en hulle was in gevaar.\n8:24 En hulle het na Hom gegaan en Hom wakker gemaak en ges\u00ea: Meester, Meester, ons vergaan! Hy staan toe op en bestraf die wind en die watergolwe, en hulle het bedaar en daar het 'n stilte gekom.\n8:25 En Hy s\u00ea vir hulle: Waar is julle geloof? Maar hulle was bang en verwonderd en het vir mekaar ges\u00ea: Wie is Hy tog, dat Hy selfs die winde en die water gebied en hulle Hom gehoorsaam is!\n8:26 En hulle het geseil na die land van die Gadar\u00e9ners, wat reg anderkant Galil\u00e9a is.\n8:27 En toe Hy aan wal uitklim, kom 'n sekere man uit die stad Hom tegemoet, wat vir 'n geruime tyd van duiwels besete was en geen klere gedra het nie; hy het ook nie in 'n huis gewoon nie, maar in die grafte.\n8:28 En toe hy Jesus sien, skreeu hy uit en val voor Hom neer en s\u00ea met 'n groot stem: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek bid U, moet my nie pynig nie--\n8:29 want Hy het aan die onreine gees bevel gegee om uit die man uit te gaan. Want baiekeer het hy hom saamgesleep; en hulle het hom gebind met kettings en voetboeie om oor hom wag te hou; maar hy het die boeie uitmekaar geruk, en die duiwel het hom in die woestyne gedrywe.\n8:30 Daarop vra Jesus hom en s\u00ea: Wat is jou naam? En hy antwoord: Legio--want baie duiwels het in hom ingevaar.\n8:31 En hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle nie sou beveel om in die onderw\u00eareld af te vaar nie.\n8:32 En daar het 'n groot trop varke op die berg gewei. Toe smeek hulle Hom dat Hy hulle sou toelaat om in di\u00e9 varke in te vaar. En Hy het hulle toegelaat.\n8:33 Daarop gaan die duiwels uit die man uit en vaar in die varke in, en die trop het van die krans af in die see gestorm en verdrink.\n8:34 En toe die wagters sien wat gebeur het, het hulle gevlug en dit in die stad en in die buitewyke gaan vertel.\n8:35 Daarop het hulle uitgegaan om te sien wat gebeur het; en hulle het by Jesus gekom en die man gevind uit wie die duiwels uitgevaar het, terwyl hy aan die voete van Jesus sit, gekleed en by sy verstand. En hulle het gevrees.\n8:36 En die wat ooggetuies was, het ook aan hulle vertel hoe die besetene genees is.\n8:37 En die hele menigte van die omtrek van die Gadar\u00e9ners het Hom gevra om van hulle weg te gaan, omdat hulle deur 'n groot vrees bevang was. Toe het Hy in die skuit geklim en teruggegaan.\n8:38 En die man uit wie die duiwels uitgevaar het, het Hom gebid om by Hom te kan bly. Maar Jesus het hom laat gaan en ges\u00ea:\n8:39 Gaan terug na jou huis en vertel watter groot dinge God aan jou gedoen het. En hy het gegaan en deur die hele stad verkondig watter groot dinge Jesus aan hom gedoen het.\n8:40 En toe Jesus terugkom, het die skare Hom verwelkom; want almal was Hom te wagte.\n8:41 En daar kom 'n man wie se naam Ja\u00efrus was, en hy was 'n owerste van die sinagoge; en hy val voor die voete van Jesus neer en smeek Hom om na sy huis te kom;\n8:42 want sy enigste dogter van omtrent twaalf jaar het op sterwe gel\u00ea. En terwyl Hy gaan, het die skare Hom verdring.\n8:43 En 'n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, en wat haar hele vermo\u00eb aan geneeshere uitgegee het en deur niemand gesond gemaak kon word nie,\n8:44 het van agter af gekom en die soom van sy kleed aangeraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou.\n8:45 Daarop s\u00ea Jesus: Wie is dit wat My aangeraak het? En toe almal dit ontken, s\u00ea Petrus en die wat by hom was: Meester, die skare druk en verdring U, en U s\u00ea: Wie is dit wat My aangeraak het?\n8:46 Maar Jesus antwoord: Iemand het My aangeraak, want Ek het gemerk dat krag van My uitgegaan het.\n8:47 En toe die vrou sien dat sy nie verborge gebly het nie, kom sy bewende en val voor Hom neer en vertel Hom voor die hele volk om watter rede sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het.\n8:48 En Hy s\u00ea vir haar: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.\n8:49 Terwyl Hy nog spreek, kom daar iemand van die owerste van die sinagoge se huis en s\u00ea vir hom: U dogter is dood, moenie die Meester lastig val nie.\n8:50 Maar toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom en s\u00ea: Moenie vrees nie. Glo net, en sy sal gered word.\n8:51 En toe Hy in die huis kom, het Hy niemand toegelaat om in te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en Johannes en die vader en die moeder van die meisie.\n8:52 En almal het gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Hy s\u00ea: Moenie huil nie; sy is nie dood nie, maar slaap.\n8:53 En hulle het Hom uitgelag, want hulle het geweet dat sy dood was.\n8:54 En toe Hy almal na buite uitgejaag het, gryp Hy haar hand en roep uit en s\u00ea: Dogtertjie, staan op!\n8:55 En haar gees het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan; en Hy het beveel dat hulle haar iets te ete moes gee.\n8:56 En haar ouers was verbaas, maar Hy het hulle bevel gegee om aan niemand te s\u00ea wat gebeur het nie.\n9:1 En Hy het sy twaalf dissipels saamgeroep en aan hulle mag en gesag gegee oor al die duiwels en om siektes te genees.\n9:2 En Hy het hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak\n9:3 en vir hulle ges\u00ea: Neem niks vir die pad nie, geen stokke of reissak of brood of geld nie, en geeneen van julle moet twee kledingstukke h\u00ea nie.\n9:4 En in watter huis julle ook mag ingaan, bly d\u00e1\u00e1r en gaan d\u00e1\u00e1rvandaan verder.\n9:5 En almal wat julle nie ontvang nie--as julle van daardie stad weggaan, skud selfs die stof van julle voete af, tot 'n getuienis teen hulle.\n9:6 En hulle het uitgegaan en dorp vir dorp deurgegaan en oral die evangelie verkondig en siekes gesond gemaak.\n9:7 Herodes, die viervors, hoor toe van al die dinge wat deur Hom gedoen is; en hy was met die saak verle\u00eb, omdat deur sommige ges\u00ea is: Johannes is uit die dode opgewek;\n9:8 en deur ander: El\u00eda het verskyn; en deur ander: Een van die ou profete het opgestaan.\n9:9 En Herodes het ges\u00ea: Johannes het ek onthoof; maar wie is hierdie man van wie ek sulke dinge hoor? En hy het probeer om Hom te sien.\n9:10 En toe die apostels terugkom en Hom alles vertel wat hulle gedoen het, het Hy hulle saamgeneem en in die eensaamheid gegaan na 'n verlate plek van 'n stad met die naam van Bets\u00e1ida.\n9:11 Maar die skare het dit te wete gekom en Hom gevolg; en Hy het hulle ontvang en met hulle gespreek oor die koninkryk van God, en die wat genesing nodig gehad het, gesond gemaak.\n9:12 Toe die dag begin daal, kom die twaalf na Hom en s\u00ea vir Hom: Stuur die skare weg, sodat hulle na die dorpe en buitewyke in die omtrek kan gaan en herberg en voedsel kry; want ons is hier in 'n verlate plek.\n9:13 Maar Hy s\u00ea vir hulle: Gee julle vir hulle iets om te eet. Maar hulle antwoord: Ons het nie meer as vyf brode en twee visse nie, tensy ons voedsel gaan koop vir al hierdie mense.\n9:14 Want daar was omtrent vyf duisend manne. Maar Hy s\u00ea vir sy dissipels: Laat hulle in groepe van vyftig sit.\n9:15 En hulle het dit gedoen en almal laat sit.\n9:16 Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, en nadat Hy opgekyk het na die hemel, se\u00ebn Hy dit en breek dit en gee dit aan die dissipels om dit aan die skare voor te sit.\n9:17 En hulle het ge\u00ebet en is almal versadig, en van wat vir hulle van die brokstukke oorgebly het, is daar twaalf mandjies vol opgetel.\n9:18 En toe Hy besig was om alleen te bid, was die dissipels by Hom, en Hy vra hulle en s\u00ea: Wie s\u00ea die skare is Ek?\n9:19 En hulle antwoord en s\u00ea: Johannes die Doper, en ander: El\u00eda, en ander dat een van die ou profete opgestaan het.\n9:20 En Hy s\u00ea vir hulle: Maar julle, wie s\u00ea julle is Ek? En Petrus antwoord en s\u00ea: Die Christus van God!\n9:21 Toe gee Hy hulle 'n streng bevel en gebied hulle om dit aan niemand te vertel nie.\n9:22 En Hy s\u00ea: Die Seun van die mens moet baie ly en verwerp word deur die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes en gedood word en op die derde dag opstaan.\n9:23 En Hy s\u00ea vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verlo\u00ebn en sy kruis elke dag opneem en My volg.\n9:24 Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red.\n9:25 Wat baat dit 'n mens tog as hy die hele w\u00eareld win, maar homself verloor of skade aandoen?\n9:26 Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en di\u00e9 van die Vader en van die heilige engele.\n9:27 Ek s\u00ea vir julle met waarheid: Daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die koninkryk van God gesien het nie.\n9:28 En omtrent agt dae n\u00e1 hierdie woorde het Hy Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem en op die berg geklim om te bid.\n9:29 En terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy aangesig anders geword en sy klere skitterend wit.\n9:30 En daar was twee manne in gesprek met Hom; dit was Moses en El\u00eda.\n9:31 Hulle het in heerlikheid verskyn en van sy uitgang gespreek wat Hy in Jerusalem sou volbring.\n9:32 En Petrus en die wat saam met hom was, was deur die slaap oorweldig. Maar toe hulle wakker word, sien hulle sy heerlikheid en die twee manne wat by Hom staan.\n9:33 En toe hulle van Hom weggaan, s\u00ea Petrus vir Jesus: Meester, dit is goed dat ons hier is; laat ons dan drie hutte maak, een vir U en vir Moses een en een vir El\u00eda--hy het nie geweet wat hy s\u00ea nie.\n9:34 Maar toe hy dit s\u00ea, kom daar 'n wolk en oordek hulle, en hulle het bang geword toe daardie manne in die wolk ingaan.\n9:35 En daar kom 'n stem uit die wolk wat s\u00ea: Dit is my geliefde Seun; luister na Hom!\n9:36 En nadat die stem gekom het, was Jesus daar alleen. En hulle het geswyg en aan niemand in daardie dae iets vertel van wat hulle gesien het nie.\n9:37 En op die volgende dag toe hulle van die berg afklim, kom 'n groot skare Hom tegemoet.\n9:38 En daar roep 'n man uit die skare en s\u00ea: Meester, ek bid U, kyk tog na my seun, want hy is my enigste.\n9:39 En kyk, 'n gees gryp hom, en meteens skreeu hy, en hy laat hom stuiptrekkings kry met skuim in die mond en gaan amper nie van hom weg nie en verniel hom.\n9:40 En ek het u dissipels gebid om hom uit te drywe, en hulle kon nie.\n9:41 Toe antwoord Jesus en s\u00ea: o Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hier.\n9:42 En toe hy nog aankom, skeur die duiwel hom en laat hom stuiptrekkings kry. Maar Jesus het die onreine gees bestraf en die seun genees en hom aan sy vader teruggegee.\n9:43 En almal was verslae oor die majesteit van God. En toe almal verwonderd was oor alles wat Jesus gedoen het, s\u00ea Hy vir sy dissipels:\n9:44 Bewaar hierdie woorde in julle ore; want die Seun van die mens sal oorgelewer word in die hande van die mense.\n9:45 Maar hulle het hierdie woord nie verstaan nie, en dit was vir hulle bedek, sodat hulle dit nie sou begryp nie; en hulle was bang om Hom iets te vra oor hierdie woord.\n9:46 En daar het 'n redenering onder hulle ontstaan oor wie van hulle dan tog die grootste was.\n9:47 En toe Jesus die redenering van hulle hart opmerk, neem Hy 'n kindjie en laat di\u00e9 by Hom staan\n9:48 en s\u00ea vir hulle: Elkeen wat hierdie kindjie ontvang in my Naam, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het; want wie die kleinste onder julle almal is, hy sal groot wees.