{"collection":"Bible & Christianity","html_url":"https://unchartedknowledge.5gfusion.net/browse/bib/wb/afr/mal.htm","path":"bib/wb/afr/mal.htm","source_url":"https://sacred-texts.com/bib/wb/afr/mal.htm","text":"1:1 Godspraak. Die woord van die HERE aan Israel deur die diens van Male\u00e1gi.\n1:2 Ek het julle liefgehad, s\u00ea die HERE. Nogtans vra julle: Waarin het U ons liefgehad? Is Esau nie die broer van Jakob nie? spreek die HERE. Tog het Ek Jakob liefgehad,\n1:3 maar Esau het Ek gehaat en sy gebergte 'n wildernis gemaak en sy erfdeel aan die jakkalse van die woestyn prysgegee.\n1:4 As Edom s\u00ea: Ons is wel verwoes, maar ons sal die puinhope weer opbou--dan s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare dit: Laat hulle bou, Ek breek dit tog af; en die mense sal hulle noem: Grondgebied van goddeloosheid, en: Die volk waarop die HERE vertoornd is tot in ewigheid!\n1:5 En julle o\u00eb sal dit aanskou, en julle sal s\u00ea: Groot is die HERE oor die gebied van Israel!\n1:6 'n Seun eer die vader, en 'n kneg sy heer. As Ek dan 'n Vader is, waar is my eer? En as Ek 'n Heer is, waar is die vrees vir My? s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag! Maar julle s\u00ea: Waardeur het ons u Naam verag?\n1:7 Julle bring spys wat verontreinig is, op my altaar, en dan vra julle: Waardeur het ons U verontreinig? Deurdat julle s\u00ea: Die tafel van die HERE is veragtelik.\n1:8 En as julle 'n blinde dier bring om te offer, is dit geen kwaad nie! En as julle 'n lam of 'n siek dier bring, is dit geen kwaad nie! Bring dit tog vir jou goewerneur! Sal hy 'n welgevalle aan jou h\u00ea of jou goedgesind wees? s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare.\n1:9 Smeek dan nou tog die aangesig van God, dat Hy ons genadig kan wees! Sulke dinge is deur julle gedoen--sal Hy dan om julle ontwil goedgesind wees? s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare.\n1:10 Ag, was daar maar iemand onder julle wat die deure wou sluit, sodat julle nie tevergeefs vuur op my altaar kan aansteek nie! Ek het in julle geen welgevalle nie, s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare, en in 'n offer uit julle hand het Ek geen behae nie.\n1:11 Want van die opgang van die son tot sy ondergang toe is my Naam groot onder die heidene; en in elke plek word tot eer van my Naam reukwerk gebring en 'n rein offer; want my Naam is groot onder die heidene, s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare.\n1:12 Julle daarenteen ontheilig dit as julle s\u00ea: Die tafel van die HERE is verontreinig, en wat sy opbrings betref--sy spys is veragtelik.\n1:13 En julle s\u00ea: Kyk, wat 'n moeite! En julle verag dit, s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare; en julle bring geroofde en lam en siek diere--so bring julle dan die offer! Kan Ek dit met welgevalle uit julle hand aanneem? s\u00ea die HERE.\n1:14 Vervloek is ook die bedrie\u00ebr wat, terwyl daar onder sy kleinvee 'n manlike dier is, 'n gelofte doen en tog iets wat vermink is, aan die HERE offer; want Ek is 'n groot Koning, s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare, en my Naam is gedug onder die heidene.\n2:1 En nou, priesters, tot julle kom hierdie gebod.\n2:2 As julle nie gehoor gee nie, en as julle dit nie ter harte neem om my Naam eer te bewys nie, s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare, dan sal Ek die vloek onder julle stuur en julle se\u00ebninge in 'n vloek verander; ja, Ek het dit alreeds vervloek, omdat julle niks ter harte neem nie.\n2:3 Kyk, Ek sal julle nakomelingskap bedreig, en Ek sal mis op julle gesigte strooi, die mis van julle feeste; en hulle sal julle na die mishoop dra.\n2:4 En julle sal gewaar word dat Ek julle hierdie gebod gestuur het, dat dit my verbond kan wees met Levi, s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare.\n2:5 My verbond met hom was die lewe en die vrede; en Ek het di\u00e9 aan hom gegee tot vrees; en hy het My gevrees en vir my Naam gebewe.\n2:6 Betroubare regsleer was in sy mond, en onreg is op sy lippe nie gevind nie; in vrede en opregtheid het hy met My gewandel, en baie mense het hy van ongeregtigheid teruggebring.\n2:7 Want die lippe van 'n priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is 'n boodskapper van die HERE van die le\u00ebrskare.\n2:8 Maar j\u00falle het van die weg afgewyk, julle het baie deur jul onderrig laat struikel, julle het die verbond met Levi verbreek, s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare.\n2:9 So maak Ek julle dan ook veragtelik en gering by die hele volk, omdat julle my we\u00eb nie hou nie en partydig handel by die regspraak.