\n9:49 En Johannes het geantwoord en ges\u00ea: Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam die duiwels uitdryf; en ons het hom belet, omdat hy U nie saam met ons volg nie.\n9:50 Maar Jesus s\u00ea vir hom: Moet hom nie belet nie, want wie nie teen ons is nie, is vir ons.\n9:51 En toe die dae van sy opneming nader kom, het Hy sy aangesig gerig om na Jerusalem te reis,\n9:52 en boodskappers voor Hom uit gestuur; en hulle het vertrek en in 'n dorp van die Samaritane gekom om vir Hom klarigheid te maak.\n9:53 En hulle het Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem op reis was.\n9:54 En toe sy dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, s\u00ea hulle: Here, wil U h\u00ea ons moet s\u00ea dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer, soos El\u00eda ook gedoen het?\n9:55 Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en s\u00ea: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie;\n9:56 want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red. En hulle het na 'n ander dorp vertrek.\n9:57 En terwyl hulle op reis was, s\u00ea iemand op die pad vir Hom: Here, ek sal U volg, waar U ook mag gaan!\n9:58 Toe s\u00ea Jesus vir hom: Die jakkalse het gate en die vo\u00ebls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerl\u00ea nie.\n9:59 En Hy s\u00ea aan 'n ander een: Volg My. Maar hy antwoord: Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe.\n9:60 En Jesus s\u00ea vir hom: Laat die dooies hul eie dooies begrawe; maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God.\n9:61 En 'n ander een het ook ges\u00ea: Here, ek sal U volg, maar laat my eers toe om afskeid te neem van die wat in my huis is.\n9:62 En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.\n10:1 En n\u00e1 hierdie dinge het die Here weer sewentig ander aangestel, en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke stad en plek waar Hy sou kom.\n10:2 Hy s\u00ea toe vir hulle: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur.\n10:3 Gaan dan; kyk, Ek stuur julle soos lammers onder wolwe.\n10:4 Moenie 'n beurs of 'n reissak of skoene dra nie, en groet niemand op die pad nie.\n10:5 En in watter huis julle ook al mag ingaan, s\u00ea eers: Vrede vir hierdie huis!\n10:6 En as d\u00e1\u00e1r 'n man van vrede is, sal julle vrede op hom rus; anders sal dit tot julle terugkeer.\n10:7 Bly dan in daardie selfde huis en eet en drink wat hulle het, want die arbeider is sy loon werd. Moenie van huis tot huis gaan nie.\n10:8 En in watter stad julle ook al mag ingaan en hulle jul ontvang, eet wat aan julle voorgesit word.\n10:9 En maak die siekes gesond wat daarin is, en s\u00ea vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom.\n10:10 Maar in watter stad julle ook al mag ingaan en hulle jul nie ontvang nie, gaan uit op sy strate en s\u00ea:\n10:11 Selfs die stof wat uit julle stad aan ons kleef, vee ons vir julle af; maar tog moet julle dit weet dat die koninkryk van God naby julle gekom het.\n10:12 En Ek s\u00ea vir julle: Vir Sodom sal dit verdraagliker wees in di\u00e9 dag as vir daardie stad.\n10:13 Wee jou, G\u00f3rasin, wee jou, Bets\u00e1ida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het.\n10:14 Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel verdraagliker wees as vir julle.\n10:15 En jy, Kap\u00e9rna\u00fcm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word.\n10:16 Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.\n10:17 En die sewentig het met blydskap teruggekom en ges\u00ea: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam.\n10:18 Toe s\u00ea Hy vir hulle: Ek het die Satan soos 'n bliksem uit die hemel sien val.\n10:19 Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.\n10:20 Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is.\n10:21 In dieselfde uur het Jesus Hom in die gees verheug en ges\u00ea: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u welbehae.\n10:22 Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.\n10:23 En Hy het Hom omgedraai na sy dissipels en afsonderlik aan hulle ges\u00ea: Salig is die o\u00eb wat sien wat julle sien;\n10:24 want Ek s\u00ea vir julle, baie profete en konings het gewens om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.\n10:25 En daar het 'n sekere wetgeleerde opgestaan wat Hom versoek het deur te s\u00ea: Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te be\u00ebrwe?\n10:26 En Hy antwoord hom: Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?\n10:27 En hy antwoord en s\u00ea: Jy moet die Here jou God liefh\u00ea uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.\n10:28 Toe s\u00ea Hy vir hom: Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe.\n10:29 Maar hy wou homself regverdig, en s\u00ea vir Jesus: En wie is my naaste?\n10:30 En Jesus antwoord en s\u00ea: 'n Sekere man het afgegaan van Jerusalem na J\u00e9rigo en onder rowers verval, en nadat hulle hom uitgetrek en geslaan het, gaan hulle weg en laat hom half dood l\u00ea.\n10:31 En bygeval het 'n priester met daardie pad afgekom, en toe hy hom sien, gaan hy anderkant verby.\n10:32 En net so het ook 'n Leviet by di\u00e9 plek gekom en hom gesien en anderkant verbygegaan.\n10:33 Maar 'n sekere Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy innig jammer gevoel,\n10:34 en na hom gegaan, sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom toe op sy eie pakdier gehelp en hom na 'n herberg geneem en vir hom gesorg.\n10:35 En toe hy die volgende m\u00f4re weggaan, haal hy twee pennings uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en s\u00ea vir hom: Sorg vir hom, en enige onkoste wat jy nog meer mag h\u00ea, sal ek jou betaal as ek terugkom.\n10:36 Wie dan van hierdie drie, dink jy, was die naaste van hom wat onder die rowers verval het?\n10:37 En hy antwoord: Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het. Toe s\u00ea Jesus vir hom: Gaan en doen jy net so.\n10:38 En op hulle reis het Hy in 'n sekere dorp gekom, en 'n vrou met die naam van Martha het Hom in haar huis ontvang.\n10:39 En sy het 'n suster gehad met die naam van Maria; di\u00e9 het aan die voete van Jesus gesit en na sy woord geluister.\n10:40 Maar Martha was baie besig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en s\u00ea: Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? S\u00ea dan vir haar dat sy my moet help.\n10:41 Maar Jesus antwoord en s\u00ea vir haar: Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge;\n10:42 maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie.\n11:1 En toe Hy op 'n sekere plek besig was om te bid, s\u00ea een van sy dissipels vir Hom nadat Hy opgehou het: Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het.\n11:2 En Hy s\u00ea vir hulle: Wanneer julle bid, s\u00ea: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;\n11:3 gee ons elke dag ons daaglikse brood;\n11:4 en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.\n11:5 En Hy het vir hulle ges\u00ea: Wie van julle sal 'n vriend h\u00ea en sal middernag na hom gaan en vir hom s\u00ea: Vriend, leen my drie brode,\n11:6 want 'n vriend van my het van 'n reis by my aangekom, en ek het niks om aan hom voor te sit nie--\n11:7 en di\u00e9 van binnekant sal antwoord en s\u00ea: Moenie my lastig val nie; die deur is al gesluit, en my kinders is saam met my al in die bed; ek kan nie opstaan om vir jou te gee nie.\n11:8 Ek s\u00ea vir julle, al sou hy ook nie opstaan en vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog ter wille van sy onbeskaamdheid opstaan en hom gee soveel as hy nodig het.\n11:9 En Ek s\u00ea vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.\n11:10 Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.\n11:11 En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom 'n klip gee; of ook 'n vis, en hy sal hom in plaas van 'n vis 'n slang gee;\n11:12 of ook as hy 'n eier vra, hom 'n skerpioen gee?\n11:13 As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?\n11:14 En Hy het 'n duiwel uitgedryf, en di\u00e9 was stom. En toe die duiwel uitgaan, het die stom man gepraat; en die skare het hulle verwonder.\n11:15 Maar sommige van hulle s\u00ea: Deur Be\u00eblsebul, die owerste van die duiwels, dryf Hy die duiwels uit.\n11:16 En ander het Hom versoek en van Hom 'n teken uit die hemel begeer.\n11:17 Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle ges\u00ea: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en 'n huis wat teen homself is, val.\n11:18 En as die Satan ook teen homself verdeeld is, hoe sal sy koninkryk bly staan? Want julle s\u00ea dat Ek deur Be\u00eblsebul die duiwels uitdryf.\n11:19 En as Ek deur Be\u00eblsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees.\n11:20 Maar as Ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God waarlik by julle gekom.\n11:21 Wanneer 'n sterk man wat goed gewapend is, sy huis bewaak, is sy besittings in veiligheid.\n11:22 Maar as een hom oorval wat sterker is as hy en hom oorwin, neem hy sy volle wapenrusting weg waar hy op vertrou het, en deel sy buit uit.\n11:23 Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.\n11:24 Wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus; en as hy dit nie vind nie, s\u00ea hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het.\n11:25 En hy kom en vind dit uitgevee en versierd.\n11:26 Dan gaan hy en neem sewe ander geeste, slegter as hy self, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste.\n11:27 En terwyl Hy dit spreek, het 'n vrou uit die skare haar stem verhef en vir Hom ges\u00ea: Salig is die skoot wat U gedra het, en die borste wat U gesoog het.\n11:28 En Hy s\u00ea: Ja, maar salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar.\n11:29 En toe die skare saamstroom, begin Hy te s\u00ea: Hierdie geslag is boos; dit soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.\n11:30 Want soos Jona 'n teken was vir die Nineviete, so sal die Seun van die mens ook wees vir hierdie geslag.\n11:31 Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met die manne van hierdie geslag en hulle veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en--meer as Salomo is hier!\n11:32 Die manne van Ninev\u00e9 sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en--meer as Jona is hier!\n11:33 En niemand steek 'n lamp op en sit dit in 'n verborge plek of onder die maatemmer nie, maar op die staander, sodat die wat binnekom, die lig kan sien.\n11:34 Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker.\n11:35 Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie.\n11:36 As jou hele liggaam dan verlig is en nie enige deel het wat donker is nie, sal dit heeltemal verlig wees, net soos wanneer die lamp met sy skynsel jou verlig.\n11:37 En onderwyl Hy besig was om te spreek, het 'n sekere Farise\u00ebr Hom uitgenooi om by hom te kom eet; en Hy het ingekom en aan tafel gegaan.\n11:38 En toe die Farise\u00ebr dit sien, het hy hom verwonder dat Hy nie voor die maaltyd eers gewas het nie.\n11:39 Maar die Here s\u00ea vir hom: Ja, julle Farise\u00ebrs, julle maak die buitekant van die beker en die bord skoon, maar van binne is julle vol roof en boosheid.\n11:40 Onverstandiges, het Hy wat die buitekant gemaak het, nie die binnekant ook gemaak nie?