\n2:10 Het ons nie almal een Vader nie? Het een God ons nie geskape nie? Waarom handel ons dan troueloos met mekaar, deur die verbond van ons vaders te ontheilig?\n2:11 Juda het troueloos gehandel, en 'n gruwel is in Israel en in Jerusalem gepleeg; want Juda het die heiligdom van die HERE, wat Hy liefhet, ontheilig, en hy het die dogter van 'n uitlandse god getrou.\n2:12 Mag die HERE van die man wat so iets doen, uitroei hom wat roep en hom wat antwoord gee uit die tente van Jakob, en hom wat 'n offer aan die HERE van die le\u00ebrskare bring.\n2:13 En boonop doen julle d\u00edt: julle bedek die altaar van die HERE met trane, met geween en versugting, omdat Hy Hom nie meer wend na die offer nie en dit van julle hand nie aanneem as welgevallig nie.\n2:14 En julle vra: Waarom? Omdat die HERE getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond.\n2:15 Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy gees oorgehad het? En waarom die een? Hy het 'n geslag van God gesoek. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie.\n2:16 Want Ek haat egskeiding, s\u00ea die HERE, die God van Israel, en dat 'n mens sy kleed met geweldpleging bedek, s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou nie.\n2:17 Julle vermoei die HERE met julle woorde. Nogtans vra julle: Waarmee vermoei ons Hom? Deurdat julle s\u00ea: Elkeen wat kwaad doen, is goed in die o\u00eb van die HERE, en in hulle het Hy 'n behae; of waar is anders die God van die reg?\n3:1 Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle 'n begeerte het. Kyk, Hy kom, s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare.\n3:2 Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers.\n3:3 En Hy sal sit: 'n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid 'n offer sal bring.\n3:4 Dan sal die offer van Juda en Jerusalem vir die HERE aangenaam wees soos in die ou dae en soos in die jare van die voortyd.\n3:5 En Ek sal tot julle nader om strafgerig te hou, en Ek sal 'n haastige getuie wees teen die towenaars en teen die egbrekers en teen die meinediges en teen die wat die dagloner in sy loon, die weduwee en die wees verdruk; en teen die wat die vreemdeling wegstoot en My nie vrees nie, s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare.\n3:6 Want Ek, die HERE, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie.\n3:7 Sedert die dae van julle vaders het julle van my insettinge afgewyk en dit nie onderhou nie. Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer, s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare. Maar julle vra: Waarin moet ons terugkeer?\n3:8 Mag 'n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle s\u00ea: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe.\n3:9 Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!\n3:10 Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige se\u00ebn sal uitstort nie.\n3:11 Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare.\n3:12 En al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees, s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare.\n3:13 Vermetel is julle woorde teen My, s\u00ea die HERE. Maar julle vra: Wat het ons onder mekaar teen U gespreek?\n3:14 Julle het ges\u00ea: Dit is tevergeefs om God te dien, en wat baat dit ons om sy verordening te onderhou en in rouklere voor die aangesig van die HERE van die le\u00ebrskare te wandel?\n3:15 En nou prys ons die vermeteles gelukkig; nie alleen word die wat goddeloosheid bedrywe, gebou nie, maar hulle versoek God en raak vry!\n3:16 Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is 'n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer.\n3:17 En hulle sal My tot 'n eiendom wees, s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde h\u00ea soos 'n man medelyde het met sy seun wat hom dien.\n3:18 Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.\n4:1 Want kyk, die dag kom, en dit brand soos 'n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, 'n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie.\n4:2 Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal.\n4:3 En julle sal die goddelose vertrap, want hulle sal soos stof wees onder julle voetsole op die dag wat Ek skep, s\u00ea die HERE van die le\u00ebrskare.\n4:4 Dink aan die wet van Moses, my kneg, wat Ek hom beveel het op Horeb vir die hele Israel--insettinge en verordeninge.\n4:5 Kyk, Ek stuur julle die profeet El\u00eda voordat die groot en vreeslike dag van die HERE aanbreek.\n4:6 En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie.","title":"Afrikaans Bible: Malachi","type":"page"}