\n11:41 Maar gee wat daarin is, as aalmoes, en dan is alles vir julle rein.\n11:42 Maar wee julle, Farise\u00ebrs, want julle gee tiendes van die kruisement en die wynruit en elke groentesoort, en julle verwaarloos die reg en die liefde tot God. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.\n11:43 Wee julle, Farise\u00ebrs, want julle hou van die voorste banke in die sinagoges en die begroetinge op die markte.\n11:44 Wee julle, skrifgeleerdes en Farise\u00ebrs, geveinsdes, want julle is soos grafte wat onherkenbaar is, en die mense wat daaroor loop, weet dit nie.\n11:45 Toe antwoord een van die wetgeleerdes en s\u00ea vir Hom: Meester, as U s\u00f3 spreek, beledig U ons ook.\n11:46 En Hy s\u00ea: Wee julle ook, wetgeleerdes, want julle l\u00ea laste op die mense wat swaar is om te dra, en self roer julle die laste nie met een van julle vingers aan nie.\n11:47 Wee julle, want julle bou die grafte van die profete, en julle vaders het hulle gedood.\n11:48 Julle gee dus getuienis vir die werke van julle vaders en het saam welbehae daarin, want hulle het hul gedood en julle bou hul grafte.\n11:49 Daarom het die wysheid van God ook ges\u00ea: Ek sal profete en apostels na hulle stuur, en van di\u00e9 sal hulle doodmaak en vervolg,\n11:50 sodat van hierdie geslag afge\u00ebis kan word die bloed van al die profete wat vergiet is van die grondlegging van die w\u00eareld af,\n11:51 van die bloed van Abel af tot op die bloed van Sagar\u00eda wat omgekom het tussen die reukaltaar en die huis van God. Ja, Ek s\u00ea vir julle, dit sal afge\u00ebis word van hierdie geslag.\n11:52 Wee julle, wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem; self het julle nie ingegaan nie, en vir die wat wou ingaan, het julle verhinder.\n11:53 En toe Hy dit aan hulle s\u00ea, begin die skrifgeleerdes en die Farise\u00ebrs Hom skerp in die oog te hou en Hom uit te vra oor baie dinge,\n11:54 om vir Hom 'n strik te stel en te probeer om iets uit sy mond op te vang, sodat hulle Hom kon beskuldig.\n12:1 Toe duisende van die skare ondertussen saamkom, sodat hulle mekaar vertrap het, begin Hy aan sy dissipels te s\u00ea: Pas veral op vir die suurdeeg van die Farise\u00ebrs, dit is geveinsdheid.\n12:2 En daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.\n12:3 Daarom, alles wat julle in die donker ges\u00ea het, sal in die lig gehoor word; en wat julle in die oor gepraat het in die binnekamers, sal op die dakke verkondig word.\n12:4 En Ek s\u00ea vir julle, my vriende: Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie;\n12:5 maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek s\u00ea vir julle, vrees Hom!\n12:6 Word vyf mossies nie vir twee stuiwers verkoop nie? En nie een van hulle is voor God vergeet nie.\n12:7 Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.\n12:8 En Ek s\u00ea vir julle: Elkeen wat My sal bely voor die mense, hom sal die Seun van die mens ook bely voor die engele van God.\n12:9 Maar hy wat My verlo\u00ebn voor die mense, sal verlo\u00ebn word voor die engele van God.\n12:10 En elkeen wat 'n woord teen die Seun van die mens sal spreek, dit sal hom vergewe word; maar vir hom wat gelaster het teen die Heilige Gees, sal dit nie vergewe word nie.\n12:11 En wanneer hulle jul sal bring voor die sinagoges en die owerhede en die gesaghebbers, moet julle jul nie kwel oor hoe of waarmee julle jul sal verdedig, of wat julle sal s\u00ea nie;\n12:12 want die Heilige Gees sal julle in dieselfde uur leer wat julle moet s\u00ea.\n12:13 En een van die skare s\u00ea vir Hom: Meester, s\u00ea vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.\n12:14 Maar Hy antwoord hom: Mens, wie het My as 'n regter of deler oor julle aangestel?\n12:15 En Hy s\u00ea vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.\n12:16 Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: 'n Ryk man se grond het goed gedra.\n12:17 En hy het by homself geredeneer en ges\u00ea: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie?\n12:18 Toe s\u00ea hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel.\n12:19 En ek sal vir my siel s\u00ea: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik.\n12:20 Maar God het aan hom ges\u00ea: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s'n sal dit wees?\n12:21 So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.\n12:22 En Hy het aan sy dissipels ges\u00ea: Daarom s\u00ea Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie.\n12:23 Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere.\n12:24 Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die vo\u00ebls nie!\n12:25 En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?\n12:26 As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge?\n12:27 Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek s\u00ea vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie.\n12:28 As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en m\u00f4re in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges!\n12:29 Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie;\n12:30 want al hierdie dinge soek die nasies van die w\u00eareld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het.\n12:31 Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.\n12:32 Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het 'n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.\n12:33 Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, 'n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie.\n12:34 Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.\n12:35 Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand.\n12:36 En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop.\n12:37 Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek s\u00ea vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien.\n12:38 En as hy in die tweede of in die derde nagwaak kom, en dit so vind gelukkig is daardie diensknegte.\n12:39 Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter uur die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie in sy huis laat inbreek het nie.\n12:40 Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie.\n12:41 Toe s\u00ea Petrus vir Hom: Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons of ook vir almal?\n12:42 En die Here antwoord: Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee?\n12:43 Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, s\u00f3 besig sal vind.\n12:44 Waarlik, Ek s\u00ea vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.\n12:45 Maar as daardie dienskneg in sy hart s\u00ea: My heer talm om te kom, en hy die diensknegte en diensmaagde begin slaan, en begin eet en drink en dronk word,\n12:46 dan sal die heer van daardie dienskneg kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur dat hy dit nie weet nie, en sal hom pynig en hom 'n deelgenoot maak van die ontroues.\n12:47 En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word;\n12:48 maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.\n12:49 Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was!\n12:50 Maar Ek het 'n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word Ek totdat dit volbring is!\n12:51 Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, s\u00ea Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid.\n12:52 Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie.\n12:53 Die vader sal verdeeld wees teen die seun en die seun teen die vader, die moeder teen die dogter en die dogter teen die moeder, die skoonmoeder teen haar skoondogter en die skoondogter teen haar skoonmoeder.\n12:54 En Hy het ook aan die skare ges\u00ea: Wanneer julle 'n wolk in die weste sien opkom, s\u00ea julle dadelik: Daar kom re\u00ebn! en dit gebeur ook.\n12:55 En wanneer julle die suidewind sien waai, s\u00ea julle: Dit sal gloeiend warm wees! en dit gebeur.\n12:56 Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie?\n12:57 En waarom oordeel julle ook nie uit julleself wat reg is nie?\n12:58 Want terwyl jy met jou te\u00ebstander na die owerheid gaan, doen moeite op die pad om van hom los te kom; sodat hy jou nie miskien voor die regter sleep en die regter jou oorgee aan die geregsdienaar en die geregsdienaar jou in die gevangenis werp nie.\n12:59 Ek s\u00ea vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy ook die laaste oortjie betaal het nie.\n13:1 En in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van die Galil\u00e9\u00ebrs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het.\n13:2 En Jesus antwoord en s\u00ea vir hulle: Dink julle dat hierdie Galil\u00e9\u00ebrs groter sondaars was as al die Galil\u00e9\u00ebrs, omdat hulle sulke dinge gely het?\n13:3 Nee, s\u00ea Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.\n13:4 Of daardie agttien op wie die toring van Sil\u00f3am geval en hulle gedood het--dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon?\n13:5 Nee, s\u00ea Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.\n13:6 En Hy het hierdie gelykenis uitgespreek: 'n Man het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was, en hy het gekom en vrugte daaraan gesoek en niks gekry nie.\n13:7 Toe s\u00ea hy vir die tuinier: Kyk, drie jaar kom ek om vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog onvrugbaar?\n13:8 Maar hy antwoord en s\u00ea vir hom: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek om hom gespit en mis gegooi het.\n13:9 As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom anderjaar uitkap.\n13:10 En Hy was besig om op die sabbat in een van die sinagoges te leer.\n13:11 En daar was 'n vrou wat 'n gees van krankheid agttien jaar lank gehad het, en sy was inmekaargetrek en glad nie in staat om regop te kom nie.\n13:12 En toe Jesus haar sien, roep Hy haar en s\u00ea: Vrou, jy is van jou krankheid verlos.\n13:13 En Hy het haar die hande opgel\u00ea, en onmiddellik het sy regop gestaan en God verheerlik.\n13:14 Maar die owerste van die sinagoge, wat verontwaardig was dat Jesus op die sabbat genees het, antwoord en s\u00ea vir die skare: Daar is ses dae waarop 'n mens behoort te werk; kom dan op di\u00e9 dae en laat julle genees en nie op die sabbatdag nie.\n13:15 Toe antwoord die Here hom en s\u00ea: Jou geveinsde, maak elkeen van julle nie op die sabbat sy os of esel van die krip los en lei hom weg om hom te laat drink nie?\n13:16 Maar hierdie vrou wat 'n dogter van Abraham is, wat die Satan--dink daaraan! --agttien jaar lank gebind het, moes sy nie van hierdie band op die sabbatdag verlos word nie?\n13:17 En toe Hy dit s\u00ea, het al sy te\u00ebstanders beskaamd geword; en die hele skare was bly oor al die heerlike dinge wat deur Hom gebeur het.\n13:18 En Hy het ges\u00ea: Hoedanig is die koninkryk van God en waarmee sal Ek dit vergelyk?\n13:19 Dit is soos 'n mosterdsaad wat 'n man geneem en in sy tuin gesaai het; en dit het gegroei en 'n groot boom geword, en die vo\u00ebls van die hemel het nes gemaak in sy takke.\n13:20 En weer het Hy ges\u00ea: Waarmee sal Ek die koninkryk van God vergelyk?\n13:21 Dit is soos suurdeeg wat 'n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.\n13:22 En onderwyl Hy geleer het en op reis was na Jerusalem, het Hy stede en dorpe deurgegaan.\n13:23 Toe s\u00ea iemand vir Hom: Here, is die wat gered word, min? En Hy antwoord hulle:\n13:24 Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, s\u00ea Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.\n13:25 Wanneer die eienaar van die huis opgestaan en die deur gesluit het, en julle begin buitekant te staan en aan die deur te klop en te s\u00ea: Here, Here, maak vir ons oop--sal Hy antwoord en vir julle s\u00ea: Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie.\n13:26 Dan sal julle begin s\u00ea: Ons het in u teenwoordigheid ge\u00ebet en gedrink, en U het op ons strate geleer.\n13:27 En Hy sal s\u00ea: Ek s\u00ea vir julle, Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid!\n13:28 Daar sal geween wees en gekners van die tande, wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete in die koninkryk van God sal sien, maar julle self uitgedryf buitentoe.\n13:29 En hulle sal kom van oos en wes en van noord en suid en aansit in die koninkryk van God.\n13:30 En daar is laastes wat eerste sal wees, en daar is eerstes wat laaste sal wees.\n13:31 En op dieselfde dag het sommige van die Farise\u00ebrs na Hom gekom en vir Hom ges\u00ea: Gaan weg en vertrek hiervandaan, want Herodes wil U om die lewe bring.\n13:32 En Hy het vir hulle ges\u00ea: Gaan vertel daardie jakkals: Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en m\u00f4re, en op die derde dag is Ek klaar.\n13:33 Maar Ek moet vandag en m\u00f4re en die volgende dag verder gaan, want dit kan nie gebeur dat 'n profeet buitekant Jerusalem omkom nie.\n13:34 Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en die wat na jou gestuur is, stenig, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak, soos 'n hen haar kuikens onder die vlerke, en julle wou nie.\n13:35 Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat. Voorwaar Ek s\u00ea vir julle dat julle My sekerlik nie sal sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal s\u00ea: Gese\u00ebnd is Hy wat kom in die Naam van die Here!\n14:1 En toe Hy in die huis van een van die owerstes van die Farise\u00ebrs gegaan het om brood te eet op die sabbat, het hulle Hom in die oog gehou.\n14:2 En daar was voor Hom 'n man wat die water gehad het.\n14:3 En Jesus het gespreek en aan die wetgeleerdes en Farise\u00ebrs ges\u00ea: Is dit geoorloof om op die sabbat te genees?\n14:4 Maar hulle het stilgebly. Toe neem Hy hom en maak hom gesond en laat hom gaan.\n14:5 En Hy antwoord en s\u00ea vir hulle: Wie van julle se esel of os sal in 'n put val, wat dit nie dadelik op die sabbatdag sal uittrek nie?\n14:6 En hulle kon Hom daarop nie antwoord nie.\n14:7 En toe Hy merk hoe hulle die voorste plekke uitkies, vertel Hy aan die genooides 'n gelykenis en s\u00ea vir hulle:\n14:8 Wanneer jy deur iemand na 'n bruilof uitgenooi is, moenie die voorste plek inneem nie, ingeval daar nie miskien een wat waardiger is as jy deur hom uitgenooi is nie,\n14:9 en hy wat jou en hom genooi het, kom en vir jou s\u00ea: Maak plek vir hierdie man. En dan sal jy met skaamte die agterste plek begin inneem.\n14:10 Maar wanneer jy genooi is, gaan en neem die agterste plek in; sodat wanneer hy kom wat jou genooi het, hy vir jou kan s\u00ea: Vriend, gaan ho\u00ebr op! Dan sal jy eer h\u00ea voor die wat saam met jou aan tafel is.\n14:11 Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wat homself verneder, sal verhoog word.\n14:12 En Hy s\u00ea ook vir die man wat Hom genooi het: Wanneer jy 'n m\u00f4re-- of middagete gee, moenie jou vriende nooi, of jou broers of bloedverwante of ryk bure nie, sodat hulle jou nie miskien ook eendag weer uitnooi en jy vergelding ontvang nie.\n14:13 Maar wanneer jy 'n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes,\n14:14 en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges.\n14:15 En toe een van die wat saam aan tafel was, dit hoor, s\u00ea hy vir Hom: Salig is hy wat brood eet in die koninkryk van God.\n14:16 Maar Hy antwoord hom: 'n Sekere man het 'n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi.\n14:17 En op die uur van die maaltyd het hy sy dienskneg uitgestuur om vir die genooides te s\u00ea: Kom, want alles is nou gereed.\n14:18 En hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig. Die eerste het vir hom ges\u00ea: Ek het 'n stuk grond gekoop en ek moet noodsaaklik uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my tog.\n14:19 En 'n ander een het ges\u00ea: Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my tog.\n14:20 En 'n ander een het ges\u00ea: Ek het 'n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie.\n14:21 En daardie dienskneg het gekom en di\u00e9 dinge aan sy heer vertel. Toe het die eienaar van die huis kwaad geword en vir sy dienskneg ges\u00ea: Gaan gou uit in die strate en die gangetjies van die stad en bring die armes en verminktes en kreupeles en blindes hier in.\n14:22 En die dienskneg het ges\u00ea: Meneer, wat u beveel het, is gedoen, en daar is nog plek.\n14:23 Toe s\u00ea die heer vir die dienskneg: Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word.\n14:24 Want ek s\u00ea vir julle dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie.\n14:25 En groot menigtes het saam met Hom gegaan, en Hy het Hom omgedraai en vir hulle ges\u00ea:\n14:26 As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.\n14:27 En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.\n14:28 Want wie van julle wat 'n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie? --\n14:29 sodat as hy die fondament gel\u00ea het en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom sal begin spot\n14:30 en s\u00ea: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie.\n14:31 Of watter koning wat optrek om teen 'n ander koning slag te lewer, gaan nie eers sit en beraadslaag of hy in staat is om met tien duisend die een te ontmoet wat met twintig duisend teen hom kom nie?\n14:32 Anders stuur hy 'n gesantskap as die ander een nog ver is, en vra vredesvoorwaardes.\n14:33 So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.\n14:34 Die sout is goed, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit smaaklik gemaak word?\n14:35 Dit is nie bruikbaar vir die grond of vir die ashoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.\n15:1 En al die tollenaars en sondaars het die gewoonte gehad om na Hom te kom en na Hom te luister.\n15:2 En die Farise\u00ebrs en die skrifgeleerdes het baie gemurmureer en ges\u00ea: Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle.\n15:3 Toe vertel Hy aan hulle hierdie gelykenis en s\u00ea:\n15:4 Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor, laat nie die nege en negentig in die woestyn staan en gaan agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie?\n15:5 En as hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers.\n15:6 En as hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en s\u00ea vir hulle: Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was.\n15:7 Ek s\u00ea vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor nege en negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.\n15:8 Of watter vrou wat tien pennings het, as sy een penning verloor, steek nie 'n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?\n15:9 En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en s\u00ea: Wees saam met my bly, want ek het die penning gekry wat ek verloor het.\n15:10 So, s\u00ea Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.\n15:11 Hy het ook ges\u00ea: 'n Man het twee seuns gehad.\n15:12 En die jongste van hulle het vir sy vader ges\u00ea: Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom. En hy het die goed tussen hulle verdeel.\n15:13 En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na 'n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe.\n15:14 En toe hy alles deurgebring het, kom daar 'n swaar hongersnood in daardie land, en hy het begin gebrek ly.\n15:15 Toe het hy hom by een van die burgers van daardie land gaan voeg. En di\u00e9 het hom in sy veld gestuur om varke op te pas.\n15:16 En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie.\n15:17 Maar hy het tot homself gekom en ges\u00ea: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger!\n15:18 Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom s\u00ea: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u,\n15:19 en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge.\n15:20 En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen.\n15:21 En die seun s\u00ea vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.\n15:22 Maar die vader s\u00ea vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee 'n ring vir sy hand en skoene vir sy voete.\n15:23 En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees.\n15:24 Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.\n15:25 En sy oudste seun was in die veld, en terwyl hy al nader na die huis kom, hoor hy musiek en beurtsange.\n15:26 En hy roep een van die diensknegte na hom toe en vra wat dit beteken.\n15:27 Di\u00e9 s\u00ea toe vir hom: U broer het gekom, en u vader het die vetgemaakte kalf geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het.\n15:28 En hy het kwaad geword en wou nie binnegaan nie. Sy vader gaan toe uit en smeek hom.\n15:29 Maar hy antwoord en s\u00ea vir sy vader: Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit 'n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie.\n15:30 Maar toe hierdie seun van u kom, wat u goed met hoere deurgebring het, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag.\n15:31 Toe s\u00ea hy vir hom: Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue.\n15:32 Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind.\n16:1 En Hy het ook aan sy dissipels ges\u00ea: Daar was 'n ryk man wat 'n bestuurder gehad het; en hy is by hom aangeklaag as een wat sy besittings verkwis.\n16:2 En hy het hom geroep en vir hom ges\u00ea: Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake; want jy sal nie meer bestuurder kan wees nie.\n16:3 Toe s\u00ea die bestuurder by homself: Wat sal ek doen? Want my heer neem die bestuurderskap van my weg. Spit kan ek nie; om te bedel, skaam ek my.\n16:4 Ek weet wat ek sal doen, sodat wanneer ek van die bestuurderskap afgesit is, hulle my in hulle huise kan ontvang.\n16:5 Toe roep hy die skuldenaars van sy heer, een vir een, en s\u00ea vir die eerste: Hoeveel skuld jy aan my heer?\n16:6 En hy antwoord: honderd vat olie. En hy s\u00ea vir hom: Neem jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou vyftig.\n16:7 Daarna s\u00ea hy vir 'n ander een: En jy, hoeveel skuld jy? En hy antwoord: honderd mud koring. Toe s\u00ea hy vir hom: Neem jou skuldbewys en skryf tagtig.\n16:8 En die heer het die onregverdige bestuurder geprys, omdat hy verstandig gehandel het; want die kinders van hierdie w\u00eareld is verstandiger teenoor hulle geslag as die kinders van die lig.\n16:9 En Ek s\u00ea vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.\n16:10 Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig.\n16:11 As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou?\n16:12 En as julle nie getrou was in 'n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee?\n16:13 Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal \u00f2f die een haat en die ander een liefh\u00ea, \u00f2f die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God \u00e9n Mammon dien nie.\n16:14 En die Farise\u00ebrs, wat geldgierig was, het ook al hierdie dinge gehoor en Hom beskimp.\n16:15 En Hy het vir hulle ges\u00ea: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is 'n gruwel voor God.\n16:16 Die wet en die profete was tot op Johannes; van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen dring met geweld daarin.\n16:17 Maar dit is makliker dat die hemel en die aarde verbygaan as dat een tittel van die wet sou val.\n16:18 Elkeen wat van sy vrou skei en 'n ander een trou, pleeg egbreuk; en elkeen wat trou met die vrou wat van haar man geskei is, pleeg egbreuk.\n16:19 En daar was 'n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe.\n16:20 En daar was 'n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gel\u00ea het.\n16:21 En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek.\n16:22 En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.\n16:23 En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy o\u00eb ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.\n16:24 En hy roep en s\u00ea: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.\n16:25 Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.\n16:26 En by dit alles is daar tussen ons en julle 'n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat d\u00e1\u00e1r is, nie na ons kan oorkom nie.\n16:27 En hy s\u00ea: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur--\n16:28 want ek het vyf broers--om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.\n16:29 Toe s\u00ea Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na di\u00e9 luister.\n16:30 Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.\n16:31 Maar hy s\u00ea vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.\n17:1 En Hy het vir sy dissipels ges\u00ea: Dit is onvermydelik dat die struikelblokke kom, maar wee hom deur wie hulle kom.\n17:2 Dit is beter vir hom as 'n meulsteen aan sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie kleintjies sou laat struikel.\n17:3 Pas op vir julleself. En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; en as hy berou kry, vergewe hom.\n17:4 En as hy sewe maal op 'n dag teen jou sondig en sewe maal op 'n dag na jou terugkom en s\u00ea: Ek het berou--moet jy hom vergewe.\n17:5 Toe het die apostels aan die Here ges\u00ea: Gee ons meer geloof.\n17:6 En die Here s\u00ea: As julle geloof gehad het soos 'n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom s\u00ea: Word ontwortel en in die see geplant--en hy sou julle gehoorsaam wees.\n17:7 En wie is daar van julle wat 'n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy inkom van die veld vir hom sal s\u00ea: Kom dadelik hier aan tafel?\n17:8 Sal hy nie eerder vir hom s\u00ea nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ek ge\u00ebet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink?\n17:9 Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie.\n17:10 So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, s\u00ea dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.\n17:11 En op sy reis na Jerusalem het Hy deur Samar\u00eda en Galil\u00e9a gegaan.\n17:12 En toe Hy in 'n sekere dorp ingaan, kom tien melaatse manne Hom tegemoet, wat op 'n afstand bly staan het.\n17:13 En hulle het hul stem verhef en ges\u00ea: Jesus, Meester, wees ons barmhartig!\n17:14 En toe Hy hulle sien, s\u00ea Hy vir hulle: Gaan vertoon julle aan die priesters. En onderwyl hulle weggaan, het hulle rein geword.\n17:15 En een van hulle, toe hy sien dat hy gesond was, het omgedraai en God met 'n groot stem verheerlik.\n17:16 En hy het op sy aangesig neergeval by sy voete en Hom gedank. En hy was 'n Samaritaan.\n17:17 Toe antwoord Jesus en s\u00ea: Het tien nie rein geword nie? En waar is die nege?\n17:18 Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te verheerlik behalwe hierdie vreemdeling nie?\n17:19 En Hy s\u00ea vir hom: Staan op en gaan; jou geloof het jou gered.\n17:20 En toe Hy deur die Farise\u00ebrs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en ges\u00ea: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie.\n17:21 En hulle sal nie s\u00ea: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.\n17:22 En Hy s\u00ea vir sy dissipels: Daar sal dae kom wanneer julle sal begeer om een van die dae van die Seun van die mens te sien, en julle sal dit nie sien nie.\n17:23 En hulle sal vir julle s\u00ea: Kyk hier! of: Kyk daar! Moenie gaan nie en moenie agterna loop nie.\n17:24 Want soos die weerlig wat van die een kant onder die hemel blits en tot by die ander kant onder die hemel skyn, so sal die Seun van die mens ook in sy dag wees.\n17:25 Maar eers moet Hy baie ly en deur hierdie geslag verwerp word.\n17:26 En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens:\n17:27 hulle het ge\u00ebet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het.\n17:28 Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het ge\u00ebet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou.\n17:29 Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gere\u00ebn en almal vernietig.\n17:30 Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.\n17:31 In daardie dag moet hy wat op die dak sal wees, terwyl sy huisraad in die huis is, nie afkom om dit weg te neem nie; en so ook moet hy wat op die land sal wees, nie omdraai na wat agter is nie.\n17:32 Dink aan die vrou van Lot!\n17:33 Elkeen wat probeer om sy lewe te red, sal dit verloor; en elkeen wat dit verloor, sal dit behou.\n17:34 Ek s\u00ea vir julle: In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word.\n17:35 Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word.\n17:36 Twee sal op die land wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word.\n17:37 En hulle antwoord en s\u00ea vir Hom: Waar, Here? En Hy s\u00ea vir hulle: Waar die liggaam l\u00ea, daar sal die aasvo\u00ebls saamkom.\n18:1 En Hy het ook aan hulle 'n gelykenis vertel met die oog daarop dat 'n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie,\n18:2 en ges\u00ea: Daar was 'n regter in 'n stad wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie.\n18:3 En daar was in daardie stad 'n weduwee, en sy het gedurig na hom gekom en ges\u00ea: Doen reg aan my teenoor my te\u00ebparty.\n18:4 En 'n tyd lank wou hy nie; maar daarna het hy by homself ges\u00ea: Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie,\n18:5 tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen, sodat sy nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie.\n18:6 Toe s\u00ea die Here: Hoor wat die onregverdige regter s\u00ea.\n18:7 Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?\n18:8 Ek s\u00ea vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?\n18:9 En Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel.\n18:10 Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een 'n Farise\u00ebr en die ander 'n tollenaar.\n18:11 En die Farise\u00ebr het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie--rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie.\n18:12 Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.\n18:13 En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy o\u00eb na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en ges\u00ea: o God, wees my, sondaar, genadig!\n18:14 Ek s\u00ea vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.\n18:15 En hulle het ook die klein kindertjies na Hom gebring, sodat Hy hulle kon aanraak; en toe die dissipels dit sien, het hulle hul bestraf.\n18:16 Maar Jesus het hulle na Hom geroep en ges\u00ea: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.\n18:17 Voorwaar Ek s\u00ea vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.\n18:18 En 'n sekere owerste vra Hom en s\u00ea: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te be\u00ebrwe?\n18:19 En Jesus antwoord hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie behalwe een, naamlik God.\n18:20 Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreek nie; jy mag nie doodslaan nie; jy mag nie steel nie; jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en jou moeder.\n18:21 En hy s\u00ea: Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af.\n18:22 En toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom: Nog een ding ontbreek jou--verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal 'n skat in die hemel h\u00ea; kom dan hier, volg My.\n18:23 Toe hy dit hoor, het hy diep bedroef geword, want hy was baie ryk.\n18:24 En toe Jesus sien dat hy diep bedroef geword het, s\u00ea Hy: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan.\n18:25 Want dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.\n18:26 Daarop s\u00ea die wat dit gehoor het: Wie kan dan gered word?\n18:27 Maar Hy antwoord: Die dinge wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik.\n18:28 Toe s\u00ea Petrus: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg.\n18:29 En Hy s\u00ea vir hulle: Voorwaar Ek s\u00ea vir julle, daar is niemand wat huis of ouers of broers of vrou of kinders verlaat het ter wille van die koninkryk van God,\n18:30 wat nie baiemaal soveel in hierdie tyd sal ontvang nie en die ewige lewe in die eeu wat kom.\n18:31 En Hy het die twaalf by Hom geneem en vir hulle ges\u00ea: Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en alles wat deur die profete geskrywe is, sal aan die Seun van die mens vervul word.\n18:32 Want Hy sal oorgelewer word aan die heidene en bespot en mishandel word, en op Hom sal gespuug word;\n18:33 en nadat hulle Hom geg\u00e9sel het, sal hulle Hom doodmaak; en op die derde dag sal Hy opstaan.\n18:34 Maar hulle het niks hiervan begryp nie, en hierdie woord was vir hulle bedek, en hulle het nie verstaan wat ges\u00ea is nie.\n18:35 En terwyl Hy naby J\u00e9rigo kom, sit daar 'n blinde man langs die pad en bedel;\n18:36 en toe hy 'n skare hoor verbygaan, vra hy wat dit is.\n18:37 En hulle vertel hom: Jesus die Nasar\u00e9ner gaan verby.\n18:38 Toe roep hy uit en s\u00ea: Jesus, Seun van Dawid, wees my barmhartig!\n18:39 En die wat voor loop, bestraf hom dat hy moet stilbly. Maar hy het al harder uitgeroep: Seun van Dawid, wees my barmhartig!\n18:40 En Jesus het gaan staan en bevel gegee dat hy na Hom gebring moes word; en toe hy naby kom, vra Hy hom\n18:41 en s\u00ea: Wat wil jy h\u00ea moet Ek vir jou doen? En hy antwoord: Here, dat ek kan sien.\n18:42 En Jesus s\u00ea vir hom: Sien! Jou geloof het jou gered.\n18:43 En onmiddellik het hy gesien en Hom gevolg, terwyl hy God verheerlik. En toe die hele volk dit sien, het hulle aan God die lof gegee.\n19:1 En Hy het in J\u00e9rigo gekom en daar deurgegaan.\n19:2 En daar was 'n man met die naam van Sagg\u00e9\u00fcs, 'n hoof van die tollenaars en 'n ryk man.\n19:3 En hy het probeer om Jesus te sien, wie Hy was; maar vanwe\u00eb die skare kon hy nie, omdat hy klein van persoon was.\n19:4 En hy het vooruit gehardloop en in 'n wildevyeboom geklim, sodat hy Hom kon sien, want Hy sou daarlangs verbygaan.\n19:5 En toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sien hom en s\u00ea vir hom: Sagg\u00e9\u00fcs, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly.\n19:6 Hy maak toe gou en klim af en het Hom met blydskap ontvang.\n19:7 En toe almal dit sien, het hulle gemurmureer en ges\u00ea: Hy het by 'n sondige man tuisgegaan.\n19:8 Maar Sagg\u00e9\u00fcs het gaan staan en aan die Here ges\u00ea: Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.\n19:9 Toe s\u00ea Jesus aan hom: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook 'n seun van Abraham is.\n19:10 Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.\n19:11 En terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog 'n gelykenis by, omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn.\n19:12 Hy het dan ges\u00ea: 'n Man van ho\u00eb geboorte het na 'n ver land gereis om vir homself 'n koningskap te ontvang en dan terug te kom.\n19:13 En nadat hy tien van sy diensknegte geroep het, gee hy hulle tien ponde en s\u00ea vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom.\n19:14 Maar sy medeburgers het hom gehaat en 'n gesantskap agter hom aan gestuur om te s\u00ea: Ons wil nie h\u00ea dat hierdie man koning oor ons moet wees nie.\n19:15 En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, s\u00ea hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het.\n19:16 En die eerste het verskyn en ges\u00ea: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak.\n19:17 En hy s\u00ea vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag h\u00ea oor tien stede.\n19:18 En die tweede kom en s\u00ea: Meneer, u pond het vyf ponde verdien.\n19:19 En hy s\u00ea ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede.\n19:20 En 'n ander een kom en s\u00ea: Meneer, hier is u pond wat ek in 'n doek weggesit het;\n19:21 want ek was bang vir u, omdat u 'n strawwe man is; u neem weg wat u nie uitgesit het nie, en maai wat u nie gesaai het nie.\n19:22 Toe s\u00ea hy vir hom: Uit jou mond sal ek jou oordeel, slegte dienskneg! Jy het geweet dat ek 'n strawwe man is wat wegneem wat ek nie uitgesit het nie, en maai wat ek nie gesaai het nie.\n19:23 Waarom het jy dan nie my geld aan die wisselaars gegee nie? Dan kon ek dit by my koms met rente ingevorder het.\n19:24 En aan die wat daarby staan, s\u00ea hy: Neem die pond van hom weg en gee dit aan hom wat die tien ponde het--\n19:25 en hulle s\u00ea vir hom: Meneer, hy het tien ponde\n19:26 want ek s\u00ea vir julle: Aan elkeen wat het, sal gegee word, maar van hom wat nie het nie, sal weggeneem word ook wat hy het.\n19:27 Maar daardie vyande van my wat nie wou h\u00ea dat ek koning oor hulle sou wees nie, bring hulle hier en slaan hulle voor my dood.\n19:28 En toe Hy dit ges\u00ea het, gaan Hy vooruit op weg na Jerusalem.\n19:29 En toe Hy naby B\u00e9tfag\u00e9 en Bet\u00e1ni\u00eb kom, by die berg wat die Olyfberg genoem word, het Hy twee van sy dissipels uitgestuur\n19:30 en ges\u00ea: Gaan in die dorp reg voor julle; en as julle daar inkom, sal julle 'n eselsvul vind wat vasgemaak is, waar geen mens ooit op gesit het nie. Maak hom los en bring hom.\n19:31 En as iemand julle vra: Waarom maak julle hom los? --moet julle so vir hom s\u00ea: Die Here het hom nodig.\n19:32 En die wat gestuur was, gaan toe en vind dit soos Hy aan hulle ges\u00ea het.\n19:33 En terwyl hulle die vul losmaak, s\u00ea die eienaars aan hulle: Waarom maak julle die vul los?\n19:34 En hulle antwoord: Die Here het hom nodig.\n19:35 Toe bring hulle hom na Jesus toe, en hulle l\u00ea hul klere op die vul en laat Jesus daarop sit.\n19:36 En terwyl Hy voortgaan, gooi hulle hul klere oop op die pad.\n19:37 En toe Hy al naby die afdraand van die Olyfberg kom, begin die hele menigte dissipels God met blydskap te prys met 'n groot stem oor al die kragtige dade wat hulle gesien het,\n19:38 terwyl hulle s\u00ea: Gese\u00ebnd is die Koning wat kom in die Naam van die Here, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele!\n19:39 En sommige van die Farise\u00ebrs uit die skare s\u00ea vir Hom: Meester, bestraf u dissipels!\n19:40 En Hy antwoord en s\u00ea vir hulle: Ek s\u00ea vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep.\n19:41 En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween\n19:42 en ges\u00ea: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou o\u00eb bedek.\n19:43 Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande 'n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit.\n19:44 En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.\n19:45 En toe Hy in die tempel ingegaan het, begin Hy die wat daarin verkoop en koop, uit te jaag.\n19:46 En Hy s\u00ea vir hulle: Daar is geskrywe: My huis is 'n huis van gebed. Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak.\n19:47 En elke dag was Hy besig om in die tempel te leer; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die vernaamstes van die volk het probeer om Hom om te bring;\n19:48 en hulle het niks gevind wat hulle kon doen nie, want die hele volk het Hom aangehang en na Hom geluister.\n20:1 En op een van di\u00e9 dae, terwyl Hy besig was om die volk in die tempel te leer en die evangelie te verkondig, kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes saam met die ouderlinge by Hom staan,\n20:2 en hulle spreek met Hom en s\u00ea: Vertel ons deur watter gesag U hierdie dinge doen, of wie dit is wat U hierdie gesag gegee het?\n20:3 En Hy antwoord en s\u00ea vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra--s\u00ea vir My:\n20:4 die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense?\n20:5 Toe het hulle onder mekaar geredeneer en ges\u00ea: As ons s\u00ea: Uit die hemel--sal Hy s\u00ea: Waarom het julle hom dan nie geglo nie?\n20:6 En as ons s\u00ea: Uit mense sal die hele volk ons stenig, want hulle is daarvan oortuig dat Johannes 'n profeet is.\n20:7 Toe antwoord hulle dat hulle nie weet waarvandaan nie.\n20:8 En Jesus s\u00ea vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.\n20:9 Toe begin Hy aan die volk hierdie gelykenis te vertel: 'n Sekere man het 'n wingerd geplant en dit aan landbouers verhuur en vir 'n geruime tyd op reis gegaan.\n20:10 En op die regte tyd het hy 'n dienskneg na die landbouers gestuur, dat hulle hom van die vrug van die wingerd sou gee. Maar die landbouers het hom geslaan en met le\u00eb hande weggestuur.\n20:11 En hy het weer 'n ander dienskneg gestuur, en hulle het hom ook geslaan en skandelik behandel en met le\u00eb hande weggestuur.\n20:12 En hy het weer 'n derde gestuur, en hulle het ook hierdie een gewond en uitgedryf.\n20:13 Toe s\u00ea die eienaar van die wingerd: Wat sal ek doen? Ek sal my geliefde seun stuur; miskien sal hulle ontsag h\u00ea as hulle hom sien.\n20:14 Maar toe die landbouers hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer en ges\u00ea: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak, sodat die erfdeel ons s'n kan wees.\n20:15 En hulle het hom uit die wingerd gewerp en hom doodgemaak. Wat sal die eienaar van die wingerd dan aan hulle doen?\n20:16 Hy sal kom en daardie landbouers ombring en die wingerd aan ander gee. En toe hulle dit hoor, s\u00ea hulle: Nee, stellig nie!\n20:17 Maar Hy het hulle aangekyk en ges\u00ea: Wat beteken dan hierdie Skrifwoord: die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword?\n20:18 Elkeen wat op di\u00e9 steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, di\u00e9 sal hy vermorsel.\n20:19 Toe probeer die owerpriesters en die skrifgeleerdes in daardie selfde uur om die hande aan Hom te slaan, maar hulle het die volk gevrees; want hulle het geweet dat Hy hierdie gelykenis met die oog op hulle self uitgespreek het.\n20:20 En hulle het Hom in die oog gehou en spioene gestuur wat geveins het dat hulle regverdig was, sodat hulle Hom op 'n woord kon betrap, om Hom oor te lewer aan die owerheid en aan die gesag van die goewerneur.\n20:21 En hulle het Hom gevra en ges\u00ea: Meester, ons weet dat U reguit praat en leer en die persoon nie aanneem nie, maar die weg van God in waarheid leer--\n20:22 is dit ons geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie?\n20:23 Maar Hy het hulle listigheid bemerk en vir hulle ges\u00ea: Waarom versoek julle My?\n20:24 Wys My 'n penning. Wie se beeld en opskrif het dit? Hulle antwoord en s\u00ea: Die keiser s'n.\n20:25 Toe s\u00ea Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.\n20:26 En hulle kon Hom nie voor die volk op 'n woord betrap nie, en verwonderd oor sy antwoord het hulle geswyg.\n20:27 En sommige van die Sadduse\u00ebrs het gekom--hulle wat ontken dat daar 'n opstanding is--en Hom gevra\n20:28 en ges\u00ea: Meester, Moses het ons voorgeskrywe: As iemand se getroude broer sterwe en hy sterf sonder kinders, dan moet sy broer die vrou neem en vir sy broer kinders verwek.\n20:29 Nou was daar sewe broers, en die eerste het 'n vrou geneem en kinderloos gesterwe.\n20:30 En die tweede het die vrou geneem, en hy het ook kinderloos gesterwe.\n20:31 En die derde het haar geneem; en net so al sewe. En hulle het geen kinders nagelaat nie en het gesterwe.\n20:32 En ten laaste het die vrou ook gesterwe.\n20:33 In die opstanding dan, wie van hulle se vrou sal sy wees? want al sewe het haar as vrou gehad.\n20:34 Toe antwoord Jesus en s\u00ea vir hulle: Die kinders van hierdie eeu trou en word in die huwelik uitgegee;\n20:35 maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie.\n20:36 Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is.\n20:37 En dat die dode opgewek word, het Moses ook in die gedeelte oor die doringbos aangedui, waar hy die Here noem die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.\n20:38 Hy is tog nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal leef vir Hom.\n20:39 En sommige van die skrifgeleerdes antwoord en s\u00ea: Meester, U het goed gespreek.\n20:40 En hulle het Hom nie meer iets durf vra nie.\n20:41 Toe s\u00ea Hy vir hulle: Hoe is dit dat hulle s\u00ea dat die Christus die seun van Dawid is?\n20:42 En Dawid self s\u00ea in die boek van die Psalms: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand\n20:43 totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete.\n20:44 Dawid noem Hom dan Here, en hoe is Hy sy seun?\n20:45 En terwyl die hele volk luister, s\u00ea Hy vir sy dissipels:\n20:46 Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van die begroetinge op die markte hou en van die voorste banke in die sinagoges en die voorste plekke by die maaltye.\n20:47 Hulle eet die huise van die weduwees op en doen vir die skyn lang gebede. Hulle sal 'n swaarder oordeel ontvang.\n21:1 En toe Hy opkyk, sien Hy die rykes wat hulle gawes in die skatkis gooi.\n21:2 En Hy het ook 'n arm weduwee daar twee geldstukkies sien ingooi.\n21:3 En Hy s\u00ea: Waarlik, Ek s\u00ea vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het.\n21:4 Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe.\n21:5 En toe sommige oor die tempel praat, dat dit met mooi klippe en gewyde geskenke versierd was, s\u00ea Hy:\n21:6 Hierdie dinge wat julle sien daar sal dae kom wanneer daar nie een klip op die ander gelaat sal word wat nie afgebreek sal word nie.\n21:7 En hulle vra Hom en s\u00ea: Meester, wanneer sal dit dan wees, en wat is die teken wanneer dit gaan gebeur?\n21:8 En Hy antwoord: Pas op dat julle nie mislei word nie; want baie sal onder my Naam kom en s\u00ea: Dit is ek! en: Die tyd is naby! Gaan dan nie agter hulle aan nie.\n21:9 En wanneer julle hoor van oorlo\u00eb en opstande, moenie skrik nie; want di\u00e9 dinge moet eers plaasvind, maar dit is nie dadelik die einde nie.\n21:10 Toe s\u00ea Hy vir hulle: Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander.\n21:11 En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom.\n21:12 Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse en julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam.\n21:13 En dit sal vir julle uitloop op 'n getuienis.\n21:14 Neem julle dan in jul harte voor om nie vooraf oor julle verdediging te dink nie.\n21:15 Want Ek sal aan julle woorde en wysheid gee wat al julle te\u00ebstanders nie sal kan te\u00ebspreek of weerstaan nie.\n21:16 Maar julle sal oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en vriende, en hulle sal van julle doodmaak.\n21:17 En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam.\n21:18 En geen haar van julle hoof sal ooit verlore gaan nie.\n21:19 Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.\n21:20 En wanneer julle Jerusalem deur le\u00ebrs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is.\n21:21 Dan moet die wat in Jud\u00e9a is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie.\n21:22 Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word.\n21:23 Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal 'n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk.\n21:24 En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.\n21:25 En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun,\n21:26 en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die w\u00eareld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word.\n21:27 En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in 'n wolk, met groot krag en heerlikheid.\n21:28 En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.\n21:29 Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: Let op die vyeboom en al die bome.\n21:30 Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is.\n21:31 So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.\n21:32 Voorwaar Ek s\u00ea vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie.\n21:33 Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.\n21:34 Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en di\u00e9 dag julle nie skielik oorval nie.\n21:35 Want soos 'n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon.\n21:36 Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.\n21:37 En Hy was oordag in die tempel besig om te leer, en snags het Hy uitgegaan en vernag op die berg wat die Olyfberg genoem word.\n21:38 En die hele volk het vroeg in die m\u00f4re na Hom in die tempel gekom om na Hom te luister.\n22:1 En die fees van die ongesuurde brode, wat pasga genoem word, was naby.\n22:2 En die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom kon ombring, want hulle het die volk gevrees.\n22:3 En die Satan het in Judas gevaar, wat Isk\u00e1riot genoem word en wat uit die getal van die twaalf was.\n22:4 Toe het hy gegaan en met die owerpriesters en hoofde beraadslaag hoe hy Hom aan hulle kon oorlewer.\n22:5 En hulle was bly en het met hom ooreengekom om hom geld te gee.\n22:6 En hy het toegestem en na 'n goeie geleentheid gesoek om Hom sonder oproer aan hulle oor te lewer.\n22:7 En die dag van die ongesuurde brode het gekom waarop die pasga geslag moes word.\n22:8 Toe stuur Hy Petrus en Johannes en s\u00ea: Gaan berei die pasga vir ons, dat ons dit kan eet.\n22:9 En hulle s\u00ea vir Hom: Waar wil U h\u00ea moet ons dit berei?\n22:10 En Hy antwoord hulle: Kyk, as julle in die stad ingaan, sal 'n man julle ontmoet wat 'n kruik water dra; volg hom na die huis waar hy ingaan.\n22:11 En julle moet vir die eienaar van die huis s\u00ea: Die Meester vra u--waar is die kamer waar Ek die pasga met my dissipels kan eet?\n22:12 En hy sal julle 'n groot bovertrek wys wat reggemaak is; daar moet julle dit berei.\n22:13 En hulle het gegaan en dit gevind soos Hy vir hulle ges\u00ea het, en die pasga berei.\n22:14 En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom.\n22:15 En Hy s\u00ea vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly.\n22:16 Want Ek s\u00ea vir julle: Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie.\n22:17 En toe Hy 'n beker geneem het, dank Hy en s\u00ea: Neem dit en deel dit onder julle.\n22:18 Want Ek s\u00ea vir julle: Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie.\n22:19 Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en s\u00ea: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis.\n22:20 Net so neem Hy ook die beker n\u00e1 die maaltyd en s\u00ea: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word.\n22:21 Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel.\n22:22 Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word!\n22:23 Toe begin hulle onder mekaar te vra wie van hulle dit tog kon wees wat dit sou doen.\n22:24 En daar het ook twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle die grootste geag moet wees.\n22:25 En Hy het vir hulle ges\u00ea: Die konings van die nasies heers oor hulle, en die wat gesag voer oor hulle, word weldoeners genoem.\n22:26 Maar so moet julle nie wees nie; maar die oudste onder julle moet word soos die jongste, en wie 'n leier is, soos een wat dien.\n22:27 Want wie is groter: die een wat aan tafel is, of die een wat dien? Is dit nie hy wat aan tafel is nie? Maar Ek is onder julle soos een wat dien.\n22:28 En dit is julle wat altyddeur by My gebly het in my versoekinge.\n22:29 En Ek beskik vir julle 'n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het,\n22:30 sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel.\n22:31 En die Here s\u00ea: Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif.\n22:32 Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.\n22:33 En hy het vir Hom ges\u00ea: Here, ek is gereed om saam met U selfs in die gevangenis en in die dood te gaan.\n22:34 Maar Hy antwoord: Ek s\u00ea vir jou, Petrus, die haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal gelo\u00ebn het dat jy My ken nie.\n22:35 En Hy s\u00ea vir hulle: Toe Ek julle uitgestuur het sonder beurs en reissak en skoene, het julle iets kortgekom? En hulle antwoord: Niks nie.\n22:36 Toe s\u00ea Hy vir hulle: Maar nou, wie 'n beurs het, laat hom dit neem en so ook die reissak; en wie dit nie het nie, moet sy kleed verkoop en 'n swaard koop.\n22:37 Want Ek s\u00ea vir julle dat dit wat geskrywe is, nog aan My vervul moet word: En Hy is saam met misdadigers gereken. Want ook aan die dinge wat betrekking het op My, kom daar 'n einde.\n22:38 Hulle s\u00ea vir Hom: Here, kyk hier is twee swaarde. En Hy antwoord hulle: Dit is genoeg.\n22:39 En Hy het vertrek en volgens gewoonte na die Olyfberg gegaan. En ook sy dissipels het Hom gevolg.\n22:40 En toe Hy op die plek kom, s\u00ea Hy vir hulle: Bid dat julle nie in versoeking kom nie.\n22:41 En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi, en neergekniel en gebid\n22:42 en ges\u00ea: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!\n22:43 En 'n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk.\n22:44 En toe Hy in 'n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.\n22:45 Toe staan Hy van die gebed op en kom by sy dissipels en vind hulle aan die slaap van droefheid.\n22:46 En Hy s\u00ea vir hulle: Wat slaap julle? Staan op en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.\n22:47 En terwyl Hy nog spreek, kom daar 'n skare; en hy wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit geloop en nader gekom na Jesus om Hom te soen.\n22:48 En Jesus s\u00ea vir hom: Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n kus?\n22:49 En toe die wat rondom Hom was, sien wat gaan gebeur, s\u00ea hulle vir Hom: Here, moet ons met die swaard slaan?\n22:50 En een van hulle het die dienskneg van die ho\u00ebpriester getref en sy regteroor afgekap.\n22:51 Maar Jesus het geantwoord en ges\u00ea: Hou op, dit is genoeg! En Hy het sy oor aangeraak en hom gesond gemaak.\n22:52 Toe s\u00ea Jesus vir die owerpriesters en hoofde van die tempel en ouderlinge wat teen Hom gekom het: Het julle uitgetrek soos teen 'n rower met swaarde en stokke?\n22:53 Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie die hande teen My uitgesteek nie. Maar dit is julle uur en die mag van die duisternis.\n22:54 En hulle het Hom gevange geneem en weggelei en Hom gebring in die huis van die ho\u00ebpriester. En Petrus het van ver af gevolg.\n22:55 En toe hulle 'n vuur in die middel van die binneplaas van die paleis gemaak en bymekaar gaan sit het, het Petrus onder hulle gesit.\n22:56 En 'n diensmeisie het hom daar by die vuur sien sit; en nadat sy hom vas aangekyk het, s\u00ea sy: Hierdie man was ook saam met Hom.\n22:57 Maar hy het Hom verlo\u00ebn en ges\u00ea: Vrou, ek ken Hom nie.\n22:58 En kort daarna sien iemand anders hom en s\u00ea: Jy is ook een van hulle. Maar Petrus s\u00ea: Man, ek is nie.\n22:59 En n\u00e1 verloop van omtrent een uur het 'n ander een dit verseker en ges\u00ea: Sowaar, hierdie man was ook saam met Hom, want hy is ook 'n Galil\u00e9\u00ebr.\n22:60 Maar Petrus antwoord: Man, ek weet nie wat jy s\u00ea nie. En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het die haan gekraai.\n22:61 En die Here het Hom omgedraai en Petrus aangekyk, en Petrus het die woord van die Here onthou wat Hy vir hom ges\u00ea het: Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verlo\u00ebn.\n22:62 En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik geween.\n22:63 En die manne wat Jesus gevange gehou het, het Hom bespot en geslaan.\n22:64 En hulle het Hom geblinddoek en Hom in die aangesig geslaan en Hom gevra en ges\u00ea: Profeteer wie dit is wat U geslaan het.\n22:65 En baie ander dinge het hulle lasterlik teen Hom gespreek.\n22:66 En toe dit dag word, het die oudstes van die volk--die owerpriesters en skrifgeleerdes--vergader en Hom voor hulle Raad gebring\n22:67 en ges\u00ea: As U die Christus is, s\u00ea vir ons. En Hy antwoord hulle: As Ek vir u s\u00ea, sal u tog nie glo nie.\n22:68 En as Ek vra, sal u My tog nie antwoord of loslaat nie.\n22:69 Van nou af sal die Seun van die mens sit aan die regterhand van die krag van God.\n22:70 En hulle s\u00ea almal: Is U dan die Seun van God? En Hy antwoord hulle: U s\u00ea dat Ek dit is.\n22:71 Daarop s\u00ea hulle: Wat het ons nog getuienis nodig! Want ons het dit self uit sy mond gehoor.\n23:1 En die hele menigte van hulle het opgestaan en Hom na Pilatus gelei.\n23:2 En hulle het Hom begin beskuldig en s\u00ea: Ons het gevind dat hierdie man die volk verlei en verbied om aan die keiser belasting te betaal, terwyl Hy s\u00ea dat Hy self Christus, die Koning, is.\n23:3 Toe vra Pilatus Hom en s\u00ea: Is U die Koning van die Jode? En Hy antwoord hom en s\u00ea: U s\u00ea dit.\n23:4 En Pilatus s\u00ea vir die owerpriesters en die skare: Ek vind geen skuld in hierdie man nie.\n23:5 Maar hulle het aangehou en ges\u00ea: Hy maak die volk oproerig met sy leer die hele Jud\u00e9a deur, vandat Hy in Galil\u00e9a begin het tot hiertoe.\n23:6 En toe Pilatus van Galil\u00e9a hoor, vra hy of die man 'n Galil\u00e9\u00ebr is.\n23:7 En nadat hy verneem het dat Hy uit die magsgebied van Herodes was, stuur hy Hom na Herodes wat self ook in daardie dae in Jerusalem was.\n23:8 En toe Herodes Jesus sien, was hy baie bly, want hy was al geruime tyd begerig om Hom te sien, omdat hy veel van Hom gehoor het; en hy het gehoop om een of ander teken te sien wat deur Hom gedoen sou word.\n23:9 En hy het Hom met baie woorde uitgevra, maar Hy het hom niks geantwoord nie.\n23:10 En die owerpriesters en die skrifgeleerdes het Hom heftig staan en beskuldig.\n23:11 En nadat Herodes saam met sy soldate Hom met veragting behandel en bespot het, werp hy Hom 'n blink kleed om en stuur Hom terug na Pilatus.\n23:12 En Pilatus en Herodes het op daardie dag goeie vriende geword, want hulle was vantevore in vyandskap teenoor mekaar.\n23:13 Toe roep Pilatus die owerpriesters en die owerstes en die volk bymekaar en s\u00ea vir hulle:\n23:14 Julle het hierdie man na my gebring as een wat die volk afvallig maak. En nou het ek in julle teenwoordigheid ondersoek ingestel en in hierdie man geen skuld gevind aan die dinge waarvan julle Hom beskuldig nie;\n23:15 ja, ook Herodes nie, want ek het julle na hom gestuur; en daar is deur Hom niks gedoen wat die dood verdien nie.\n23:16 Nadat ek Hom dan gekasty het, sal ek Hom loslaat.\n23:17 En hy was verplig om vir hulle op die fees een los te laat.\n23:18 Maar die hele menigte skreeu en s\u00ea: Weg met Hom, en laat vir ons Bar\u00e1bbas los!\n23:19 Di\u00e9 was oor 'n sekere opstand wat in die stad plaasgevind het, en oor 'n moord in die gevangenis gewerp.\n23:20 Daarop spreek Pilatus hulle weer toe, omdat hy Jesus wou loslaat;\n23:21 maar hulle het aangehou roep en s\u00ea: Kruisig, kruisig Hom!\n23:22 En vir die derde keer s\u00ea hy vir hulle: Watter kwaad het Hy dan gedoen? Ek het in Hom niks gevind wat die dood verdien nie. Ek sal Hom dan kasty en loslaat.\n23:23 Maar hulle het aangehou met 'n harde geroep en ge\u00ebis dat Hy gekruisig moes word; en hulle geroep en di\u00e9 van die owerpriesters het die oorhand gekry.\n23:24 Toe gee Pilatus uitspraak dat aan hulle eis voldoen moet word.\n23:25 En hy het die een vir hulle losgelaat wat oor opstand en moord in die gevangenis gewerp was, die een wat hulle ge\u00ebis het. Maar Jesus het hy aan hulle wil oorgelewer.\n23:26 En toe hulle Hom weglei, neem hulle 'n sekere Simon van Cir\u00e9ne wat van die veld af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.\n23:27 En 'n groot menigte van die volk het Hom gevolg, en vroue wat rou bedryf en Hom beklaag het.\n23:28 Maar Jesus het Hom omgedraai en vir hulle ges\u00ea: Dogters van Jerusalem, moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders;\n23:29 want daar kom dae waarin hulle sal s\u00ea: Gelukkig is die onvrugbares en die moederskote wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie.\n23:30 Dan sal hulle vir die berge begin s\u00ea: Val op ons! en vir die heuwels: Bedek ons!\n23:31 Want as hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die dro\u00eb gebeur!\n23:32 En daar is nog twee ander, kwaaddoeners, weggelei om saam met Hom tereggestel te word.\n23:33 En toe hulle op die plek kom wat Hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar gekruisig, en die kwaaddoeners, een aan die regter-- en een aan die linkerkant.\n23:34 En Jesus s\u00ea: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. En hulle het sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp.\n23:35 En die volk het dit staan en aanskou. En die owerstes het saam met hulle ook geskimp en ges\u00ea: Ander het Hy verlos; laat Hy Homself verlos as Hy die Christus, die uitverkorene van God, is.\n23:36 En die soldate het Hom ook bespot en gekom en vir Hom asyn gebring\n23:37 en ges\u00ea: As U die Koning van die Jode is, verlos Uself.\n23:38 En daar was ook 'n opskrif bokant Hom geskrywe in Griekse en Romeinse en Hebreeuse letters: HY IS DIE KONING VAN DIE JODE.\n23:39 En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en ges\u00ea: As U die Christus is, verlos Uself en ons.\n23:40 Maar die ander een antwoord en bestraf hom en s\u00ea: Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? --\n23:41 ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.\n23:42 En hy s\u00ea vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.\n23:43 En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek s\u00ea vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.\n23:44 En dit was omtrent die sesde uur, en daar het duisternis oor die hele aarde gekom tot die negende uur toe;\n23:45 en die son is verduister; en die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur.\n23:46 En Jesus het met 'n groot stem uitgeroep en ges\u00ea: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit ges\u00ea het, blaas Hy die laaste asem uit.\n23:47 En toe die hoofman oor honderd sien wat daar gebeur, het hy God verheerlik en ges\u00ea: Waarlik, hierdie man was regverdig.\n23:48 En die hele skare wat vir hierdie skouspel bymekaar was, het op hulle borste geslaan toe hulle sien wat gebeur het, en hulle het teruggegaan.\n23:49 En al sy bekendes het ver weg gestaan; ook die vroue wat Hom van Galil\u00e9a gevolg het, het hierdie dinge gesien.\n23:50 En daar was 'n man met die naam van Josef, 'n lid van die Raad, 'n goeie en regverdige man\n23:51 --hy het nie met hulle raad en handelwyse saamgestem nie--van Arimath\u00e9a, 'n stad van die Jode, wat ook self die koninkryk van God verwag het.\n23:52 Hy het na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gevra\n23:53 en dit afgehaal en in linne toegedraai en dit neergel\u00ea in 'n graf wat uit 'n rots gekap was, waar nog nooit iemand in gel\u00ea het nie.\n23:54 En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek.\n23:55 En die vroue wat saam met Hom van Galil\u00e9a gekom het, het ook gevolg en die graf gesien en hoe sy liggaam neergel\u00ea was.\n23:56 Daarop het hulle teruggegaan en speserye en salf berei en op die sabbat gerus volgens die gebod.\n24:1 En baie vroeg in die m\u00f4re, op die eerste dag van die week, het hulle en ander saam met hulle by die graf gekom en die speserye gebring wat deur hulle toeberei was.\n24:2 En hulle het die steen van die graf afgerol gevind.\n24:3 En toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie.\n24:4 En terwyl hulle hieroor in verleentheid was, staan daar twee manne by hulle in blink klere.\n24:5 En toe hulle baie bevrees word en met hulle aangesigte na die aarde buig, s\u00ea die manne vir hulle: Waarom soek julle die Lewende by die dooies?\n24:6 Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan. Onthou hoe Hy vir julle ges\u00ea het toe Hy nog in Galil\u00e9a was:\n24:7 Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense en gekruisig word en op die derde dag opstaan.\n24:8 En hulle het sy woorde onthou.\n24:9 Hulle gaan toe terug van die graf en vertel dit alles aan die elf en aan al die ander.\n24:10 En dit was Maria Magdal\u00e9na en Johanna en Maria, die moeder van Jakobus, en die ander vroue saam met hulle wat dit aan die apostels vertel het.\n24:11 En hul woorde het vir hulle na onsinnige praatjies gelyk, en hulle het hul nie geglo nie.\n24:12 Maar Petrus het opgestaan en na die graf gehardloop; en toe hy neerbuk, sien hy die doeke alleen l\u00ea. En hy het weggegaan huis toe, vol verwondering oor wat gebeur het.\n24:13 En twee van hulle was dieselfde dag op pad na 'n dorp wat agt myl van Jerusalem af was, met die naam van \u00c9mma\u00fcs.\n24:14 En hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat voorgeval het.\n24:15 En terwyl hulle praat en mekaar ondervra, kom Jesus self nader en loop met hulle saam.\n24:16 Maar hulle o\u00eb is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie.\n24:17 En Hy s\u00ea vir hulle: Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel, en waarom is julle bedroef?\n24:18 En die een wie se naam Kl\u00e9opas was, antwoord en s\u00ea vir Hom: Is U alleen 'n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie?\n24:19 En Hy s\u00ea vir hulle: Watter dinge? En hulle antwoord Hom: Die dinge aangaande Jesus, die Nasar\u00e9ner, wat 'n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk;\n24:20 en hoe ons owerpriesters en owerstes Hom oorgelewer het tot die doodstraf en Hom gekruisig het.\n24:21 En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het.\n24:22 Maar sommige vroue uit ons het ons ook ontstel nadat hulle vroeg by die graf was;\n24:23 en toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle gekom en ges\u00ea dat hulle ook 'n gesig gesien het van engele wat s\u00ea dat Hy lewe.\n24:24 En sommige van die wat saam met ons was, het na die graf gegaan en dit net so gevind soos die vroue ook ges\u00ea het; maar Hom het hulle nie gesien nie.\n24:25 En Hy s\u00ea vir hulle: o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het!\n24:26 Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie?\n24:27 En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgel\u00ea in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.\n24:28 Daarop kom hulle naby die dorp waarheen hulle op reis was, en Hy het gemaak of Hy verder wou gaan;\n24:29 maar hulle het by Hom aangedring en ges\u00ea: Bly by ons, want dit is amper aand en die dag het gedaal; en Hy het ingegaan om by hulle te bly.\n24:30 En toe Hy met hulle aan tafel was, neem Hy die brood en dank; en Hy breek dit en gee dit aan hulle.\n24:31 Toe is hulle o\u00eb geopen en hulle het Hom herken, en Hy het uit hulle gesig verdwyn.\n24:32 En hulle s\u00ea vir mekaar: Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgel\u00ea het nie?\n24:33 Toe staan hulle in dieselfde uur op en gaan na Jerusalem terug en vind die elf en die wat saam met hulle bymekaar was,\n24:34 wat s\u00ea: Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn.\n24:35 Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breking van die brood.\n24:36 En terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en s\u00ea vir hulle: Vrede vir julle!\n24:37 Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle 'n gees sien.\n24:38 En Hy s\u00ea vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op?\n24:39 Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want 'n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.\n24:40 En terwyl Hy dit s\u00ea, wys Hy hulle sy hande en sy voete.\n24:41 En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, s\u00ea Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet?\n24:42 Daarop gee hulle Hom 'n stuk gebraaide vis en 'n stuk heuningkoek.\n24:43 En Hy het dit geneem en voor hulle o\u00eb ge\u00ebet.\n24:44 En Hy s\u00ea vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.\n24:45 Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.\n24:46 En Hy s\u00ea vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan,\n24:47 en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder.\n24:48 En julle is getuies van hierdie dinge.\n24:49 En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.\n24:50 En Hy het hulle uitgelei tot by Bet\u00e1ni\u00eb. En Hy het sy hande opgehef en hulle gese\u00ebn.\n24:51 En terwyl Hy hulle se\u00ebn, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem.\n24:52 En hulle het Hom aanbid en na Jerusalem teruggegaan met groot blydskap.\n24:53 En hulle was gedurig in die tempel en het God geprys en gedank. Amen.","title":"Afrikaans Bible: Luke","type":"page"}
